• No results found

Om 'n gedig in 'n Afrikaanse dialek te skryf

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "Om 'n gedig in 'n Afrikaanse dialek te skryf"

Copied!
15
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

Hans du Plessis, Noordwes-Universiteit

Om gedigte in ’n Afrikaanse dialek te skryf

ABSTRACT

The question is often asked why I have written poetry in the Griqua dialect of Afrikaans? The term Griqua verse refers to my four volumes of poetry in this dialect. The article deals with the subsequent issue of appropriation in literature and questions connected to it, including: Whose dialect is it? What do you know about the dialect? Whose intellectual property is it? Whose voice is it? Within the framework of practice based research, the ethics of my writing in a dialect are discussed, and it asks about the place of this poetry in the Afrikaans literary system. It points out that the choice of the specific linguistic code is based on extensive sociolinguistic research. A number of other literary works in dialects are referred to. It is argued that negative reaction on the Griqua poetry is in most cases a political reaction and not a literary one.

1. Inleiding

Dit blyk uit die bespreking in Afdeling 6 van hierdie artikel dat daar normaalweg allerlei vrae opduik rondom woordkuns wat in ’n niestandaardkode van ’n taal geskep is. Om in die diverse en hoogs verpolitiseerde omgewing van Afrikaans dialekkuns te skep, bring onvermydelik ook ’n verskeidenheid vrae en etiese kwessies na vore, kwessies wat die skepper van die woordkuns nie vooraf noodwendig voorsien het nie. In hierdie artikel word sodanige kwessies beredeneer met verwysing na die Griekwapsalms. Dit volg hieruit dat die bespreking ’n bespreking van my eie Griekwaverse is, en daarom noodwendig as ’n selfrefleksiewe bydrae gelees moet word.

Die vrae wat ter sprake kom, hou verder verband met die skeppingsproses self en met die beredenering van kwessies wat in die meeste gevalle eers ná publikasie na vore gekom het. Die bespreking word daarom gevoer binne die raamwerk van die sogenaamde praktyknavorsing. Dit raak verder die skep

(2)

van poësie oor die algemeen, en word daarom aangebied as ’n bespreking binne die Skryfkuns as vakdissipline.

Die doel van die artikel is eenvoudig om, uiteraard subjektief, na antwoorde te soek op vrae wat uit die praktyk spruit. Kortom: watter soort vrae, veral etiese vrae, kan die skrywer verwag as hy of sy besluit om woordkuns in ’n dialek te skep?

Ek sou ten aanvang maklik kon kom met allerlei etiese antwoorde oor hoekom ek die Griekwapsalms geskryf het, soos dat ek die dialek as hoëfunksiekode wou bevorder, die hegemonie van Standaardafrikaans wou knak, of dat ek die Bybelse woord in Omgangsafrikaans wou omsit ter wille van die verkondiging van die evangelie. Ongelukkig moet ek reg aan die begin bieg dat ek by die skep van die Griekwa-gedigte niks anders bedoel het nie as om Afrikaanse gedigte te skryf. Niks meer en niks minder nie. Die etiese kwessies is eers agterna te berde gebring en hierdie artikel is ’n poging om op dié kwessies kommentaar te lewer.

Die algemeenste vraag ten opsigte van die Griekwapsalms is of dit opgetekende volksverse is, en of dit oorspronklike gedigte is? Die literêre kwaliteit daarvan is nie hier ter sprake nie, aangesien dit nie voorgee om ’n literêr teoretiese artikel te wees nie, maar eerder ’n onderwerp wat in die skryfkunsteorie tuishoort omdat dit besin oor die oorsprong en aard daarvan. Dit is relevant om daarop te wys dat hierdie vraag selfs aan N.P. van Wyk Louw gevra is met verwysing na die dialekgebruik in Klipwerk (Vergelyk Afdeling 4 hieronder).

Verder moet ek ter inleiding verklaar dat ek met die term Griekwagedigte al my poëtiese werk in hierdie variëteit van Afrikaans bedoel. Boonop gebruik ek die term dialek hier bloot as gerieflikheidsterm ten einde ’n ellelange teoretiese gesprek oor die linguistiese terme variëteit, dialek, sosiolek, en so meer, te vermy.

Sedert die verskyning van die eerste Griekwapsalm meer as dertig jaar gelede het daar heelwat vrae en kwessies ontstaan waarop ek in hierdie artikel probeer antwoord, maar dit moet by herhaling duidelik gestel word dat die antwoorde, soos die vrae, eers agterna uitgedink is en nie deel was van die oorspronklike skeppingsproses nie.

Op grond hiervan kan die gesprek verder gevoer word teen die agtergrond van praktykgebaseerde navorsing. Teen hierdie teoretiese agtergrond is dit die doel van hierdie artikel om bepaalde etiese kwessies ter sprake te bring en om die vrae wat daaruit onstaan binne hierdie

(3)

navorsingsmetode te beredeneer ten einde die voornemende dialekskrywer van moontlike skeppingsprobleme bewus te maak. Die oorhoofse doel van die artikel kan daarom geformuleer word as ’n skrywer se verslag van ’n aspek van die resepsie van Afrikaanse dialekpoësie.

