• No results found

Hoofstuk 5 Siener in die Suburbs

5.2. Bespreking van Siener in die Suburbs

5.2.1 Algemene bespreking

Siener in die Suburbs (voortaan Siener) is die eerste keer deur die Transvaalse Raad

vir die Uitvoerende Kunste op die planke gebring. Dit het op 12 Augustus 1971 in die Breytenbach-skouburg geopen, onder regie van Francois Swart.

Die verhaal handel oor ʼn paar mense wat aan die “verkeerde” kant van die spoor in ʼn “semi-huis” in die suidelike voorstede van Johannesburg woon. Die hoofkarakters is: Tjokkie, wat met die helm gebore is en die “siener” in die voorstedelike gemeenskap is; sy suster, Tiemie, wat daarvan droom om uit die voorstede weg te kom; en Jakes, die antagonis, wat die moeilikheidmaker in die drama is.

Tiemie raak swanger en Jakes neem aan dat dit sy kind is, maar Tiemie wil nie Jakes se kind hê nie (daar word gesuggereer dat dit moontlik nie eens Jakes se kind is nie), omdat sy uit die voorstedelike omgewing wil wegkom – as sy met Jakes trou, is daar geen kans dat haar lewe ooit beter gaan word nie; inteendeel, sy sal, soos Tjokkie sê,

“... Vrydagaande moet dronknes hou en so nou en dan gedôner raak ook” (Du Plessis, 1971:25).

Die byspelers is Tjokkie en Tiemie se ma (Ma) en haar vriend (Giel), asook Fé en Albertus, wat klein rolle in die drama vertolk. Fé is gedurig naby Tjokkie te sien (sy het skynbaar ʼn ogie op hom), maar die kalwerliefde tussen die twee word nie in die drama ontwikkel nie. Oor Albertus sê Du Plessis (1971:10) in sy karakterontleding: “Wanneer hy opgedaag het, weet niemand presies nie – ook nie eintlik van belang nie, hy’s daar.”

Sommige van die karakters, byvoorbeeld Giel en Jakes, wil hê dat Tjokkie die toekoms moet voorspel. Giel wil meer oor Ma se vorige man weet, asook wat die uitslag van ʼn sekere perdewedren gaan wees. Jakes wil weet of die kind wat Tiemie verwag, syne is of nie. Giel en Jakes “dwing” Tjokkie uiteindelik om die toekoms te “sien”. In sy visioen voorspel hy watter perd die resies gaan wen waarop Giel wil wed. Hy suggereer ook dat Tiemie se kind nie Jakes s’n is nie, en dat hulle (Tjokkie en Tiemie) met hulle pa herenig gaan word.

Nadat die perd wat Tjokkie aangedui het, die wedren wen, kom die toneelstuk tot ʼn dramatiese einde. Giel gaan weg omdat hy nou vrees dat Ma se man dalk gaan terugkeer. Tiemie word vermoor, waarskynlik deur Jakes en skuldgevoelens dryf Tjokkie tot selfmoord; so word die kinders dus in hulle dood weer met hulle pa verenig. Die dramatiese ironie wentel volgens Van Vuuren (1980:12-13) om Tjokkie se “sienery”, want “sy ‘regsienery’ maak die situasie erger”.

Die variëteit suburbs-Afrikaans word tegelykertyd ter wille van die metaforiese funksie en realisme aangewend. Soos ek in die inleidende hoofstuk noem, funksioneer hierdie twee funksies goed saam, aangesien albei ’n bepaalde verwysingsraamwerk impliseer. Die realistiese funksie behels dat die karakters in ʼn lewensgetroue situasie uitgebeeld word, en hulle taalgebruik behoort dus ook realisties te wees, soos die geval is in Siener. Die metaforiese gebruik van die variëteit impliseer dat taal ʼn tematiese funksie in die drama vervul.

Kritici het verskillende idees omtrent die tema in Siener. Van Coller (1984:23) maak die stelling dat daar oorkoepelende temas in verskeie van Du Plessis se werke voorkom, naamlik:

(...) die mens se ewige strewe na ʼn paradyslike bestaan, hoe kleinburgerlik dié utopie ook soms is, met daarteenoor ʼn reeks remmende faktore wat die bereiking van dié geluksalige toestand in die weg staan. Dit is opvallend dat hierdie meulstene dikwels milieu- en erflikheidsfaktore is.

