• No results found

HOOFSTUK 2: LEER

2.3. KOGNITIEWE LEERTEORIEË

2.3.1. Die inligtingverwerkingsteorie

Inligtingverwerking vind plaas wanneer inligting wat deur die sintuie of sensoriese geheue verkry is (vgl. 2.4.1) en oorgeplaas word na die korttermyngeheue (vgl. 2.4.2), waar dit verwerk word deur uitbreiding en organisasie en dan na die langtermyngeheue (vgl. 2.4.4) deurgevoer word (Mödritscher, 2006:5; Driscoll 2005:74; Ormrod, 2008:197).

2.3.1.1. Die sensoriese geheue

Die sensoriese geheue ontvang inkomende inligting in die vorm van sintuiglike indrukke. Die sensoriese geheue se kapasiteit is baie groot, maar die tydsduur wat inkomende sintuiglike inligting behou word, is baie beperk en word gestel op een tot drie sekondes, dus word die inligting vir ‟n baie kort tyd gehou (Snowman et al., 2000:253; Brown, 2004:23; Ormrod, 2008:198). Die leerder moet ‟n keuse maak oor watter inligting verder verwerk moet word, terwyl die res van die inligting verlore gaan (Woolfolk,1998:250; Ferreira et al., 1994:203). Om te besluit watter van die inligting vir verdere verwerking geselekteer en georganiseer moet word, is bewuste aandag belangrik (Snowman et al., 2000: 253; Schunk, 2000:120).

2.3.1.2. Die korttermyngeheue

Die korttermyngeheue is die komponent van die geheuestelsel waar alle verwerking tydens die leerproses plaasvind (Ormrod, 2008: 199; Driscoll, 2005:86).

30

Die korttermyngeheue is ook beperk in duur en kapasiteit. Inligting word slegs vir twintig tot dertig sekondes behou, daarom moet inligting herhaal word, want hoe langer iets in die korttermyngeheue bly, hoe groter is die kanse dat dit verwerk kan word en na die langtermyngeheue oorgeplaas sal word (Ormrod, 2008:200; Schunk, 2000:139). Verwerking van inligting in die korttermyngeheue, die behoud van inligting asook die oorplasing van inligting na en van die korttermyngeheue, word deur beheerprosesse, naamlik repetisie en enkodering, beheer (Schunk, 2000:140; Snowman et al., 2000:256). Inligting in die korttermyngeheue is afkomstig van twee bronne, naamlik: geselekteerde inligting vanaf die sensoriese geheue en relevante voorkennis vanuit die langtermyngeheue (Woolfolk, 1998:257; Ferreira et al., 1994:205).

Die proses om inligting in die korttermyngeheue te hou word repetisie of herhaling genoem (Slavin, 2000:178). Repetisie is „n “uitvoerende kontroleproses” wat die vloei van inligting deur die inligtingverwerkingstelsel beïnvloed. Repetisie behou nie net die inligting in die korttermyngeheue nie, maar help ook om inligting vanuit die korttermyngeheue na die langtermyngeheue te verskuif (Snowman et al., 2000:255; Driscoll, 2005:86).

Terwyl inligting in die korttermyngeheue is, word bestaande kennis of inligting in die langtermyngeheue herroep en na die korttermyngeheue oorgeplaas sodat die nuwe inligting geïntegreer kan word met bestaande inligting op grond van die verband tussen bestaande en nuwe inligting (Schunk, 2000:121; Filcher & Miller, 2000:63). Wanneer daar op die inligting gekonsentreer word is aktivering aan die gang, maar inligting gaan verlore of verdof wanneer aandag verskuif word en aktivering afneem. Sonder repetisie sal die meeste items waarskynlik nie langer as 20 sekondes in die geheue bly nie (Driscoll, 2005:88, Eggen & Kauchak, 2004:241).

Daar word onderskei tussen repetisie vir behoud (maintenance rehearsal) en uitgebreide repetisie (elaborative rehearsal) (Snowman et al., 2000:256). Repetisie vir behoud behels die blote herhaling van inligting (wat slegs vir „n kort rukkie benodig word) in die geheue (Ormrod, 2008:200). Uitgebreide repetisie behels die

31

assosiasie van die inligting wat „n persoon wil leer met iets wat reeds aan die persoon bekend is, dus met inligting uit die langtermyngeheue. Uitgebreide repetisie behou nie net die inligting in die werkende geheue nie, maar help ook om inligting vanuit die korttermyngeheue na die langtermyngeheue oor te plaas (Woolfolk, 1998:256; Snowman et al., 2000:256; Eggen & Kauchak, 2004:241).

Kodering (verwerking) is die proses waartydens die inkomende inligting en herroepte kennis uit die langtermyngeheue in die korttermyngeheue verwerk word, om daarna in die langtermyngeheue opgeneem en geberg te word as kennis (Snowman et al., 2000:256; Driscoll, 2005:89). Die belangrikheid en betekenisvolheid van die inligting wat geleer word speel ‟n belangrike rol in die herroeping van inligting vanuit die langtermyngeheue. Betekenisvolle en belangrike inligting wat goed georganiseerd is word op ‟n dieper vlak gekodeer of verwerk en kan makliker herroep word (Gravett, 2004:4). Geïsoleerde, feitelike inligting, sowel as inligting wat nie verband hou met die leerder se kennisstruktuur en belangstelling nie, word makliker vergeet (Gravett, 2004:4).

