• No results found

2. STRES, ORGANISASIEVERTROUE EN KOHERENSIESIN 1 Begripsomskrywing van Stres

2.3. Tussenkomende Faktore

In die voorafgaande paragrawe is „n verskeidenheid stressore bespreek wat op die wingerdprodusent inwerk vanuit die omgewing. Dit is egter belangrik om ook die biografiese en demografiese faktore in ag te neem wat „n rol speel in die streservaring van wingerdprodusente.

2.3.1 Persoonlikheid

Soos reeds genoem, ervaar alle mense nie dieselfde vlakke van stres wanneer ʼn soortgelyke stressor teenwoordig is nie. Sekere persoonlikheidseienskappe kan hoër vlakke van stres meebring. Persone wat van nature angstig is, sal geneig wees om meer stres te ervaar, ongeag die druk wat vanaf die omgewing op hulle uitgeoefen word. Ander persoonlikheidseienskappe, soos Tipe-A kenmerke, koherensiesin, rigiditeit en neurotisme kan gevoelens van stres vererger (Greenhaus, Callanan &

Godshalk, 2000). Die Tipe-A persoonlikheid word gekenmerk deur ʼn sterk oriëntasie tot mededinging, ongeduld, en woede (Weiten, 2002). Persone met hierdie persoonlikheidstipe is prestasiegedrewe, en hul lewens verloop dikwels teen ʼn snelle pas. Tipe-A persoonlikheid gaan gepaard met ongeduld en ʼn gevoel van dringendheid, asook ʼn konstante strewe tot prestasie en perfeksie (Greenhaus, Callanan & Godshalk, 2000). Vanweë die konstante druk wat persone met ʼn Tipe-A persoonlikheid op hulself sit om te presteer, is hulle geneig om hoër vlakke van stres te ervaar. Hierdie verhoogde stresvlakke tesame met ʼn lewensstyl wat gekenmerk word deur swaar werksladings, komplekse projekte, ʼn vrees vir mislukking en lang werksure, skep ʼn omgewing bevorderlik vir koronêre hartsiektes en ander gesondheidsprobleme.

Dit is dus belangrik om te besef dat stres voortgebring kan word uit ʼn situasie wat as bedreigend ervaar word, maar ook deur ʼn persoonlike geneigdheid om lewensomstandighede as stresvol te ervaar (Greenhaus, Callanan & Godshalk, 2000).

2.3.2. Ouderdom

Navorsing deur McGregor, Willock en Deary (1995) het getoon dat ouderdom ʼn belangrike bepaler van stresvlakke is en dat ouer landbouprodusente oor die algemeen betekenisvol laer vlakke van stres toon. Die skeidingslyn blyk die ouderdom van 50 jaar te wees met landbouprodusente ouer as 50 jaar wat laer stresvlakke het as diegene jonger as 50 jaar (The Human Harvest, 2005). Die stres wat vanweë regeringsbeleide veroorsaak word, blyk egter hoër te wees vir ouer landbouprodusente (Walker & Walker, 1987b). Dikwels neem jonger landbouprodusente skuldlas oor by die vorige geslag wat kan aanleiding gee tot hoë stresvlakke (Walker & Walker, 1987b). Simptome wat gepaard gaan met hoë stresvlakke, soos slaapversteurings, rugpyn, hoofpyn, humeurprobleme en kroniese moegheid, word meer dikwels by jonger landbouprodusente waargeneem (Walker & Walker, 1987b).

2.3.3. Aard van boerdery

Stresvlakke is gevind om te varieer in oorstemming met die aard van die boerdery. Landbouprodusente met gemengde boerdery (vee en graan), toon hoër vlakke van stres en meer simptome van stres as wat die geval is vir landbouprodusente wat slegs met graan boer (Walker & Walker, 1987b). ʼn Studie in die Verenigde Koninkryk het ook gevind dat landbouprodusente wat met vee boer hoër stresvlakke toon as wat die geval is vir landbouprodusente betrokke in graanboerdery, met melkprodusente wat veral hoë vlakke van stres toon (Parry et al., 2005). Die persepsie dat veeboerdery meer stresvol as graanboerdery is, bestaan onder landbouprodusente wat

met beide vee en graan boer (Raine, 1999). Geen literatuur is beskikbaar oor wingerdprodusente as spesifieke groep nie.

2.3.4. Geslag

ʼn Aantal studies het stres onder vroue in die landbousektor ondersoek. Vroue het betekenisvol hoër vlakke van stres getoon as wat die geval vir mans was (Capener & Berkowitz, 1976; Hedlund & Berkowitz, 1979; Walker & Walker, 1987a; Walker, Walker & MacLennan, 1986). Die konsep van roloorlading en te veel verantwoordelikhede om binne beperkte tyd te voltooi is in verskeie studies uitgewys as van die grootste bronne van stres vir vroue in die landbousektor. Werkslading hou verband met die verskeidenheid, uiteenlopend en dikwels konflikterende rolle wat vroue in die landbousektor moet vervul. Hierdie rolle gee aanleiding tot gevoelens van angstigheid en verwardheid in die strewe om die eise van familie, plaaswerk en die gemeenskap te balanseer (Walker, Walker & MacLennan, 1986). Walker en Walker (1987a) het gevind dat drie items wat verband hou met die konsep van roloorlading, naamlik balansering van familie en werk; nie genoeg hulp van eggenoot; en werk op die plaas tesame met instandhouding van die huishouding, 38% van die variansie voorspel in stressimptoomtellings onder vroue in die landbousektor. Ook Capener en Berkowitz (1976) en Hedlund en Berkowitz (1979) het bevind dat een derde van die vroue in hul steekproef rol-afhanklike stres ervaar. Vroue wat aktief in die boerdery betrokke is, toon ook heelwat hoër vlakke van stres as wat die geval is vir vroue wat nie direk betrokke is nie (Walker & Walker, 1987b). Om die eggenoot van „n manlike landbouprodusente te wees is gevind as die beroep met die hoogste selfmoordsyfer in Engeland en Wallis (Kelly, Charlton & Jenkins, 1995).

