• No results found

Narratiewe empatie en die skryf van ʼn novelle

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "Narratiewe empatie en die skryf van ʼn novelle"

Copied!
159
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

Narratiewe empatie en die skryf van ʼn

novelle

Z. le Roux

25591258

Verhandeling voorgelê ter nakoming vir die graad

Magister Artium

in Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomkampus van

die Noordwes-Universiteit

Studieleier:

Professor SF Greyling

Medestudieleier:

Professor PL van Schalkwyk

(2)

Opsomming

SLEUTELTERME: Empatie, kognitiewe narratologie, kognitiewe empatie, affektiewe empatie, psigologie, narratiewe empatie, storie, fiksie, fiksionele wêrelde, novelle, fokalisasie, karakterisering, vertellersperspektief, karakter-identifisering, storielyn, skryfkuns, praktykgebaseerde navorsing.

In hierdie praktykgebaseerde studie word gepoog om die konsep empatie te ondersoek, volgens goeie skryfkunsbeginsels en psigologiese insigte, sodat ʼn eie novelle geskryf kan word waarin empatie effektief bewerkstellig word. Sowel die teoretiese verkenning as die proefondervindelike kreatiewe skryfproses dra by tot die begrip van hierdie ingewikkelde konsep. Die verstaan van empatie is oor die algemeen vir die skryfkuns en spesifiek vir die novelle bevorderlik. Die ervaring van empatie beteken om te voel wat ʼn ander voel en dit dra by tot ʼn dieper en vollediger verstaan van die ander.

Die komplekse werking van empatie word ondersoek, sodat dit in die breër konteks van die studie verstaan kan word. Daar word onder andere verwys na die ontstaan en ontwikkeling van empatie, watter rol die verbeelding kan speel as dit by die beleef van empatie kom en hoe die ervaar van empatie moontlik ʼn effek op die leser se eie werklikheid kan hê. Hierdie algemene konsepsuele verkenning van empatie is uiteindelik gerig op die literêre vraagstuk wat ek in hierdie verhandeling ondersoek: Hoe kan die beginsels van empatie, vanuit sowel skryfkundige as psigologiese hoeke bekyk, effektief in werking gestel word in die skryf van ʼn novelle?

Die narratiewe beginsels gaan verder ook skryfkundig bestudeer word. Skryftegnieke wat reeds ondersoek is en in fiksie gebruik kan word en wat moontlik empatiewekking tot gevolg kan hê, word ondersoek, sodat dit prakties gestalte kan kry in die skryf van my eie novelle.

Vervolgens word die novelle as genre-vorm bespreek. Daar word spesifiek aandag gegee aan die definisie, ontstaan, ontwikkeling, kenmerke en doel van die novelle sodat aangedui kan word waarom juis die novelle as genre-vorm vir hierdie spesifieke studie benut word. Voorts word geselekteerde novelles bestudeer om spesifieke strategieë te identifiseer vir die skryf van my eie novelle. Verder word daar aangetoon hoe narratiewe empatie gewek kan word deur die skryfproses en deur spesifiek die novelle as genre-vorm hiervoor aan te wend. Sowel die selfgeskrewe novelle, as die opsomming en gevolgtrekking van hierdie studie toon uiteindelik wat addisioneel deur die kreatiewe skryfproses oor empatie geleer is. Die ondersoek as geheel dien daarom as ’n groot leerproses oor empatie. Die studie sluit af met ʼn refleksie oor die skryfproses van die novelle asook die uitdagings om teoreties verantwoord, maar steeds vanuit die self en outentiek te skryf.

(3)

ABSTRACT

KEY TERMS: Empathy, cognitive narrative, cognitive empathy, affective empathy, narrative empathy, story, fiction, fictional worlds, novella, focus, characterisation, narrative perspective, character identification, storyline, art of writing, practice-based research.

With this practice-based study the aim is to explore the concept of empathy, along with sound writing principles and psychological insight, eventually to write an own novella, in which empathy could be created and demonstrated effectively.

The theoretical exploration and the experimental creative writing process contribute to the understanding of this complex concept. Understanding empathy can improve the writing process in general and specifically the writing of a novella. The experience of empathy means to feel what another feels and it contributes to a deeper and more comprehensive understanding of the other.

The complexities of empathy are investigated in order to understand its wider context. Among other aspects, there are references to the origin and development of empathy, what role the imagination could play when it comes to experiencing empathy and how the experience of empathy could probably impact on the reader’s own reality. This general conceptual exploration of empathy is eventually aimed at the literary problem, which I investigate in this study: How could the principles of empathy be efficiently employed in the writing of a novella, seen from the perspective of both psychology and the craft of writing.

Narrative principles will also be studied in context of the field of creative writing. Writing techniques that had been investigated already, which could be used in fiction, and which could create empathy, are investigated with the aim to practically apply these in the writing of a novella.

Subsequently the novella is discussed as a genre. Specific focus is awarded to the definition, origin, development, characteristics and purpose of the novella in order to demonstrate why the novella genre is explored in this specific study. This is followed by studying selected novellas in order to identify specific strategies for the writing of my own novella. In addition I intend to demonstrate how empathy can be effectuated through the writing process, by specifically applying the novella as genre. Both my novella and the conclusion of this study eventually demonstrate what had been learnt additionally about empathy through the creative writing process. The investigation as a whole therefore serves as one big learning curve regarding empathy applied to the novella. The study concludes with a reflection about the creative writing

(4)

process and the challenges involved in writing in a manner that is not only theoretically informed but also credible from the perspective of the self.

(5)

Inhoudsopgawe

Opsomming ... ...i

Abstract...ii

Hoofstuk 1: Inleiding en Probleemstelling ... 1

1.1 Kontekstualisering, probleemstelling en oriëntering ... 1

1.2 Doelstellings ... 8

1.3 Navorsingsvraag... 8

1.4 Basiese teoretiese stelling ... 8

1.5 Metodologie ... 9

1.6 Hoofstukindeling ... 10

Hoofstuk 2: Empatie ... 11

2.1 Inleiding ... 11

2.2 Definisies van empatie ... 12

2.3 Afwykings van empatie ... 14

2.4 Die ontstaan en ontwikkeling van empatie ... 17

2.4.1 Empatie as ʼn primitief-outomatiese reaksie ... 17

2.4.2 Naboots van gevoelens ... 18

2.4.3 Die ontwikkeling van empatie ... 19

2.4.4 Verhoogde empatie as gevolg van identifikasie of soortgelyke lewenservaring ... 20

2.4.5 Die verbeelding en die fiksie-paradoks ... 22

2.4.6 Die effek van empatie ... 26

2.5 Narratiewe empatie ... 29

(6)

2.5.2 Vanaf die storie of karakter na die wêreld ... 31

2.6 Gevolgtrekking ... 32

Hoofstuk 3: Die storie ... 35

3.1 Die storie ... 35

3.1.1 Ons lewens is deurspek met stories ... 35

3.1.2 Die effek van stories in vandag se samelewing ... 36

3.1.3 Die lewe sonder stories ... 37

3.2 Fiksionele wêrelde ... 38

3.3 Die narratiewe situasie ... 40

3.3.1 Verhouding tussen die karakters en die leser ... 40

3.3.2 Die skrywer se bedoeling en die leser se interpretasie ... 42

3.3.3 Spesifieke maniere om ʼn verhouding in ʼn verhaal te skep ... 46

3.4 Strategieë vir empatiewekking ... 50

3.4.1 Lesers se identifisering met karakters ... 51

3.4.2 Innerlike lewe van karakters ... 55

3.4.3 Perspektief ... 57

3.5 Gevolgtrekking ... 59

Hoofstuk 4: Die novelle en die seleksie van strategieë vir die skryf van ʼn novelle ... 61

4.1 Die novelle... 61

4.1.1 Definisie en die ontstaan van die novelle ... 61

4.1.2 Kenmerke van die novelle ... 62

4.1.3 Funksie van die novelle ... 64

(7)

4.2 Geselekteerde eksemplariese novelles ... 67

4.2.1 Novelle: Wie is Jan Hoender – Jeanne Goosen ... 69

4.2.1.1 Oriëntering...70

4.2.1.2 Bespreking van Wie is Jan Hoender...70

4.3 Seleksie van strategieë vir my spesifieke studie ... 77

4.4 Gevolgtrekking ... 81

Hoofstuk 5: Eie novelle ... 83

Hoofstuk 6: Refleksie ... 125

6.1 Pre-projek refleksie ... 125

6.2 Praktykgebaseerde navorsing en navorsingsvrae ... 127

6.3 Siklusse van werkrefleksie en produksie ... 127

6.3.1 Voorbeelde vanuit die verskillende weergawes van die novelle ... 135

6.4 Post-projekrefleksie en gevolgtrekking ... 141

6.4.1 Kontrasterende siening van empatie ... 141

6.4.2 Samevatting en beantwoording van navorsingsvrae ... 142

(8)

1

Hoofstuk 1: Inleiding en Probleemstelling

1.1 Kontekstualisering, probleemstelling en oriëntering

In hierdie praktykgebaseerde studie wil ek empatie, volgens goeie skryfkunsbeginsels en psigologiese insigte, in ʼn eie novelle bewerkstellig. Die praktykgebaseerde verloop van die studie bring mee dat ek as skrywer krities kan reflekteer oor die kreatiewe proses asook om my intensies tydens die skryfproses te kan kontroleer.

