• No results found

Die eerste Morawiese sendeling: Georg Schmidt: 1737 –

DIE ONTWIKKELING VAN ‘N UNIEKE MORAWIESE GEMEENSKAP IN DIE BAVIAANSKLOOF

3.1 Die Morawiese Kerk in Suid-Afrika

3.1.1 Die eerste Morawiese sendeling: Georg Schmidt: 1737 –

Die Morawiese sending aan die Kaap begin as gevolg van ʼn uitnodiging wat twee predikante van Amsterdam, Hieronymus van Alphen en Franco de Bruin, in Februarie 1736 aan Von Zinzindorf rig: hulle versoek hom om sendingwerkers na die Kaap te stuur om die evangeliese boodskap aan die Khoi te bring. Van Alphen en De Bruin het die Kamer van Amsterdam, deel van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie wat verantwoordelik was vir die geestelike versorging aan die Kaap, verteenwoordig (Krüger 1966:15; Georg Schmidt 1937:5)). Die uitnodiging was dus met die stempel van amptelikheid geseël.

Net enkele dae nadat Von Zinzindorf die uitnodiging aanvaar, verlaat ʼn jong man, Georg Schmidt (1709 - 1785), Herrnhut op pad na Holland om toestemming van die Here XVII vir sy taak aan die Kaap te verkry. Die lot het die ses-en-twintigjarige Schmidt, ʼn boorling van die ou Morawiese dorpie Kunewalde, uitgewys as eerste sendeling na Afrika. Ten tye van sy vertrek was Schmidt besig met sy opleiding as slagter (Balie 1988:11).

In September 1736 kry Schmidt verlof van die Here XVII om na die Kaap te gaan. Hy vertrek op 11 Maart 1737 met die ‘t Huis te Rensberg, ʼn beleerde Oos-Indiëvaarder. By hom het hy aanbevelingsbriewe van die twee amptenare, Van Alphen en De Bruin en ʼn brief met instruksies van Von Zinzindorf. Daarin word hy aangesê om geen presente of eerbewyse te aanvaar nie, maar hard te werk en om sy bearbeiding met die Khoi wat reeds die Hollandse taal magtig was, te begin. In alle ander besluite moes hy hom deur Christus laat lei (Krüger 1966:17, Balie 1988:12).

Op 9 Julie 1737 arriveer Georg Schmidt (figuur 36), die eerste Morawiese sendingwerker in die destydse kolonie, in Tafelbaai-hawe (Hofmeyr et al 1991:28,76). Schmidt het onmiddellik na sy aankoms die magtigingsbrief wat die Here XVII aan hom gegee het, aan die Goewerneur gaan oorhandig (Balie 1988:12).

Sy ontvangs aan die Kaap was afgetrokke. Die koloniste het sy plan om die Woord van Christus aan die Khoi te bring, met spot bejeën. In September 1737 vertrek hy na die VOC- buitepos, Zoetemelksvlei (1727), wat in die afgeleë valleie agter die Hottentots-Hollandberge gelê het. Hy het gehoor dat daar Hollandssprekende Khoi gewoon het. Zoetemelksvlei was een van drie VOC-buiteposte in die Overberg. Die ander twee was Siekenhuis (1726) en Tijgerhoek (na 1726) (Rademeyer-de Kock 1993:24).

Met Schmidt se aankoms was die gebied deur die Hessekwa en Chanoeka (ook bekend as die Koopmans) as weiding vir hulle vee gebruik. Hulle was moontlik verwant aan mekaar (Rademeyer-de Kock 1993:23). Volgens Meffert was daar drie Khoi-groepe woonagtig in die groter Overberg-gebied: die Hessekwa in Sentraal-Overberg, die Chainouqua in die weste en die Gouriqua in die Oos-Overberg (figuur 38 & 39) (Meffert & Van Hemert 1996:4). Een van die drywers van die wa waarop Georg Schmidt na Zoetemelksvlei gereis het, was ʼn lid van die Hessekwa-stam en het Hollands gepraat. Sy naam was Africo. Hy sou as informant en vertaler ʼn belangrike rol in Schmidt se lewe in die Baviaanskloof speel (Balie 1988:15).