Navorsing en wetenskaplike beskrywing in die kreatiewe kunste, soos die skryfkuns, die beeldende en die uitvoerende kunste binne die raamwerk van praktykgebaseerde navorsing is algemeen. Breed en Greyling (2010:86) merk in hierdie verband op: “Die navorsingsmetode erken die verband wat tussen die teorie en die praktyk bestaan, asook die relevansie van teoretiese en filosofiese paradigmas vir die kontemporêre kunspraktisyn.” Die doel van praktykgebaseerde navorsing op die gebied van die Skryfkuns as vakdissipline is dus om die insigte wat tydens of na die praktiese skep van ’n woordkunswerk bekom is, neer te skryf ten einde die insigte met die skrywers- en navorsingsgemeenskap te deel. “Die notering van die refleksies op die kreatiewe proses is dus van besondere belang,” meen Breed en Greyling (2010:88). Aangesien hierdie teoretiese raamwerk die verband tussen die teorie en die praktyk erken, impliseer dit ook om praktykgebaseerde insigte wat ná die praktiese skep van die Griekwa-gedigte bekom is, neer te skryf ten einde dié insigte met die skrywers- en navorsingsgemeenskap te deel.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die Griekwapsalms nie die eerste Afrikaanse literatuur in ’n dialek is nie. Die karakter Katje Kekkelbek gebruik dit ruim twee eeue gelede al op die verhoog, en G.R. von Wielligh byna ’n eeu gelede in sy prosa. In die loop van die twintigste eeu volg voortreflike letterkunde in veral die Kaapse dialek, soos dié van Adam Small, en die afgelope twintig jaar of so tree ’n nuwe geslag Afrikaanse variëteitskrywers na vore.

Die Griekwapsalms is ook nie die eerste gedigte in die Griekwadialek nie. Daarvoor moet S.J. Pretorius die krediet kry vir die sewetal Oersongeite in die bundel Argekrobaat van 1969 (p. 54 e.v.).

Ek meen die fel reaksie uit sommige oorde op die gebruik van die Griekwadialek in my gedigte het min met die estetiese te make, maar meestal, indien nie altyd nie, met die politieke klimaat waarin die Griekwabundels verskyn het. Die kwessies waarom dit in hierdie artikel gaan, is my reaksie op opmerkings, soos dat dit opgetekende materiaal is en dus appropriasie is, of dat Griekwas nie so praat nie. Uiteindelik dan ook dat ek my dit aanmatig om namens die Griekwas te praat.

(4)

Laasgenoemde betrek myns insiens ook die vraag na waar die Griekwaverse in die Afrikaanse literêre sisteem pas? Dit wil vir my voorkom of hierdie poësie tussen subsisteme bly sweef omdat die status as subsisteem in hierdie geval nie altyd deur die teks self bepaal word nie. Dit word as tekste in ’n variëteit van Afrikaans in een subsisteem geplaas, terwyl dit op grond van die mens agter die gedig in ’n ander subsisteem gedwing word. Dit lyk vir my of die outeur en die dialekteks vir sommiges onversoenbaar is. Natuurlik is dit in die lig van ons politieke verlede ’n verstaanbare kontradiksie, maar is dit vandag nog geldig?

Dit is die doel van die artikel om op grond van terugvoer uit die praktyk teoreties dieper op enkele kwessies in te gaan, sonder om voor te gee dat die bespreking as sodanig binne enige ander teoretiese raamwerk aangebied word.

2. Agtergrond

Ter wille van duidelikheid is ’n breër agtergrond by hierdie gedigte nodig. Ek was sedert die begin van 1980 as taalnavorser betrokke by Christo van Rensburg se omvattende navorsingsprojekte oor die Afrikaans van die Griekwas en die Richtersveld. Daarna was ek projekleier van ’n navorsingsprojek oor die vestiging en gebruik van Afrikaans in Namibië in die middeljare tagtig. My kennis van die subvariëteite van Oranjerivierafrikaans is daarom gegrond op deeglike wetenskaplike navorsing binne die teoretiese raamwerk van die Sosiolinguistiek, veral soos verteenwoordig in die werk van die Amerikaanse sosiolinguis, William Labov.

Dialeknavorsing sluit dataversameling, -verwerking en data-analise in en veronderstel veldwerk as sentrale metode van dataversameling. Labov se sogenaamde waarnemersparadoks vereis die direkte opname van ’n gesproke variëteit in die betrokke variëteitsgebied. Dit is veldwerk in die vorm van direkte taalopnames onder sprekers van sodanige dialek. Hierdie soort onderhoude veronderstel persoonlike gesprekke, wat die navorser onvermydelik in ’n persoonlike verhouding met die segsmens plaas.