Empatie is van die Griekse woord ‘empatheia’ afkomstig en kan rofweg vertaal word na ‘passie’

(Tone & Tully, 2014:1549). Dit is daarom nie vreemd dat die term empatie baie in die verhoudingswetenskappe voorkom nie. Dit is verder veral die sielkunde, gesondheidsorg en spirituele wetenskappe wat goed vertroud is met dié term. Daar is wel ʼn groot verskeidenheid navorsingsrigtings waar die term empatie ʼn baie bekende begrip is, soos in die biologie waar

empatie verstaan word as ʼn verskynsel van ʼn instinktiewe nabootsing, in psigo-analise as ʼn

vorm van identifikasie, in sosiale sielkunde as eksperimentele rolvervulling en in sosiologie as ʼn wedersydse verstandhouding tussen die lede van dieselfde in-groep (Katz, 1963:2).

Die term empatie is vir hierdie studie gekies, eerder as terme soos simpatie, medelye, identifikasie, inlewing of meelewing, aangesien die verstaan van empatie oor die algemeen vir die skryfkuns en spesifiek vir die novelle bevorderlik is. Die ervaring van empatie beteken om te voel wat ʼn ander voel en dit dra by tot ʼn dieper en vollediger manier van die verstaan van die ander.

Martin Hoffman se navorsing maak ʼn onweglaatbare deel van my studie uit. Hy is ʼn ontwikkelingsielkundige en het daarom spesifiek op die rol gefokus wat empatie vanaf geboorte tot volwassenheid speel en is van mening dat empatie as ʼn primitiewe reaksie gesien kan word. Ek wil daarom hierdie studie en spesifiek die definisie van empatie begin met Hoffman se insig. Hoffman (2000:30) definieer ‘empatie’ as die betrokkenheid van psigologiese prosesse wat ʼn persoon iets laat voel wat meer ooreenstem met ʼn ander se situasie as met sy/haar eie situasie. Hoffman (2000:37) verwys ook na Lipps (1906) wat empatie definieer as ʼn ingebore en onwillekeurige reaksie op ʼn ander persoon se uitdruk van emosie. Empatie kan daarom moontlik ʼn effek hê op die selfsugtige aard van die mens en miskien selfs die mens daartoe in staat stel om na buite te kan keer.

Dit beteken wel nie dat die self tot niet gaan en dat die ‘ander’ jou eie emosies totaal en al oorneem nie. Alhoewel jy die emosies van die ander ervaar, is dit steeds baie belangrik dat jy jou eie aparte identiteit moet behou. Die idee is nie dat jy verlore moet raak in die emosies van

(9)

2

die ander nie. Coplan (2004:143) verduidelik hoe belangrik die behoud van die self is as dit kom by die beleef van empatie. Alhoewel ons die ander se perspektief kan insien en voel wat hy/sy voel, beteken dit wel nie dat ons onsself in die proses moet verloor nie. Die ideaal is dat ons steeds nugter bly en vanuit ons eie perspektief die saak beskou. Dit is belangrik sodat ons waak teen algehele oorgawe aan die pyn van die ander, maar eerder iets dieper daarvan kan verstaan en daarom steeds van hulp sal kan wees. Verder moet die pyn ook nie so onuithoudbaar wees, dat ons na onsself terugkeer nie. Die doel van empatie is die begrip van die ander se ervarings, nie ons eie nie. As ons nugter kan bly in die saak, beteken dit dat ons moontlik van hulp kan wees vir die ander. Dit is daarom ook nie vreemd dat empatie verband hou met etiese verantwoordelikhede en ʼn goed funksionerende samelewing nie.

Dit is verder asof die meeste navorsers nie heeltemal ʼn greep kan kry op presies wat die term

empatie behels en insluit nie. Eisenberg en Strayer (1987:3) verduidelik iets aangaande dié

verwarring: “... the notion of empathy is, and always has been, a broad, somewhat slippery concept – one that has provoked considerable speculation, excitement, and confusion”.

Davis (1994:11) beklemtoon empatie as ʼn multi-dimensionele begrip. Alhoewel daar al heelwat navorsing gedoen is oor empatie, is hy van mening dat daar altyd sekere belangrike aspekte uitgelaat word, omdat die begrip vanuit ʼn sekere perspektief bekyk word. Die verstaan van empatie kan met die blinde mans, wat met ʼn olifant in kontak kom, vergelyk word. Die manier waarop die olifant geïnterpreteer gaan word, hang af van die deel waarmee in kontak gekom word. Empatie is daarom nie nét dit wat een navorser of ʼn sekere dissipline daarvan maak nie.

Daar is reeds heelwat studies oor die beginsels, begrip, werking en impak van empatie gedoen. Van Robert Katz het die boek Empathy: It’s Nature and Uses in 1963 verskyn. Hy was van mening dat daar baie gapings in die empatie-studieveld was en dat daar kenners van verskillende dissiplines was wat steeds meer wou weet van die “verskynsel” empatie. In sy boek interpreteer hy insigte vanuit uiteenlopende velde, soos die estetika, biologie, sosiologie en psigo-analise om uiteindelik tot ʼn gevolgtrekking te kan kom.

Nancy Eisenberg en Janet Strayer se boek Empathy and its Development verskyn in 1987. Hierdie boek beskryf die ontwikkeling van empatie vanaf kinderjare tot volwassenheid. Empatie word ook vanuit verskillende hoeke beskou, soos die biologiese, kliniese sielkundige, sosiologiese en historiese velde. Die empatiese veranderinge wat gepaard gaan met menslike ontwikkeling, die rol wat geslag speel met die ervaar van empatie, die sosialiseringsaspek aangaande empatie en die verband tussen die vermoë om empatie te kan ervaar en geestesgesondheid, word onder andere bespreek. Eisenberg en Strayer was deeglik bewus daarvan dat daar op dié stadium reeds baie inligting oor empatie beskikbaar was. Die meeste

(10)

3

van die werk was egter vanuit die perspektief van kliniese sielkundiges geskryf. Hulle het gemeen dat daar ʼn gaping is ten opsigte van die evaluasie en organisasie van al die beskikbare inligting en wou met hul boek dié leemte vul.

Mark Davis se boek Empathy: A Social Psychological Approach verskyn in 1994. Hy wou graag iets nuuts probeer byvoeg tot die bestaande kennis van empatie en het besluit om vanuit ʼn kontemporêre sosiale en persoonlikheidsielkundige se perspektief daarna te kyk. In die inleiding van die werk verwys Davis (1994:1-2) na die selfsugtige aard van die mens en is hy van mening dat dit juis as gevolg hiervan noodsaaklik is dat empatie en simpatie deel van hierdie wêreld moet wees, anders sou mense nooit in ʼn groep kon saamleef nie.

Wanneer daar na die term empatie gekyk word, is dit verder belangrik om tussen affektiewe en kognitiewe empatie te kan onderskei asook hoe die verskil tussen empatie en simpatie verstaan kan word. In Hoofstuk 2 word die gekompliseerde werking van empatie bespreek, sodat dit in die breër konteks van die studie verstaan kan word. In Hoofstuk 3 word narratiewe empatie vanuit ʼn skryfkundige hoek beskou om uiteindelik strategieë te ondersoek wat empatiewekking in ʼn verhaal tot gevolg kan hê.

Vir die doeleindes van hierdie studie, word die navorsing wat deur Suzanne Keen (2006, 2007 & 2010) gedoen is ook as rigtinggewend beskou. Sy ondersoek die term empatie en probeer daarvan sin maak vanuit ʼn psigologiese hoek. Verder spits sy haar veral toe op narratiewe

empatie en hoe ons dit kan verstaan. Wat die effek van spesifieke narratiewe tegnieke moontlik

op lesers kan wees, word ook deur haar ondersoek.

Volgens Hoffman (2000:49) is dit moontlik om empatieke gevoelens te ontwikkel deur die lees van geskrewe woorde en jouself in te leef in die karakter se denk- en gevoelwêreld. Al is die persoon nie fisiek by ons nie, of in die geval van hierdie studie, al bestaan die persoon nie werklik nie, kan die geskrewe woord steeds ʼn empatieke reaksie ontlok. Om bedag te wees op lesersreaksies, impliseer nie dat dit gaan oor koel-berekende strategieë waarmee lesers gemanipuleer word nie. Kreatiewe skryfkuns is in wese steeds ʼn artistieke onderneming waarby die suiwerheid en trefkrag van die eindproduk waarin die eerlikheid en passie van die skrywer ook neerslag gevind het, uiteindelik op sigself ʼn appèl op die leser maak. Die oortuiging en passie van die kunstenaar is deel van die totale kommunikasie met die leser. En kunswerke, ook artistieke verhale, betrek die leser op verskillende maniere.

