• No results found

Pre-projek refleksie

Hoofstuk 6: Refleksie

6.1 Pre-projek refleksie

Tydens my honneursjaar (Vertaling en Professionele Skryfwerk aan die Universiteit van Pretoria) het ons gedurende die tweede semester ʼn draaiboek geskryf vir die module Skryf vir

die Visuele Media. Terwyl ek oor idees besin het vir die tema van my draaiboek, het die verhaal

wat my ma kort vantevore aan my vertel het, by my opgekom. Sy is ʼn professor in Bybelse argeologie en neem gereeld toergroepe na Jerusalem. Dit is tydens een van die toere dat ’n baie vreemde voorval plaasgevind het. Een van haar kollegas, ʼn jong man van in sy dertigs, wat Hebreeus doseer, het na hulle aankoms in Jerusalem al hoe vreemder opgetree. Hy het begin uitroep dat hy sal moet sterf vir ander, hy het wit lakens om hom gedrapeer, was baie agterdogtig en het die hele tyd gevoel dat iemand hom wil probeer doodmaak. Dit was inderdaad vir my ʼn boeiende en amper ongeloofwaardige verhaal. Ek het later uitgevind dat dit ʼn erkende sindroom is, genaamd Jerusalem-sindroom, wat behels dat veral mans in hulle vroeë-dertigs begin glo dat hulle die Messias is wat vir die mensdom moet sterf. Sodra hulle uit Jerusalem gaan, is alles weer normaal. Ek was van mening dat hierdie storie goeie materiaal vir ’n film kon wees.

Die meerderheid studente wat saam met my in die klas was, wou draaiboeke skryf met die doel om te skok of om te besoedel. Die dag toe ons aan die res van die klas ons voorleggings moes aanbied, was ek geskok om te hoor watter soort verhale dié studente graag wou vertel en wat hulle graag aan die wêreld daarbuite wou meedeel. My verhaal het in Jerusalem afgespeel en my idee was om op ʼn subtiele manier selfs ʼn opbouende, positiewe boodskap te probeer weergee. Ek het besef dat ek nie met ʼn stroperige storie voor hierdie klas kon staan nie. Ek wou die boodskap op so ʼn manier oordra dat dit moontlik ʼn invloed op mense se lewens kon hê, maar ek wou dit so verdoesel dat selfs die sekulêre wêreld daarin geïnteresseerd sou kon wees. Die idee om ʼn boodskap in ʼn rolprent oor te dra, sonder om stroperig of prekerig te wees, was daarom die direkte uitdaging.

Na my honneursjaar het ek met my draaiboek na Prof. Henning Pieterse aan die Universiteit van Pretoria gegaan met die gedagte om moontlik die verhaal te verwerk vir ʼn meestersgraadstudie in Kreatiewe Skryfwerk. Prof. Pieterse het baie van die verhaal gehou, maar hy was van mening dat ek dit eers moet verbeter en nog lewenservaring moet opdoen voordat ek sou kon aansoek doen vir die kursus. Hy het heelwat boeke en films voorgestel wat ek moes deurwerk. Die meeste van die films waarna ek moes kyk, was baie skokkend en grusaam, maar ek het wel ook ʼn paar goeie idees gekry en het op hierdie manier die draaiboek probeer verbeter. Nadat ek die veranderinge aangebring het, het Prof. Pieterse voorgestel dat ek ʼn paar eksplisiete tonele bywerk om die verhaal af te rond. Dit was presies die teenoorgestelde gedagte wat ek met my film gehad het, en het daarom nie my MA by die Universiteit van Pretoria gedoen nie.

Intussen het ek my draaiboek na ʼn roman probeer verwerk – ek het heelwat aan die storie verander en deurlopend probeer verbeter. Verder het ek ook begin lees oor boodskappe in rolprente en hoe dit op ʼn subtiele manier oorgedra kan word. Ek het ook oor kognitiewe narratologie begin lees. Die sielkunde het my juis in hierdie tyd meer begin prikkel. ʼn Beroepsielkundige wat ek in daardie stadium gaan sien het, het selfs voorgestel dat ek sielkunde as ʼn verdere spesialisasie-rigting moet oorweeg.

Nadat ek Prof. Franci Greyling by ʼn kinderboekskryfskool ontmoet het, het ek haar gekontak met die doel om my Meestersgraad by haar te doen. My aanvanklike onderwerp was: Hoe om ʼn boodskap subtiel in ʼn film oor te dra. Na verkennende gesprekke en verdere leeswerk in die sielkunde, het ek oorweeg om die onderwerp te verander na: Wat is die effek van narratiewe empatie op morele waaksaamheid, groei en gunstige sosiale optrede. Daar word dikwels in die sielkunde verwys na hoe mense genesing kry deur van hul lewensverhaal ʼn storie te maak. Ek wou hierdie idee vanuit ʼn ander hoek beskou deur te bestudeer watter effek ʼn fiktiewe verhaal op die leser se werklikheid kan hê. Die doel was om ʼn paar suksesvolle verhale te bestudeer wat volgens my empatie suksesvol ontlok het en daarvolgens ʼn metode op te stel oor hoe ek dit op my eie werk van toepassing kan maak.

Verder was ek baie bewus daarvan dat ons ons in ʼn wrede en hartseer wêreld bevind. Vir my is dit persoonlik ʼn konstante uitdaging om aan te hou om die mooi en die goeie in die lewe te probeer raaksien. Ek is van mening dat ʼn mens skryf oor onderwerpe wat jou na aan die hart lê. Daar is al vir my gesê dat ek ʼn idealistiese skryfstyl het en dit mag dalk die geval wees. Ek maak graag ʼn positiewe boodskap deel van my skryfwerk. Ek is van mening dat dit vandag veel erger is om ʼn positiewe boodskap deel te maak van ʼn verhaal as wat dit is om ongesonde, afbrekende gedagtes deel te maak van ʼn verhaal. Waarom moet ʼn mens meer versigtig wees

om té goed te wees of met omsigtigheid te skryf, terwyl daar niks ooit gesê word oor té sleg en té boos wees of skryf nie?

Ek besef wel dat mense maklik afgesit word deur sedelesse en stroperige stories, maar ek wou steeds skryf oor ʼn onderwerpe wat waarde vir my inhou. Die idee was om dit op ʼn subtiele manier te doen, maar dit was aanvanklik nie naastenby geslaagd nie.

Uiteindelik het ek besluit om narratiewe empatie en die skryf van ʼn novelle die tema van my studie te maak. Ek is geprikkel deur hoe skrywers dit regkry om ’n leser emosioneel by ’n verhaal betrokke te kry en inderwaarheid die leser te beïnvloed. Ek besef dat dit tog op ’n baie subtiele manier gedoen moet word en daarom was dit vir my ook die direkte uitdaging. Om emosioneel betrokke te wees by ‘n verhaal en om jou lesers anders te laat dink of voel oor kwessies stem tog goed ooreen met wat verstaan word onder narratiewe empatie. Die novelle pas verder goed in by die doelwitte van my studie.