• No results found

ONTSTAANS EN SENDINGGESKIEDENIS VAN DIE MORAWIESE KERK IN EUROPA

1.5 Die Morawiese etos

1.5.1 Spiritualiteit

Om die Morawiese etos te verstaan, moet daar in gedagte gehou word dat vir die Morawiërs gedrag eerder as dogma bepalend was. Piëteit en etiese handelinge was belangriker as die slaafse navolging van ʼn spesifieke stel leerstellinge (August 2003:74). Dit was per slot van sake ʼn geloof van die hart en nie ʼn geloof van idees nie (Weinlick 2001). Luther se “elkeen is ʼn priester” is letterlik opgeneem en lede van die gemeenskap het as predikers en sendelinge in die gemeenskap gewerk (Barzun 2001:26).

Die aanvaarding van Jesus Christus as enigste seun of manifestasie van God en die konsep van persoonlike verlossing wat daarmee gepaard gegaan het, was sentraal tot die

spiritualiteit van die Morawiërs. To believe in the wounds of Jesus and not in God is impossible, but to believe in God and not the Saviour is common, het Von Zinzindorf gepreek (Nielsen 1999:446).

Die Morawiese uitgangspunt was dus streng Christo-sentries of Christokraties (Krüger 1966:13). The word christocratic was meant to indicate that the people regarded themselves to be ruled directly by Christ Himself (De Boer & Temmers 1987:3).

Tog was dié geloof vry van die imperialistiese imperatief. Die spiritualiteit van die Morawiërs het freedom of conscience as basiese menslike reg gerespekteer. Von Zinzindorf het aan sy kudde opdrag gegee om nooit enige persoon vir sy onvermoë om God as verlosser te aanvaar, te veroordeel nie (Nielsen 1999:448). Praktiese naasteliefde moes te alle tye nagestreef word (Balie 1988:8).

Hierdie sagmoedigheid en verdraagsaamheid van die Morawiese Piëtiste is heel moontlik een van die intellektuele erflatinge van Von Zinzindorf se grootmoeder Gersdorf. As intellektueel en aristokraat was sy inklusief in haar beskouing van die verskillende manifestasies van die Protestantse Hervorming. Hoewel sy haarself persoonlik geskaar het by die ideale van die Piëtiste, het sy respek gehad vir die Ortodokse Lutherane, die Calviniste en die Rooms- Katolieke Kerk. Vir haar was die verskillende kerke bloot verskillende intellektuele formalismes en was dit uiteindelik net een geloof wat beoefen is: die Christelike geloof (Weinlick 2001:22). Von Zinzindorf sou hierdie verdraagsaamheid ook deel van die intellektuele onderbou van die Morawiese Kerk maak. As gevolg van hierdie nie-imperialistiese aard van die Morawiese Kerk word daar dikwels na hul sogenaamde verdraagsaamheid verwys.

Dat die Morawiërs dié eienskap toegedig word, dui op die komplekse digotomiese aard van die 18de- en 19de-eeuse piëtistiese etos. Dié stelling vertel egter net helfte van die waarheid. Dit is inderdaad waar dat geen persoon ooit teen sy wil onderdanig gemaak is aan die Morawiese ideale nie of dat dit ooit afgedwing is op mense nie; dit was per slot van sake ʼn kwessie van vrye keuse wat gepaard gegaan het met die konsepte van wedergeboorte en persoonlike verlossing. Om deel te raak van die Morawiese Kerk was ʼn individuele wilsbesluit,

maar wanneer die besluit geneem is en ʼn persoon besluit het om by ʼn Morawiese gemeenskap aan te sluit, het die situasie lynreg verander. Binne die Morawiese gemeenskappe is die bykans drakoniese reëls en regulasies uiters streng en sonder uitsondering op alle lidmate toegepas. Lidmate was egter vry om enige tyd die Kerk en gemeenskap te verlaat.