Aangesien ek die effek van narratiewe empatie, spesifiek binne die konteks van ʼn novelle bestudeer, is die beginsels van ʼn storie en die effek van stories in ons samelewing ook van belang. Die rol wat ‘die storie’ in vandag se samelewing speel, word as belangrik geag. Die

(11)

4

storie as sodanig is ʼn baie doeltreffende hulpmiddel om mense in hul realiteit te oriënteer. Soos Keunen (2013:180) sê, word stories gebruik om sin te maak van jou eie en ander se gedrag. Elsbree (1982:13) voer aan: “... stories allow us often to lose our pseudo-species and to have new identities, see new possibilities, forget who we are”. Hy voeg by dat “[when] we find the narrative reminding us what a mess we have made of our lives, we at least have the bittersweet consolation that others have suffered in similar ways, have concealed the same shames or groped in the same maze, and this knowledge is an extension of our humanity insofar as we no longer feel alone or unknown”. ʼn Storie kan derhalwe berusting bring en werklik ʼn effek op ons realiteit hê.

Stories word nie net gebruik om emosies te ontlok nie, maar dit kan verder ook as instrument gebruik word om lesers van dieper waarhede te leer en kan selfs rigtinggewend wees. In haar verhandeling Effects of Instruction on Students’ Ability to Comprehend Moral Themes wou Patsy Mogush onder andere bepaal of studente en kinders, in hul eie werklikheid beïnvloed kan word deur die morele tema van ʼn verhaal te verstaan. Sy wou bepaal of die verstaan van ʼn tema binne ʼn storie, moontlik die leser se keuses in die toekoms, in sy eie realiteit, kan beïnvloed. Mogush (2001:5) sê:

Stories have long been used as tools for teaching about life. Jesus told parables to help his followers understand his teachings. The parables provide stories of everyday life that help the listener make decisions about their own lives. Fairy tales, originally told through the oral tradition, now written so that they can be read by future generations, are important for their portrayal of life’s lessons through stories.

Dit is glad nie nuut om stories te gebruik om mense te beïnvloed nie of dat stories jou oor besluite in jou eie lewe kan laat herbesin nie. Die vraag is watter beginsels ons binne die verhaal wat vertel gaan word, gebruik kan maak om empatieke gevoelens by die leser te ontlok. Die ander kant van die munt, wat betref empatie in ʼn verhaal, is egter volgens Hoffman (2000:50) dat die gevoelens wat beleef word deur die geskrewe woord te lees nie werklik akkuraat is nie. Dit is as gevolg van die ‘psigologiese afstand’ wat tussen die leser en karakter geskep word. Die emosie wat ʼn persoon/karakter beleef, kan nie presies in woorde oorgedra word nie. Die leser het sy eie interpretasie van die woorde wat in ʼn teks gelees word. Die emosies, herinneringe en uitbeeldings wat met dié spesifieke woorde gepaardgaan, is uniek aan elke leser.

ʼn Kwessie wat ook ʼn interessante bydrae tot die studie kan lewer, is die idee van die

(12)

5

kan ervaar, selfs al weet hy/sy dat dit wat gelees word totaal onwaar en fiktief is. Indien iemand jou van ʼn hartseer insident wat met hom/haar gebeur het, vertel en later erken dat dit ʼn leuen was, sal die hartseer wat jy aanvanklik ervaar het met die mededeling tog nie meer ervaar word sodra jy uitvind dat dit nie waar was nie. Tog, selfs al weet die leser dat ʼn verhaal fiktief is, kan die emosies steeds ervaar word. Hierdie teenstrydighede sal in die studie bespreek word, asook hoe daar binne die konteks van hierdie studie daarvan sin gemaak kan word.

Die reaksies van die leser speel natuurlik ook ʼn rol en daarom lê die sukses van ʼn verhaal nie net by die skrywer nie, maar ook by die leser self. Bortolussi en Dixon (2013:29) beweer: “readers attempt to construct a representation of the situation described by the text and that such a representation cannot, in general, be built out of just the information indicated by the words on the page”. Geen twee lesers sal ʼn teks op dieselfde manier interpreteer nie, selfs al was hulle lewenservarings tot in daardie stadium identies. Daar kan nie meer aangevoer word dat daar slegs een betekenis van ʼn teks is nie en dat dit op die lesers afgedwing moet word nie, asof dit die regte of beste interpretasie is nie. Die leser word blootgestel aan ʼn proses, eerder as ʼn voltooide, harmonieuse, ‘geslote’ produk (Kuenzli, 1980:48).

Tog is dit belangrik om bewus te wees van die ideale leser tydens die skryfproses. Hierdie leser sal die teks verstaan en interpreteer soos wat die skrywer dit bedoel het. So ʼn leser bestaan nie werklik nie en is ʼn idealistiese projeksie. Alhoewel elke skrywer bewus is dat lesers verskillend is en sy teks op verskillende maniere gaan interpreteer, is dit tog belangrik om kortliks te verwys na die ‘implisiete leser’ en die ‘oop plekke’ in ʼn teks. Rossouw (2010:1) definieer die implisiete leser as “ ... ʼn ideële of hipotetiese leserrol waarin alle tekstuele aanwysings vervat is waardeur die werklike leser te wete kan kom hoe die teks gelees moet word”. Die implisiete leser in my studie sal gevolglik een wees wat empatieke gevoelens kan hê vir karakters of situasies in my novelle. Alhoewel die skrywer soms sekere bedoelings (bewus of onbewus) met ʼn teks het, word die leser nie hierdeur beperk nie. Daar ontstaan oop plekke in ʼn teks wat elke leser die vryheid gee om sy eie verbeelding en verwysingsraamwerk te gebruik.

Volgens Rossouw (2010:1) “... ontstaan oop plekke onder meer by die oorgang van een vertelsituasie na ʼn ander, wanneer nuwe personasies of handelinge ingevoer word of wanneer iets nie volledig uitgewerk is in ʼn teks nie”. Hy gaan verder deur te sê dat “die invulling van die oop plekke geskied nie bloot intuïtief nie: daar is riglyne in die teks beslote wat bepaal hoe die implisiete leser dit moet doen”. Elke leser kan daarom volgens sy eie ervarings en wêreldkennis die oop plekke in die novelle vul, alhoewel die manier waarop die teks geskryf is, veronderstel is om die leser in ʼn bepaalde rigting te lei. Alhoewel daar ʼn ideale manier is hoe die implisiete leser die teks gaan lees en interpreteer en desnoods in sy eie lewe gaan gebruik en toepas, sal

(13)

6

elke werklike leser die inligting en ‘waarhede’ op sy eie manier verwerk en deel maak van sy/haar eie werklikheid.

In Hoofstuk 3 ondersoek ek verder die narratiewe situasie en die manier waarop ʼn verhouding moontlik binne hierdie konteks kan ontstaan. Die konsep ‘fiksionele wêrelde’ word beskou. Thomas Pavel het in dié verband belangrike waarnemings gemaak oor die funksie en kenmerke van verbeeldingswêrelde, wat literatuur in ons eie lewens verteenwoordig en wat die verband tussen literatuur en ander kulturele sisteme is.

Deur die jare was daar ʼn paar uiteenlopende opinies oor die verstaan, interpretasie en doel van ʼn literêre teks. Die segregasionistiese uitkyk beskou fiksionele tekste as slegs verbeelding, sonder enige waarheidselement. Aan die ander kant is daar die integrasionistiese uitkyk, wat aanvaar dat daar basies geen ontologiese verskil tussen die fiksionele en feiteliteratuur se beskrywings van die werklikheid gevind kan word nie (Pavel, 1986:11). Verder, in die laat sewentigs, is daar heelwat belangstelling getoon in die studie van narratief en literêre betekenis. Debatte het ontstaan wat bewys het dat die afgeskeepte onderwerpe soos fiksionele wêrelde en narratiewe inhoud dalk van ʼn nuwe onverwagse hoek bekyk sou kon word (Pavel, 1986:9). In Hoofstuk 3 sal daar in verdere detail na fiksionele en moontlike wêrelde gekyk word. Die rol van die leser en sy interpretasie, fiksie wat as ʼn kamma-kamma speletjie gesien kan word, hoe ons kan sin maak van verbeeldingswêrelde en hoe daar verbande getrek kan word tussen die werklike realiteit en moontlike wêrelde, sal ook bestudeer word.

In Hoofstuk 4 word die kenmerke van die novelle bespreek asook waarom dié sub-genre spesifiek inpas by die doel van hierdie studie. Geselekteerde eksemplariese novelles word bestudeer om te kan bepaal hoe empatie moontlik met die skryf van ʼn novelle ontlok kan word. Ten opsigte van die struktuur van die novelle, gaan dit nie noodwendig oor wat die novelle is nie, maar eerder oor wat dit doen (sien 4.1.1).

ʼn Tipiese kenmerk van die novelle is “die begeerte om iets nuuts te beskryf of te vertel” (Drennan 2010:1). Drennan (2010:1) sê verder “as gevolg van ʼn beter begrip van psigologiese verskynsels lê die moderne siening [van ʼn novelle] ʼn verband tussen die buitengewone gebeurtenis en die buitengewone of vreemde individu”.

Die verhaal wat ek skryf, handel oor ʼn buitengewone en vreemde individu. Wat met die protagonis gebeur terwyl hy saam met ʼn toergroep die strate van Jerusalem verken, is ook iets wat vir meeste lesers totaal nuut sal wees. Die novelle word ook “as ʼn medium vir sosiale kritiek gebruik” (Drennan 2010:1). Die novelle kan gevolglik as ʼn goeie platform gebruik word om kritiek oor die samelewing te lewer asook voorstelle te maak oor hoe sekere kwessies

(14)

7

aangespreek kan word. Volgens die Oxford Dictionary word die novelle as ʼn ‘short novel’ of as ʼn ‘story of moderate lenght’ gedefinieer (Drennan, 2010:1). Dit mag dalk die letterlike betekenis wees, maar ʼn diepgaande beskrywing volg in Hoofstuk 4.