Dit was tydens een so ’n weeklange veldwerksessie dat ek in die hotel op Douglas die aand gewonder het hoe Psalm 23 in die mond van een van hierdie segsmense sou klink? Ek het net daar opgestaan en met Psalm 23 as interteks my eie gedig in die dialek geskryf. Hierdie gedig is in 1982 in die SA Tydskrif vir taalkunde gepubliseer. In 1984 verskyn Ses Griekwapsalms (pp. 51-52) in die digbundel, Gewete van glas.

(5)

Eers heelwat later, in 2001, verskyn die eerste van vier volledige bundels met Griekwagedigte by Lapa-uitgewers, Innie skylte vannie Jirre. Daarna Boegoe vannie liefde (2002) en Hie neffens my (2003). Karos orie dyne verskyn in 2012.

Van een ding is ek seker: nie ek of die uitgewer het in 2001 gedink dat daar iets anders van die eerste bundel sou kom as wat van enige ander digbundel in Afrikaans kom nie, omdat die doel daarvan niks anders was nie as die publikasie van ’n digbundel. Nie ek of die uitgewer het die oorweldigende reaksie op Innie skylte vannie Jirre verwag nie – daar het nou reeds net onder die 60 000 bundels verkoop. Hettie Scholtz, die redakteur van die eerste drie Griekwabundels, het wel vooraf iets hiervan vermoed, en die bemarking daarvolgens beplan. Miskien moes ek fyner opgelet het, want die gewildheid van Awie van Wyk se pragtige toonsetting van Psalm 121 in die vroeë jare tagtig moes al iets voorspel het.

Toe eers, agterna, moes ek begin wonder oor hoekom ek in ’n dialek skryf; toe eers moes ek antwoorde soek op vrae wat agterna opgeduik het!

3. Ons praat nie so nie

Van die reaksie het uit die geledere van die Griekwagemeenskap self gekom. Dit het gewissel van: “Dankie, dit is mos nou onse skoon Afrikaans!” tot: “Ons praat nie so nie!”

As hierdie reaksie uit ander oorde gekom het, sou ek nie eers daarop geantwoord het nie, maar omdat dit uit die taalgemeenskap self kom, reageer ek graag daarop, want dit is geldige kommentaar. Dit is geldig om die eenvoudige rede dat dit inderdaad so is dat nie alle Griekwas so praat nie, en ook dat nie nét Griekwas so praat nie.

Die Griekwagemeenskap ontstaan uit die Khoistam wat rondom 1652 nog in die omgewing van Piketberg woon, maar wat as gevolg van kolonisasie van die Kaap sosio-ekonomies ontwrig word en onder leiding van kaptein Adam Kok noordwaarts versit en in die omgewing van Pella en Klaarwater (later Griekwastad) onder die invloed van die Britse sendelinge kom en in ’n geordende gemeenskap bestaan. Later wyk van die Griekwas al met die Oranjerivier oos tot by die huidige Philippolis en later tot by Kokstad. Die verhuising lei daartoe dat daar ook ’n Griekwagemeenskap in Kranshoek, naby Plettenbergbaai vestig, en die Le Fleurgroep vestig hulle op die plaas Ratelgat in Namakwaland naby Vanrhynsdorp. Hieruit is dit duidelik dat die Griekwas nie tot een geografiese gebied beperk is nie, en

(6)

dit is dus nie vreemd dat ’n spreker uit Kranshoek of Ratelgat nie dieselfde subvariëteit van Afrikaans sal gebruik as ’n spreker uit Griekwastad nie, want die dialekte verskil van mekaar omdat die sprekers reeds vir ’n geruime tyd geografies ver van mekaar verwyder is.

Die beswaar dat die Griekwagedigte in die bundels nie verteenwoordigend is van die taal van alle Griekwas nie, is daarom geregverdig, want daar is in elke variëteit van ’n taal ook sprake van subvariasie wat deur onder andere geografiese en/of sosiale faktore gevoed word. Dit sou dus selfs moontlik wees dat ’n spreker van ’n bepaalde variëteit op grond van sy of haar sosiale omgewing kon sê: “Ek praat nie so nie.”

Die subvariëteit wat in die Griekwabundels gebruik word, is gegrond op die variëteit soos wat dit gebruik word in die geografiese gebied waar die veldwerk gedoen is. Die Afrikaans van die Griekwas in die gedigte is die kode soos wat dit voorkom in die opnames van veldwerk in Griekwaland-Wes, min of meer in die geografiese driehoek van Danielskuil, Upington en Douglas.

Dit is verder so dat daar nie duidelike politieke, sosiale of ekonomiese grenslyne tussen verskillende variëteite getrek kan word nie. Gevolglik sal dit nie nét Griekwas wees wat Afrikaans op hierdie spesifieke manier praat nie. ’n Dialekgemeenskap mag nou wel linguisties homogeen wees, maar dit impliseer nie noodwendig homogeniteit op ander vlakke nie. Die gebruikers van Standaardafrikaans is immers nie ’n homogene gemeenskap bie.

Die navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas waarop my gedigte gebaseer is, is hoofsaaklik gegrond op opnames in Griekwaland-Wes en verteenwoordig nie die tongval van sprekers uit ander geografiese oorde nie. (Vergelyk Van Rensburg, 1984.)