1.5.2 Werksetiek

This spirituality is all-penetrating, all-pervading i.e. it is not only attracted towards inwardness as contemplation, prayer and worship, but also toward outwardness as involvement, action and work (Nielsen 1999:444). Met die alomteenwoordigheid van die Verlosser in gedagte maan Von Zinzindorf sy gemeente tot getrouheid in die klein dinge, selfs in die werkswinkel (Nielsen 1999:446). Alle werk moes in die gees van diens aan Christus verrig word.

Daar was vir die Morawiërs geen onderskeid tussen die geestelike en die wêreldse in hul hoogs-gedissiplineerde, hardwerkende en aanbiddende daaglikse lewens nie (Weinlick 2001:87). Die vroomheid en besadigdheid het met ‘n vurige ywer en hardwerkendheid gepaard gegaan. They were an industrious people, hardworking and religious (Cooper 2002:120). In sy beskrywing verwys Cooper na die Duitse Protestante wat gedurende die 18de eeu na Amerika geïmmigreer het. Dieselfde kan van die Duitse Protestante wat na Suid- Afrika gekom het, gesê word. Hul materiële nalatenskap getuig hiervan.

1.5.3 Gewoontes en gebruike

Godsdienstige gebruike en gewoontes in die Morawiese gemeenskappe was so verweef met die prosesse van besluitneming rakende gemeenskapsake dat dit dikwels moeilik is om ‘n duidelike onderskeid tussen die heilige en sekulêre aktiwiteite te tref (August 2005:6).

Een van die mees unieke en uitstaande gebruike van die Morawiërs was die proses van loting. Die lot is beskou as hulpmiddel om God se finale beslissing mee te bepaal (August 2005:6). Bykans alles besluite is deur dié metode onderskryf.

Op godsdienstige vlak is die lot byvoorbeeld gebruik om te bepaal of ʼn persoon gereed is om gedoop te word en of ʼn lidmaat wat geroepe gevoel het, gereed was om na die sendingveld gestuur te word (Krüger 1966:14). Op sekulêre vlak is dit onder andere ingespan om eggenotes te kies vir die hubare jong mans in die gemeenskap (Balie 1988:7).

Binne die gemeenskap van gelowiges of “kommunes” is vroomheid gesistematiseer (Bøytler & Jessen 2005:118). Gemeentelede het byvoorbeeld eenderse klere gedra. Vroue moes, volgens Balie, hulle elegante en kleurvolle Boheemse drag vervang met eenvoudige rokke met kappies wat met ʼn strikkie onder die ken vasgebind is. ʼn Pienk strikkie het daarop gedui dat ʼn vrou getroud was, ligblou was bedoel vir jong ongehudes en wit was die kleur wat weduwees moes dra (1988:7).

Musiek en sang was van die vroegste tye al ‘n integrale deel van die geloofsbelewenis van die Unitas Fratrum. Die eerste Protestantse gesangeboeke is deur hulle uitgegee. Vir die Morawiërs was dit egter nie nodig om hul gesangeboeke met hul saam te dra nie. Hulle het die liedere, baie daarvan deur hulself en hul voorsate gekomponeer, uit hul koppe geken (Balie 1988:7,8).

Selfs die manier waarop die gemeentelede gepraat het, was eiesoortig en uitdrukkings was deurspek met verwysings uit die Bybel. ʼn Voorbeeld hiervan is dat die algemene gebruikswoord vir Jesus “Die Lam” was. Alles was voorgeskryf, gesistematiseer en gestandaardiseer om die mens se gelykheid aan mekaar as simbool van hul gelykheid voor God te simboliseer (Bøytler & Jessen 2005:118).

Die ure van die werksdag was rigied ingedeel: vyf ure vir slaap, sestien vir werk en drie ure vir aanbidding en eet. Sondae is aan kerklike aktiwiteite gewy (Balie 1988:8, Krüger 1966:14).

Na die voorbeeld van Von Zinzindorf self was die Morawiese gemeentes kranige kommunikeerders en briefskrywers. Met behulp van reise en korrespondensie is die broerskap en band tussen hulle lewendig gehou. Die voorlees van hierdie briewe en ander

korrespondensie soos die dagboeke wat deur die verskillende sendelinge gehou is, was ʼn maandelikse geleentheid en is die Gemeente- of Biddag genoem (Weinlick 2001:88,90).