Nadat die teoretiese inligting bestudeer en bespreek is, gaan ʼn eie novelle geskryf word om die teoretiese inligting prakties te probeer toepas. Uiteindelik sal ek tot ʼn gevolgtrekking kom oor hoe om empatie deel te probeer maak van die skryfproses, deur spesifiek van die novelle as genre-vorm gebruik te maak. Dit word op ʼn praktykgebaseerde manier gedoen wat verder bydra tot die vervlegting van teorie en praktyk.

Ek wil graag ondersoek of die empatie wat ʼn leser moontlik tydens die lees van ʼn verhaal kan ervaar, iets is wat hy/sy ook kan terugneem na sy/haar realiteit. Harrison (2011:257) is van mening dat die leser hom-/haarself kan indink in die emosionele toestand van die karakter, wat as ʼn deel van ʼn groter sosiale kategorie geïnterpreteer word. Die karakter of situasie waarmee die leser moontlik empatie toon, kan tot gevolg hê dat die leser in sy/haar eie realiteit dieselfde empatie toon met ʼn soortgelyke situasie of persoon. Empatie kan moontlik ʼn effek, al is dit ook net ʼn manier van dink, op ʼn leser hê.

Die algemene aanname mag wees dat empatie hoofsaaklik met emosies te make het, maar Aristoteles se drie komponente van retorika of die kuns van oortuiging verbreed dié perspektief. ʼn Leser sal heel moontlik nie oortuig word van iets deur slegs sterk emosies te beleef nie. Volgens Aristoteles staan logos (logika), ethos (etiek) en pathos (emosie) in elke individuele teks in ʼn ander balans tot mekaar. Soms oorheers die rasioneel-logiese element, soms die etiese en soms weer die emosie. Die gedagte is egter dat nie een van die elemente heeltemal in ʼn teks mag ontbreek nie.

Stace (1962:212) skryf oor Plato se definisie van die menslike siel: “The highest part is reason, which is that part of the soul which apprehends the ideas”. Stace (1962:212) voeg ook later by: “What distinguishes man from the lower orders of creation is thus that he alone possesses reason”. Emosie alleen gee nie die deurslag nie. Die verhaal moet daarom ook op die vlak van idees en gedagtegang die leser boei en oortuig. Die intellektuele, die emosionele en die etiese moet op ʼn deurdagte manier saam gebruik word om ʼn leser te kan oortuig en om die mens met sy totale vermoëns in ag te neem.

Uiteindelik is daar heelwat strategieë vir empatiewekking wat reeds ondersoek is, maar Keen (2007) is ook van mening dat die tegnieke en gehalte van die skryfwerk nie noodwendig die deurslaggewende element is sodat empatie deur ʼn leser ervaar kan word nie. Meer hieroor in Hoofstuk 3. Al die aspekte wat sover bespreek is, bring my uiteindelik by die probleemstelling

(15)

8

van hierdie studie: Hoe kan die beginsels van empatie, vanuit sowel skryfkundige as psigologiese hoeke bekyk, effektief in ʼn novelle in werking gestel word?

1.2 Doelstellings

Die doel met hierdie studie is om tot beter begrip te kom van die beginsels van die wek/ontstaan van empatie deur vanuit die hoek van die kreatiewe skryfkuns en die psigologie daarna te kyk en die beginsels op die skryf van ʼn novelle toe te pas. Die psigologiese benadering sal dieperliggende idees rondom empatie aan die lig bring. Die skryfkunsbeginsels sal vir my meer insig gee oor die opbou van die storielyn, die gebruik van skryftegnieke en skeppingselemente,

asook hoe die beginsels van empatiewekking in ʼn fiksionele verhaal toegepas kan word. Ek sal my ook verder ten doel stel om tersaaklike leser-georiënteerde aspekte te bestudeer.

Die oogmerk is verder om ʼn stewige novelle te skryf wat oortuigende karakters bevat en om genoegsame aandag aan karakterisering te gee. Uiteindelik is die doel om empatiewekking suksesvol in die novelle te kan bemeester.

1.3 Navorsingsvraag

Hoe kan ek as skrywer die beginsels van narratiewe empatie, vanuit skryfkundige en psigologiese hoeke beskou, gebruik om ʼn novelle te skryf?

Verdere vrae wat hieruit voortspruit:

 Hoe kan empatie en narratiewe empatie vanuit ʼn psigologiese hoek verstaan word?  Hoe kan empatie en narratiewe empatie vanuit ʼn skryfkundige hoek verstaan word?  Kan die novelle as genre-vorm tot die lesers se moontlike ervaring van empatie bydra?  Watter beginsels van die psigologiese en narratologiese werking van empatie kan ek as

skrywer abstraheer uit die teorie ten einde ʼn novelle te skryf waarin empatie bewerkstellig word?

 Wat is die uitdagings vir my as skrywer om vanuit die self en outentiek te kan skryf?

1.4 Basiese teoretiese stelling

Ek is van mening dat die praktykgebaseerde navorsing wat op my eie skeppingsproses gerig is, sekere beginsels aan die lig sal laat kom oor die werking van empatie. Deur empatie vanuit ʼn psigologiese en skryfkundige hoek te beskou en te ondersoek hoe die novelle as genre-vorm

(16)

9

moontlik kan bydra tot die lesers se ervaring van empatie, kan dié inligting prakties toegepas word met die skryf van ʼn eie novelle.

1.5 Metodologie

Ek gaan ʼn praktykgebaseerde navorsingsbenadering gebruik, aangesien die kreatiewe proses en die produk wat daaruit tot stand kom, ʼn groot deel van die navorsing uitmaak. Kuns kan volgens Dallow ([sa]:49) verstaan word as ʼn “kondisie waar rasionaliteit (die teorie) en irrasionaliteit (emosie en ondervinding) saamgevoeg word in ʼn individuele kreatiewe aksie (die praktyk)”. Hy sê verder dat die kunstenaar of skrywer “aktief betrokke is by die kritiese refleksie oor die kreatiewe proses terwyl die werk geskep word” (Dallow, [sa]:50). Hy haal ook vir Freiling (1997:13) aan wat beweer dat “... the practice-based creative arts researcher is obliged also to map for his or her peers the route by which they arrived at their products” (Dallow, [sa]:54).

Teoretiese kennis en die kreatiewe proses gaan vervleg word om ʼn voltooide produk te kan lewer. Alhoewel die kartering van die skeppende proses se verloop en die refleksie daaroor as navorsing gesien word, kan die teorie nie uitgesluit word nie. Dallow ([sa]:56) bevestig dié stelling deur te beweer dat die praktykgebaseerde navorser steeds na navorsing wat reeds oor die onderwerp gedoen is, moet verwys: “This may reveal some of the departure points from the known ... they might then be better equiped for the task of examining closely the relation between knowing and doing through reflection and analysis, and for tracking their movements into the unknown of creativeness” (Dallow [sa]:56).

Die struktuur wat ek in hierdie studie gaan gebruik, is Stephen Schrivener en Peter Chapman (2004) se “Revised basic structure for the form of a creative-production project”.

Die volgende stappe gaan deel uitmaak van die navorsingsprojek:  Pre-projek refleksie oor die praktyk

 Identifisering van brondomeine (bymekaar maak en bestudering van teorie, kennis en inligting wat relevant is tot die studie) en formulering van verkrygingstrategieë (die strategieë wat gebruik is om die kennis te bekom en te organiseer)

 Toepassing en verfyning van verkrygingstrategieë (die uitvoering van die projek). Die navorser kan ontdek dat die metodes en inligting nie voldoende is nie, en daarom aanpassings maak

(17)

10

 Refleksie oor die handeling en praktyk, hersiening van strydvrae, besorgdhede en belangstellings

 Post-projekrefleksie oor die handeling en praktyk – insluitend die kunswerk en die navorsing

Die projek is van so aard dat ek tussen praktyk en teorie gaan beweeg. Die teoretiese deel van die navorsing is daarop gerig om tot beter insig te kom rakende die beginsels van empatie vanuit ʼn psigologiese en narratologiese hoek. Die kennis wat opgedoen gaan word en die praktiese proses sal op ’n vervlegte wyse hanteer word om tot ’n beter begrip van die werkinge van empatie te kom.

Ek gaan joernaal hou van die kreatiewe en wetenskaplike proses en uiteindelik ook reflekteer oor beide hierdie aksies (die proses) asook oor die voltooide produk of resultaat.

1.6 Hoofstukindeling

Hoofstuk 1: Inleiding en probleemstelling.

Hoofstuk 2: Empatie: teoretiese vertrekpunte oor empatie en narratiewe empatie vanuit die psigologie. Empatie as ʼn konsep word verduidelik en bespreek.

Hoofstuk 3: Die storie: die storie en elemente van empatie word vanuit ʼn skryfkundige hoek beskou, met die gebruikmaking van psigologiese en narratologiese insigte.

