• No results found

BASIS-TEORETIESE GEVOLGTREKKINGS MET BESONDERE

MOEDIGHEID BY DIE ADOLESSENT

Ps 57: Die vrees van mens teenoor mens

God se liefde en trou is bepalend ten opsigte van Sy demonstrasie van Sy grootheid en mag. Die vrees in die hart van die Psalmis, wat by tye ook ʼn sterk swaarmoedigheid tot gevolg gehad het, word deur God verander in ʼn lied. Die benadering van die digter van Ps 57 is ʼn treffende voorbeeld van iemand wat God vrees en nie die mens nie – vrees vir mense daarenteen lei dikwels tot swaarmoedigheid. Die bidder hoef ook nie bevrees te wees vir die Bybelse konsep van ‘vrees vir God’ nie aangesien dit eerder daarop gefokus is om die mens te leer om eerbied en ontsag vir God te hê - in die lig hiervan is daar geen vrees meer vir die gelowige nie.

Verdere belangrike riglyne vanuit Ps 57 wat in besonder van toepassing is op die swaarmoedige tiener wat worstel met vrees, is die volgende:

Die tiener moet leer om ondanks vrees en swaarmoedigheid ten volle op God te vertrou want Hy laat niemand in die steek nie. Hierdie jongmens moet nie toelaat dat die vyand hom/haar ontsenu nie.

Elkeen moet hulself ook afvra wat God van hul verwag en moet ophou om te probeer om mense tevrede te stel. Volgens die outeur van die boek Spreuke beland die mens telkens in ʼn strik wanneer hulle ander vrees.

Wanneer iemand in die teenwoordigheid van God verkeer, hoef hulle nie bevrees te wees vir die skrik van die nag of erger nog – vir die pes wat in die donker wandel nie. Ten spyte van al die gevare kan hulle nogtans veilig slaap want God is hul vesting. Wanneer die jongmens hom/haarself gereeld aan feite soos hierdie herinner dan dwing dit die vrees en swaarmoedigheid op die agtergrond.

geniet en veilig wees. Gebed is inderdaad ʼn kragtige wapen teen vrees en swaarmoedigheid en die jongmens moet begelei word in die effektiewe hantering en toepassing hiervan.

Spr 6:20-23: Gesonde agting vir ouerlike onderwysing en tug

Die adolessent moet met alles waaroor hy/sy beskik soek na wysheid, en ook hou by die ouerlike voorskrifte – hy/sy moet met alles wat hulle kan, waarneem en inneem. Hulle moet dit diep in hul gedagtes en emosies laat insink. Hulle moet die regte keuses maak dan sal die hand van God oor hul lewens wees. Die lering van die ouers moet gedurigdeur oordink word en in die hart gebêre word. Die keuses wat die jongmens moet maak, is gevolglik bepalend vir die lewe. Wanneer hulle die verkeerde keuses maak en hul lewens in ʼn doodloopstraat beland, is hulself daarvoor verantwoordelik. Vanuit die navorsing is daar talle bewyse dat vrees en neerslagtigheid (depressie) by jongmense so dikwels die gevolg is van verkeerde en dom keuses en besluite – waar ouerlike raad en riglyne van die hand gewys is en daar in rebelsheid en hardkoppigheid ʼn verkeerde koers ingeslaan is, en verkeerde portuurgroepe gekies is. Ongelukkig is dit alles so dikwels die finale resultaat van emosionele verwonding wat reeds vroeg in die kinderjare plaasgevind het.

Fil 4:6-9: Die teenpool van vrees en neerslagtigheid: vrede en kalmte by God Vrede is nie bloot die afwesigheid van storms nie, maar dit is die sekerheid van God

se teenwoordigheid en beskerming tydens storms. Dit is ook die geloofsgroei en karakterontwikkeling wat die mens tydens die storms beleef – dit is die belofte dat hierdie persoon sterker en wyser aan die ander kant sal uitkom. Vir die tiener is hierdie ʼn kritiese lewensles as beskerming teen vrees en swaarmoedigheid.