Britz (1977:79-80), daarenteen, is van mening dat die tema in Siener “die ontleding van die liefde en sy baie verskyningsvorms rondom die mens” is:

Die tema van die liefde word uitgebeeld deur al die karakters, sodat dit ʼn beligting word van die liefde van verskeie kante. Tussen Ma en Giel is daar die onwettige liefde wat Giel noem:

“… ʼn reine liefde vir mekaar. Soos ʼn man en vrou mekaar moet liefhê” (Du Plessis, Siener, p.15).

As verdere voorbeelde noem Britz die “besitlike jaloersheid” waarmee Jakes Tiemie liefhet en die kalwerliefde wat Fè vir Tjokkie koester. Hierbenewens is daar ook die broer-suster-verhouding tussen Tjokkie en Tiemie en die ouer-kind-verhouding tussen hulle en Ma. Van Vuuren meld ook die verskillende liefdesverhoudings as ʼn belangrike element in die drama. Die tema in Siener is egter volgens Van Vuuren (1980:7) “die futiele gegryp na geluk en ontsnapping uit ʼn troostelose situasie”, en hierdie tema word “geklee in verskillende liefdesverhoudings”.

Ek is geneig om saam te stem met Van Vuuren en Van Coller, aangesien daar rede is om die teenwoordigheid van liefde in sommige van die sogenaamde liefdesverhoudings te betwyfel. Verhoudings, of dan liefdesverhoudings, is dus nie die tema nie; dit word slegs gebruik om die werklike tema te illustreer – naamlik die karakters se vergeefse strewe na ʼn beter lewe.

Ek gaan vervolgens die gebruik van suburbs-Afrikaans in die drama bespreek. Elke karakter (buiten Fè en Albertus) en sy/haar taalgebruik sal afsonderlik beskou en bespreek word.

5.2.2 Jakes

Jakes is moontlik die karakter in die drama met die mees tiperende dialoog. Sy karaktereienskappe sluit in gewelddadigheid, kruheid en ʼn gevoel van minderwaardigheid, maar ook die strewe na iets beters. Hy begeer om ʼn pa te word.

Hy wil sy manlikheid hierdeur bewys, want dit blyk uit sy vorige kinderlose huwelik dat hy nie kinders kan hê nie. Die knou wat sy manlikheid kry vanweë sy kinderloosheid dra by tot Jakes se minderwaardigheidskompleks. Hy kompenseer hiervoor deur met ʼn groot motorfiets rond te jaag en gewelddadigheid teenoor die ander karakters te toon.

Hy wil hê dat Tiemie die ma van sy kind moet wees, aangesien hy graag ʼn ma met sosiale “klas” vir sy kind wil hê. Deur met haar te trou, kan hy sy eie sosiale stand effens verhoog. Dit is egter juis die verhouding tussen Tiemie en Jakes wat verhoed dat sy uit haar voorstedelike omgewing ontvlug om sodoende haar sosiale stand te verhoog. Haar verhouding met Jakes verlaag eerder haar eie sosiale stand. Jakes se liefde vir Tiemie is dus selfsugtig: hy is die enigste een wat voordeel trek uit die verbintenis.

ʼn Verdere faset van Jakes se persoonlikheid word geopenbaar in sy strewe om ʼn beter mens te wees. Britz skryf die volgende in hierdie verband:

Ondanks sy [Jakes se] oppervlakkige lewensbeskouing dat die lewe net uit “love en juice” bestaan, strewe hy tog na iets wat sin en betekenis aan sy lewe kan verskaf. Daarom is sy grootdoenerigheid eintlik paradoksaal met sy innerlike wat in verset is teen sy doellose bestaan. Net soos Tiemie wil hy ook uitstyg bó sy maatskaplike groep en vir sy kind begeer hy dit nog meer.

Volgens Kannemeyer in Van Coller (1984:31) is die verdieping in Jakes se karakter geforseerd. Sy “begeerte om ‘klas’ te word en met ʼn meisie van stand te trou en daarby sy begeerte om ʼn laaitie te hê om hom as man te bewys” lei tot tweespalt. Hierdie begeerte van Jakes is myns insiens nie so vergesog nie. Byna al die ander karakters in die stuk het immers die begeerte om bo hulle huidige omstandighede uit te styg. Jakes wil egter nie soos Tiemie uit die voorstedelike omgewing wegkom nie; hy wil binne sy eie milieu na ʼn hoër stand beweeg. Van Coller skryf die volgende in reaksie op Kannemeyer se stelling:

Jakes sit opgesaal met erflike eienskappe (sy moontlike steriliteit, dus onmanlikheid) én met sy milieu (daarom soek hy ʼn klas-ma vir sy laaitie). Indien dit dui op ʼn tweespalt, dan is daar ʼn dualiteit by bykans elke karakter wat worstel met die suburbs.

