• No results found

BASISTEORETIESE PERSPEKTIEWE UIT DIE GESKIEDENIS VAN DIE KERKLIED

3.3 DIE MIDDELEEUE 1 Inleiding

Vir die verstaan van die ontwikkelings in die Middeleeue is die Karolingiese Renaissance van groot belang. Hierdie periode bring 'n oplewing in die kuns en wetenskap en ook 'n nuwe ontwikkeling van die kerklied. Karel die Grote poog om die Romeinse liturgie en sang in die Noorde in te voer (Van der Leeuw en

Bernet Kempers, 1939:63). Tog oordeel Van Andel (1982:25) dat daar geen duidelike lyn aangetoon kan word tussen die vorige periode en die Middeleeue nie. Gregorius die Grote was van besondere belang. In meer as een opsig het hy nogtans 'n groot invloed op die eeue na horn uitgeoefen. Die naam van Gregorius word ook gekoppel aan die kerklied, veral aan die Gregoriaanse kerkmusiek. Hierdie musikale stylvorm het reeds lank voor Gregorius bestaan en kan dus nie aan die pous toegeskryf word nie. Dit blyk egter dat Gregorius 'n hand aan die vormgewing van vele melodiee gehad het wat voor horn ontstaan het. Hy het veral 'n belangrike bydrae gemaak ten opsigte van die redaksie en konsolidasie van die liedere (Van Andel, 1982:25-26). Vir die Westerse kerk begin die standaardisering van die liturgiese sang juis by pous Gregorius die Grote. Vir Bielen (2000:251) is die sang onlosmaaklik verbonde aan die liturgie. Hy ken aan die sang twee funksies toe: (1) 'n begeleidende rol tydens liturgiese handelinge: introi'tus, offertorium en communio en (2) 'n dominerende rol in graduale, tract us en alleluja. Bestaande liedere word ondersoek en daaruit word

behou wat as geskik bevind word. Dit word georden tot 'n sistematiese geheel en in Latyn vertaal (Bielen, 2000:251).

3.3.2 Die plek van die lied en ander musiek in die erediens

Dit is nie altyd duidelik hoe die liturgie deur die Middeleeue ontwikkel het nie. Aanvanklik is die psalms en himnes elke dag gesing, en so het die liedere wel 'n plek in die erediens gehad (Zijlstra, 2001:19). Die bekende begrippe uit die Skriflesing en gebede van die liturgie en uit die prediking het teruggekeer in die lied en so was die lidmate aanvanklik wel betrokke. Met entoesiasme is saamgesing, terwyl die lidmate in twee kore verdeel, wat beurtelings 'n strofe van die himne gesing het (Van Andel, 1982:15). So was dit aan die begin van die Middeleeue, maar algaande het die gemeentesang begin verdwyn en is dit vervang deur priesterlike solosang of priesterlike koorsang (Fourie, 2000:132). Karel die Grote het priesters Rome toe gestuur om die Romeinse liturgie en kerksang te bestudeer met die bedoeling om dit daarna in sy eie gebied in te voer. Daar word selfs sangskole opgerig om hierdie liturgiese hervorming te

steun. Die gevolg hiervan was dat die sogenaamde Gregoriaanse cantus spoedig algemeen in die Westerse deel van die kerk gepraktiseer is. Hierdeur kom veral die digkuns tot groot bloei (Van Andel, 1982:27). Die bekendste lied uit hierdie periode is Veni Creator Spiritus (Kom Skepper Gees) wat aan Harbanus Maurus toegeskryf is. Die lied roep die Heilige Gees direk aan en vra dat die Gees sal kom om die harte van gelowiges te vul. Die himne het spoedig 'n belangrike plek in die liturgie ingeneem, aangesien daar gesing is tydens die wyding van die priesters en die salwing van die konings, by die verkiesing van biskoppe en die oorbring van relikwiee (oorblyfsels) (Van Andel, 1982:28). Die gevolg van die ontwikkeling van liturgiese koorsang in hierdie periode was dat die gemeentesang geleidelik uit die erediens verdring is.