Hoofstuk 4: Die novelle en die seleksie van strategieë vir die skryf van ʼn novelle.

Hoofstuk 5: Eie novelle.

Hoofstuk 6: Besinning oor die skryfproses. Hoe is die insigte en beginsels toegepas in die skryf van die afgeronde novelle. Gevolgtrekking en post-projekrefleksie.

(18)

Hoofstuk 2: Empatie

Die doel van hierdie hoofstuk is om die gekompliseerde werking van empatie te bespreek, sodat dit in die breër konteks van die studie verstaan kan word. Daar word verwys na die ontstaan en ontwikkeling van empatie, hoe die identifisering met ’n ander empatie by jou kan ontlok asook wat die gevolg van ʼn empatielose samelewing kan wees. Verder word daar ondersoek ingestel na die rol wat die verbeelding speel wanneer dit by die beleef van empatie kom en hoe die ervaar van empatie moontlik ʼn effek op die leser se eie realiteit kan hê. Die hoofstuk word afgesluit deur die konsep van narratiewe empatie te bespreek asook hoe dit moontlik is dat empatie by die geskrewe woord ervaar kan word. Laastens word bespreek hoe die leser se realiteit beïnvloed kan word as gevolg van die emosies en gedagtes wat met die storiewêreld gepaardgaan. Hierdie algemene konsepsuele verkenning van empatie is uiteindelik gerig op die literêre vraagstuk wat ek in hierdie verhandeling ondersoek: Hoe kan die beginsels van empatie, vanuit sowel skryfkundige en psigologiese hoeke bekyk, effektief in werking gestel word in die skryf van ʼn novelle?

2.1 Inleiding

Dit is uitdagend om die ervaring van empatie in vandag se suksesgedrewe en selfgerigte wêreld raak te sien. As daar gekyk word na hoe roekeloos medepadgebruikers voor jou inry, hoe ʼn mens soms vreemdelinge om hulp moet vra sonder enige sukses of as jy jou baas moet oortuig dat jy besig is om jouself heeltemal te ooreis sonder dat hy enige begrip toon, kan dit maklik lyk of empatie nie werklik meer van vandag se samelewing deel is nie. Volgens Hoffman (2000:1) is dié siening ʼn algemene opvatting: “When I tell [people] my interest is people’s consideration for others, they perk up at first but then say something like ‘it must be frustrating to study that because everybody is interested in themselves, who cares about anyone else, except maybe their family?”’. Dit het ’n algemene opvatting geword dat mense meestal selfgerig is en nie werklik omgee vir ander nie.

Hoffman (2000:1) verskaf verdere perspektief op die saak:

But when I say humans could not have survived as a species if everyone cared only about himself, they pause, think about it, and then say something like ‘You might be right.’ The evolution argument carries weight, as though it was self-evident that hunters and gatherers had to help each other to survive, so humans must have helping genes.

Mense is gemaak om saam met ander te leef. Om as ʼn gemeenskap saam te kan leef, is dit belangrik dat mense mekaar moet help en aanvul. Alhoewel die selfgerigte en suksesgedrewe mens ʼn baie algemene verskynsel geword het, is dit tog waar dat geen mens sonder die hulp

(19)

van ʼn ander werklik welvarend sou kon funksioneer nie. Hoffman (2000:1) is van mening dat dit wel vir mense moontlik is om opofferings vir ander te maak en dít kan bydra tot ʼn beter kwaliteit lewe en naasbestaan vergemaklik. Empatie en die inagneming van ander, kan daarom moontlik ʼn effek op mense se lewensgehalte hê.

2.2 Definisies van empatie

Suzanne Keen het belangrike navorsing aangaande narratiewe empatie gedoen. Sy het die maniere bestudeer, oor hoe ʼn fiktiewe teks geskryf kan word om die moontlikheid van narratiewe empatie te verhoog. Die maniere hoe ʼn teks geskryf word, sal in Hoofstuk 3 bespreek word en narratiewe empatie sal later in hierdie hoofstuk bespreek word. Keen (2010:62) se definisie van empatie is soos volg: “Empathy, a vicarious, spontaneous sharing of affect, can be provoked by witnessing another’s emotional state, by hearing about another’s condition, or even by reading”.

Om empatie teenoor iemand te toon, beteken om jouself in daardie persoon se ervaring te kan indink en daarvolgens soortgelyke gevoelens as dié persoon te ervaar. Keen (2010:63) wys ook verder op die verskil tussen empatie en simpatie: Empatie is om te kan voel wat ʼn ander voel, terwyl simpatie ʼn ondersteunende emosie tot iemand anders se pyn is. Empatie beteken gevolglik nie om jammer te voel vir iemand nie, maar eerder om jouself in daardie persoon se skoene te plaas en jouself in te dink wat binne daardie spesifieke konteks ervaar moet word. Katz (1963:9) se onderskeid tussen empatie en simpatie is effens anders as dié van Keen. Hy meen dat die gevoelens wat ontlok word deur simpatie, jou laat terugkeer na jouself en dan word jy meer bewus van jou eie identiteit. Wanneer ons met iemand empatiseer, verloor ons onsself in die tydelike nuwe identiteit van die ander. Katz (1963:10) verduidelik dié begrippe verder deur te sê dat alhoewel dit positief is om simpatie teenoor ʼn ander te ervaar, dit nie bydra tot die dieper verstaan van die ander nie. As ons empatiseer, neem ons die persoonlikheid van die ander aan en probeer ons sy/haar ervarings beleef.

Volgens my is dit belangrik dat ons ook moet terugkeer na onsself indien ons empatie beleef, alhoewel Katz meen dat die emosie dan as simpatie beskryf gaan word. Slegs deur na jouself terug te keer, kan die ander se emosie werklik ʼn impak op jou hê. Wat empatie uniek maak, is dat ons tog iets van die ander se ervaring tydelik ervaar, sodat die ander op ʼn dieper vlak verstaan kan word. Alhoewel die persoon die emosies van die ander ervaar, is dit steeds belangrik dat hy/sy sy/haar eie aparte identiteit moet behou. Die persoon raak nie verlore in die emosies van die ander nie, maar hy/sy voel eerder die emosies deur steeds vanuit sy eie perspektief na die emosies en situasie te kan kyk. In die artikel Empathic Engagement with

(20)

dubbelsinnig gedefinieer word. Daarom is dit moeilik om werklik die omvang van hierdie term te kan verstaan. Coplan (2004:143) verduidelik hoe belangrik die behoud van die self is, wanneer dit by die beleef van empatie kom:

When I empathize with another, I take up his or her psycological perspective and imaginatively experience to some degree or other, what he or she experiences. What I want to stress however, is that as I do this I maintain a clear sense of my own separate identity. In other words, although I am deeply engaged in what he or she – the target of my empathy – is undergoing, I never lose my separate sense of self. I preserve a representation of myself that is distinct from my representation of the other.

Deur jou eie aparte identiteit te behou, terwyl daar empatie vir die ander gevoel word, beteken dat jy daardie emosies en gevoelens deur jou eie oë en lyf kan ervaar, van toepassing kan maak op jou eie lewe en vanuit jou eie perspektief kan beskou.

Verder is dit belangrik om ʼn onderskeid te kan tref tussen affektiewe en kognitiewe empatie. Soos in Hoofstuk 1 genoem, is daar heelwat kenners wat meen dat empatie óf affektief óf kognitief is, maar aangesien empatie ʼn baie omvattende term is, ondersteun ek die navorsers wat meen dat empatie beide affektief en kognitief is. Om die emosies, gedagtes, intensies en gevoelens van ʼn ander te kan ervaar, is dit noodsaaklik om dié ervaring van die ander te kan herken en te verstaan. Om iets te kan herken en te verstaan, is tog ʼn kognitiewe aksie (Strayer, 1987:218). Ek is van mening dat ons kognitiewe en affektiewe reaksies op ʼn manier saamwerk in ons optrede teenoor ander. Hoe ons ander kognitief konseptualiseer, het ʼn groot impak op die affektiewe reaksies wat ons teenoor hulle kan hê (Davis, 1994:41). Alhoewel empatie ook ʼn primitiewe reaksie kan wees, wat beteken dat emosies soms nie kognitief evalueer word nie, speel die kognitiewe aspek steeds ʼn belangrike rol as dit by die ervaar van empatie kom.

Tone en Tully (2014:1549) beskryf kognitiewe empatie as die meer-gevorderde kognitiewe manier van dink, aangesien dit ʼn mens die vermoë gee om ander te verstaan en ander se perspektiewe in ag te neem wanneer interpersoonlike probleme opgelos word. Hulle sê verder dat kognitiewe empatie geassosieer word met positiewe sosiale optrede soos die voorsiening van maatskaplike ondersteuning en vrywillige werk. Kognitiewe empatie bring mee dat ons as toekykers objektief kan bly, terwyl ons onsself indink in die ander se posisie. Die voordeel van kognitiewe empatie is dat ons rasioneel kan bly, deur die saak logies te beredeneer en dan daarvolgens op te tree, sonder om emosioneel té betrokke te raak.

Cognitive empathy may also serve a different purpose with regard to emotional regulation; it can help an individual relate to others’ pain without being overwhelmed or paralyzed by

(21)

it, as could happen if relying solely on affective empathy, specifically the emotion contagion aspect (Cacciatore et al, 2015:96).

