• No results found

Die Morawiese sendingideaal in konteks

DIE ONTWIKKELING VAN ‘N UNIEKE MORAWIESE GEMEENSKAP IN DIE BAVIAANSKLOOF

3.4 Die Morawiese sendingideaal in konteks

3.4.1 Die realisering van ʼn internasionale sendingideaal in Suid-Afrika

Ten einde die ontwikkeling van die unieke gemeenskap van Genadendal te kan verstaan, is dit nodig om die Morawiese sendingideaal in plaaslike perspektief te stel. Die transponering van die internasionale ideale van die Morawiese Kerk na die kolonie, sowel as die verskille tussen die Morawiese sendingideaal en dié van die ander genootskappe wat gedurende die laat 18de maar veral gedurende die vroeg 19de eeu hier aktief was, word ondersoek.

The mission fields abroad were at the centre of Moravian concern (Keegan 2004:xvii). Presies hoe gekonsentreerd hierdie fokus op sendingwerk was, word duidelik wanneer die ratio van lidmate tot sendingwerkers in ag geneem word. Selfs tot diep in die 20ste eeu was die verhouding tussen die sendingwerkers en gewone lidmate in die Morawiese Kerk 1:60 terwyl die ander protestantse sendingkerke ʼn verhouding van 1:5000 getoon het (Keegan 2004:xvii).

Soos in die geval van die gemeentes in Europa, was die doelstelling van die Morawiese Kerk om ook op die sendingveld ekumenies van aard te wees; to work in free union with other churches as a “Free Congregation of Jesus” (Keegan 2004:xvii). Die groei van die Morawiese Kerk as denominasie was nooit een van die redes vir sendingwerk nie. Die Morawiese Kerk was nie geïnteresseerd in groot getalle lidmate nie. Their goal was to spread Christian living

through the establishment of societies and communities without attracting them to the Bretheren’s Church (Keegan 2004:xvii). Hul klein lidmaatskapsgetalle lei dikwels daartoe dat die omvang van hul invloed en werk onderskat word.

Ten spyte daarvan het die aantal Morawiese sendinggemeenskappe tussen 1792 en 1975 algaande gegroei het tot vyf-en-dertig: Groenekloof, later genoem Mamre (1808), Enon, die eerste Morawiese sending aan die Xhosa (1818), Elim (1824), Clarkson (1839), Goedverwacht (1845), Wittewater (1859), Moravian Hill (1886) en Moravian Hope, later genoem Salem (1898) het almal hul ontstaan in die 19de eeu gehad (Van der Hoven 2001:35).

Moontlik as gevolg van hul onafhanklikheid van moedergemeentes in die buiteland het die Morawiese sendingmissie tot laat in die twintigste eeu aktief uitgebrei. Nie net is daar gedurende dié eeu heelwat nuwe stasies gestig nie, maar die Morawiese Kerk het ook van die bestaande sendingstasies wat deur ander sendinggenootskappe hanteer is, oorgeneem, byvoorbeeld Wuppertal, Pella en Matroosfontein.

3.4.2 Ander sendinggenootskappe in Suid-Afrika

Die eerste internasionale sendinggenootskap wat ná die Morawiese Kerk hier arriveer, is die Londense Sendinggenootskap. Hoewel dit al in 1795 gestig is, kom die eerste van hul sendingwerkers, dr JTH van der Kemp (1747 – 1811), eers in 1799 by die Kaap aan (Rabe 1994:2; Hofmeyr et al 1991:103).

In die doldriftige gees van wat as die postmillennial eschatological imperative beskryf kan word, arriveer ʼn magdom ander sendinggenootskappe gedurende die eerste dekades van die 19de eeu in Suid-Afrika (Keegan 2004:xxix). Soos met ander eeuwendinge is daar geglo dat die laaste dae aangebreek het en dat daar ʼn finale en grootskaalse poging aangewend moes word om so veel as moontlik van die “heidene” voor oordeelsdag tot bekering te probeer bring.

Rabe stel dit duidelik as sy sê dat die sendingbeweging deur twee bewegings in laat 18de- en vroeg 19de-eeuse Europa veroorsaak is: die humanisme en ʼn godsdiensherlewing (1994:2). Onder die sendinggenootskappe wat op hierdie twee impulse gereageer het, was die Metodiste Kerk met sy Wesleyaanse Sendinggenootskap (1816), die Glasgow Sendinggenootskap (1821), die drie Duitse Sendinggenootskappe: die Rynse (1829), die Berlynse (1834) en die Hermannsburgse Sendinggenootskap (1857), die Paryse Sendinggenootskap (1829), die sendinggenootskap van die Anglikaanse Kerk (1836) en die Noorweegse Sendinggenootskap (1844) (Rabe 1994:2,3; Hofmeyr et al 1991:98-108; Zöllner 1984:6).

Die sukses van Morawiese sendinginisiatief op Genadendal het selfs die verwagtinge van die stigters van die sendingstasie oortref (Elbourne & Ross 1997:35). Genadendal was to form the model for the Christian communities that later missionaries wished to establish on their stations (Elbourne & Ross 1997:34). Ander Morawiese gemeenskappe het hulself geskoei op die sosio-geestelike struktuur van die Genadendalse gemeenskap. Die amptenare van ander genootskappe het Genadendal ook dikwels besoek vir inspirasie vir die vestiging en ontwikkeling van hul eie sendinggemeentes.

