• No results found

’N ANALISE VAN DIE ROMANS

4.1. In ’n postkoloniale kader gesien

Aan die hand van Ashcroft, Griffiths en Tiffen (1995:2) se definisie van die postkoloniale roman, soos uiteengesit in 3.1.1, val Eilande en Pelican Bay beide in dié kader, aangesien albei romans gedeeltelik in die koloniale era van onderskeidelik Suid-Afrika en die Karibiese eilande afspeel, terwyl dit terselfdertyd kritiek lewer op die aksies van die koloniseerders in daardie tyd. Die Kaap en dié deel van die Karibiese gebied waar Pelican Bay afspeel, was albei voormalige Nederlandse gebiede.

Soos daar in die vorige hoofstuk aangetoon is, verskil teoretici redelik sterk oor wat postkoloniale literatuur presies behels en wat as postkoloniale eienskappe gereken kan word. Volgens Theo D’Haen se definisie dateer postkoloniale literatuur gewoonlik uit ’n periode ná onafhanklikheidswording en word dit geskryf deur gekoloniseerdes of eks-gekoloniseerdes (D’Haen 2002:12). Wanneer ons hierdie definisie toepas op dié twee romans blyk dat beide wel geskryf is in ’n periode na onafhanklikheidswording, maar nie deur (eks-) gekoloniseerdes nie. Pelican Bay en

Eilande is beide geskryf deur blanke outeurs wat as sodanig behoort tot die

oud-koloniseerdersgroep. Die rede waarom die romans myns insiens geïdentifiseer kan word as postkoloniaal hang saam met die feit dat hulle op ’n subversiewe wyse terugkyk op die verlede, ten einde die onregverdighede van die maghebbendes van die koloniale era aan te toon. Dit gaan dus om ’n bepaalde perspektief op sake. Ter stawing van bogenoemde punt kan verskeie voorbeelde uitgewys word. In

Eilande word byvoorbeeld aan die lig gebring dat Van Riebeeck en sy amptenare die

Koina doelbewus wou verslaaf aan drank en tabak. Van Riebeeck vertel vir die sjirurgyn, Peter Havgard: “Ek was sterker as hulle en kon my goed terugvat (...) Ek wou dat soveel van hulle as moontlik die smaak van tabak en brandewyn aanleer.

Daar koop ek die vee ’n tweede keer, en gee drank en tabak” (2002:56). Van Riebeeck se ingesteldheid teenoor die inboorlinge word meermale negatief voorgestel. Daar word gesuggereer dat die Kompanjie en sy mense geen respek vir die inboorlinge en hul grond gehad het nie: “Vir die inboorlinge moet daar nie ’n duim grond oorbly nie. Hulle moet weg uit Tafelberg se skaduwee uit” (2002:92). Net so kom daar ook kritiek op die maghebbendes van die koloniale era voor in

Pelican Bay. Omdat hierdie roman in die Karibiese gebied afspeel, word daar

deurgaans kritiek gelewer op slawerny. Slawe is van onder meer Wes-Afrika ingevoer om in die groot suikerrietplantasies te werk. Heel aan die begin van die roman kom die negatiewe houding teenoor slawe na vore uit die perspektief van die magistraat: “De magistraat vertrouwt niemand, ontwikkelde en welbespraakte slaven al helemaal niet” (2004:6). Direkte kritiek op die slawehandel en die West-Indiese Kompanjie word gelewer in die volgende passasie:

De WIC is een van schulden vergeven bedrijf. Maar hardnekkig blijft de Hollandse en Zeeuwse koopvaardij snauwen en fregatten voor de slavenhandel uitreden. Eens moet het toch winsgevend worden. Dat denkt ook Jacob. Handel is handel. Mensen of balen katoen, dat maakt niet uit. Voor niemand, ook niet voor de Afrikanen (...) In elke slaaf schuilt een baas. In elke baas een slaaf. Blanke slavenhandelaars spelen daarop in (2004:62).

Deur kommentaar op die destydse houding teenoor slawe, word Ada se afkeer van slawerny en die slawehandelaars terselfdertyd op die voorgrond gestel. Ada is besig met haar navorsing oor Jacob en bepeins dan die keuses wat Jacob moes uitoefen. Enersyds bevind hy homself in ’n sisteem waar slawerny die norm is, maar andersyds moes dit volgens Ada tog teenstrydig met sy oortuigings en gevoelens gewees het:

Hoe kon hij het geld opstrijken dat was verdiend door talloze handen die in ruil voor hun kracht niets anders kregen dan één broek per jaar en de toestemming een kostgrondje te bebouwen voor eigen gebruik? (...) Hij moet beoordeeld worden naar de maatstaven van zijn tijd, naar wat hij weten kon. Welnu, er was protest tegen slavernij. Niet zo ’n klein beetje ook. Hij had kunnen kiezen voor afschaffing. Hij had een voorbeeld kunnen stellen (2004:81).

