• No results found

Funksionele analise en leserspersona

3.1 Beskrywing van die korpus

3.1.5 Vigs in ons gemeenskap

Dit is moeilik om hierdie dokument, uitgereik deur Soul City, te klassifiseer omdat dit meer omvangryk is as byvoorbeeld die Slimkoptiener-brosjure, en eerder as ʼn boekie of tydskrif beskou kan word. Die indruk wat met die titel Vigs in ons gemeenskap geskep word, is dat die boek vir die gemeenskap bedoel is. Omdat dit egter onmoontlik is om almal in die gemeenskap aan te spreek, word die boek in

verskillende afdelings verdeel en ook op verskillende teikengroepe gemik. Verskeie aspekte betreffende MIV/Vigs word in die afdelings bespreek.

Temas wat in die boek hanteer word, is onder andere: • Wat is Vigs?

• Hoe kry jy Vigs?

• Hoe vind ek uit of ek Vigs het? • Vigs en verhoudings

• Hoe om Vigs te voorkom • Hoe jongmense Vigs kan bestry • Seksueel-oordraagbare infeksies • Waarom versprei Vigs so vinnig? • Kinders met Vigs

• Fisiese tekens van Vigs

• Versorging en ondersteuning van mense met Vigs • Verkeerde idees omtrent Vigs

Weens ruimte- en tydsbeperkinge word enkele kernafdelings geanaliseer om die verskillende leserspersonas in die boek te illustreer. Die afdelings waarop gekonsentreer word, is:

• Wat is Vigs?

• Hoe om Vigs te voorkom • Hoe jongmense Vigs kan bestry

• Versorging en ondersteuning van mense met Vigs

3.2 Tema

Volgens funksionele teksanalise is dit belangrik om die tema/onderwerp van ʼn teks te bepaal, omdat dit die kommunikatiewe en uiteindelike doelwitte kan beïnvloed. Weens die aard en posisionering van die ondersoek, is dit reeds duidelik dat al die dokumente MIV/Vigs as hooftema het, en dus fokus hierdie afdeling eerder op die

subtemas wat die hooftema ondersteun. Die bepaling van elke dokument se tema en subtemas is belangrik, want dit kan die skrywer help om te besluit watter tipe leserspersona by sy spesifieke onderwerp sal pas.

Van die dokumente bespreek meer as een subtema betreffende MIV/Vigs, terwyl ander slegs op een onderwerp konsentreer. Die aantal subtemas hang meestal van die lengte van die dokument af. Alhoewel die vorige afdeling reeds kortliks na die onderwerpe gekyk het, word dit vervolgens in meer detail bestudeer.

3.2.1 MIV/Vigs-pamflet van Studentesake-afdeling

Die MIV/Vigs-tema van hierdie brosjure word met behulp van verskillende subtemas ontwikkel. Subtemas soos die betekenis en genesing van Vigs word aangeraak, asook die verband tussen MIV en die oordrag van die virus, verkragting, berading en wat die MIV-toets behels.

Dié verskillende subtemas dien ook as opskrifte van subafdelings waarin elkeen kortliks bespreek word.

3.2.2 HIV & jou mond (sic)

Die HIV & jou mond-brosjure gaan oor mondhigiëne by MIV-positiewe mense ten einde tandheelkundige probleme te voorkom. Verskeie subtemas word bespreek, naamlik hoekom die leser sy mond gesond moet hou, hoe die leser sy tande en tandvleis moet versorg, die verhouding tussen die leser en sy tandarts, en laastens dinge waarna die leser moet oplet indien hy MIV-positief is. Soos in die vorige brosjure, dien die subtemas ook as opskrifte vir die onderskeie subafdelings.

3.2.3 Om liefde te deel

Die brosjure Om liefde te deel is misleidend, aangesien dit nie oor liefde gaan nie, maar eerder oor feite en mites rakende die oordrag van MIV/Vigs. Veilige-seksbeoefening deur middel van kondome geniet ook aandag. Ter ondersteuning van

3.2.4 Slimkoptiener

Hierdie brosjure het ook MIV/Vigs as oorkoepelende tema, maar bevat veel meer detail oor MIV/Vigs en ander onderwerpe wat die tiener of adolessent mag interesseer. Die brosjure is in vyf afdelings verdeel wat elk ʼn ander subtema bespreek. Die subtemas wat ter sprake is, is:

• Hoe ons volwasse word • Besluite oor seks • Wat is Vigs?