(Van Coller, 1984:31)

Jakes is bewus daarvan dat daar meer aan die lewe is as die teneerdrukkende en gewelddadige omstandighede waarin hy hom daagliks bevind. In die onderstaande uittreksel praat hy oor die liefde:

Jakes: Love is love. Love kom uit jou derms uit. Ek en die oulady se insides werk maar net bietjie aan die sterk kant.

(Du Plessis, 1971:46)

Hier kan ʼn mens sien dat selfs wanneer Jakes oor iets soos die liefde praat, hy ʼn kru beeld (“derms”) as metafoor gebruik. Soos Van Vuuren (1980: 13) skryf, is Jakes se onverfyndheid merkbaar in sy kru taalgebruik. Ten spyte van sy kruheid blyk dit egter

uit die bostaande aanhaling dat Jakes tog gevoelens het en dus ook in staat is om lief te hê en seer te kry. Hy weet hoe om op ʼn gewelddadige wyse uiting te gee aan emosies soos woede, maar weet nie hoe om emosies soos liefde te verwoord nie; hy gebruik dus dieselfde register wanneer hy oor laasgenoemde praat.

Van al die karakters is Jakes se taalgebruik die kruuste en gewelddadigste. Van Vuuren (1980:13) skryf dat dit “wemel van gewelddadige uitdrukkings, omdat geweld die een wet is waarvolgens hy lewe ...”. Van Vuuren skryf verder (1980:13) “Jakes druk homself nooit in die abstrakte uit nie (...) sy taal wemel van Engelse uitdrukkings ...”. Hy gee uiting aan sy gebrek aan enige verfyndheid deur gebruik te maak van kru frases. Die volgende uittreksel illustreer hierdie stelling:

Jakes: My oue van dae, as my broek nou elke nag oor die oulady se bedstyl hang, dan gaat ek nie oor die dogter se morals preek nie.

(Du Plessis, 1971:32)

Jakes praat hier met Giel en verwys na die feit dat Ma en Giel saamslaap, al is hulle nie getroud nie, en dat hulle dus nie ’n vinger kan wys na hom en Tiemie nie. Sy verwysing na die “broek” wat “oor die oulady se bedstyl hang” is ʼn voorbeeld van Jakes se eiesoortige beeldspaak. Hiermee verwys hy na Giel wat elke aand by Ma oorslaap. Jakes erken geen onderwerp as taboe nie; daar is volgens hom niks wat nie bespreek kan word nie. ʼn Verdere voorbeeld van ʼn kru vergelyking is:

Jakes: Nee, hy’s reg vir sien. Kyk hoe kyk hy. Hy maak al geelkoppie. Net so skwirt dan’s daai puisie uit.

Hy gebruik die uitdruk van ʼn puisie as ʼn metafoor vir die feit dat hulle inligting uit Tjokkie wil kry. Die druk (“skwirt”) van die puisie simboliseer die feit dat Jakes fisies “druk” op Tjokkie sal toepas indien hy sou weier om te “sien”. Jakes is onafgerond en kras; hy gebruik geweld om te kry wat hy wil hê. Jakes se eiesoortige beeldspraak is nie net kru nie, dit is ook by tye komies en sy dialoog verskaf op plekke komiese verligting. Die beeldspraak en metafoor waarna ek hierbo (in hierdie en die vorige paragraaf) verwys, is voorbeelde hiervan.

Jakes se kru en gewelddadige taalgebruik is dus simbolies van sy karakter. Dit vervul derhalwe terselfdertyd ʼn realistiese en metaforiese funksie: Sy taalgebruik pas by die betrokke milieu en openbaar ook bepaalde aspekte van sy karakter.

5.2.3 Tiemie

Tiemie het ʼn goeie werk by ʼn firma in die stad. Sy streef daarna om uit haar omstandighede te ontsnap, soos uit die volgende gedeelte blyk:

Tjokkie: En jy was altyd stuck-up, jy wou beter doen as hierdie plek. Toe dog ek, oraait, die girl is reg, met haar gesig sal sy hier uitkom.

(Du Plessis, 1971:25)

Die feit dat sy mooi is en daarvan droom om uit die voorstedelike omgewing te ontsnap, onderskei Tiemie van die ander karakters.