Op 26 September 1737 bou Schmidt, met die hulp van ʼn paar soldate van die buitepos, ʼn hut in ʼn vallei drie ure te perd vanaf die Zoetemelksvlei-buitepos aan die Zondereinde-rivier. Die posisie is deur die lot aan hom uitgewys en was naby die woning van Africo geleë (Balie 1988:12). By hom was agtien lede van die Hessekwa-stam. Na sewe maande trek Schmidt dieper die vallei in en vestig hom op 23 April 1738 op die plek waar die dorpie Genadendal vandag nog geleë is (Sleigh 1993:564). Die Morawiese sendinginisiatief in Afrika het dus sy ontstaan in die Baviaanskloof, oos van Kaapstad gehad (Keegan 2004:xviii).

Ter uitvoering van die opdrag van Von Zinzindorf het Schmidt dadelik begin werk. Hy het ʼn tuin aangeplant, ʼn leivoor gebou en in alle ywer met sy sendingwerk begin. Hy het

Figuur 36: Georg Schmidt (1709-1785) (Krüger 1966:32)

selfstandigheid en selfversorgendheid nagestreef en probeer bevorder en wou op geen manier afhanklik van ander mense wees nie (Balie 1988:13). Teen die einde van 1738 was die getal inwoners van die nuwe sendingstasie in die Baviaanskloof reeds agt-en-twintig (Krüger 1966:21,22).

Schmidt het van die begin af besef dat hy die Khoi van hul semi-nomadiese leefstyl sou moes laat afsien. Die sukses van die sendingmissie het afgehang van die stabiliteit van ʼn permanent gevestigde gemeenskap om ʼn gemeente vir Christus te vorm. Dít was, volgens Balie, die rede hoekom Schmidt tuin- en huisbou-aktiwiteite van die vroegste tye af aangemoedig het (1988:16; Abrahams 1989:16).

Die ledetal van die gemeenskap het algaande gegroei. Teen 1744 was daar 30 leerders wat sy lesse bygewoon het (Abrahams 1989:17). Soos sy aanhang onder die Khoi groter geraak het, het die teenstand van die Gereformeerde predikante teen hom egter ook toegeneem (Krüger 1966:23,24). Met sy aankoms aan die Kaap was Georg Schmidt nie ingeseën as predikant nie; hy kon dus nie die nuwe bekeerlinge doop nie. Hy skryf aan Von Zinzindorf wat hom in ʼn brief gedateer 27 Augustus 1741, as predikant inseën (Krüger 1966:31). Von Zinzindorf se ordinasie sou hom die reg gee om al die sakramente te voltrek; juis dit sou uiteindelik Schmidt se ondergang beteken. In die tyd wat Schmidt in die Baviaanskloof sy bediening gehad het, het hy vyf mense gedoop (Balie 1988:18). Die predikante van die Nederduits-Gereformeerde Kerk het hom as ʼn lekeprediker en ketter beskou en ten sterkste te velde getrek teen die feit dat hy die Khoi gedoop het (Hofmeyr et al 1991:35,36; Keegan 2004:xix).

Georg Schmidt se dagboeke strek net tot Februarie 1743, dus is die toestande waaronder hy die laaste jaar geleef het, onduidelik (Balie 1988:20). Alles dui egter daarop dat sy moed hom stadig begin begewe het. Die onherbergsaamheid en harde fisiese toestande in die geïsoleerde Baviaanskloof, die vyandskap van die koloniste en die feit dat hy alleen moes werk het hom uitgeput en eensaam gelaat (Schmidt 1937:18). Die reaksie van die predikante het Schmidt bitter teleurgestel en hom genoop om ʼn versoek aan Von Zinzindorf te stuur om na Herrnhut terug te keer. Op 3 Maart 1744 vertrek hy terug na Europa. Met sy vertrek het

die goewerneur aan hom die versekering gegee dat sy woonplek beskerm sou word en dat sy gemeenskappie in die Baviaanskloof kon aanbly (Schmidt 1937:18). Schmidt se idee was om hulp in Duitsland te gaan bekom en terug te keer na Afrika, maar dit het nooit gebeur nie (Hofmeyr et al 1991:35,36).

3.1.2 Die tweede Morawiese sendingmissie: Hendrik Marsveld, Christian Kühnel