• No results found

HOOFSTUK 2: LEER

2.4. DIE KONSTRUKTIWISTIESE LEERTEORIEË

2.4.1. Basiese aannames van sosiaal konstruktiwisme

Sosiaal konstruktivisme plaas die leerder se behoeftes sentraal te midde van omgewingsfaktore, want leerders se belangstelling en weetgierigheid lei tot selfontdekking en probleemoplossing (Kiely, 2004;20; Overall, 2007:59). Die sosiaal konstruktiwistiese teorieë fokus op aktiewe leer, die aktivering van voorkennis, die ontwikkeling van verklarende en prosedurale kennis, assessering, probleem-oplossing, selfontdekkende leer in die werklike lewe en terugvoering in die leerproses (Kiely, 2004;20; Overall, 2007:59.

Volgens diè teorie het elke persoon „n unieke begrip van die wêreld waarin hy of sy leef op grond van sy of haar persoonlike ervarings en die persoonlike betekenis wat die persoon daaraan heg. Alle nuwe ervarings van individue word gebaseer op hul eie bestaande perspektiewe en beskouinge (voorkennis) (Scheepers, 2000:2; Driscoll, 2005:393; Bartos, 2007:3; Pritchard, 2009:32-33). In die lig van die belangrikheid van voorkennis wat deur persoonlike ervaring gevorm word, moet onderriggewers dus „n begrip hê van leerders se voorkennis om te kan verstaan hoe hulle nuwe kennis konstrueer wat aansluit by hulle voorkennis (Savery en Duffy 2001:1-6; Thanasoulas, 2002:1; Sjøberg, 2007:3). Gravett (1995:33-34) voer aan dat om effektiewe leer te laat plaasvind moet onderriggewers ook leerders bewus maak van leemtes, gapings en diskrepansies in hulle voorkennis. Bestaande miskonsepsies in voorkennis wat as

35

gevolg van leemtes, gapings en diskrepansies ontstaan het moet eers uit die weg geruim word.

Volgens die sosiaal-konstruktiwistiese teorie kan een persoon se kennis nooit heeltemal oorgedra word na „n ander persoon nie, omdat kennis die resultaat is van persoonlike interpretasies wat beïnvloed word deur, onder andere, leerders se geslag, etniese agtergrond, kultuur en kennisbasis (Snowman et al., 2000:293; Kanselaar, 2002:2; Pritchard, 2009:29). Die leerders verkry nie kennis deur net na die onderriggewer te luister nie. Hulle konstrueer hul eie kennis gebaseer op hul oortuigings en vorige ondervindings. Die onderriggewer deel sy eie ervaringe, maar die leerders sal dit nooit ervaar en interpreteer op die presiese wyse wat die onderriggewer dit ervaar het nie (Rautenbach, 2007:74). Die vorming en verandering van kennisstrukture (leer) word veroorsaak deur sosialisering wat plaasvind met die deel van multi-perspektiewe deur debatte en gesprekke met ander persone (Phillips, 1995:5; Abdal-Haqq, 1998:4; Murphy, 2002:5; Driscoll, 2005:397; Sjøberg, 2007:3). Die sosiaal- konstruktiwistiese teorie maak ook die aanname dat leer direk verwant is aan die kontekste waarbinne dit plaasvind. Leerders se wêreldbeskouinge word beïnvloed deur hul spesifieke kulture en die gemeenskappe waarbinne hulle leef. Individue in verskillende kulture sal byvoorbeeld die wêreld verskillend observeer, hipoteses toets, afleidings maak van gebeure wat konsekwent is met mekaar in daardie besonderse kultuur en sodoende konsensus bereik oor eie of gemeenskaplike wêreldbeskouinge (Snowman et al., 2000:294; Driscoll, 2005:397).

Sosiaal konstruktiwisme beskou leer as meer as net die memorisering en reproduksie van kennis (Woolfolk, 2007:344). Lewis (2009:38) en Woolfolk, (2007:344) voer aan dat leer, volgens die sosiaal-konstruktivistiese teorie ‟n aktiewe proses is wat die konstruksie van kennis behels. Met die leerproses vind transformasie met die organisering en rekonstruksie van kennis plaas ten einde gestelde doelwitte en uitkomste te bereik. Die leerder konstrueer sy eie kennis op grond van „n ervaring met ‟n spesifieke aktiwiteit deurdat vorige ervaringe, denkprosesse, refleksie, vergelykings en analises gebruik word om nuwe inligting te vorm.

36

Die sosiaal-konstruktiwistiese teorie argumenteer verder dat vir die doeleindes van leer, moet leertake uitdagend wees en nie net eenvoudige probleemoplossings en basiese vaardighede in dril nie (Woolfolk, 2007:349). Die redes hiervoor is omdat probleme in die werklike lewe kompleks is, veelvoudige, interaktiewe oplossingsmoontlikhede het en elke nuwe oplossing tot nuwe probleme lei wat nie met stap vir stap aanwysings opgelos kan word nie. Skole en ander opvoedkundige instansies moet dus leerders die geleentheid bied om hul hoërorde denke te ontwikkel om komplekse probleme te kan oplos. Hierdie komplekse probleme moet ingesluit word by outentieke leertake en aktiwiteite soos leerders dit gaan ervaar in komplekse, realistiese en relevante omstandighede in die werklike lewe (Van der Walt, 2006:20; Pritchard, 2009:29; Woolfolk, 2007:349).

Wat leerders leer en hoe hulle leer word beïnvloed deur hulle uniekheid, aktiewe

betrokkenheid by die leerproses, voorkennis, sosiale interaksie tydens die leerproses, hulle doelwitte, motivering en verwagtinge (Mergel, 1998:2; Nye, 2000:88; Bothma, 2001:32; Driscoll, 2005:8; Pritchard, 2009:32).

Die essensiële kenmerke van leer volgens die sosiaal konstruktiwistiese teorie, soos uitgelig deur Pritchard (2009:30), Lapadat (2002:2) en Gravett (2004:15), toon ooreenkomste met leer volgens die volwasse leerteorieë (vgl. 2.4.2 en 2.7). Hierdie essensiële kenmerke van leer kan soos volg opgesom word:

Die leerder is doelgerig, aktief betrokke by sy of haar eie leer, aanvaar verantwoordelikheid vir leer en kan onafhanklik werk. Betekenisvolle (meaningful

learning) leer kan nie geskei word van ervaring nie. Die betekenisvolste ervarings

geskied deur leerders te betrek by fisiese of kognitiewe aktiwiteite, want begrip en kennis word gevorm deur die leerder se interaksie met sy omgewing. Leer vind plaas deur gesprekke met ander. Met uitruiling van idees en opinies word nuwe gevolgtrekkings en idees gevorm. Leer vereis dat die leerders nuwe kennis en vaardighede kan demonstreer. Leerders se vermoë om te kan reflekteer oor die leerproses en vakinhoudelike bied „n geleentheid vir internalisering en „n dieper begripsvlak van kennis. Refleksie verhoog leerders se begrip van hulle eie vermoëns en die toepassing van kennis in ander situasies. Leerders moet ook kan verduidelik en

37

bespreek hoe hulle tot gevolgtrekkings kom en watter strategieë hulle gebruik het om probleme op te los.