Verder is dit ook belangrik om daarop te wys dat die navorsingsverslag van die projek waarna ek verwys spesifiek gedateer is. Dit is ’n verslag oor die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare (Van Rensburg, 1984). Ontwikkeling op die gebied van die onderwys, infrastruktuur, beskikbaarheid van media, en so meer het ’n wesenlike uitwerking op die kode wat sprekers gebruik, en daarom sal die Afrikaans van die Griekwas van vandag wesenlik kan verskil van dié van dertig jaar gelede.

Dit is te verstane dat mense dan nie almal op dieselfde manier sal reageer op die taalkode in ’n bepaalde literêre teks nie.

Dit is uiteindelik ook belangrik om in hierdie verband te wys op die verskil wat Frank Hendricks (2014) tussen vertelkode en sitaatkode tref. Ofskoon

(7)

Hendricks dit in sy artikel het oor die gebruik van Oranjerivierafrikaans in die kortverhale van Elias P. Nel, is daar myns insiens ook sprake van ’n vertel- en ’n sitaatkode in die Griekwagedigte.

Die digter is in ’n sekere sin ook verteller en die kode wat die digter gebruik, kan daarom ook as vertelkode beskou word, terwyl dialoog in die gedigte die sitaatkode verteenwoordig. Die digter stel met ander woorde ook ’n verteller, of dan fiktiewe digter, aan. Die kode wat hierdie verteller gebruik kan immers nie al die moontlike idiolekte binne die betrokke dialek verteenwoordig nie. Die verteller maak daarom in wese gebruik van ’n fiktiewe idiolek wat uit die aard van die saak nie verteenwoordigend is van alle sprekers van die dialek nie. Dit wil vir my voorkom of die bundels dan eintlik ’n soort fiktiewe poëtiese taalgemeenskap voorstel en dat ’n mens nie daarvan sal kan sê dat dit linguisties reg of verkeerd is nie. Dit is hoogstens moontlik om daarvan te sê dat dit kán bestaan, gemeet aan die analise van Oranjerivierafrikaans op al die grammatikale vlakke in die Griekwa- (1984) en die Suidwes-verslag van Du Plessis (1987).

Om daarom te veralgemeen en te beweer dat Griekwas nie so praat nie, is nie ’n geldige oordeel nie, ’n individu of ’n sekere subgroep sal wel kan sê dat ek of ons nie so praat nie, maar dan is dit bloot ’n subjektiewe oordeel wat nie noodwendig waar is van die vertelkode wat in die gedigte gebruik word nie. In Hendricks (2012:107) se woorde is hierdie kode ’n bemiddelde weergawe van Oranjerivierafrikaans. Hendricks (t.a.p.) sê: “Die bewoording bemiddelde weergawe van Oranjerivierafrikaans soos dit hier gebruik word, hou in dat Nel se literêre inkorporering van hierdie streekvariëteit nie gelyk te stel is aan sosiolinguistiese korpusversameling nie, maar bejeën behoort te word as ’n kreatiewe, verrekende konstruksie van Oranjerivierafrikaans wat berus op ’n individuele seleksie uit die talige opsies wat die variëteit hom bied.”

4. Waar het jy die verse opgeteken?

In Rondom eie werk (1986:548) verwys N.P. van Wyk Louw na reaksie op sy kontreigedig, Klipwerk, en hy merk op: “Die ergste [mening] miskien was dat een ‘kenner’ vir my na Holland geskryf het om te vra wáár ek dié Bruinmensliedjies opgeteken het…”

Ten spyte van wat voor in elke bundel staan, is dit die een vraag wat ek seker die meeste hoor wanneer iemand oor die Griekwagedigte praat. En dit is nie net die kenners tussen aanhalingstekens wat die vraag vra nie,

(8)

dit is al by menige bespreking onder ingeligte literatore en taalkundiges kategories gestel dat veral die Griekwapsalms opgeteken is, as sou dit iets soos volksrympies wees.

Die antwoord op die vraag of die gedigte opgeteken of ’n verwerking van opgetekende Griekwa-materiaal is, is kategories nee. Nie een enkele reël van my kontreigedigte is opgeteken nie, dit is sonder uitsondering my eie skeppinge.

In my prosawerke het ek wel soms van die opnames van segsmense gebruik gemaak wanneer ek ’n anekdote in die monde van karakters in ’n roman lê. Die Griekwaverse is in verreweg die meeste gevalle geskryf met ’n Bybelgedeelte as interteks, maar die prosodie is in alle gevalle my eie.

Ek kan dus sonder skroom op hierdie vraag antwoord dat nie een van die gedigte na my wete bestaan het nie en dus nie opgeteken is nie, en dit sou aan die hand van die volledige transkripsies van gesprekke in genoemde navorsingsverslae gekontroleer kon word.

Dit bring my by die ernstigste beskuldigings rondom hierdie gedigte, naamlik die kwessie van plagiaat en appropriasie.