Wanneer die nuwe inligting betekenisvol geïntegreer word met bestaande inligting wat herroep is uit die langtermyngeheue, en die leerder het insig in die ooreenkomste en verskille tussen die nuwe en bestaande inligting, lei dit tot beter begrip van die nuwe inligting (Woolfolk, 1998:257, Driscoll, 2005:89).

2.3.1.3. Die langtermyngeheue

In die langtermyngeheue word inligting wat in die korttermyngeheue tot verklarende, prosedurale en voorwaardelike kennis verwerk is (permanent) geberg vir latere gebruik (vgl. 3.4.1) (Eggen & Kauchak, 2004:243; Driscoll, 2005:99). Dié inligting kan in die langtermyngeheue op verskillende maniere georganiseer word naamlik in die eksplisiete of implisiete geheue en kan in verskillende vorme geberg word (Woolfolk, 2007:259).

Eksplisiete geheue verwys na inligting in die langtermyngeheue waarvan leerders bewus is en wat hulle weet hulle ken. Implisiete geheue verwys na inligting waaraan

32

leerders nie bewustelik aan dink nie, maar wat hulle gedrag en denke beïnvloed sonder dat hulle daarvan bewus is. Eksplisiete en implisiete geheue word geassosieer met verskillende tipes geheue binne die langtermyngeheue, naamlik die episodiese-, semantiese- en proseduregeheue (Woolfolk, 2007:259).

In die episodiese geheue word inligting geberg in die vorm van beelde wat georganiseer word op grond van wanneer en waar gebeure plaasgevind het. Die inligting oor persoonlike ervarings word gestoor in die vorm van „n soort geestesrolprent van dinge wat „n mens gesien of gehoor het, byvoorbeeld ‟n eksperiment wat in die klas uitgevoer was, ‟n verduideliking of ‟n demonstrasie deur ‟n onderriggewer, jou troudag, of waar jy was en wat jy gedoen het op 11 September 2001 (Slavin, 2000:181; Driscoll, 2005:91). Woolfolk (2007:259) is van mening dat inligting in die episodiese geheue in die vorm van visuele beelde òf verbale eenhede òf in beide visuele beelde en verbale eenhede, soos dit voorkom in baie voorgeskrewe boeke, makliker leer en makliker herroep word.

In die semantiese geheue word inligting geberg in die vorm van netwerke van betekenisse, feite en algemene inligting wat leerders weet, konsepte, beginsels of reëls en die gebruik daarvan, vaardighede van probleemoplossing en leerstrategieë (Slavin, 2000:181; Driscoll, 2005:91).

Die proseduregeheue verwys na “weet hoe” in teenstelling met “weet dat”. Die vermoë om motor te bestuur, te tik of fiets te ry, is voorbeelde van stimulus-respons- groeperingvaardighede wat in die proseduregeheue bewaar word (Slavin, 2000:181; Omrod, 2000:2290).

Volgens die inligtingverwerkingsteorie is leer „n verstandsaktiwiteit wat interne kodering en strukturering van die leerder vereis. Leer het plaasgevind wanneer die leerder aktief betrokke is by die leerproses, insig het in nuwe inligting, inligting kan selekteer, organiseer, verwerk en berg in die langtermyngeheue en kan herroep ten einde probleme op te los, en bestaande kennis kan gebruik om tot nuwe insigte te kom (Slavin, 1996:189; Gravett, 1995:33). Die leerder se voorkennis, hoe die leerder dit te wete gekom het, hoe die inligting deur die verstand ontvang, georganiseer, geberg en

33

herwin is, bepaal hoe effektief die leerder geleer het (Ferrreira et al., 1994:207; Gravett, 1995:33).

Die inligtingverwerkingteorie plaas klem op voorkennis (wat die leerder weet) en denkprosesse (hoe die leerder dit te wete gekom het) (Driscoll, 2005:75; Van der Walt, 2006:20). ‟n Leerder met ‟n ryk geheue-inhoud en ervaring sal byvoorbeeld probleme beter hanteer as ‟n leerder met armer geheue-inhoude wat metodes van probeer-en-tref toepas (Ferreira et al., 1994:207). Die organisasie en gestruktureerdheid van inligting, asook die wyse waarop inligting aangebied word, is bepalend by hoe effektief leer plaasvind, want ongeorganiseerde inligting is moeilik om te enkodeer (vgl. 2.3) (Gravett,1995: 33).

2.3.1.4. Leemtes van die inligtingverwerkingsteorie

Stoll et al., (2003:26) argumenteer dat die inligtingverwerkingsteorie se beskrywing van leer en inligtingverwerking onvoldoende is om leer te beskryf. Dié teorie fokus slegs op die werking van die geheue met leer, maar individue kan inligting berg en verkry nie slegs vanuit die geheue nie, maar ook in en van ander bronne soos modelle, video‟s of die Internet (Stoll et al., 2003:26).

Volgens Ferreira et al., (1994:208) en Eggen en Kauchak (2004:272) slaag die inligtingverwerkingsteorie nie daarin om die rol van persoonlike faktore soos emosies, individuele konstruksie van kennis in die sosiale konteks waarin leer plaasvind te verklaar nie. Dié teorie fokus slegs op die kognitiewe vlakke van leerders.