Die gevaar van affektiewe empatie lê daarin dat jy oorweldig kan word deur die emosies van die ander. Ek is van mening dat dit nie óf affektiewe óf kognitiewe empatie is wat ʼn effek op ons lewens kan hê nie. Beide soorte empatie speel ʼn belangrike rol in verskillende kontekste. Dit is van belang dat ons bewus is van die rol wat elkeen kan speel.

In hierdie studie, kan ek onmoontlik in detail die verskillende komponente van empatie ondersoek. Hierdie studie handel nie oor die dieper (psigologiese) werkinge van empatie nie, maar dit gaan eerder oor ʼn basiese verstaan van wat empatie is, met die oog op ʼn uiteindelike kreatiewe skryfhandeling. Slegs ʼn paar aspekte sal in meer detail beskou word, sodat dit in die breër konteks van die studie kan sin maak en die fokus van die studie behou word.

2.3 Afwykings van empatie

Keen (2007:Kindle Locations 1507-1509) vra die vraag of daar nie miskien met die ervaar van empatie heeltemal oorbeweeg kan word na ’n self-gefokusde emosie nie: “When does the mirror cease to be a magic portal into another life, another dimension, another view, and become merely a self-serving portrait of our own desires and aspirations?”.

Hoffman (2000:198) verduidelik wat gebeur as ʼn persoon terugbeweeg na sy eie pyn in plaas daarvan om empatie vir ʼn sekere situasie of persoon te voel:

This ‘empathic over-arousal’ can be defined as an involuntary process that occurs when an observer’s empathic distress becomes so painful and intolerable that it is transformed into an intense feeling of personal distress, which may move the person out of the empathic mode entirely.

Mense is in die algemeen meer geneig om empatie teenoor iemand te toon wat vanuit die persoon se eie perspektief dieselfde as hy/sy is. Soos hierbo aangetoon, is dit nie noodwendig ideaal indien iemand té betrokke by ʼn sekere situasie is nie, omdat die soortgelyke ervarings en gevoelens so pynlik kan wees, dat daar nie meer werklik empatie gevoel word nie, maar weer na die eie pyn terugbeweeg word. So word daar vanaf die ander terug na die self beweeg. Alhoewel die emosies van die ander uit jou eie perspektief ervaar moet word om dit deel van jou eie realiteit te kan maak, is dit belangrik om nie heeltemal weg te beweeg van die emosies van die ander nie. Dit sal dan as vertekende empatie beskou word. Volgens Katz kan dié ervaring eerder as simpatie verstaan word. Dit is nie noodwendig negatief om na jou eie pyn terug te

(22)

beweeg nie, maar indien die fokus op empatie teenoor ʼn ander is, is die terugtrek in die self ongewens.

Dit gebeur ook dikwels dat ons as lesers (soos verder bespreek gaan word onder narratiewe empatie en soos ook gesien kan word in my eie novelle), oor meer inligting beskik as wat die persoon het vir wie daar empatie gevoel word. Hoffman (2000:90) gebruik die voorbeeld van ʼn arm laer-klas seuntjie, wat nie bewus is van sy armoede of die implikasies vir sy toekoms nie, wat lag en speel. Ons as waarnemers het in daardie stadium meer inligting en insig as die seuntjie en ons kan gevolglik ʼn heel ander emosie ervaar as wat hy ervaar.

Hoffman (200:91) pas die definisie van empatie effens aan: “... empathy, not as an exact match of another’s feelings but as an affective response more appropriate to another’s situation than one’s own”.

Ons het so te sê altyd ander inligting tot ons beskikking as wat enige ander persoon het. Ons perspektief op ʼn saak is noodwendig en gelukkig anders. Dit is juis daardie ander perspektief wat ons nugter kan hou in ʼn situasie en ons moontlik in staat kan stel om hulp te verleen. So sal ons altyd enige emosionele ervaring op ʼn ander manier as enige ander persoon interpreteer en insien. Selfs al word dié emosionele ervaring volgens ons eie perspektiewe geïnterpreteer, kan dit volgens my, steeds as empatie gedefinieer word.

Die ander persoon se emosie word vanuit ons perspektief op hierdie manier konkreet deel gemaak van ons werklikheid aangesien niks werklik geïnterpreteer kan word sonder dat ons eie konteks en geskiedenis in ag geneem word nie. Solank dit die ander persoon se emosies is wat deelgemaak word van ons eie perspektiewe, kan dit as empatie gesien word. Coplan (2004:148) sien empatie in dieselfde lig, deur aan te voer dat indien ons meer of ander inligting as die ander persoon het, ons steeds empatie kan toon:

I can empathize with a character even when I have different or more information than he or she does. In fact, this is how empathy almost always works. Just because I know something that the target does not, it does not follow that I cannot imagine what the target experiences, given his or her limited knowledge.

Dit is ook belangrik om aandag te gee aan wat die gevolge in ons samelewing sou wees indien empatie glad nie ervaar kon word nie. Die gebrek aan empatie word dikwels waargeneem by verkragters, kindermolesteerders en psigopate. Ek dink dit sal van waarde wees om hierdie afdeling spesifiek vanuit die perspektief van die sielkunde te bekyk, deur na Daniel Goleman se boek Emotional Intelligence te verwys. Goleman was voorheen die redakteur van Psychology

(23)

Hy is van mening dat ons beskouing van menslike intelligensie veels te eng is en dat ons emosies ʼn veel groter rol speel in ons gedagtes, besluitneming en sukses as wat algemeen besef word. Hy bespreek ook in besonder die rol wat empatie in ons samelewing kan speel. Goleman (1996:106) sê: “A psychological fault line is common to rapists, child molesters and many perpetrators of family violence alike: they are incapable of empathy”. Goleman (1996:106) sê dat die onvermoë van hierdie oortreders om empatie teenoor hul slagoffers te kan toon, dit moontlik maak om vir hulself leuens te vertel aangaande die misdade wat hulle pleeg: “For rapists, the lies include ‘women really want to be raped’ or ‘if she resists, she’s just playing hard to get’; for molesters, ‘I’m not hurting the child, just showing love’ or ‘this is just another form of affection’”. Hierdie soort oortreders is daarom nie in staat daartoe om enige situasie vanuit iemand anders se perspektief te kan ervaar nie. Die vermoë om jouself in iemand anders se posisie te kan plaas, kom nie so vanselfsprekend nie. Daarom kan hierdie kriminele ander so benadeel, sonder die bewustheid dat hulle dié persoon skade aandoen. “And because they themselves do not feel fear, they have no empathy – or compassion – for the fear and pain of their victims” (Goleman, 1996:110).

Goleman (1996:107) vertel van die terapie wat hierdie soort oortreders ondergaan. As deel van die terapie lees oortreders die ervaring soos vertel vanuit die slagoffer se perspektief of hulle kyk na video’s wat wys hoe die slagoffer in trane van die tragiese gebeurtenis vertel. In sekere gevalle het hierdie terapie wel ʼn mate van empatie by hulle ontlok. Die deel maak van empatie in ʼn samelewing kan veroorsaak dat ons ander kan probeer verstaan en insig kan hê in ander se ervarings, emosies en beweegredes.

Keen (2007:Kindle Locations 388-389) gaan sover om te sê dat ’n gebrek aan empatie “means revealing oneself as a machine”. Verder het dit ook maatskaplike probleme, gevaar vir ander en kriminaliteit tot gevolg (Keen:2007, Kindle Locations 451-452).

Die effek wat die gebrek aan empatie op ʼn samelewing kan hê, word deur Harrison (2011:256) soos volg gestel:

The moral consequences of these ‘empathy disorders’ suggest that without the ability or propensity to imagine ourselves in another’s place and feel with his or her emotions, our sense of ethical responsibility to others is severely diminished.

(24)

2.4 Die ontstaan en ontwikkeling van empatie

2.4.1 Empatie as ʼn primitief-outomatiese reaksie

Ouers sal baie bewus wees daarvan dat babas dikwels begin huil as ʼn ander baba huil. Simner het in 1971 ʼn studie op een- tot driedagoue babas gedoen en het vasgestel dat dié babas nie saam begin huil het as gevolg van die geraas van die ander baba se huil nie, aangesien hulle nie begin huil het toe ʼn soortgelyke sintetiese klank met ʼn soortgelyke geraasvlak gespeel is nie (Hoffman, 2000:64). Simner se studie word deur Hoffman (2000:65) soos volg geïnterpreteer:

There thus appears to be something uniquely unpleasant about the sound of a human infant crying that throws the newborn into a state of agitated discomfort. Why is that? The most likely explanation is that the newborn’s reactive cry is an innate, isomorphic response to the cry of another being of the same species.

Om te kan bewys dat ʼn pasgebore baba reageer teenoor iemand van sy eie spesie se ongemak, dui tog daarop dat die mensdom van geboorte af gemaak is om vir mekaar te kan voel.