5. Appropriasie

Ek is al dikwels, met verwysing na die Griekwagedigte, van appropriasie beskuldig, selfs van plagiaat. Plagiaat is ’n moeilike begrip, maar dit kan hier as letterdiefstal beskou word. Appropriasie beteken vir my die opeis van iemand anders se intellektuele besitting as jou eie. Verskillende woorde is al in hierdie verband gebruik, waaronder diefstal, plagiaat, oneerlik, aanmatiging, en so meer. Die antwoord hierop sou eenvoudig ’n verwysing na die antwoord op die vraag in die vorige afdeling wees. ’n Mens kan immers net iets steel wat bestaan.

Die antwoord is egter glad nie so eenvoudig nie, omdat die kwessie van appropriasie ’n veel meer komplekse kwessie is, veral in Suid-Afrika waar dialekgrense ideologies getrek is. Daarom lyk dit vir my nodig om eers die term appropriasie te omskryf.

In ’n origens positiewe resensie van Boegoe Vannie liefde in die tydskrif Literator het Louise Viljoen (2008) dit ten slotte oor die kwessie van appropriasie in die bundel. Sy ervaar “ ’n mate van ongemak” wanneer “die stem van ’n ander aangewend word…”. Dit gaan vir Viljoen nie net om “die taal van ’n ander wat hier gebruik word nie; dit is ook die stem van ’n ander soos wat hy tuishoort binne ’n bepaalde leefwêreld”. Die grens

(9)

tussen stem-gee en appropriasie is vir Viljoen problematies. “’n Mens mis dus ’n vorm van selfrefleksie oor die kwessie van stemgee aan ’n ander, of die stem van ’n ander gebruik vir jou eie doeleindes.” Viljoen omskryf nie die term appropriasie nie, terwyl die WAT by die lemma appropriasie slegs die twee woorde toe-eiening en aanmatiging as verklaring aangee. In literêre woordeboeke kry ek nie die term as literêre term nie, en ek sal voorlopig volstaan met iets soos die toe-eiening van iemand anders se besitting, of dit nou die ander se stem of leefwêreld is.

Die veronderstelling is daarom dat ek in die onderhawige bundels die taal en die leefwêreld van die Griekwas approprieer.

Helize van Vuuren (2008) bespreek in ’n artikel die kwessie van appropriasie vollediger met verwysing na die gebruik van Boesman-materiaal in die prosa en poësie van Eugène Marais, G.R. von Wielligh en Antjie Krog. Dit gaan vir Van Vuuren nie net om appropriasie nie, maar daarom dat (2008:87) “alle verwerkers van San-materiaal hulself moet afvra (veral afstammelinge van dié wat die onderdrukkers was), … of die verwerking onderdrukkend of bevrydend meewerk…” Dit kom neer op die etiese vraag of “daar ’n sensitiewe omgang met die materiaal is”?

Dit gaan in die werk van bogenoemde skrywers om die verwerking van opgetekende, mondelinge materiaal en Van Vuuren (2008:95) wys in hierdie verband daarop dat die “mondelinge tradisie van die San en Khoi dus in die sisteem van die Afrikaanse letterkunde opgeneem” word. Hoe verder ’n mens weg beweeg van die blote optekening van die mondelinge tradisie, hoe meer verander die verhouding tussen die mondelinge en die geskrewe.

Dit is ’n etiese vraag wat ook ten opsigte van die Griekwagedigte gevra kan word. Dit is egter belangrik om op die verskil tussen hierdie gedigte en die skryfwerk waaroor Van Vuuren dit het, te wys. Die Griekwagedigte is ’n verwerking van Bybelse materiaal en nie ’n verwerking van Griekwa-materiaal nie. Dit is daarom eerder ’n debat oor die etiek van die verwerking van Bybelse materiaal.

Met verwysing hierna verskil ek van die siening van Louise Viljoen, want die gebruik van Bybelse materiaal word in elke bundel eksplisiet verklaar. Indien daar dan sprake van die oorname van materiaal is, is daar geen sprake van die oorneem van opgetekende, mondelinge Griekwa-materiaal in hierdie bundels nie. Daarom kan daar in hierdie opsig ook nie sprake van appropriasie wees nie,

(10)

Dit gaan vir Van Vuuren ook om die kulturele “oorplanting” van materiaal in storievorm in Afrikaans.

Van Vuuren (2008:87) verwys na Eugène Marais se voorwoord by Dwaalstories waarin hy opmerk dat daar ’n “Boesmantaal en -letterkunde” is, maar dat dit “’n letterkunde sonder letters” is. Ook hierin verskil die Griekwagedigte van die werk van die skrywers onder bespreking in dié sin dat die taal van die gedigte steeds Afrikaans is, al is dit in ’n dialek van Afrikaans. Ek meen ’n mens sou kon redeneer dat die gebruik van hierdie dialek as vertelkode vir die bundels nie as appropriasie geïnterpreteer kan word nie.

