• No results found

Die kunswerk as verbeeldingryke aanbod

5.1 Die kunswerk te midde 'n verbruikerskultuur

5.1.3 Die kunswêreld en medepligtigheid

Soos die voorafgaande bespreking suggereer is die ‘kunswêreld’ – kunsmuseums, kunsgalerye, kunsskole en akademiese instellings – self ook verstrengel met die werking van die verbruikersmark en hipersinchronisering. Tekenend hiervan is die wyses waarop die kunswêreld bepaalde kunsverskynsels as geldig of ongeldig verklaar.

Wanneer Gablik aan kuns die taak toeken om die ‘siel’ van die mensdom te red, wend sy haar nie tot tradisionele religie om dit te bereik nie, maar na kontemporêre kunstenaars wat hul vereenselwig met die ekologiese, spirituele of spiritistiese motiewe van New Age (Morgan 2009:16).137 Grey se Holy Fire (Figuur 23) is 'n voorbeeld hiervan.138 Volgens Morgan (2009:17) en Elkins (2004) kry kuns soos dié wat openlik, sonder ironie of sinisme, getuig van ‘spirituele’ oortuigings, asook werke met meer tradisionele religieuse aspirasies, dikwels baie kritiek vanaf lede van die kunsgemeenskap.139 'n Moontlike rede dat werke met 'n ‘spirituele” agenda uitgesluit word deur die kunswêreld is dat dit weg beweeg van kuns se veronderstelde sakrosankte outonome toestand – iets waarmee beroepsmense in die kunswêreld nie noodwendig wil meegaan nie (Morgan 2009:18). Soos Drucker voel Morgan (2009:17) dat hierdie hekwagterskap gevestig is op die avant-gardistiese opposisionele model – dat kunstenaars kritiese opponente van bourgeois ordentlikheid, die kerk, en staat moet wees (Morgan 2009:17).140 Kunswerke word blykbaar deur die kunswêreld uitgesluit wanneer hulle ander agendas of motiverings het as dié van die kunswêreld. Elkins (2004:53) merk op dat galeryeienaars en kurators 'n verwantskap met genoemde gelowe aanvoel – dat dit dalk te naby is aan die kuns en ideologie wat hulle alreeds aanbied.

Drucker (2005:10) merk tereg op dat die veronderstelde estetiese outonomie van kuns slegs relatief kan wees, aangesien dit slegs binne die raamwerk van instellings

137

Of NRB soos Elkins (2004:54) aandui. Sien Hoofstuk 3 afdeling 3.1.4 voetnota 74

138

Grey se poging om die wetenskap met die mistieke en spiritistiese te versoen (Hoofstuk 3 afdeling 3.1.4) dien na my mening as 'n voorbeeld van 'n ‘nuwe mite’ soos deur Gablik gepropageer word.

139

James Elkins bespreek in sy boek On the strange place of religion in contemporary art (2004) die posisie van religie, en gevolglik spiritualiteit, in die kunswêreld. Sy oogmerk is om nuwe maniere voor te stel om te praat oor kuns wat partymaal huiwerig maar onvermydelik religieus is (Elkins 2004:xii).

140

Volgens die institusionele teorie word kuns beskou as enige iets wat uitgestal word in groot stedelike galerye, deur kontemporêre kunsmuseums aangekoop word en bespreek word in hoofstroomtydskrifte soos Artforum, October en Flash (Elkins 2004:53).

95

soos museums, galerye en kunspublikasies kan bestaan. Elkins, Morgan en Drucker se onderskeie argumente in hierdie verband bring dit na my oordeel tuis dat daar 'n institusionele, kulturele raamwerk is waarbinne kunswerke beleef word. Betragters benader kunswerke, in byvoorbeeld 'n museum, met die vooropgestelde gedagte dat daar 'n verskuilde kritiek of ondermynende agenda daaragter skuil. Elkins (2004:53) se ietwat kriptiese opmerking dat galeryeienaars en kurators 'n verwantskap aanvoel met kunswerke wat deur onder andere NRB’s geïnspireer word, kan in hierdie opsig uitgebrei word. Elkins (2004:53) merk op dat die styl en tegniek waarin werke soos

Holy Fire geskep is, derivatief en illustratief is. Dit word egter ook deur die

kunswêreld verwerp omdat die ideologiese raamwerk waarbinne dit geskep is die ideologieë wat deur die kunswêreld aangehang word ondermyn. Holy Fire se (naïewe) poging om te getuig van 'n geloofservaring en wêreldbeskouing bots met die kunswêreld se voorgeskrewe ideologiese aanhang van kritiese, opposisionele en ondermynende houdings. In die lig van Stiegler se voorgestelde ‘funksionering’ van kunswerke – dat kunswerke individualisasie teenoor die milieu kan meebring – kan 'n kunswêreld wat oor sy eie ideologieë beskik problematies wees.

Die ‘ontmoeting’ tussen 'n betragter en kunswerk vind plaas binne 'n institusionele konteks waarbinne die ‘onverwagse’ en ‘opposisionele’ voorspelbaar is. Stiegler waarsku teen die fenomeen waar die ‘uitsonderlike’, ‘onverwagse’ en ‘oorspronklike’ toestand van die kunswerk deur die verbruikersmark geabsorbeer en geneutraliseer word wanneer dit vir sy ‘uitsonderlike’ waarde aangehang en as net nog 'n kommoditeit verkoop word. In hierdie geval word die kunstenaar 'n ‘handelsnaam’ wat estetiese navorsingswerk doen vir die verbruikersmark. Stiegler verwys hierna as die hiperdiachronisasie van kunssinnige individuasie (2015:157). Na my mening skep die ideologieë verbonde aan die kunswêreld soos uiteengesit deur Morgan, Elkins en Drucker 'n situasie waar die proses van individualisasie verwyderd is van die algemene of alledaagse lewenswêrelde. Ek betwyfel die mate van effektiwiteit van die opposisionele konteks waar kunswerke deur die kunswêreld aan die betragter aangebied word om individualisasie mee te bring teenoor die bestaande milieu. In hierdie opsig is ek nie van mening dat my werke die spreekwoordelike appelkar probeer omgooi nie, maar dat 'n verleidelike, medepligtige en saamspelende houding 'n waardevolle benadering tot instellings binne die samelewing is.

96

Dit blyk dus dat die outonome afgesonderde toestand vanwaar die kunswêreld en kunswerke die verbruikersmark en meegaande implikasies benader, betwyfelenswaardig is. Die ‘verrassende’ proses van individualisering volgens Stiegler word moontlik gekompromiteer in 'n voor-die-hand-liggende kritiese en opposisionele benadering. Daar is aangedui dat deur die tegnieke van die verbruikersmark te imiteer – die betragter in die rol van die rolprentkyker of ‘aankoper’ te plaas – kunswerke veel nader daaraan kan kom om die werkinge van (hipersinchroniese) markmeganismes wat dikwels opaak is, uit te wys. My werke se kritiese implikasies is telkens so geposisioneer dat dit sinsvrae aangaande transendente vertroue en gerustheid aan die verbruikersmark rig. My werke poog met ander woorde nie om stelsels van verbruiking en hipersinchronie te ondermyn nie, maar is eerder gerig om nadenke, oriëntasie of kognitiewe navigasie te midde hierdie prosesse aan te wakker.

Die volgende afdeling sal uitbrei op die wyses waarop nadenke, oriëntasie en kognitiewe navigasie deur middel van deelnemende spel geskied. Betragters word deur die kunswerke oorgehaal om verbeeldingryk deel te neem en dit mag sekere persoonlike besinnende implikasies vir betragters inhou.