Die hoë opinie wat hulle afgedwing het, word oor en oor in dagboeke, briewe en amptelike dokumente aangetref. Reg van die begin af word daar na hul sendingpoging as model gekyk. Van der Kemp se eerste taak nadat hy in 1799, net ses jaar na die stigting van die sendingstasie in die Baviaanskloof, in die Kaap aankom, was om die drie sendelinge te gaan besoek. […] not thinking it advisable to commence our work in this country until we had consulted the Moravian Brethren (Enklaar 1988:78).

Die Morawiese model sou homself uiteindelik as onnavolgbaar bewys. Sonder dat Von Zinzindorf dit so bedoel het, het sy gemeenskappe goed-gekontroleerde sosiale manifestasies van piëtistiese vroomheid geraak. Die Morawiese gemeenskap was uiteindelik ʼn sosiale eksperiment wat alleenlik kon werk as elke enkele aspek daarvan beheer en gekontroleer kon word. Enige afwykings het mislukking veroorsaak. Daar was eenvoudig net te veel verskille tussen die Morawiërs en die ander sendinggenootskappe.

The Khoisan who were already partially acculturated, and whose economic independence was largely eroded, responded more readily to the agenda of the missionaries than did members of more intact societies (Elphick & Davenport 1997:35). In teenstelling met die Khoi was die Xhosas se sosiale strukture nog in plek en was daar onder hulle ʼn goed-gedefinieerde eie identiteit en materiële kultuurerfenis. Die koms van die koloniste het nie dieselfde negatiewe uitwerking op hulle gehad nie.

Daar was ook die basiese kwessie van politieke betrokkenheid van die sendelinge by die gesprekke van die dag. Vir die meeste van die sendelinge van die verskillende genootskappe was die opdrag ondubbelsinnig. We cannot omit, without neglecting our duty, to warn you against meddling with political parties, or secular disputes, word die waarskuwing byvoorbeeld deur die Anglikaanse moederkerk aan die sendingwerkers van die Wesleyaanse Sendinggenootskap gerig (Hofmeyr et al 1991:104). Ten spyte hiervan het baie sendelinge betrokke geraak by die imperialistiese diskoers en het die gelykstelling van die groepe onder wie hulle gewerk het, geëis. Die sendingmotiewe van veral die Britse sendelinge was oor die algemeen hoogs verpolitiseer. ʼn Soort nie-konformisme het hierdie sendingmissies onderskryf (Keegan 2004:xxii, xix). Mense soos Johannes van der Kemp en James Read was ʼn geïntegreerde deel van die kontemporêre diskoers oor imperialisme en het hulself as deel van die kritiese reaksie daarop gesien (Keegan 2004:xxiii). Hierdie liberale-humanitêre sentiment het teen die middel van die eeu populariteit begin verloor en is algaande deur ʼn ontnugterde ideologiese rassisme en sosiale Darwinisme vervang (Keegan 2004:xxiii).

Hoewel die idee van gelykheid sentraal gestaan het in die Morawiese etos, is dit nie gebaseer op ʼn politieke ideaal van sosiale gelykheid nie, maar het dit uit die basiese Christelike beginsel van gelykheid voor God ontstaan (Bøytler & Jessen 2005:46). Ontbloot dus van ʼn politieke agenda het die Morawiërs se konsep van “gelykheid” nooit ʼn sosiaal-aktivistiese of politieke noot aangeneem nie. Die Morawiese sendelinge het hulself weerhou van politieke uitsprake en kritiek en het nie hul rol as dié van emansipeerders en kampvegters vir die gelykstelling van die Khoi gesien nie (Keegan 2004:xxiii). Die basiese kwiëtistiese aard van die Radikale Piëtisme het onderworpenheid en berusting eerder as opstand en rebellie gepropageer (Giliomee 2003:98).

ʼn Aspek wat hiermee verband hou, maar ingrypende gevolge in die praktyk gehad het, was dat die Morawiese sendelinge volgens Keegan dikwels uit plattelandse gebiede afkomstig was en minder intellektueel en klasse-behep as byvoorbeeld die Britse sendingwerkers was (2004:xxiii). Anders as in die geval van kontemporêre Britse sendingstasies waar daar klem gelê is op akademiese en literêre opvoeding, was die klem vir die Morawiërs deurgaans op die onderrig in handwerk en vakmanskap. The dignity of labour was central to the Moravians’ idea of Christian life (Keegan 2004:xxiv).

Die verskil tussen die Morawiese en die ander Duitse sendelinge was ook een wat op intellektuele vlak gemanifesteer het. As eksponente van die Radikale Piëtisme was die Morawiese kerk geïnteresseerd in religion of the heart. Their missions were always non- denominational, and in earlier years, run by laymen, who were later ordained so that they could baptise converts (Keegan 2004:xvii). Die Morawiese sendelinge was nie opgeleide predikante nie, maar hulle was wel van ʼn sekere stoffasie. Deel van hul bestaansreg was ʼn reaksie op die ortodokse geïntellektualiseerde letargiese vorm wat die Lutherse kerk in Duitsland aangeneem het. Aan die ander kant het die sendingwerkers van die Berlynse sendinggenootskap deeglike en uitgebreide opleiding ontvang (Zöllner 1984:5). Die kursus het vier en ʼn half jaar geduur en het ook handvaardighede en ʼn elementêre mediese kursus ingesluit. Die Morawiërs se werkersklas-agtergrond en hul opleiding as vakmanne sou ʼn deurslaggewende verskil tussen hulle en die ander tot gevolg hê.

HOOFSTUK 4