• Wat is die MIV-toets?

• Seksueel-oordraagbare infeksies

By die eerste subtema bespreek die skrywer(s) watter fisiese en fisiologiese veranderinge die adolessent in hierdie stadium van sy lewe ondergaan, en verseker terselfdertyd die leser dat dié veranderinge normaal is. Die volgende afdeling gaan oor die besluite wat die leser óór seksbeoefening, vóór seksbeoefening moet neem. Die afdeling Wat is Vigs? lig die leser in oor die betekenis en verskillende infeksiestadia van MIV/Vigs. Die daaropvolgende afdeling gaan oor die MIV-toets, hoe dit gedoen word, en waar die leser dit kan laat doen indien hy meen dat hy moontlik die virus het. Die laaste afdeling konsentreer slegs op seksueel-oordraagbare siektes en hoe die leser homself daarteen kan beskerm.

3.2.5 Vigs in ons gemeenskap

Soos duidelik uit die titel blyk, gaan hierdie boek oor MIV/Vigs in die hele gemeenskap. Dié hooftema word deur die verskillende subtemas wat reeds kortliks in afdeling 3.1.5 genoem is, ontwikkel. Die subtemas van die vier afdelings wat in hierdie ondersoek geanaliseer is, word egter nou in meer besonderhede hieronder uiteengesit.

Die eerste geselekteerde afdeling is Wat is Vigs? Die onderwerp van hierdie afdeling is die verskynsel MIV/Vigs en die effek daarvan op die menslike liggaam. Die volgende afdeling, Hoe om Vigs te voorkom, handel oor die voorkoming van MIV/Vigs, en konsentreer veral op korrekte kondoomgebruik voor en gedurende seksuele omgang. Hoewel die afdeling Hoe jong mense Vigs kan bestry die indruk skep dat jongmense vir die stryd teen die virus toegerus gaan word, handel dit eerder oor seksopvoeding vir jongmense. Nêrens word daar uitdruklik genoem hoe jongmense die verspreiding van MIV/Vigs kan beveg nie. Die laaste geselekteerde afdeling is Versorging en ondersteuning van mense met Vigs. Hier word die leser ingelig hoe om iemand met MIV/Vigs te versorg en te ondersteun.

3.3 Teikengroep

Die teikengroep van ʼn teks is die persoon/persone op wie die teks gemik is, en het ʼn direkte invloed op die ontwerp van en die skrywer se doel met ʼn teks. In hierdie ondersoek is die bepaling van die verskillende dokumente se teikengroepe belangrik omdat dit moontlik ʼn impak het op die tipe leserspersona wat ʼn skrywer vir ʼn suksesvolle teks kies. Wanneer ʼn skrywer sy teikengroep geïdentifiseer het, kan hy verskillende meganismes gebruik om sy lesers mee aan te spreek of te kommunikeer. Die skrywer sal dus op ʼn gepaste styl, taalgebruik en toon moet besluit om sy lesers mee aan te spreek, wat weer op sy beurt die skrywer help om uiteindelik ʼn leserspersona te skep. Die onderskeie dokumente se teikengroepe word kortliks hieronder bespreek.

Die teikengroep van die Studentesake-brosjure is die Universiteit Stellenbosch se studente. Hierdie afleiding is gemaak vanweë die diensmark van instellings soos die Studentesake-afdeling, die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling, asook Studente Gesondheidsdienste wat die brosjure uitgegee het. Hierdie instellings fokus en bedien almal studente. Daar word selfs na gratis berading verwys wat vir alle geregistreerde studente aan die Universiteit Stellenbosch beskikbaar is.