In Pelican Bay word die verwantskap tussen die geskiedenis en slawerny dus aangedui. In ’n gesprek met Ada sê Ma Edith dat die geskiedenis in daardie omgewing ’n geskiedenis van slawerny is, en sy praat van die emansipasie daarna: “Er is geen andere geschiedenis hier. Geen andere maatstaf. Er is één simpele waarheid. Er waren meesters en slaven. Aan dat grote onrecht is al het andere ondergeschikt” (2004:215). Hier word kommentaar dus gelewer op die onreg wat gepleeg is teenoor die slawe tydens die koloniale bewind in die Karibiese gebied, maar die perspektief verander ook sodat slawe as die verontregtes gesien en selfs as helde voorgestel word: “Plato is een held en een voorbeeld. Slachtoffer van de machtsverhoudingen. Symbool van het onrecht” (2004:215). Bogenoemde dui myns insiens daarop dat Pelican Bay ’n postkoloniale roman genoem kan word. In Eilande is Eva ’n goeie voorbeeld van ontworteling en die invloed wat ’n koloniale situasie op die indigene kan hê. Jan van Riebeeck stel die volgende vrae oor haar: “Wie is vandag haar mense? Is dit ek of Maria, of Herrie se mense, of Oedasoa se mense, of haar oorlede pa se mense anderkant die berg? Hier het veranderings oor die Kaap gekom wat haar lot vier, vyf keer verander het” (2002:59). Ironies genoeg plaas Dan Sleigh hierdie simpatieke woorde, wat as ’n implisiete aanklag teen kolonisasie beskou kan word, in die koloniseerder Van Riebeeck se mond. Daar is egter nie soseer sprake van “the empire writes back” nie – die vraag kan eerder gestel word of hier nie weereens ’n vorm van kolonisasie plaasvind deur die maghebbende as simpatiek teenoor die gekoloniseerde uit te beeld nie. Myns insiens word hier doelbewus ’n simpatieke Van Riebeeck geskilder om die koloniseerder enersyds in ’n beter lig te stel, maar andersyds veral ook omdat dit die leser des te sterker oortuig dat onregverdig teenoor Eva opgetree word. Hierdie tipe uitsprake kan as ’n vorm van dramatiese ironie beskou word, deurdat die karakter Van Riebeeck, anders as die hedendaagse leser wat vanuit ’n totaal ander konteks kyk, nie die implikasie van hierdie soort uitsprake en die gevolge wat hierdie behandeling kan hê in die geskiedenis besef nie. Subversie sou makliker plaasvind indien die “ander”, in dié geval Eva, aan die woord gestel word oor hierdie aspek. In die loop van die roman word Eva en ander inboorlinge volgens my te min aan die woord gestel oor hul eie gevoelens en hul lot as gekoloniseerders. In Pelican Bay kom verwysings na gemengde afkoms en identiteit dikwels voor. Ma Edith, ’n Europeër wat getroud was met ’n swartman, voer ’n gesprek met Ada oor die kleurloosheid en landloosheid wat hulle twee in hul verhouding wou ervaar:

“‘Wij wilden leden zijn van een naamloos en displaced volk’. Maar ze hadden niets te willen gehad. En ten slotte had ze moeten aanvaarden wie ze was, ze moest de erfenis van haar Europese achtergrond accepteren...” (2004:263). Hier word bewys dat dit nie saak maak dat hulle in ’n verhouding naamloos en kleurloos wou wees nie. Die invloed van gemengde afkoms en gemengde verhoudings veroorsaak in elk geval dat die betrokkenes redding en medelye nodig het. Volgens Ma Edith bestaan die gevoelens van ontworteling en bannelingskap steeds in postkoloniale situasies. Hierdie aspek sal later in meer diepte bespreek word wanneer hibriditeit ter sprake kom.

Die roman Eilande speel uitsluitlik in ’n koloniale tydperk af, waar Pelican Bay naas die koloniale tydperk ook die postkoloniale era in die “hede” rekonstrueer. Dit maak

Pelican Bay dus meer ontleedbaar as postkoloniale teks, omdat die uitwerking van

jare gelede se kolonisasie op die hede uitgewys kan word. In beide romans vind appropriasie wel plaas in terme daarvan dat aan die “ander” ’n stem gegee word deur wit skrywers - iets wat nie in koloniale tekste sou plaasvind nie. Hierdie aspek word ook later in meer besonderhede bespreek.