Daarmee bedoel ek hoegenaamd nie dat die gebruik van ’n dialek in die poësie van ’n nie-dialekspreker nie ook op sigself etiese vrae kan ontlok nie. Die vraag is egter of die dialek in die gedigte met sensitiwiteit gebruik word? Van Vuuren kom tot die slotsom dat omdigting en verwerking van materiaal appropriasie is. Appropriasie veronderstel ’n gebrek aan respek vir die kultuurgoedere of dit kan aan die ander kant selfs ’n huldeblyk aan die variëteit wees in dié opsig dat dit ’n poëtiese hulde aan die kode is.

Die gebruik van mitiese figure uit die Khoi-tradisie, soos die beerlou en die waterslang, in my bundels kan natuurlik as kulturele oorplanting beskou word, maar dan is die gebruik van die psalmis se pes in die donker of die pyl in die nag in die Afrikaanse Psalms in ieder geval reeds kulturele oorplanting. Wat is die heks in Hansie en Grietjie of jakkals en wolf dan anders? Nog nooit het ek iemand daaroor hoor kla nie! Net so min as wat daar iets soos ’n suiwer taal bestaan, kan daar iets soos ’n suiwer kultuur bestaan.

Ek meen dat daar teen hierdie agtergrond by die Griekwagedigte nie sprake van appropriasie of plagiaat is nie. Die gebruik van die dialekkode gee by verstek erkenning aan die dialek as skeppingskode. Dit kan hoogstens waar wees dat die statuur van die digter vergroot word deur uit dié vitale bron te skep, maar appropriasie is dit nie.

Indien die Griekwagedigte nie ’n voorbeeld van appropriasie is nie, is die kritiek dat ek as moedertaalspreker van ’n ander variëteit van Afrikaans nie die Griekwadialek mag gebruik nie, ’n ander saak. Dan volg die vraag of ek as moedertaalspreker van Afrikaans ’n ander Afrikaanse dialek as skeppingsmiddel mag gebruik?

(11)

6. Namens wie praat jy?

Op 27 Augustus 2012 reageer ene Marianne de Jong op ’n resensie van Marlies Taljaard op Versindaba oor Karos orie dyne. “Moet Griekwaverse nie vir Griekwasprekers en -skrywers gelos word nie?”

My reaksie hierop was eenvoudig dat ek nog nooit namens, vir of teen die Griekwas gepraat het nie. Al wat ek gedoen het, was om in een van die dialekte van my eie taal my eie, oorspronklike gedigte te skep. Hierop sê Buiteblaf Breytenbach in reaksie op De Jong se opmerking in dieselfde blog dat hy so “half gehoop (het) dat die gepieker oor ‘jy mag jou ’n ander se stem nie verbeeld nie’ (en sommer ook: jy mag die ander nie van aangesig tot aangesig sien nie) se wiele teen dié tyd sou afgeval het. Red nou ’n volk met sulke verstokte kopgekoloniseerdes”.

Voorgaande gesprek beklemtoom die gepolitiseerdheid van die Afrikaanse gemeenskap. Hein Willemse vra reeds in 1984 op ’n beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde of daar een Afrikaanse letterkunde is, en kom tot die slotsom dat die twee pole van die Afrikaanse letterkunde die Afrikaner-letterkunde en die nie-hegemoniese Afrikaner-letterkunde is (Willemse, 1985:229). “Naas die Afrikaner-letterkunde staan daar ’n vegtende stem.” Hy  argumenteer verder dat die nie-hegemoniese poësie translinguisties en nie-etnies is en dat dit “pamfletpoësie” is wat “in stryd met die luukse” is. Dit sluit aan by Jakes Gerwel (1985:42) se vraag: “Sal Afrikaans die Afrikaner-ryk oorleef?” Hy waarsku dat Afrikaans hom nie maklik sal kan losmaak van sy Afrikanergeskiedenis nie.

Aangesien die Griekwagedigte nie ’n voorbeeld van appropriasie is nie, moet die rede vir die kritiek op die gedigte elders gesoek word. Ek meen dit gaan eintlik om my gebruik van die dialek. Indien dit so is, is dit in wese ’n beswaar wat met literêre subsisteme verband kan hou; iets wat ek voorlopig ’n sisteemkwessie sal noem.

Laat ek dit dan maar op die naam noem: die eintlike beswaar is dat ’n sogenaamde wit spreker ’n sogenaamde bruin dialek as skeppingskode gebruik. Ek gebruik hier spesifiek die woord sogenaamd, want daar kon binne die Afrikaanse spraakgemeenskap nog nooit wit of bruin linguistiese grense getrek word nie.

Die gesprek oor variëteite in die Dietse letterkunde en reaksie op die hoëfunksiegebruik daarvan is nie tot Afrikaans en sy variëteite beperk nie. Edgar Cairo (1980:46) haal een van die reaksies op sy skryfwerk in Surinaamse

(12)

Nederlands aan: “Ik praat soms zo, ma’ ik heb nooit zulce dinges op papier geschreven! Schrijftaal is tog geen spreektaal?”