Die volgende brosjure, HIV en jou mond, se teikengroep is definitief MIV-positiewe lesers, want op die voorblad van die brosjure word daar genoem dat dit “Eenvoudige

stappe vir mense met HIV om ʼn gesonde mond te verseker” (sic) bevat. Die feit dat die leser van hierdie brosjure MIV-positief is, het verskeie implikasies, waaronder dat die leser die risiko loop om weens die verswakking van sy weerstand verskeie siektes op te doen. Die skrywer moes dus hierdie implikasies met die skep van die leserspersona in ag neem, en sy styl, taalgebruik en toon dienooreenkomstig kies. Ten slotte moet daar genoem word dat, alhoewel die brosjure deur die Universiteit Stellenbosch uitgegee is, dit skynbaar vir die breër gemeenskap bedoel is omdat dit deur die Departement Gemeenskapstandheelkunde uitgegee is.

Die brosjure getiteld Om liefde te deel is nie op ʼn spesifieke teikengroep gemik nie, maar eerder ʼn diverse leserspubliek. Nêrens in die brosjure word daar ʼn aanduiding gegee van wie die lesers behoort te wees nie. Die inligting wat aangebied word is van ʼn algemene aard, en handel meestal oor die oordrag van MIV/Vigs.

Alhoewel die Slimkoptiener-brosjure uit verskillende afdelings bestaan, is die brosjure in sy geheel op tieners gemik, en word dit ook so op die voorblad aangedui: “ʼn Brosjure vir tieners in ʼn wêreld waarin Vigs ʼn bedreiging is”. ʼn Mens kan dus verwag dat die skrywer taal wat deur tieners en adolessente gepraat word sal gebruik, en dat die styl van so ʼn aard sal wees dat die lesers daarmee kan identifiseer.

Die laaste dokument onder bespreking is Vigs in ons gemeenskap. Soos vroeër genoem, het die boek die breë gemeenskap as teikengroep, maar word sommige afdelings op spesifieke teikengroepe binne die gemeenskap gemik. Om hierdie punt te illustreer, word die geanaliseerde afdelings se teikengroepe hieronder uiteengesit.

• Wat is Vigs? is ʼn algemene afdeling wat op die hele gemeenskap gemik is. • Hoe om Vigs te voorkom het ʼn primêre én sekondêre teikengroep. Die

primêre teikengroep is die manlike, seksueel-aktiewe leser omdat hierdie leser oor korrekte kondoomgebruik ingelig word. ʼn Voorbeeld hiervan is: “Trek die kondoom oor jou stywe penis voordat jy by jou bedmaat wil ingaan”. Die afdeling het moontlik die seksueel-aktiewe vroulike leser as sekondêre teikengroep, aangesien hierdie leser haar manlike maat sou kon vertel hoe om ʼn kondoom voor seksuele omgang aan te wend. Ter

ondersteuning hiervan word beide die man én die vrou aangespreek in ʼn klein gedeelte van die afdeling wat oor verhoudings gaan. Daar word byvoorbeeld genoem dat “[die paartjie]...al twee die MIV-toets [moet] ondergaan voordat [hulle] ophou om ʼn kondoom te gebruik”.

• Hoe jong mense Vigs kan bestry het heel duidelik jongmense as teikengroep, maar ongelukkig word die ouderdomsgroep nie gespesifiseer nie.

• Versorging en ondersteuning van mense met Vigs is op twee teikengroepe gemik, en beide blyk primêr te wees omdat daar ewe veel inligting aan beide gegee word. Die een teikengroep is mense wat saam met ʼn MIV-positiewe persoon bly aangesien daar aan hierdie lesers instruksies gegee word oor die versorging van sodanige persoon. Die tweede teikengroep is die MIV-positiewe leser self omdat daar ook aan hierdie leser instruksies oor ʼn gesonde lewenstyl gegee word. ʼn Voorbeeld van so ʼn instruksie is: “Hou op om te rook en moenie alkohol gebruik nie. Hierdie gewoontes verswak jou liggaam.”

Bogenoemde inligting bewys dat, alhoewel al die tekste oor MIV/Vigs en verskillende verwante aspekte handel, die tekste op ʼn verskeidenheid teikengroepe gemik is.