• No results found

’N ANALISE VAN DIE ROMANS

4.3. Hoe word die “ander” gerepresenteer?

4.4.4. Vervreemding / Ontheemding

In aansluiting by die idee van ballingskap, is die aspek van vervreemding of ontheemding ook nóú gekoppel met die kwessie van identiteit in postkoloniale romans. Heidi de Villiers gebruik Homi Bhabha se siening van ontheemding in haar artikel oor kulturele identiteit. Bhabha noem hierdie konsep unhomeliness, om te verwys na die “relocation” van ’n tuiste en die wêreld. Hierdie konsep word nie noodwendig gebruik in die sin van ’n gebrek aan ’n huis nie, maar verklaar eerder die gevoel van “rusteloosheid, spanning, onsekerheid en ontevredenheid in en met ’n simboliese tuiste (...) So ’n tuiste sou onder andere ’n bepaalde taal, ideologie, kultuur, kerk, onderwysstelsel, persoonlike verhouding, godsdiens of iets dergeliks kon wees, wat as gevolg van ’n toestand van stilstand of stagnasie uitgedien geraak het en lei tot ’n gevoel van vervreemding daarvan of ontuisheid daarin” (De Villiers 2003:175). In Post-colonial transformation (2001) besin Bill Ashcroft oor plaaslike inwoners se identiteit in gekoloniseerde gebiede en stel die volgende vrae: “Where is one’s ‘place’? What happens to the concept of ‘home’ when home is colonized, when the very ways of conceiving home, of talking about it, writing about it, remembering it, begin to occur through the medium of the colonizer’s way of seeing the world?” (Ashcroft 2001:15).

Louise Viljoen beskryf in ’n artikel wat handel oor Breyten Breytenbach se Dog

Heart Breytenbach se uitkyk oor identiteit wanneer dit kom by ballingskap.

Breytenbach maak ’n onderskeid tussen ballingskap en die “middelwêreld”. Met ballingskap is daar nog die hoop op ’n terugkeer na jou plek van oorsprong, maar in die middelwêreld is jy nêrens tuis nie - nie by jou plek van herkoms of op die plek waar jy jou bevind nie. Aan laasgenoemde word dan ook ’n hoër status gegee as aan ballingskap, wat dus ook kan dui op ’n positiewe situasie by die individu en nie slegs negatief nie. Diegene wat hulself daar bevind, word as gemarginaliseerdes, as swerwers van die “global village”, beskryf (Viljoen 2004:91). ’n Hele paar karakters in die twee romans bevind hulself in hierdie middelwêreld waarna Viljoen verwys. ’n

Goeie voorbeeld wat reeds genoem is, is dié van Antonio in Pelican Bay. Jacob se ballingskap het reeds ter sprake gekom, maar sy situasie kan ook met ’n middelwêreld vergelyk word: Nadat hy weggestuur is van sy familie in Nederland, kan hy nooit teruggaan na sy plek van herkoms nie. Hy word ’n swerwer wat nêrens werklik tuishoort nie. Op sy plantasie, Pelican Bay, saam met Fanny, lyk dit asof hy vrede en ’n tuiste gevind het, maar hy bly myns insiens soekend, soos blyk uit sy verhoudings met Fanny, Plato en die ander koloniste wat nie vlot verloop nie. Net soos die meeste karakters in hierdie romans ’n sekere sin bannelinge is, leef die meeste van hulle ook in dié middelwêreld. Daar is reeds herhaaldelik verwys na Eva wat verskeurd is tussen haar oorsprong en haar nuwe lewe as “Hollander”, maar haar dogter Pieternella leef ook in ’n middelwêreld. Sy groei self op met ’n gevoel van nie weet waar sy hoort nie, al word dit nooit so verwoord in die roman nie. Sy swerf aanvanklik rond saam met Eva en het nooit werklik ’n tuiste nie. Wanneer sy met Daniel trou, verhuis hulle na Mauritius en die leser verwag dat sy dan geluk en ’n tuiste vind, maar dit lyk asof dit steeds nie werklik gebeur nie. Wanneer hulle terugkom Kaap toe, het hulle ’n moeilike lewe, beide finansieel én as gevolg van die snobistiese mense aan die Kaap wat nie hul gemengde huwelik en kinders aanvaar nie. Haar seun vertel aan die einde van die roman vir De Grevenbroek: “‘Ma het nie meer die Kaap geken nie. Sy het hier niemand meer geken nie, en ’n afkeer gehad van die plek wat op haar neergesien het.’ En hulle was so arm, met die drie klein kinders. Hulle sou die winter moes gaan bedel, as sy pa nie kon see toe gaan nie” (2002:746).