2.3.5. Familie

Alhoewel familie ʼn bron van sosiale ondersteuning is, toon navorsing dat familie dikwels aanleiding tot verhoogde vlakke van stres kan gee. Onduidelike grense tussen landbouprodusente se familielewe en hul werkslewe maak dit dikwels moeilik om te ontsnap van beroepsprobleme (Parry, Barnes, Lindsey & Taylor, 2005). Indien beide partye aktief betrokke is by die boerdery, kan rolkonflik en ʼn tekort aan beskikbare tyd vir ontspanning tot stres aanleiding gee (Parry et al., 2005). Aangesien landbou-families die hele tyd by hul werksplek is, is dit ʼn uitdaging om tyd vir ontspanning te allokeer.

2.3.6. Opleiding

Landbouprodusente werk nie binne ʼn organisasieraamwerk waar opleiding en professionele ontwikkelingsgeleenthede namens hulle ondersoek word nie. Hulle is self verantwoordelik daarvoor om geleenthede te identifiseer en die onus rus op hulle om te verseker dat hulle bybly met die

nuutste ontwikkelinge in die industrie (Parry et al., 2005). Binne die konteks van boerdery waar baie eise aan die landbouprodusent se tyd gestel word, is die bywoning van opleidingsgeleenthede dikwels nie moontlik nie, of geniet dit nie eerste prioriteit nie (Parry et al., 2005).

2.3.7. Geloof

Gelowige landbouprodusente het kerklidmaatskap en spirituele praktyke aangedui as ʼn belangrike streshanteringsmeganisme (Parry et al., 2005). Die gevoel van sosiale ondersteuning wat verkry word vanuit ʼn gelowige gemeenskap van kerklidmate dra by tot suksesvolle hantering van stresvolle gebeure.

2.3.8. Sport

Betrokkenheid by sportaktiwiteite dra by tot die ontwikkeling van ʼn sosiale ondersteuningsnetwerk, terwyl sport self die liggaam in staat stel om die uitdagings van stres beter te hanteer. Landbouprodusente wat aan sport deelneem beoefen meestal een van die volgende sportsoorte: golf, krieket, voetbal, kanovaart, motorsport, rugby, padwedlope en jag (Parry et al., 2005).

2.3.9. Sosiale ondersteuning

Alhoewel landboufamilies dikwels gestereotipeer word as families met goed-ontwikkelde netwerke van sosiale ondersteuning, toon navorsing dat hierdie netwerke die afgelope jare onder druk gekom het en dat probleme in die landbousektor soveel druk op produsente plaas, dat hulle nie meer tyd maak om deel te neem aan sosiale aktiwiteite nie (Schulman & Armstrong, 1990). In ʼn studie in Engeland en Wallis het 31% van die deelnemers aangedui dat hulle gevoelens van eensaamheid en sosiale isolasie ervaar wat lei tot depressie. Meer as 70% van hierdie landbouprodusente het wel weeklikse kontak met mense gehad, maar daar was nie genoegsame gevoelens van vriendskap en ondersteuning nie (Simkin et al., 1998).

2.3.10. Gesondheid

Die meeste landbouprodusente het wel ʼn huisdokter. Twintig persent van die deelnemers aan ʼn studie in Engeland en Wallis het in die maand voor die studie hul huisdokter besoek, terwyl 52% kontak met ʼn mediese praktisyn gehad het binne die ses maande wat die studie voorafgegaan het. ʼn Derde van die deelnemers het gesondheidsprobleme wat inmeng met hul boerdery-aktiwiteite. Die algemeenste gesondheidsprobleme blyk rugpyn en artritis te wees (Simkon et al., 1998).

2.3.11. Beroepsidentiteit

Landbouprodusente beskik oor ʼn beroepsidentiteit wat ongewoon is, vergeleke met die meeste ander beroepe, aangesien hulle gewoonlik emosioneel sterk verbind is tot hul beroep en die plaas. Hierdie sterk beroepsidentiteit verduidelik tot ʼn groot mate die sterk lojaliteit wat onder landbouprodusente bestaan en verklaar ook waarom hulle dikwels sal voortgaan om die beroep te beoefen ten spyte van ekonomies ongunstige omstandighede. Vir baie landbouprodusente is boerdery ʼn leefwyse eerder as ʼn beroep (Parry et al., 2005).

2.3.12. Inligting

McGregor et al. (1995) het bevind dat die onsekerheid waaronder landbouprodusente dikwels besluite moet neem en die afwesigheid van genoegsame inligting, hoë vlakke van stres onder landbouprodusente veroorsaak.