• No results found

Hoofstuk 5 Siener in die Suburbs

6.1 Algemene samevatting

Hierdie tesis ondersoek die funksionele aanwending van enkele Afrikaanse variëteite in toneeltekste.

Die bespreking van Maagmeisie (Deacon, 2003), fokus op beide die poëtiese en dokumenterende funksie van die variëteit in hierdie versdrama, naamlik Griekwa- Afrikaans. Toneeltekste soos Maagmeisie speel ʼn belangrike rol in die dokumentering, behoud, vorming en verandering van variëteite. Dit kan die breë publiek bekend stel aan onbekende variëteite, byvoorbeeld Griekwa-Afrikaans, en op hierdie manier bydra tot die behoud daarvan, aangesien dit al hoe meer in onbruik raak.

In ʼn onderhoud wat met Nadine Gordimer gevoer is, sê sy die volgende oor Afrikaans:

Afrikaans is nie ʼn wit minderheidstaal nie. Dis ook die huistaal van baie bruin mense. Dit sal nooit sterf nie. Maar dis in die hande van die mense wat dit praat. Dis net jammer dat sommige Afrikaners hul kultuur as iets afsonderliks wil beskou. Taal is die basis van kultuur.

(Greyling, 2000:IB)

Ek het in die bespreking van Maagmeisie aangedui dat dit vir die Afrikaanse taal as geheel van groot belang is dat daar in relatief onbekende variëteite soos Griekwa-

Afrikaans geskryf word. Dit kan daartoe bydra om die stigma wat aan Afrikaans kleef as wit Apartheidstaal uit te wis. Sodoende kan Afrikaans geherdefinieer word as ʼn taal waarin ʼn verskeidenheid kulturele groepe wat elk hulle eie variëteit van die taal praat, deel kan hê. Bertyn (1983:119) skryf in hierdie verband: “ʼn Taal is soos die lug wat ons inasem: dit behoort aan niemand nie.” Ek sou graag dié stelling wou wysig: ʼn Taal is soos die lug wat ons inasem: dit behoort aan almal.

Krog gebruik in haar vertaling van Tom Lanoye se Mamma Medea (2002) ʼn verskeidenheid Afrikaanse variëteite op ʼn uitdagende wyse. Sy plaas ʼn beheerste, poëtiese, maar klassieke vorm van Afrikaans in die monde van die sogenaamde barbare. Verder gebruik sy ʼn gekruide, vrye en moderne vorm van Afrikaans as spreektaal van die sogenaamde beskaafdes. Die wisselwerking tussen die karakters se taalgebruik en hulle omgewing is dus paradoksaal van aard, en rig ʼn uitdaging aan tradisionele sosiolinguistiese opvattings. Die effek hiervan is dat die leser of gehoor se vooropgestelde idees oor die definisie van woorde soos “barbaars” en “beskaafd” bevraagteken word.

In die bespreking van sosiopolitieke dramas soos Kanna hy kô Hystoe (Small, 1965) en Suip! (Peterson & Reisenhofer, 2000) word daar veral gekyk na variëteite se metaforiese rol in dramas. Die politieke funksie van taal word ook betrek. Soos ek reeds genoem het, is Afrikaans ʼn verpolitiseerde taal; daarom beskik die variëteite daarvan ook oor politieke eienskappe. Kaapse Afrikaanse is ʼn voorbeeld van so ʼn variëteit. Dit het as spreektaal van ʼn onderdrukte groep ʼn rol gespeel in die opstande teen die Apartheidsregime.

Volgens Steyn (2000:IB) en Louw (1999:IB) sien die sprekers van Engfrikaans Standaardafrikaans as die simbool van onderdrukkende waardes (wat insluit die Apartheidsregime). Die vermenging van tale is dus ʼn poging om hierdie onderdrukking te ondermyn. Engfrikaans kan dus, soos Kaapse Afrikaans, ook met ʼn politieke doel voor oë aangewend word.

Wat is die implikasies daarvan dat variëteite van Afrikaans vir ʼn politieke funksie gebruik word? Lanoye sê tydens ʼn onderhoud die volgende in hierdie verband:

Jy kan nie van ʼn taal ʼn instrument van politiek maak nie. As jy dít doen, dan ly die taal skade. Taal is ʼn organisme wat gemaak is vir kommunikasie. Jy kan alleen ʼn taal van bevryding hê as jy eers ʼn taal van verdrukking gehad het.

(Steyn, 2004:IB)

Lanoye noem dat die rol van taal as ʼn middel tot kommunikasie moontlik skade kan ly wanneer dit as politieke wapen gebruik word. Ek wil hierby aansluit deur na Hauptfleisch (1983:76) te verwys, wat skryf dat teater al so lank gebruik word as ʼn “publieke wapen vir die bevordering van die taal dat teater se werklike doel, naamlik kommunikasie tussen skrywer en gehoor, uit die oog verloor is”.

Die aanwending van taal se politieke funksie hou die gevaar in dat dit die kommunikasiemoontlikhede van die betrokke taal kan beïnvloed indien dit die oorheersende funksie van daardie taal raak. Myns insiens is daar in die dramas wat ek in hierdie verband bespreek het, ʼn goeie balans tussen die gebruik van die variëteit se politieke funksie en die ander funksies, byvoorbeeld die poëtiese en metaforiese.

In Siener in die Suburbs (Du Plessis, 1971) is daar ʼn duidelike wisselwerking tussen die karakters se milieu en hulle taalgebruik. Laasgenoemde word egter nie slegs deur die omgewing beïnvloed nie, maar ook deur elke individu se karaktereienskappe. Dit bring mee dat die karakters se taalgebruik nie net simbolies van hulle omgewing is nie, maar ook van elkeen se gemoed en ambisies. Du Plessis gebruik wel net een variëteit in die drama, maar elke karakter besig ʼn unieke vorm daarvan; dus ’n idiolek.

Soos Kanna hy kô Hystoe (Small, 1965) en Suip! (Peterson & Reisenhofer, 2000), skep Siener in die Suburbs vir die leser of gehoor ʼn beeld van mense wat in armoede vasgevang is. Al drie hierdie dramas bring die leser of gehoor onder die indruk van die dehumaniserende maatskaplike toestande waarin die karakters verkeer. Die leser of kyker kan dan besin oor sy/haar bydrae, hetsy aktief of passief, om ʼn gemeenskap te skep waar sommige mense kan uitstyg en sukses kan behaal, en ander onder die juk van hulle maatskaplike omstandighede in armoede vasgevang bly.

Uit hierdie studie word dit duidelik dat taal en taalvariëteite ‘n kragtige rol in die samelewing – en op die verhoog, as weerspieëling daarvan – speel. Soos Kennedy (1975: 34) dit stel: “For in our culture, which language is backward-looking and the bearer of long memories, certain words, phrases, and rhythms are charged with resonances which, in the theatre, can be distinctly heard”. Gesien in die lig van dít wat in die tesis bespreek word, is hierdie stelling inderdaad van toepassing op die funksionele gebruik van variëteite in toneeltekste. Die geïmpliseerde raamwerk van meeste variëteite sluit nie net tyd-ruimtelike informasie met betrekking tot die sprekers daarvan in nie, maar kan ook informasie insluit oor hulle gemeenskaplike

sosiale en politieke omstandighede. Om hierdie rede kan die gebruik van variëteite van groot belang wees in toneeltekste.