• No results found

ʼn Empiriese ondersoek na die verhouding tussen persoonlike waardes, leserspersona en algemene

5.1.2 Die ondersoekmateriaal

Vir die doeleinde van die empiriese studie is daar na aanleiding van die analise in hoofstuk 3 op drie MIV/Vigs-pamflette vanuit die algehele korpus besluit. Die drie tekste is gekies omdat die teenwoordige leserspersonas die hele spektrum van ʼn neutrale en saaklike leserspersona, tot ʼn sterk, gedefinieerde leserspersona dek.

Die eerste pamflet, HIV en jou mond, is deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Gesondheidswetenskappe uitgereik. Hierdie pamflet is nie noodwendig net vir studente geskryf nie, aangesien dit ʼn projek van die Departement Gemeenskapstandheelkunde was. Daar kan dus aangeneem word dat dit vir die algemene leserspubliek bedoel is. Volgens die analise in die vorige hoofstuk beskik hierdie pamflet oor ʼn neutrale en saaklike leserspersona omdat dit slegs inligting oor mondsiektes en -infeksies wat die MIV-positiewe persoon kan opdoen aan die leser oordra. Inligting soos “Mense wat geïnfekteer is met HIV is meer geneig tot sere,

ulsers en bloeiende tandvleis in hulle monde” word aangebied sonder dat die leser se gedrag gestuur word.

Die volgende pamflet is ook deur die Universiteit Stellenbosch uitgereik, maar hierdie keer deur die Studentesake-afdeling. Hierdie pamflet is dus spesifiek op studente gemik. Die leserspersona blyk in die middel van die spektrum te wees: Die teenwoordige leserspersona is naamlik nie so saaklik en neutraal soos in die HIV en jou mond-pamflet nie, maar ook nie so sterk soos die een in die Besluite oor seks-teks nie. Die Studentesake-brosjure maak merendeels van ʼn saaklike en neutrale leserspersona gebruik omdat die skrywer(s) beoog om die leser beter oor MIV/Vigs in te lig. Inligting soos “ʼn MIV toets stel vas of daar MIV teenliggame in die bloed is” en “Vigs is ʼn afkorting vir Verworwe Immuniteitsgebrek Sindroom”, word aan die leser oorgedra. Daar is egter ook twee afdelings binne die brosjure waar die skrywer(s) wél ʼn beeld van die leser skep, byvoorbeeld: “As dit reg gebruik word, kan kondome help om jou en jou maat te beskerm teen ʼn ongewenste swangerskap en baie SOS (Seksueel Oordraagbare Siektes), insluitend MIV”. Met hierdie sin word die leser as seksueel aktief en heteroseksueel uitgebeeld.

Die laaste teks wat in die empiriese studie gebruik is, is ʼn gedeelte uit ʼn langer brosjure wat vir tieners en adolessente bedoel is. Die afdeling Besluite oor seks uit die Slimkoptiener-brosjure is herskryf om dit vir studente geskik te maak, en bevat die sterkste leserspersona. (Beide die oorspronklike en herskrewe gedeeltes kan in bylae C gevind word.) Hierdie teks wil nie net die leser inlig nie, maar wil ook sy gedrag stuur/verander. In hierdie teks word daar verskillende persona-kenmerke aan die leser toegeken:

“By die dans het julle effens meer as gewoonlik gedrink...” (bl.1)

• “Daar is wel baie goeie soorte voorbehoedmiddels, maar wanneer jy besluit om nie seks te hê nie, het jy die sekerheid dat jy teen ʼn ongewenste swangerskap beveilig is” (bl.1)

• “Omdat jy gereed is vir seks, weet jy dus ook dat jy die gevolge en verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan, moet dra” (bl.2)

Met bogenoemde voorbeelde skep die skrywer ʼn spesifieke beeld van sy leser: Die leser gebruik alkohol en is heteroseksueel. Verder is die leser gereed om seksueel te verkeer, en weet dus watter verantwoordelikhede met seks gepaardgaan.

Bogenoemde voorbeelde uit elk van die drie tekste toon aan dat die tekste se leserspersonas van saaklik en neutraal, tot sterk en gedefinieerd wissel. Die volgende afdeling fokus op die respondente wat aan hierdie studie deelgeneem het.

5.1.3 Respondente

Studente is gekies om as respondente die vraelyste in te vul omdat die meeste van die tekste op hulle van toepassing was, of kon wees. ʼn Totaal van 211 vraelyste is ingevul: 67 vir die HIV en jou mond-pamflet, 71 vir die MIV/Vigs-pamflet van Studentesake-afdeling-dokument, en 73 vir die afdeling Besluite oor seks.

5.1.3.1 Respondente vir die HIV en jou mond-vraelys

Soos genoem het 67 studente die HIV en jou mond-vraelys ingevul. Van hierdie studente was 30 (45%) eerste- of tweedejaars, terwyl 30 (45%) respondente derde- of vierdejaars was. Die oorblywende respondente (10%) was honneursgraad-, meestersgraad- en Hoëronderwysdiplomastudente (HOD). Volgens geslag was daar 36 (54%) manlike respondente teenoor die 31 (46%) vroulikes. Veertig (60%) van die respondente was blank, terwyl 27 (40%) bruin was. Van die 67 respondente was 60 (90%) heteroseksueel, 3 (4%) homoseksueel, het 3 (4%) die alternatiewe blokkie gemerk, en 1 (2%) nagelaat om die vraag te beantwoord.

5.1.3.2 Respondente vir die Studentesake-vraelys

Uit die 71 studente wat die MIV/Vigs-pamflet van Studentesake-afdeling-vraelys ingevul het, was 52 (73%) eerste- of tweedejaars, en 13 (18%) derde- of vierdejaars. Ses (8%) studente het in die jaargang van sesdejaar, honneursgraad en meestersgraad geval. Daar was altesaam 35 (49%) vroulike respondente teenoor 36 (51%) manlikes. Volgens die etniese groepering was 41 (58%) studente blank, terwyl 29 (41%) studente bruin was. Slegs een student wou nie sy etniese groepering spesifiseer nie.

Met betrekking tot seksuele oriëntasie was 64 (90%) respondente heteroseksueel en slegs 2 (3%) homoseksueel. Een (1%) respondent het die alternatiewe blokkie by seksuele oriëntasie gemerk en het genoem dat hy biseksueel is. Vier (6%) respondente het die vraag onbeantwoord gelaat.

5.1.3.3 Respondente vir die Besluite oor seks-vraelys

Hierdie vraelys is deur 73 studente ingevul van wie 52 (71%) eerste- of tweedejaars was, en 17 (23%) derde- of vierdejaars. Vier (5%) studente het aangedui dat hulle honneursgraad- of meestersgraadstudente is. Met betrekking tot geslag was daar 32 (44%) vroulike respondente teenoor 41 (56%) manlike respondente. Uit die 73 respondente was daar 69 (95%) heteroseksuele studente teenoor 1 (1%) homoseksuele student. Een (1%) respondent het die alternatiewe blokkie gemerk sonder om meer inligting te verskaf, terwyl twee (3%) studente die vraag onbeantwoord gelaat het.