• No results found

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING EN PROBLEEMSTELLING

2.5 ELEMENTE VIR DELIKTUELE AANSPREEKLIKHEID

2.5.3 Skuld

2.6.1.2 Voorsorgmaatreëls teen aanspreeklikheid

(a)

Vrywaringsvorms en skadeloosstelling

Oosthuizen et al. (2009:203) stel dit dat vrywaring enige aanspreeklikheid uitsluit. Heuston et al. (1992:485) voeg by dat geen persoon op ʼn reg kan aandring as hy/sy vrywilliglik daarvan afstand gedoen het nie. Van der Merwe en Olivier (1989:145) stel dit ook dat waar ʼn persoon regsgeldelik tot ʼn bepaalde benadeling toegestem het, die veroorsaking van daardie nadeel aan die toestemmende persoon as redelik beskou word.

Ouers of voogde wat vrywaring toestaan aan opvoeders (en/of skool) vir nalatigheid, doen afstand van (of beperk) hulle reg op regres, en hou daardeur nie die opvoeder (en/of skool) verantwoordelik vir enige skade of nadeel wat hulle moontlik mag ly nie (Oosthuizen et al., 2009:203).

Artikel 8(c)(1) van die Wysigingswet van die Suid Afrikaanse Skolewet No.84 van 1996 (SA, 1996b) bepaal dat:

(1) ʼn Openbare skool moet skriftelik toestemming verkry van die ouer van ʼn leerder wat ʼn skoolaktiwiteit sal onderneem.

Waar ʼn leerder of sy/haar ouers toestemming verleen dat die leerder aan ʼn gevaarlike aktiwiteit mag deelneem, word dit beskou as ʼn vrywaring teen sodanige beserings (Joubert & Prinsloo, 2008:152).

Joubert en Prinsloo (2008:152) noem egter dat ouers/voogde slegs toestemming gee tot vrywaring van beserings wat redelike risiko inhou, en dat die aktiwiteit binne die leerder se praktiese vaardigheidsvlak en vermoëns moet val. Dit is egter belangrik om daarop te let dat ouers en leerders bewus moet wees van al die gevare wat sekere aktiwiteite inhou, alvorens hulle toestemming daartoe mag verleen. Brazier en Murphy (1999:298) beklemtoon verder dat hierdie toestemming vrywilliglik en sonder dwang moet geskied (volenti non fit injuria). Oosthuizen et al. (2009:203) noem dat die vrywaring wat die ouer/voog toestaan slegs geldig is vir skade (nadeel) wat die ouer moontlik self mag ly, byvoorbeeld mediese koste wat uit die besering voortspruit. Hierdie vrywaring is egter nie geldig vir skade wat deur die leerder gely word nie, aangesien die reg bepaal dat ʼn ouer nie tot nadeel van sy/haar minderjarige kind mag optree nie (Joubert en Prinsloo., 2008:152). In ʼn geval waar ʼn leerder byvoorbeeld weens ʼn ongeluk in die Siviele Tegnologie werkswinkel misvorm gelaat is, kan die ouer nie namens die leerder skadevergoeding eis weens persoonlikheidsnadeel nie.

Volgens Schouwstra (2008:79) kan opvoeders (en/of die skool) hulle net in bepaalde gevalle en op ʼn beperkte wyse deur middel van ʼn vrywaringsvorm van aanspreeklikheid vrywaar. Botha et al. (2010:201) noem egter dat wanneer ʼn kontrak of vrywaringsvorm ʼn klousule bevat wat van die leerder verwag om van sy/haar eie eise afstand te doen, dit deur die leerder geteken moet word onder leiding en bystand van sy/haar ouers of voogde. Die vrywaring moet verder ook melding maak daarvan dat die ouers en/of voogde en leerder onderneem om afstand te doen van enige eis vir skadevergoeding teen die opvoeder of skool weens nalatige optrede deur die opvoeder. Ouers en/of voogde kan egter weier om enige vrywaringsvorm te teken, aangesien dit vrywilliglik moet geskied. In só ʼn geval is dit vir opvoeders en skole belangrik om hulle te vergewis van artikel 5(3)(e) van die Suid- Afrikaanse Skolewet (SA, 1996b) wat die volgende bepaal:

(5)(3) Geen leerder mag toelating tot 'n openbare skool geweier word nie op grond daarvan dat sy of haar ouer-

(c) geweier het om 'n kontrak waarkragtens die ouer afstand doen van enige eis vir skadevergoeding wat uit die opvoeding van die leerder voortspruit, aan te gaan.

Verskeie skrywers stel gevolglik die vraag: Word opvoeders in alle gevalle deur ʼn vrywaringsvorm gevrywaar? Joubert en Prinsloo (2008:152) stel dit dat opvoeders en leerders ten spyte van vrywaring steeds aanspreeklik gehou kan word vir hulle optrede indien skade of nadeel weens nalatigheid veroorsaak is. Botha et al. (2010:204) sluit hierby aan deur te noem dat geen vrywaringsvorm of kontrak ʼn opvoeder of skool kan vrywaar van skade wat weens growwe nalatigheid of opset deur ʼn leerder gely is nie.

In die lig van bogenoemde, moet die Siviele Tegnologie werkswinkelonderwyser kennis neem daarvan dat die aktiwiteite op houtwerkmasjinerie in sy/haar werkswinkel ʼn groot mate van risiko vir leerders inhou, en dat hy/sy aandag aan die volgende vereistes moet skenk:

Ouers en leerders moet skriftelik toestem tot sodanige aktiwiteite; Hierdie toestemming moet vrywillig wees;

Toestemming mag slegs verleen word as ouers en leerders bewus gemaak is van alle gevare verbonde aan die gebruik van houtwerkmasjinerie, en ander moontlik gevaarlike aktiwiteite in die werkswinkel;

Die vrywaringsvorm moet insluit dat ouers nie die opvoeder of skool aanspreeklik mag hou vir beserings wat moontlik uit sodanige aktiwiteit kan voortspruit nie (behalwe in gevalle van growwe nalatigheid of opset); en indien toestemming deur die ouer en/of voog geweier word vir deelname aan sodanige aktiwiteite, die leerder nie toelating daartoe geweier word nie.

(b)

Aanspreeklikheidsversekering vir opvoeders

Volgens Oosthuizen et al. (2010:211) is die doel van versekering om die oortreder (opvoeder en/of skool) skadeloos te stel teen regsaanspreeklikheid. In die geval waar ʼn eis deur leerders of ouers teen die skool ingestel word weens hulle onregmatige optrede, sal die versekeraar vir die skade verantwoordelik wees.

Siviele Tegnologie werkswinkelonderwysers moet bewus wees daarvan dat die moontlikheid dat ernstige beserings in hulle werkswinkels kan plaasvind, waarskynliker is as in gewone klaskamers. Derhalwe kan hulle persoonlik verantwoordelik gehou word vir enige skade of nadeel weens nalatigheid, en dus bykomstige persoonlike versekering moet uitneem wat hulle in die geval van só ʼn gebeurlikheid kan beskerm.