Joseph LeDoux se navorsing oor hoe ʼn emosie soos vrees eers in ʼn sekere gedeelte van die brein registreer, wat die amygdala (die primitiewe brein) genoem word, voordat dit in die kognitiewe gedeelte van die brein registreer, is belangrik in dié verband. “The advantages of automatic responses lie in their speediness” (Keen, 2010:67). Dit beteken dat daar sekere reaksies is wat natuurlik deel is van die menslike liggaam wat instinktief en outomaties gebeur. Hierdie soort reaksies is dikwels nodig sodat die mens vinnig uit ʼn gevaarsituasie kan kom sonder dat hy/sy eers in detail daaroor hoef na te dink. Hierdie vinnige en onmiddellike reaksies kan selfs in sekere situasies mense uit lewensgevaarlike situasies red.

Empatie kan volgens Keen (2010:67) ook as ʼn primitiewe reaksie verstaan word:

What is sometimes called ‘primitive empathy’ may work in the same way, providing a first, fast, feeling response to seeing or learning about another’s emotional state, before cognitive evaluation through deliberate role taking occurs. The human capacity for primitive empathy, or the phenomenon of spontaneously matching feelings, suggests that human beings are basically similar to one another, with a limited range of variations.

Empatie is nie noodwendig ʼn keuse nie, maar ʼn outomatiese reaksie wat primitief deel is van die mensdom en dit is dikwels iets (soos adrenalien wat veroorsaak dat jy uit ʼn vreesaanjaende situasie kan kom) wat op oorlewing gefokus is. “Emotions that simmer beneath the threshold of awareness can have a powerful impact on how we perceive and react, even though we have no

(25)

idea they are at work” (Goleman, 1996:55). Aangesien primitiewe empatie ook deel is van hierdie primitiewe emosies, kan die effek van empatie ook op ʼn heel ander vlak van ons bestaan ʼn rol speel, een waarvan ons nie eers altyd bewus is nie. Soos vroeër in hierdie hoofstuk bespreek, kan die kognitiewe gedeelte van empatie steeds nie weggelaat word nie. Alhoewel empatie ook as ʼn primitiewe reaksie gesien kan word, beteken dit nie dat dit slegs ʼn primitiewe affektiewe reaksie is nie, maar slegs dat empatie as ʼn primitiewe reaksie ook ʼn plek het.

2.4.2 Naboots van gevoelens

Volgens Hoffman (2000:37) is nabootsing die kern van empatie: “Mimicry ... warrants our attention, however, because intuitively it appears to be the very essence of empathy ˗̶ one observes another’s expression, and then the brain takes over and makes one feel what the other feels”. Die mens se vermoë om van kleins af gesigsuitdrukkings en gevoelens van ander na te boots, dra tot die ervaring van empatie by. Charles Darwin (1977) het empatie by sy seuntjie waargeneem op die ouderdom van 6 maande en 11 dae toe hy ʼn melankoliese gesigsuitdrukking gekry het toe sy oppasser gemaak het of sy huil (Hoffman, 2000:66). Alhoewel hierdie baba self glad nie ʼn rede gehad het om hartseer te wees nie, het die gehuil van die oppasser veroorsaak dat hy ook hartseer begin voel het. Dit is tog presies wat die definisie van empatie is. Niemand het dit vir hierdie baba geleer nie, maar dit was outomaties deel van sy lewe en optrede vanaf ʼn baie jong ouderdom.

Te danke aan vandag se moderne tegnologie, kan daar waargeneem word wat in die mens se brein gebeur as nabootsing plaasvind en as empatie ervaar word. Tania Singer en haar medewerkers het ʼn studie gepubliseer waarin die empatiese reaksies by ʼn persoon bestudeer is, terwyl ʼn ander persoon se pyn waargeneem word. Hierdie studie demonstreer wat dit is om iemand anders se emosies te ervaar sonder dat die identiese sensasies self ervaar word (Keen, 2010:66). Singer het die breinskanderings van mense wat fisiek geskok word en mense wat moet toekyk hoe ʼn geliefde geskok word, vergelyk. “A person not actually experiencing pain, but observing a loved one being shocked showed brain activation of matching emotional areas ...” (Keen, 2010:66). In die toekyker se emosionele brein is dit byna net so erg om waar te neem hoe iemand geskok word as wat hy/sy self geskok sou word.

ʼn Verdere ontdekking wat gemaak is, word deur Keen (2010:66) beskryf: “They also discovered that the same empathic effects could be elicited without an emotional cue – in other words, subjects did not need to see their partners grimacing in pain in order to show empathic responses. An ‘arbitrary cue’ signaling the feeling state of another was sufficient to elecit empathy”. Vir die doeleindes van hierdie studie, is dit belangrik om daarop te let dat empatie

(26)

ook ervaar kan word selfs al is die persoon vir wie empatie gevoel word nie fisiek teenwoordig nie. Dit sal veral van belang wees as narratiewe empatie bespreek word.

2.4.3 Die ontwikkeling van empatie

Soos reeds bespreek, is empatie iets wat vanaf ʼn baie jong ouderdom deel van ʼn mens se lewe is. Volgens Spolsky (2010:47) verskuif die fokus van empatie vanaf die self na die ander rondom die ouderdom van drie. Op hierdie ouderdom begin kinders om nie net op te tree volgens hul eie behoeftes en begeertes nie, maar hulle begin ook wonder wat ander mense dink en wat hulle behoeftes mag wees.

By observing faces, gestures, and body language, and by noting tone of voice as well as by listening to words, I attribute minds to others, and on the assumption that others have the same kind of mind I have, I may decide (for example) that if they are showing fear, maybe I should also be afraid (Spolsky, 2010:47).

Daar is ʼn punt in ʼn kind se lewe waar hy/sy besef dat wat ʼn ander voel, iets is wat hy/sy ook kan voel as hy/sy moontlik in ʼn soortgelyke situasie sou kom. Alhoewel ʼn kind in ʼn sekere stadium van sy lewe agterkom dat ander se emosies ook ʼn effek op sy eie lewe kan hê, is dit belangrik dat hy/sy moet besef dat die ander nie presies dieselfde as hy/sy is nie. Die verhaal wat Hoffman (2000:72) vertel, beeld die verloop van hierdie proses baie goed uit. Hy vertel van ʼn tweejarige seuntjie wat sy eie teddiebeer na sy maatjie, wat huil, vat om hom te probeer troos. Toe hy besef dat dit nie sy maatjie laat beter voel nie, het hy vinnig na die ander kamer gehardloop om die maatjie se eie teddiebeer na hom te vat. Dit het die maatjie laat ophou huil. Die seuntjie het besef dat die oplossing vir sy maatjie se hartseer nie dieselfde is as die oplossing vir sy eie hartseer nie. “... children begin to show awareness that others have inner states (thoughts, feelings, wants) and that another’s inner states may at times differ from one’s own” (Hoffman, 2000:71). Dit is daarom belangrik om te besef dat alhoewel ons die ander se gevoel presies in sekere gedeeltes van ons brein kan ervaar, ons steeds ʼn afsonderlike individu met afsonderlike perspektiewe en lewenservaringe bly.

Die gevaar lê daarin, dat empatie (of vertekende empatie) ons momenteel totaal en al kan meesleur, tot so ʼn mate dat ons nie bewus is van ons eie identiteit nie. Daar is ʼn moontlikheid, soos Katz (1963:4) beweer, dat ons van onsself kan vergeet terwyl ons ingetrek word in ʼn ander se ervaring. Hierdie vertekende of verdraaide empatie sal nie ʼn positiewe effek kan hê nie. As ons net so hartseer soos ʼn ander voel of net soveel pyn soos hy/sy ervaar, beteken dit dat ons nie nugter vanuit ʼn ander perspektief na die saak sal kan kyk nie of doeltreffend ondersteuning aan die ander sal kan bied nie. In plaas van een persoon wat onaangename emosies ervaar, sal daar in hierdie geval twee wees. As ware empatie gevoel word, behoort daar een persoon te

(27)

wees wat slegte emosies ervaar en ʼn tweede een wat die ander se emosies probeer verstaan deur steeds nugter na die saak te bly kyk.

Die self en die ander moet, volgens Coplan (2004:144), afsonderlik bly tydens die ervaar van empatie:

It often gets assumed that when we engage another empathically we cannot do anything else, yet there is no reason why this has to be the case ... In the process of empathy, the empathizer simulates the target’s experiences without losing the ability to simultaneously experience his or her own emotions and desires.

Soos reeds genoem in hierdie hoofstuk, kan ons empatie beleef en onsself inleef in ʼn ander se situasie, maar ons bly bewus dat die gevoelens wat ons ervaar nie ons eie is nie. Ons maak gevolglik die gevoelens van die ander van toepassing op ons eie werklikheid deur gelyktydig bewus te bly van ons eie oortuigings.

2.4.4 Verhoogde empatie as gevolg van identifikasie of soortgelyke lewenservaring

Dit is baie meer natuurlik om empatie te toon teenoor ʼn ander met wie jy kan identifiseer of wat soortgelyke lewenservarings as jy gehad het. Hoffman (2000:47) noem dit “direct association”. As ons ʼn onstellende situasie in ons lewe beleef het en later iemand sien wat deur dieselfde ervaring gaan, kan iets soos die persoon se gesigsuitdrukking, stem of postuur ons herinner aan ons eie ervaring en ʼn benoude gevoel by ons laat ontstaan. Dit is vanselfsprekend dat direkte assosiasie met ʼn sekere ervaring jou meer geneig sal maak om empatie te kan toon. Hier is dit van belang, soos vroeër bespreek, dat indien jy hierdie lewenservaring deel met die ander, jy nie terug sal gaan na jou eie pyn en vergeet van die ander nie. Jy moet juis nugter bly en met afstand na die probleem kyk, anders sou empatie nie baie bevorderlik vir ons welsyn gewees het nie.