God sê dat die mens al sy kommer en vrees aan Hom moet gee sodat Hy dit kan hanteer. Hierdie is ʼn basiese stap wat vroeg reeds aangeleer en toegepas moet word.

Elke gelowige jongmens kan vry gemaak word van alle bekommernisse en vrees en kan ʼn bevryde lewe in Christus lei – dit impliseer onder andere ʼn vernuwing van denke. Wanneer jongmense bewus raak van vrees in hul lewe, behoort hulle dit te verdryf deur die regte dinge te bedink, hulle gedagtes daarop te rig en sodoende die vrede van God te ervaar – die mens se innerlike ingesteldheid moet dus nie afhanklik wees van sy uiterlike omstandighede nie.

1 Pet 5:7: Die voorsienende hand van God as stabiliserende faktor teen vrees en swaarmoedigheid

Bekommernis bring spanning en onrus. Dit ontneem die mens sy vreugde en gemoedsrus en ondermyn sy geloof en ondernemingsgees en dit open dikwels die deur (veral by jongmense) tot vrees en neerslagtigheid.

God ken egter hierdie adolessent se diepste gedagtes en Hy wil hom/haar help en vir hulle sorg. Hulle moet dus op Hom vertrou en nie beangs wees nie. Vertroue bring vrede in die hart en rus in die gemoed en dwing alle vrees en neerslagtigheid op die agtergrond.

Wanneer die adolessent onder die skild van God se beskerming is, sal Hy die negatiewe omskakel in ʼn positiewe. Niemand geniet dit om swaar te kry nie, maar moeilike omstandighede lei dikwels tot insig wat op geen ander wyse bekom sou kon word nie. Slegs die Here kan so ʼn adolessent se lewe herstel sodat hy/sy weer voluit kan lewe. Hy is die Een wie die adolessent se vrees kan wegneem en weer orde kan skep binne so ʼn jongmens se chaotiese wêreld.

Elke adolessent kan maar net die hand uitsteek na God en Hom toelaat om te help – solank hy/sy net bereid is om alle bekommernisse op Hom te werp. In meeste gevalle sal sulke adolessente egter die nodige pastorale begeleiding moet ontvang. In die volgende hoofstuk verskuif die fokus vanaf die basis-teoretiese na die metateoretiese terrein. Daar is inderdaad ʼn verskil in die wyse waarop die teologie en die ander wetenskappe onderskeidelik die menslike handelinge ondersoek. Ten einde volledige insig te verkry in die volledige spektrum van menslike emosies en handelinge en gedrag is dit egter noodsaaklik om ook kennis te neem van die navorsingsresultate van die aangrensende wetenskappe.

AFDELING C

METATEORETIESE PERSPEKTIEWE

HOOFSTUK 3 – EVALUERING VAN DIE BYDRAE DEUR ANDER

HULPWETENSKAPPE

3.1 DOELSTELLING EN BASIESE VERTREKPUNT

Wanneer ʼn mens die begrip wetenskaplike teorie omskryf, moet rekening gehou word met verskeie komponente daarvan, met ander woorde hoe ʼn teorie opgemaak word. Teorieë binne ʼn dissipline kom gewoonlik voor binne ʼn bepaalde paradigma wat die gemeenskaplike bedryf uitdruk. Die doel van hierdie hoofstuk is dan ook om te bepaal in watter mate die aangrensende wetenskappe soos psigologie, sosiologie en kriminologie kan bydra tot ʼn beter verstaan van die swaarmoedige adolessent wat worstel met die hantering en verwerking van vrees. Vanuit die onderskeie teorieë van verskeie aangrensende wetenskappe kan dan uiteindelik ʼn duideliker prentjie verkry word van die totale problematiek betreffende hierdie tema (Pieterse, 1993:48-50).

Daar sal ook gefokus word op die wyse waarop die gaping tussen die verskillende wetenskappe vernou het om sodoende ʼn beter begrip te kan kry oor die nuutste inligting met betrekking tot die terapeutiese begeleiding van die swaarmoedige adolessent (Strydom, 1998:49).