Ander karakters in Eilande wat hier betrek kan word, is Hans Michiel en Fiskaal Deneyn. Hans Michiel is ’n Duitse weeskind wat ’n soldaat word om sin van sy lewe te probeer maak. Hy sluit by die Kompanjie aan in Amsterdam nadat ’n missie wat hy gehad het om gevangenes te vervoer, misluk en hulle almal wegkom onder sy toesig. Hy sou nie kon teruggaan Duitsland toe daarná nie. In die Kompanjie se diens beland hy in die Kaap en word by ’n buitepos gestasioneer. Vervolgens word hy telkens teen sy wil na Robbeneiland, ook ’n buitepos, gestuur en hy ervaar dat die Kompanjie hom daar “vergeet”. Wanneer hy met die sekretaris praat oor Eva se probleme, sê die sekretaris vir Hans Michiel dat die kommandeur wil hê dat hy op die eiland moet aanbly. Hans-Michiel se antwoord is: “As ’n ander poshouer beskikbaar is, wil ek graag in die garnisoen terugkom. Sê dit vir die kommandeur” (2002:320). Hy ontvang net daarna ’n brief wat die volgende nuus bring: “Hy moes

op Robbeneiland poshou, tot hy afgelos word. Verder het daar gestaan dat wanneer hy afgelos word, hy as bevelvoerder na die buitepos Keert de Koe sal gaan. So, dit was dan nie die garnisoen nie, en dit is jammer. Al was Keert de Koe net die herloop van ’n pad wat hy reeds geken het, was dit naby aan die dorp” (2002:321-322).

Die feit dat Hans Michiel so lank op Robbeneiland gestrand moet sit, laat dit vir hom letterlik voel soos ’n tussengebied. Hy voel wrewelig teenoor die Kompanjie wat besluit oor sy lot: “Dit is hoe ons maar in die Kompanjie se diens verval (...) Ek het toe skaars geweet van ’n Kaap of van Hottentotte. Jy staan een oggend op, jy dink nog jy gaan Delft toe, dan is jy op pad Kaap toe. Maar see toe moes ek die hele tyd, om hier uit te spoel” (2002:302). En later: “Dit moés so gebeur: ek moes see toe, dit moes my hê. Waarheen hy my sou dra, het ek nooit geweet nie. En tot vandag toe weet ek nie. Hy spoel nog altyd om my” (2002:303).

Pieter Deneyn was ’n advokaat wat aan die Universiteit van Leiden studeer het, ’n geleerde man, wat “geesdriftig gelees [het] wat oor die nuut ontdekte wêreld geskryf word” (2002:387). Aan die Kaap is dit egter vir hom eensaam en is sy werk vir hom alles: “By gebrek aan intelligente geselskap het Deneyn die aand die moorde in sy dagboek beskryf” (2002:444). Hy sukkel soms om die reg toe te pas in die “vreemde” land: “Die boek vertel net van my jeug in Wes-Europa. Ek sien niks wat hier kan help nie. Hier is die Kaap; ek is gevang en verban op ’n dorre eiland; ek staan alleen, ek het geen leier of leiding nie” (2002:444). Sy gevoel van ontheemding blyk baie duidelik uit hierdie aanhaling.

Na die voorafgaande besinning oor identiteit onder verskillende afdelings, naamlik bannelingskap, verlange en verwerping, meester/slaaf-verhoudings en vervreem-ding of ontheemvervreem-ding kan daar tot die slotsom gekom word dat identiteitskwessies binne Pelican Bay en Eilande ’n groot rol speel ten opsigte van die koloniale en postkoloniale gemeenskappe wat ter sprake kom in dié twee romans. In beide romans word die gekoloniseerde gemeenskappe waaroor die verhale handel se identiteit aangetas deur die koloniale bestel.

Die volgende afdeling gaan ’n bietjie dieper in op hierdie problematisering van identiteit binne die postkoloniale roman en wel op die invloed wat hibriditeit op die identiteit van gekoloniseerde gemeenskappe het. Daar word op grond van die teorie

wat in die vorige hoofstuk aangebied is oor hierdie onderwerp, geanaliseer hoe hierdie invloed in beide romans aan bod kom.