Britz (1977:103) skryf in hierdie verband: “Tiemie strewe daarna om uit die Suburbs uit te kom, daarom praat sy beter Afrikaans as die ander karakters.” Tiemie se taalgebruik simboliseer dus haar strewe na ʼn beter lewe, deurdat sy ʼn “beter” Afrikaans (sonder Engelse woorde en gekruide taal) praat as die res. Die volgende is enkele voorbeelde van Tiemie se taalgebruik wat openbarend is van haar karakter:

Tiemie: Boetie, as ek nou ʼn kind moet kry … dis dieselfde as ek. Ek wil dit nie so hê nie … ek … ek wou nie. Ek het Ma te veel gehaat oor myself toe hulle by die skool uitgevind het.

(Du Plessis 1971:24)

In die aanhaling hierbo kan ʼn mens sien dat Tiemie nie soos sommige van die ander karakters ʼn mengeltaal gebruik nie. Sy sê dat sy nie nou ʼn kind wil hê nie, omdat die kind dieselfde lewe as sy sal moet lei: ʼn lewe in die voorstedelike gemeenskap waar jy gespot word oor wie jou ma en pa is, of omdat jy nie weet wie jou pa is nie. Sy wil ʼn beter lewe vir haarself en haar kinders hê, soos uit die onderstaande aanhaling blyk, en indien sy op hierdie stadium ʼn kind by Jakes het, verbeur sy al haar kanse op ʼn beter lewe.

Tiemie: Dis nie van Ma wat ek wou weg nie … dis van die plek af. Ma, ek kan nie met Jakes trou nie. Ek wil nie hier bly nie. Ek wil nie hierdie lewe hê nie, ook nie die mans nie, Ma. Ek wil nie ʼn man hê wat getrek huis toe kom nie …

Wanneer Tiemie van die lewe in die voorstedelike omgewing praat, skemer iets van die ruheid en krasheid daarvan in haar woorde deur:

Tiemie: Hy wou jou weglieg van my af en jy wou my met die kind, met die aspris, wil jy my vasmaak aan hierdie nes. Jy wil my in ʼn semi stop om daar te lê en kleintjies kry soos ʼn varksog.

(Du Plessis, 1971:54)

In die bostaande dialoog sien ons dat hoewel sy daarna streef om te ontsnap en ʼn “beter” Afrikaans praat as die ander karakters, sy tog ook die kras terme gebruik wat kenmerkend is van sommige van die ander karakters. Sy is dus vasgevang in ʼn bose kringloop: sy wou so graag uit haar milieu ontsnap, maar indien sy geboorte skenk aan Jakes se kind, sal haar lewe moontlik dieselfde paadjie as haar ma s’n volg.

Tjokkie en Ma het hulle ontsnappingshoop op Tiemie gevestig, aangesien hulle dink dat sy ʼn goeie kans het om weg te kom. Wanneer dit egter begin blyk dat Tiemie, die een van wie almal sulke hoë verwagtinge gehad het, ook vasgevang is, begin ʼn mens wonder of dit ooit vir enigeen moontlik sal wees om uit die voorstedelike omgewing te ontsnap. Hierdie aspek van die drama toon ʼn ooreenkoms met die sosiopolitieke dramas wat in die vorige hoofstuk bespreek is en waarin uitkoms ook onmoontlik blyk te wees.

Die mees uitstaande kenmerk van Tiemie se karakter is haar droom om uit die voorstedelike omgewing weg te kom, maar dit is moeilik om hierdie droom te verwesenlik: sy is deel van die “suburbs”, en so ook haar taal, al wil sy hoe graag daarvan wegbreek. Haar taalgebruik simboliseer haar optrede, want hoewel sy nie in

die voorstedelike omgewing wil bly nie, en nie met Jakes wil trou nie, het sy tog, soos Tjokkie sê, by hom “loop lê”. Tiemie se taalgebruik is dus ʼn metafoor vir haar karakter, wat strewe na beter, maar dit moeilik vind om uit die omstandighede waarin sy grootgeword het en leef, te ontsnap.

5.2.4 Tjokkie

Du Plessis (1971:27) beskryf Tjokkie in sy karakteruiteensetting as iemand wat van kleins af “diep van geaardheid” was. Hy is ʼn ernstige man, en wanneer Fé te kenne gee dat sy ʼn ogie op hom het, sê Tjokkie: “Ek loop straight. Ek het al te veel ouens sien vasdraai.” Hy wil nie soos sy ma en suster vasgevang raak in ʼn verhouding wat hom nog meer aan die voorstedelike omgewing sal bind nie.

