• No results found

HOOFSTUK 4 REGSPRAAK AS DETERMINANT

4.2 NASIONALE REGSPRAAK

Die sorgsame toesighoudingsplig van die onderwyser in die algemeen word uitdruklik bevestig deur ʼn hele aantal Suid-Afrikaanse hofuitsprake wat handel oor beserings wat leerders opgedoen het. Enkele sake waarna verwys kan word, is die volgende: Rabie v Lid van Uitvoerende Komitee van Gauteng Verantwoordelik vir Onderwys (3203/2005)[2006],Muntingh v. Gautengse Departement van Onderwys en Die Hoërskool Vereeniging [1997] en Minister of Education and Culture (House of Delegates) v Azel and another 1995 (1) SA 30 (A).

4.2.1 Rabie v Lid van Uitvoerende Komitee van Gauteng Verantwoordelik vir Onderwys (3203/2005)[2006],

In hierdie saak word die sorgsame toesighoudingsplig van opvoeders beklemtoon waar hulle tydens pouses op die skoolterrein toesig moet hou. In 2003 is ʼn 13-jarige leerder van die Hoërskool Waterkloof beseer toe hy tydens pouse van ʼn krieket-net afgeval het waarmee ander leerders hom tydens ʼn speletjie in die lug geskiet het. Hy het in die proses ernstige kop- en breinbeserings opgedoen. Die leerder se pa het namens hom ʼn skadevergoedingseis van R2,25 miljoen ingedien vir onder meer algemene skade, verlies aan toekomstige inkomste, en pyn en lyding. Hy eis ook namens homself R768 416 vir

Op die betrokke dag het die seun saam met ʼn groep graad 11-leerders by die skool se krieketnette gespeel. Die graad 11-leerders het mekaar met ʼn styfgespande krieket-net die lug in geskiet. Volgens getuienis in hofstukke wou die graad 8-leerder aanvanklik nie deelneem aan die speletjie nie, maar het later weens groepsdruk ingestem. Die seun is toe die lug ingeskiet, waarna hy van die net afgeval en op sy kop te lande gekom het. Hy is na die Pretoria-OosHospitaal geneem waar hy ses weke lank in die waakeenheid aangesterk het. Hy het sy neus, skedel en knieskyf gebreek, en het na die voorval epileptiese aanvalle begin kry.

Die beseerde leerder se pa het in hofstukke aangevoer dat die skool en sy personeel nalatig was in hulle sorgsame toesighoudingsplig, en dat hulle nalatigheid verband hou met die skade wat hy gely het.

Die verweerder (onderwysdepartement) in die saak het onder meer aangevoer dat:

die eiser se seun bewus was van die gevare verbonde aan die speletjie, en moes geweet het dat hy beseer kon word.

Regter PC Combrinck het nie saamgestem nie, en bevind dat die leerder nie bydraend nalatig was nie, aangesien hy volgens hom nie toerekeningsvatbaar was nie.

Die Hof het in sy slotsom bevind dat die personeel van die skool nalatig was deurdat hulle nie voldoende toesig gehou het op die betrokke dag nie, en dat hierdie nalatigheid kousaal verband hou met die skade wat die leerder gely het.

4.2.2 Muntingh v. Gautengse Departement van Onderwys en Die Hoërskool Vereeniging[1997]

Hierdie saak beklemtoon die belangrikheid van sorgsame toesig by potensieel gevaarlike areas soos skoolswembaddens. Volgens Tempelhoff (1998:2) is hierdie saak buite die hof geskik, en later in die Pretoriase Hoërhof in ʼn skikkingsakte as bevel gemaak. Dit is dus ʼn ongerapporteerde saak.

Muntingh het in hierdie saak ʼn skadevergoedingseis teen die Gautengse Departement van Onderwys en die Hoërskool Vereeniging ingestel nadat hy as destydse leerder verlam gelaat is na ʼn ongeluk in die skoolswembad (Jonker, 1997:4).

Op die dag van die ongeluk het Muntingh tydens die Liggaamlike Opvoeding-periode onder die toesig van ʼn Afrikaansonderwyseres met sy kop teen die bodem van die swembad geduik. Hy is weens die beserings wat hy opgedoen het nou ʼn kwadrupleeg. Muntingh beweer in hofstukke dat die skool nalatig was in hulle sorgsame toesighoudingsplig, aangesien die onderwyseres wat toesig gehou het tydens die periode nie opgelei was om noodsituasies te hanteer nie. Volgens hofstukke kon Muntingh minimale skade oorgehou het indien die onderwyseres korrek opgetree het ten opsigte vandie hantering van sy besering (Tempelhoff, 1998:2; Jonker, 1997:4).