3.3.3 Die invloed van die psalms op die liturgie en die geloof

Alhoewel die psalms steeds 'n plek gehad het, is hulle in hierdie periode algaande meer na die agtergrond geskuif, sodat hulle invloed algaande minder geword het, veral onder die bree kerklike publiek. Sedert die vierde eeu was daar in die Rooms-Katolieke kerk 'n ontwikkeling wat daartoe lei dat die kerkmusiek deur die geestelikes en - na die opkoms van die meerstemmige musiek - deur spesialiste (professionele kunstenaars) uitgevoer is. Die gemeente het passief geword. Hulle moes luister en kyk. Buite die liturgie het hulle soms die geleentheid gehad om te sing, byvoorbeeld op feesdae, tydens prosessies en begrafnisse. Soms, op feesdae, het daar 'n wisselsang in strofes tussen preek en kommunie tussen gemeente (in hul landstaal) en koor (in Latyn) plaasgevind (Luth en Smelik, 2001:218-219). In die liturgie het sekere vaste liedere 'n plek gehad, soos die Kyrie, Gloria, Credo, Sanctus en Agnus Dei (Strydom, 1991:65). Geleidelik is die gemeente se deelname afgeskaal tot responsies (Strydom, 1991:70).

3.3.4 Die plek van die lied in die onderrig en opbou van die volk van God

Alhoewel die psalms algaande minder klem gekry het, is daar ander liedere geskryf wat sekere belangrike temas aangeraak het, waardeur die gewone gelowiges wel onderrig is. Die belangrikste temas wat aan die orde gekom het,

was die eskatologie, Marialiedere, mistieke liedere en die Nagmaal. So was daar wel geestelike volksliedere (Van Andel, 1982:34-56). By bogenoemde temas voeg Kloppenburg (1998:267) liedere wat handel oor die kruis, die Drie-eenheid en persoonlike vroomheid. In die laat-Middeleeue het baie geestelike volksliedere ontstaan, maar hulle word ingeperk tot 'n plek buite die erediens

(Strydom, 1991:69). Die werklike gebruik van psalms vir onderrig het algaande in die Middeleeue verdwyn.

3.3.5 Ander liedere (veral Nuwe-Testamentiese liedere) as aanvulling by die Ou-Testamentiese liedere

Die hele tydperk van die Middeleeue word gekenmerk deur die Oud-Romeinse en Gregoriaanse gesange (Zijlstra, 2001:25). Sekere liedere het Vi vaste plek in die liturgie gekry, soos hierbo genoem, maar buite die vaste liturgie was daar min ruimte vir sang (Strydom, 1991:65). Die geestelike liedere waarna hierbo verwys is, het nie 'n plek in die erediens gekry nie.

3.3.6 Die vorm van die liedere, lewensituasie en emosie

Die betekenis van Ambrosius vir die kerklied kan nie oorskat word nie. Hy het daarin geslaag om 'n liedgenre te skep wat deur eenvoud en strakheid van vorm netsowel volksliedere kon word (Van Andel, 1982:14).

Die Westerse kerklied is in Latyn gesing. Die taal bepaal die karakter: streng, kort, saaklik, sterk ritmes, plasties, plegtig, priesterlik. Latyn is by uitstek beskou as die taal van die himne, omdat die mense gedink het dat in geen ander taal moontlik sou wees om so saaklik, plegtig, kort, plasties, gewyd en nugter te wees nie (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:39). Die kerklike resitatief word normaalweg Gregoriaans genoem. Vanaf die vierde tot sesde eeu ontstaan hierdie wyse van kerksang. Dit omvat twee heeltemal verskillende soorte melodiee:

1. Die psalms- en lectio-melodiee wat niks anders is as 'n resitatief nie - 'n manier om singend te lees - soms eenvoudig; soms meer versierd.

2. Die antifone (beurtsang, ook psalms met 'n terugkerende refrein), tractus (enige psalmvers in ryke psalmodie sonder onderbreking deur die refrein), sekwense en himnes (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:39-40; vergelyk ook Soeting, 1977:3).

Teen die laat-Middeleeue het die Franciskaanse liedere ontwikkel, waarin die vrees vir God, maar ook die liefde vir Christus na vore gekom het (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:78). Baie bekend is die Stabat Mater van die digter Jacopone da Tode (1230-1306). Dit het 'n kerklied geword wat eerder die Pietistiese "ek" gebruik in teenstelling met die "Ek" van die Hebreeuse psalms (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:82).