Volgens Van Vuuren (1980:7) is daar ʼn teenstrydigheid in die ander karakters, omdat dít waarvoor hulle leef (om hulle maatskaplike omstandighede te verbeter) nie ooreenstem met hulle dade nie. Dit is immers as gevolg van hulle dade dat hulle in hulle huidige omstandighede vasgevang bly. Tjokkie is egter anders. Van Vuuren skryf die volgende in hierdie verband: “Dis net Tjokkie wat nie dié tweespalt in homself het nie: hy lewe suiwer volgens sy beginsels van ordentlikheid” (Van Vuuren, 1980:7).

As gevolg van die feit dat Tjokkie ʼn ernstiger mens is as sommige van die ander karakters, met ʼn groter sin vir verantwoordelikheid, is sy taalgebruik meer beheers as byvoorbeeld dié van Jakes, en gebruik hy nie soveel kru woorde nie (buiten wanneer hy sy humeur verloor), byvoorbeeld:

Tjokkie: Hulle dommigheid krap in jou seerplek – in die plek waar jy oopgebars het. Dit maak jou siek. Ek kan dit nie vat nie ... al die phonies soos Giel. Ek krap myself ook in my seerplek, soos ʼn stompsinnige aap ... dis dié dat ek in so ʼn dwaal is as ek klaar is ... dan kan ek net seerkry en myself seermaak. Dan voel dit of alles my skuld is. Maar ek kan daar niks aan dóén nie ...

(Du Plessis, 1971:28-29)

In die bostaande gedeelte beskryf Tjokkie aan Fé hoe hy voel nadat hy die toekoms “gesien” het. Hierdie uittreksel illustreer sy “diepheid van geaardheid” (Du Plessis, 1971:27), aangesien hy in ʼn beeldende taal praat en vergelykings gebruik om sy boodskap oor te dra. Die vergelykings wat hy gebruik, is nie so kru as dié van Jakes nie. Tjokkie se deurdagte en beheerste taalgebruik dien dus as metafoor vir die diepte van sy geaardheid.

Tjokkie het ook, soos Tiemie, op ʼn stadium daarvan gedroom om uit die voorstedelike omgewing weg te kom. Hy sê byvoorbeeld: “(...) toe ons klein was en saam gesit en speel het ons bly anderkant die spoor en Ma is getroud ... ek het saam met jou gehoop” (Du Plessis, 1971:25). Die Buick waaraan Tjokkie werk, is ʼn metafoor vir sy smagting na ontvlugting. Dit sou moontlik ʼn manier kon wees om uit sy huidige omgewing weg te kom, maar soos Tjokkie self te kenne gee: “Hy’s [die Buick is] gaar. Hy sal nooit loop nie!” (Du Plessis, 1971:14). Hoewel Tjokkie anders is as die ander karakters, het hy geen werklike hoop op ontvlugting uit die voorstedelike omgewing nie.

Die kruheid en gewelddadigheid van sy omgewing het wel ʼn impak op sy taalgebruik. Wanneer hy sy humeur verloor nadat hy te wete kom dat Tiemie haar kanse op ontsnapping verbeur het, kom sy opgekropte aggressie die duidelikste in sy taalgebruik na vore:

Tjokkie: Jy moet met daardie klot trou! Jy sal Vrydagaande moet dronknes hou en so nou en dan gedôner raak ook. En jy was altyd stuck-up, jy wou beter doen as hierdie plek. Toe dog ek, oraait, die girl is reg, met haar gesig sal sy hier uitkom. Nou sit jy met die grootste tang in die Suburbs se kleintjie – nog een van die arme bloedjies wat in hierdie plek moet vergaan.

(Du Plessis, 1971:25)

Hoewel Tjokkie nie uit die voorstedelike omgewing kan ontsnap nie, het hy altyd geglo dat sy suster dit sal kan doen. Wanneer hy uitvind dat Tiemie Jakes se baba verwag, is hy woedend, omdat hy weet dat sy nou nie meer ʼn kans het om uit haar omgewing te ontvlug nie.

Soos by die ander karakters, vervul die variëteit van suburbs-Afrikaans in Tjokkie se geval ook die funksie van realisme. Sy kras taalgebruik in die bostaande gedeelte is karakteropenbarend en toon aan dat hy, soos Jakes en Giel, deel van die “suburbs” en in ʼn mate slagoffer van sy milieu is.

5.2.5 Ma

Ma het foute, maar soos Du Plessis (1971: 9) in sy karakteruiteensetting noem, is sy ʼn