Daar is sekere situasies wat jou nooi om te empatiseer en ander situasies wat weer glad nie jou aandag trek nie: “Either you have lost a partner, or you have not; either you have battled a life-threatening illness, or you have not; either you have been assaulted or imprisoned, or you have not. The gate swings open to invite you in, or it stays closed” (Keen, 2010:83). Ek is van mening dat hier nie slegs na jou lewenservaringe verwys word nie, maar ook na jou perspektiewe en sieninge oor die wêreld. Selfs al is daar ervarings wat jy self nog nie gehad het nie, kan ʼn sekere ervaring heelwat empatie ontlok slegs omdat jy ʼn sterk opinie daaroor het of selfs jou kan verbeel hoe erg ʼn sekere situasie vir ʼn ander moet wees (meer hieroor volg in ʼn latere bespreking). Volgens Harrison (2011:270) is dit nie net ooreenkomste tussen mense wat empatie veroorsaak nie: “Similarity per se does not stimulate or inhibit empathy, but rather an

(28)

individual’s perception of similarity”. Indien een persoon glad nie soortgelyke ervarings gehad het as ʼn ander persoon nie, kan hy/sy steeds voel dat hulle met mekaar kan identifiseer, indien hy/sy in sy/haar kop glo dat daar sterk oreenkomste tussen hulle is. Of jy met iemand kan identifiseer kan daarom ook afhang van jou eie persepsie van julle ooreenkomste.

Soos reeds genoem, speel werklike ooreenkomste ʼn groot rol wanneer dit by identifisering kom. Daar is sekere aspekte van die realiteit wat ons interesseer en wat ons raaksien wat ander weer glad nie raaksien nie. Caracciolo (2013:86) gebruik die term “intentional blindness” en beskryf dit soos volg: “... we do not always see everything that is in our visual field”. Daar kan iets reg voor my oë wees wat ek miskyk, aangesien elke individu op verskillende aspekte van die lewe ingestel is. Juis om hierdie rede maak dit sin dat mense ook meer geneig is om met familie, vriende en mense met wie hulle identifiseer, te empatiseer. Hierdie mense is derhalwe die mense wat in hulle visuele veld verkeer. Hoffman (2000:206) bevestig dat hierdie soort empatie algemeen is:

And when we consider that members of one’s in-group are similar to each other and to oneself and share feelings of closeness and affection, it should not be surprising that a person is also more likely to empathize with friends than with strangers and with people who are similar to oneself than with people who are different.

Hoffman (2000:215) gaan verder deur te sê dat verhoogde empatie teenoor mense wat dieselfde is as jy, nie net algemeen is nie, maar noodsaaklik: “... while empathy may be the ‘glue’ of society, as I claim it is, if we empathized and tried to help everyone in distress – ‘promiscuous’ or ‘diffuse’ empathy (Shweder) – society might quickly come to halt”. Keen (2007:Kindle Locations 65-66) gaan selfs so ver om te sê dat die emosies wat ons ervaar vir ander wat nie soos ons is nie, nie as empatie gesien kan word nie.

Dit is onmoontlik vir een individu om empatie te ervaar vir elke moontlike persoon wat sy pad kruis. Elke mens is gemaak met sekere fokuspunte of aspekte wat vir hom/haar belangrik in die lewe is. Dit is juis hierdie areas van elkeen se lewe wat nodig is, sodat empatie op ʼn beperkte en opregte manier gevoel kan word en gevolglik beter in die samelewing “versprei” word. Die feit dat ouers meer empatie het vir hul eie kinders as ander ouers se kinders, bring mee dat die samelewing gesond kan funksioneer.

Volgens my is dit ideaal dat empatie makliker in sekere situasies as ander gevoel word. Empatie sal as gevolg daarvan slegs ʼn effek op jou eie lewe kan hê as dit gaan oor iets of iemand wat na aan jou hart is of as daar iets gebeur wat binne jou visuele veld val. As iemand naby aan jou (bv. jou buurman) swaarkry of as iets gebeur wat jou na aan die hart lê, sal jy tog meer geneig wees om die ongemak te laat probeer verdwyn of die situasie te verander.

(29)

2.4.5 Die verbeelding en die fiksie-paradoks

Vanuit die vorige afdeling blyk dit duidelik dat empatie verhoog indien ons met iemand kan identifiseer, of as ons volgens ons eie perspektief soortgelyk aan dié persoon is. Tog is dit belangrik om nie die rol wat die verbeelding in dié opsig kan speel, te verwaarloos nie. Soos reeds genoem, blyk dit dat empatie reeds vanaf ʼn baie jong ouderdom, op ʼn baie natuurlike manier deel is van ons lewens. Die verbeelding speel ook ʼn belangrike rol as dit kom by empatie: “... mimicry becomes a particularly important mechanism because it enables infants to empathize with another’s feeling even before having had their own direct experience with the same feeling” (Hoffman, 2000:42). Dit moet daarom moontlik wees om iets te ervaar, of jouself te verbeel wat ʼn ander ervaar, sonder dat jy self die ervaring in jou eie lewe gehad het. Hoffman (2000:57) verduidelik hierdie manier van empatie ervaar verder deur na bekommernis te verwys. ʼn Mens hoef nie ʼn soortgelyke slegte ervaring as ʼn ander te gehad het om bekommerd te kan wees dat jy ook ʼn soortgelyke ervaring kan hê nie. Hierdie gevoel van bekommernis is moontlik aangesien ons onsself kan indink of verbeel hoe so ʼn situasie kan wees. Katz (1963:64) sluit in ʼn mate by Hoffman aan deur te sê dat die verbeelding ʼn belangrike rol speel by die ervaar van empatie, aangesien ons iets van ʼn ander se belewenis kan meemaak, sonder dat ons dit self ervaar het. Hy voeg by dat ons wel ten minste die kapasiteit in ons moet hê om so ʼn soort gevoel, wat die ander ervaar, op ons eie te kon ervaar. Dit beteken dat as ek iemand is wat baie lief is vir diere, hartseer word as iemand anders se troeteldier doodgaan, ek die kapasiteit het om die emosies van die ander te ervaar, selfs al het ek hierdie spesifieke ervaring nog nie ervaar nie. As gevolg van ons verbeelding het ons die kapasiteit om onsself in te dink in ander se situasies.

Hoffman (2000:77) verduidelik ook hoe ʼn persoon in ʼn sekere stadium van sy/haar lewe (rondom twaalf- of dertienjarige ouderdom) goed kan onderskei tussen wat hy/sy self voel en wat hy/sy veronderstel is om in sekere situasies te voel. ʼn Kind kan byvoorbeeld besef dat ʼn mens veronderstel is om skrikkerig te wees vir die skoolhoof, al is hy/sy self nie noodwendig bang nie. Hy/sy sien hoe ander reageer en leer uit hul ervarings. Ons hoef ook net eenkeer te sien hoe iemand homself/haarself brand met kookwater om te weet ons moet versigtig wees. Ons hoef nie self gebrand te word om te leer en te weet ons moet sekere dinge vermy of voor versigtig wees nie.

Daar word deur Caracciolo (2013:82) ʼn verband getrek tussen hoe ons as mense ʼn fiktiewe teks kan interpreteer en die manier hoe blinde mense sin maak van ʼn gesprek waarna hulle luister. Hier word Catherine Emmott (1997) aangehaal: “Like a blind person, she explains: ‘the reader receives only intermittent signals of the presence of the characters from the text and must therefore monitor the fictional context mentally’”. Alhoewel narratiewe empatie in ʼn

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

De structuur heeft een bijzonder effect: door het in perspectief plaatsen van het burgerlijke bestaan van een doodgewone huisvrouw: het zorgen voor een normaal huishouden en

Een niveau in de rivier wordt gevormd door uitspoelen van zacht gesteente.. Een hoog niveau wordt een

In dit land geldt de ongeschreven regel dat kerstbomen en andere kerst- versieringen pas na Sinterklaas (5 december) mogen worden aange- bracht. Uiterlijk met Driekoningen (6

Afrikaans, participle, present participle, past participle, cognitive grammar, cognitive usage-based descriptive framework, lemmatisation, part-of-speech tagging, periphrastic

Wanneer dieselfde inhoud gesien word in ʼn opsommende wyse, is die gevolg dat die uitdrukking tot ʼn ander grammatikale kategorie behoort, soos ʼn adjektief of ʼn

5-16 Figuur 5-10: Uittreksel uit eksterne evalueringsverslag – Afdeling C: Evalueerder A ... 5-16 Figuur 5-11: Uittreksel uit eksterne evalueringsverslag – Afdeling C: Evalueerder

Publisher’s PDF, also known as Version of Record (includes final page, issue and volume numbers) Please check the document version of this publication:.. • A submitted manuscript is

Finally, some large groups of analytic functions are represented as (extendi- ble) linear operators ,on the mentioned spaces.. AMS Classifications 46F05, 46F10, 46F1S,