Tjalie Robinson (Wikipedia) sê juis:

“I did not care that people wanted to call me ’neither fish nor fowl,’ and wanted to label me (an Indo), either Indonesian or Dutch. For them I just had to choose between the two, right? Nevertheless, I stubbornly named the turtle as ’neither fish nor fowl,’ and praised this animal as a unique, land-and-sea-lover who lives to very old ages, whose meat has an excellent taste, and who cuts through oceans from continent to continent. I said, “Just as I do not find the turtle inferior, although he is neither fish nor fowl, I do not think the Indo inferior.”

Hy (1991:5) vind dit egter tog nodig om te verduidelik hoekom hy Ik en Bentiet in Petjo skryf. Petjo is ’n taal wat in die voormalige Nederlands-Indië of Batawië gepraat is (vgl. Van Rheede, 1995). Volgens Robinson (1991:13) se uitgewer is Petjo “een mengelmoes van Nederlands, Maleis, geur, kleur, smaak en geluid”.

Dit is, lyk dit vir my, uiteindelik egter eerder ’n vraag na die literêre subsisteem waarbinne ’n werk in ’n variëteit van ’n taal geplaas word.

Die sisteemteorie is nie in besonderhede hier van belang nie, maar ek wil tog daarna verwys omdat dit vir my voorkom asof die Griekwabundels nêrens in die Afrikaanse literêre sisteem tuis is nie. Dit lyk vir my of die beskuldiging van appropriasie uiteindelik daarin geleë is dat ek as skrywer deel van Hein Willemse se Afrikaner-letterkunde is, terwyl die Griekwatekste deel van ’n ander subsisteem is. Eintlik is die beskuldiging dan dat ek as nie-moedertaalspreker van die Griekwadialek nie in dié dialek mag skep nie. Dit maak vir my nie sin nie, want dan sou dit impliseer dat ’n skrywer net in sy of haar moedertaalkode mag skep. Dit is tog absurd.

Waar pas die Griekwaverse in die Afrikaanse literêre sisteem dan in? Dit wil vir my voorkom of hierdie poësie tussen subsisteme bly sweef omdat die status as subsisteem in hierdie geval nie deur die teks self bepaal word nie. Dit word as tekste in ’n variëteit van Afrikaans in een subsisteem geplaas, terwyl dit op grond van die mens agter die gedig in ’n ander subsisteem hoort, asof die outeur en die dialek onversoenbaar is.

Natuurlik is dit in die lig van ons politieke verlede ’n verstaanbare kontradiksie, maar die vraag is nou of dit geldig is?

(13)

Odendaal en Van Coller (2007:96) argumenteer juis dat Suid-Afrika sedert 1990 gekenmerk word deur versoening en die verval van tradisionele kulturele en rassegrense. Dié sosio-politieke verandering het volgens hulle ook ’n invloed op die Afrikaanse literêre subsisteme, wat naas mekaar bestaan, gehad. Die vraag is vir my in hierdie gesprek of dit inderdaad ook waar is by die beoordeling van die Griekwagedigte as deel van ’n subsisteem teen die agtergrond van die sisteemteorie soos wat Odendaal en Van Coller (2007) dit in die artikel verstaan?

Volgens hulle (2007:95) is ’n literêre sisteem dinamies en dit definieer sigself sonder formele grense. So ’n sisteem bestaan uit ’n klomp subsisteme, soos genres, subgenres, stylkenmerke, drukgroepe of die invloed van meningsvormers. Individuele literêre sisteme bestaan naas ander sisteme en kan selfs oorvleuel, maar dit kan deur eksterne omstandighede, soos politiek-ideologiese verandering in ’n gemeenskap, beïnvloed word.

Die verwarrende is na my mening egter daarin geleë dat die skepper en die skepping noodwendig in dieselfde subsisteem moet wees. Die digter se subsisteem (of dan subgroep) word immers nie deur literêre faktore bepaal nie, terwyl ’n literêre subsisteem ten minste daarmee rekening moet hou.

Dit is opmerklik dat die kritiek op Antjie Krog se gebruik van die Richtersvelddialek van Afrikaans nie onder dieselfde kritiek deurloop nie. Krog gebruik dit in haar bundel Kleur kom nooit alleen nie en sy verklaar dat sy variëteite gebruik om die hoogdrawendheid en die hegemonie van Standaardafrikaans te ondermyn. Dit is nie dat ek haar nie glo nie, want haar eerlikheid is nie by my onder verdenking nie. Dit is net dat ek selfs nie só ’n doel voor oë had by die skryf van die Griekwagedigte nie.

7. Slot

Hoekom skryf jy dan gedigte in ’n dialek? Die antwoord op die aanvanklike vraag is nie ’n hoogdrawende antwoord nie. Ek skryf gedigte omdat ek nie anders kan nie, en ek skryf van die gedigte in Griekwa-Afrikaans omdat ek die dialek as sosiolinguis ken en omdat ek die dialek en sy mense liefhet.

As sosiolinguis weet ek dat die opvatting dat ’n variëteit van ’n taal ’n minderwaardige kode is, meer as vyftig jaar al ’n foutiewe en ’n verouderde opvatting is.