Die Pretoriase Hoërhof het in sy uitspraak gelas dat die Hoërskool Vereeniging en die LUR vir onderwys in Gauteng medeverantwoordelik was vir die skade wat Muntingh gely het. Hulle moes gesamentlik ʼn bedrag van R1,9 miljoen skadevergoeding aan Muntingh betaal (Tempelhoff, 1998:2).

Hierdie saak beklemtoon dat sorgsame toesig oor leerders in potensieel gevaarlike areas slegs deur bekwame en opgeleide personeel behartig moet word. Dit is ook van die allergrootste belang dat onderwysers bekend moet wees met die korrekte hantering van noodgevalle indien ongelukke sou plaasvind, aangesien dit kan bydra tot die voorkoming van verdere skade.

4.2.3 Minister of Education and Culture (House of Delegates) v Azel and another 1995 (1) SA 30 (A)

Die sorgsame toesighoudingsplig van onderwysers is egter nie net beperk tot die skoolperseel nie. Gevalle waar leerders onder toesig van onderwysers na en van skoolaktiwiteite beseer is, het ook in howe voorgekom. In een so ʼn saak was leerder Azel by ʼn motorongeluk betrokke. Haar onderwyseres van Hoërskool Laudium het ʼn vakkundige uitstappie gereël en Azel in haar privaatvoertuig soontoe vervoer omdat die skoolbussie reeds vol leerders was. Op pad daarheen het die onderwyseres beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn boom gebots. In die proses het Azel ernstige beserings opgedoen. Na haar mondigwording het sy ʼn skadevergoedingseis teen die Minister van Onderwys en Kultuur ingestel. Die eis slaag, en Azel word ʼn bedrag van R765 252 toegeken. Die Departement het geappelleer, waarna die Appèlhof bevind het dat die onderwyseres nalatig was (Herselman, 2006:63). Alhoewel die omstandighede rakende hierdie saak uniek was, is dit belangrik dat onderwysers bewus moet wees daarvan dat hulle ook in hulle persoonlike hoedanighede aanspreeklik gehou kan word.

4.2.4 Van der Merwe v. Tom Naude, 1995 (Saaknommer:6801/94).

Hoewel voorafgaande regspraak die aanspreeklikheid van die onderwyser in die algemeen bevestig, is daar feitlik geen regspraak wat op die Suid-Afrikaanse werkswinkel-onderwyser se aanspreeklikheid fokus nie. ʼn Enkele voorbeeld van ʼn toepaslike hofsaak in hierdie verband is Van der Merwe v. Tom Naudé, 1995 (Saaknommer: 6801/94). Hierdie hofsaak is buite die hof geskik en is later in die Hooggeregshof van Suid-Afrika in ʼn skikkingsakte as bevel gemaak (Kruger, 2003:132).

ʼn Graad-10 leerder van die Hoërskool Tom Naudé het veelvuldige beserings opgedoen terwyl hy sy werkswinkel-onderwyser behulpsaam was met elektriese reparasiewerk op die skoolterrein. Die leerder het ten tye van die ongeluk die leer vasgehou waarop sy onderwyser gestaan het. Sy onderwyser het per ongeluk van die leer afgeval, en saam met die leer bo op hom te lande gekom. In die proses het die leerder sy linkerbeen gebreek, en ook knie-, kop- en nekbeserings opgedoen. Die beserings het tot gevolg gehad dat die leerder lank op krukke was en twee jaar na die ongeluk steeds mank loop. Die seun se pa het namens hom ʼn eis vir skadevergoeding ingestel. Hy het aangevoer dat die onderwyser en skoolhoof nalatig was, aangesien sy seun op die dag van die ongeluk onder hulle toesig en beheer was. Die partye het ʼn skikkingsooreenkoms bereik voordat die hofsaak begin het, waarna die skool R40 000 skadevergoeding aan die seun moes betaal (Rademeyer, 1995:6).

Die uitslag van hierdie hofsaak illustreer hoe belangrik die sorgsame toesighoudingplig van werkswinkel-onderwysers is terwyl leerders gevaarlike take onder hulle toesig verrig. Daar word van Siviele Tegnologie werkswinkel-onderwysers en die leerders onder hulle toesig verwag om soms onderhoud- of herstelwerk op die skoolterrein te doen. Hierdie herstelwerk kan gevaarlike situasies skep waarin leerders beseer kan word, en onderwysers moet alle moontlike stappe doen om redelik te voorkom dat ongelukke plaasvind.

Aangesien dit dus blyk dat daar nie genoegsame regspraak met betrekking tot die werkswinkel-onderwyser (en meer spesifiek die Siviele Tegnologie werkswinkel-onderwyser) is nie, word vervolgens gefokus op buitelandse regspraak ten einde meer lig op die onderhawige tema te werp.