Aan die einde van die Middeleeue en veel later nog het daar 'n groot eenheid van styl geheers wat dit moontlik gemaak het om dieselfde melodie op 'n kerklike, geestelike en wereldlike teks toe te pas. Die moderne tyd het op willekeurige gronde, 'n skeiding tussen "wereldlike" en "geestelike" musiek aangebring (Mehrtens, 1982:47).

Mistiek en skolastiek het ook 'n invloed op die kerklied gehad. Die kerklied van die twaalfde eeu is bestempel as Christelike mistiek. Die innige verhouding tussen Jesus en die siel staan hier in die middelpunt van die toewyding (Van der

Leeuw en Bernet Kempers, 1939:83). Op die terrein van die skolastiek verskuif die objektiewe verkondiging van die oud-christelike lied na 'n laat-Middeleeuse subjektiwiteit (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:106).

Die historiese belang van hierdie liedere is dat dit die volkslied in die kerk ingebring het. Die kerklied is afgewissel met 'n strofe in Latyn en 'n strofe in die landstaal (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:112). Die melodiee van hierdie liedere wat halfkerklik, halfgeestelik is het aan die einde van die Middeleeue en later steeds oor 'n eenheid van styl beskik in die sin dat dieselfde melodie vir 'n kerklike, geestelike en sekulere teks beskikbaar was (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:118). Die volkslied was van groot betekenis vir die kerklied want die volkslied wat uit die kerk gekom het, het weer sy weg na die

kerk teruggevind in 'n kerklied met 'n nuwe vorm, die sestiende eeuse koraal (Van der Leeuw en Bernet Kempers, 1939:12).

3.3.7 Die kommunikasie deur die woord en die melodie van liedere

Die ontwikkeling van melodiee vanaf die vroee Christendom tot by die Renaissancetydperk van Karel die Grote (wat uiteraard van die latere Renaissance onderskei moet word) is onbekend. Uit die vroeg-Christelike periode het oortuigingsverslae behoue gebly wat inligting bied oor die genres, die wyse van uitvoering en die plek van die liedere in die liturgie. Die Renaissancetydperk van Karel die Grote was 'n periode van opbloei en restourasie. Die liturgiese gesange het ook aandag gekry aan die hot van Karel die Grote. Die tekste van die liedere is ook aangepas volgens teologiese redenasies en die melodie volgens estetiese gevoelens. Vanaf ongeveer 850- 1000 is die melodie nie veel aangepas nie, omdat die mondelingse oordrag nouliks verander het (Zijlstra, 2001:32).

Die belangrikste maniere waarop die liedere uitgevoer is, is responsories en antifonaal. Responsoriese psalmodie is oorspronklik die alternerende afwisseling van 'n solis met die gemeente, wat die refrein gesing het. Die prosessiepsalms wat gesing is met die binnekoms van die cleris en tydens die Nagmaal is op hierdie wyse gesing (Box, 1996:19). Antifonale psalmodie beteken dat die sang verdeel is tussen alternerende sanggroepe in die gemeente. Hierdie sangmetode, waarin groepe mekaar afwissel, is oorspronklik deur asketiese gemeenskappe van Oos-Sirie beoefen. Die antifone was tekste wat gesing is aan die begin van 'n psalm en na elke strofe herhaal is (Box, 1996:19-20). Op hierdie manier was daar wel kommunikasie in die erediens deur die woorde en melodie van die liedere.

3.3.8 Samevatting

In die Middeleeue het die plek van gemeentesang gekwyn. Dit is algaande verskraal tot responsies, terwyl sekere liedere 'n vaste plek in die liturgie van die Roomse kerk gekry het. Die geringe aandeel van gemeentesang in die erediens kan toegeskryf word aan die feit dat die kerktaal Latyn was, wat vir die meeste

van die gewone lidmate ontoeganklik was. Die ontwikkeling van geestelike volksliedere, buite die erediens, kan ten dele as 'n voorloper van die Reformasie gesien word, wat die kerklied betref.

3.4 DIE REFORMASIE