Miskien is ’n opmerking wat die akteur en skrywer van die Silwerskermfliek, Nommer 37, die gepaste slotopmerking vir hierdie artikel. Daryne Joshua sê in ’n onderhoud op RSG se oggendprogram Monitor dat

(14)

dit vir hom lekker was om ’n fliek in Afrikaaps te maak, en dat dit goed is as ander sprekers ook Afrikaaps gebruik, want dan word so iemand “een van die family”.

Ten slotte kan ek in alle eerlikheid sê: my taalkunde en my literêre werk van die afgelope vyf en dertig jaar beklemtoon dit wat die groter Afrikaanse gemeenskap met mekaar deel en nie dit wat ons ver-deel nie. Dit is hoekom ek gedigte in ’n dialek skryf.

VERWYSINGS

BREED, C.A. & GREYLING, S.F.

2010. ’n Ondersoek na ’n werkswyse: die herskryf van ’n komplekse Afrikaanse roman na ’n draaiboek. Literator, 31(2): 83-115.

CAIRO, E.

1980. ‘Ik ga dood om jullie hoofd’. Haarlem: Uitgeverij in de klipscheer.

DU PLESSIS, H.

1987. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes. Pretoria: Ongepubliseerde RGN-verslag.

1984. Gewete van glas. Kaapstad: Human en Rousseau. 2001. Innie skylte vannie Jirre. Pretoria: Lapa Uitgewers. 2002. Boegoe vannie liefde. Pretoria: Lapa Uitgewers. 2003. Hie neffens my. Pretoria: Lapa Uitgewers. 2012. Karos orie dyne. Pretoria: Lapa Uitgewers.

GERWEL, G.J.

1985. Afrikaner, Afrikaans, Afrika. In: Malan, C. & Smit, B. Skrywer en

gemeenskap: tien jaar Afrikaanse Skrywersgilde. Pretoria: HAUM-Literêr: 40-51. HENDRICKS, F.

2011. Hoe gemaak met die ánder Afrikaans? Pomp, 12: 111-4.

2012. Om die miskende te laat ken: ’n blik op Adam Small se verrekening van Kaaps. Tydskrif vir Letterkunde, 49(1): 95-114.

2014. Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P. Nel. LitNet

Akademies, 11(2). KROG, A.

2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwêla.

MALAN, C. & BARTHO, S. (REDS.)

1985. Skrywer en gemeenskap: tien jaar Afrikaanse Skrywersgilde. Pretoria: HAUM-literêr.

(15)

ODENDAAL, B.J. & VAN COLLER, H.P.

2007. Antjie Krog’s role as translater: A case study of stragetic positioning in the current South African poly-system. In: Current Writing, 19(2): 84-102.

PRETORIUS, S.J.

1969. Argekrobaat. Kaapstad: Human & Rousseau.

ROBINSON, T.

1991. Ik en Bentiet. Den Haag: Uitgeverij Moesson.

VAN VUUREN, H.

2008. Plagiaat? Appropriasie? Kulturele oorplanting? Huldiging?: Brandende kwessies rondom mondelinge tradisies – Eugène Marais en die San opnuut bekyk, Journal of Literary Studies, 24: 4, 85-112.

VAN RENSBURG, M.C.J.

1984. Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Pretoria: Ongepubliseerde RGN-verslag.

VAN RHEEDE, H.

1995. Het Petjo van Batavia. Ontstaan en structuur van de taal van de Indo’s. Universiteit van Amsterdan: Instituut voor Algemene Taalwetenschap.

VAN WYK LOUW, N.P.

1986. Versamelde Prosa I. Kaapstad. Tafelberg.

VILJOEN, L.

2003. Resensie: Boegoe vannie liefde. Literator, 24(3): 168.

WILLEMSE, H.

1985. Poësie se nie-hegemoniese vorm. In: Malan, C. & Smit, B. Skrywer en

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

s urrealisme word verteenwoordig deur enkele figure, maar. gesamentlik bi ' ed die kunstenaars nog geen eg

For the announcement size however, economic theory suggests that the relative announcement size should give a significant negative abnormal return for the issuing

In dit onderzoek werd niet alleen de relatie onderzocht tussen impliciete theorie kind en doeloriëntatie kind (zie hierboven), maar ook werd onderzocht of inschatting eigen talent

The result of this study show that for the period before the financial crisis long audit tenure did not affect auditors propensity to issue a going concern opinion.. However for

Weliswaar kan worden gesteld dat we vier hokken van het meetnet nauwkeurig hebben geïnventariseerd en bovendien een groot deel van het Voorsterbos heb- ben gezien, maar het

vijf microsclerotiën per gram grond kan al zeven (trompet- boom) tot veertien % (Noorse es- doorn) zieke planten worden ver- wacht.. De percentages zieke planten gelden echter

Centraal in deze studie staat de (i) mening en opvatting van Nederlandse consumenten alsook (ii) zijn gedrag inzake vijf voedsel- waarden, die het ministerie van LNV van belang

Service cut-offs became widespread as local authorities implemented aggressive cost recovery policies which resulted in the advent of community movements whose primary aim was to