• No results found

2. STRES, ORGANISASIEVERTROUE EN KOHERENSIESIN 1 Begripsomskrywing van Stres

2.1.2 Oorsake van stres en verskillende tipes stres.

Daar word na vier hooftipes stres verwys, naamlik frustrasie, konflik, verandering en druk (Weiten, 2002). Frustrasie word ondervind wanneer die strewe na ʼn doelwit belemmer word. Hierdié tipe stres kom feitlik daagliks voor in vorme wat wissel van klein irritasies tot groot bronne van stres. Selfs klein, roetine frustrasies kan lei tot skommelinge in gemoedstemming en kan ook ʼn verandering in bloeddruk tot gevolg hê indien dit gereeld voorkom (Novaco, Stokols & Milanesi, 1990). Konflik vind plaas wanneer twee of meer onverenigbare motiverings, doelwitte of gedragsimpulse met mekaar meeding vir uitdrukking (Weiten, 2002). Konflik kan voorkom wanneer tussen meer as een aantreklike alternatief gekies moet word, wanneer tussen meer as een onwenslike alternatief gekies moet word, of wanneer ʼn keuse uitgeoefen moet word om ʼn doel na te jaag wat beide aantreklike en onaantreklike aspekte bevat (Weiten, 2002). Verandering kan beskryf word as opmerklike wysigings in die leefwyse van ʼn persoon, waar die persoon moet aanpas by die nuwe leefwyse (Weiten, 2002). Dit is belangrik om in hierdie verband te besef dat positiewe gebeure ook stres kan veroorsaak. Hierdie ontdekking het gelei tot die Social Readjustment Rating

Scale waar lewensveranderinge as bron van stres gemeet word deur ʼn numeriese waarde aan

gebeure toe te ken (Holmes & Rahe, 1967). Alhoewel daar baie kritiek teen die model van Holmes en Rahe geopper is (Critelli & Ee, 1996; McLean & Link, 1994;Turner & Wheaton, 1995; Watson & Pennebaker, 1989), het hul navorsing getoon dat sommige lewensveranderinge wel uitdagend is en tot stres kan aanleiding gee (Weiten, 2002). Die vierde hooftipe stres, druk, behels die verwagting of vereiste dat ʼn persoon op ʼn sekere wyse sal optree. Dit kan verwagtinge wees wat ʼn persoon van hom/haarself koester, of verwagtinge wat deur die samelewing op ʼn persoon geplaas word (Weiten, 2002). Navorsing deur Weiten (1988, 1998) het ʼn betekenisvolle verband tussen druk en metings van geestesgesondheid gevind, met hoë vlakke van druk wat dikwels met swak geestesgesondheid gepaard gaan.

Wanneer op die tydsduur van stres gefokus word, word daar onderskei tussen hoofsaaklik drie tipes stres, naamlik akute stres, episodiese stres en kroniese stres (Stepanyan & Blasoni, 2005). Akute stres is die gevolg van ʼn skielike gebeurtenis wat ʼn onmiddellike sielkundige reaksie veroorsaak, terwyl kroniese stres meer gereeld ervaar word (Naudé & Rothmann, 2003). Dewe (1989) toon in sy navorsing dat die spesifieke betekenis wat toegeskryf word aan ʼn stresvolle gebeurtenis en die waargenome intensiteit daarvan uitgebrei moet word om ook die frekwensie van die stressor in te sluit. Wanneer die frekwensie van voorkoms van die stressor nie in ag geneem word nie, kan die effek van ʼn baie stresvolle situasie wat selde voorkom, oorskat word, terwyl die effek van ʼn matige stressor wat gereeld voorkom, onderskat kan word (Pienaar & Rothmann, 2006).

Dikwels word hoë vlakke van stres deur die publiek in verband gebring met groot gebeure soos natuurrampe of persoonlike krisisse, maar alhoewel baie stresvol, is sulke gebeure slegs ʼn klein gedeelte van die konsep van stres (Rubonis & Bickman, 1991; Weisaeth, 1993). Verskeie alledaagse gebeure kan ook as stresvol beleef word en dikwels is meerdere en mindere stressors interafhanklik in die sin dat ʼn major gebeurtenis ʼn kaskade van mindere stressors tot gevolg kan hê (Pillow, Zautra & Sandler, 1996). Navorsing toon dat roetine probleme, selfs klein van aard, ʼn betekenisvol nadelige impak op geestelike en fisiese gesondheid kan uitoefen (DeLongis, Folkman & Lazarus, 1988.)

In tabel 2 word verskeie stressore wat vanuit die omgewing op „n persoon kan inwerk geidentifieer (Greenhaus, Callanan & Godshalk, 2000).

Tabel 2

Stressors vanuit die omgewing. Vereistes van werk:

Tydsdruk

Verantwoordelik vir mense Herhalende werk

Beroepsverandering:

Aftrede

Verlies aan werk

Bereiking van ʼn loopbaanplato

Organisasiekenmerke:

Sentralisasie, lae deelname in besluitneming Swak kommunikasie

Ongelykhede in vergoeding

Toestande van werk:

Oorbevolking Geraas

Oormagtige hitte of koue

Rolkenmerke:

Rolkonflik Rolverwarring

Oorlading / Onderlading

Interpersoonlike verhoudinge:

Konflik binne en tussen groepe Mededinging

Onvoldoende en/of onregverdige toesighouding

Nie-werksdruk:

Familie konflik Lewensveranderinge

Aangepas uit Greenhaus, J.H.; Callanan, G.A. and Godshalk, V.M. (2000). Career Management (3rd ed.). Orlando: Harcourt College Publishers.

Indien die omgewingsstressors soos hierbo uiteengesit van nader ondersoek word, kan baie van die eienskappe van die landbouprodusent se omgewing hier identifiseer word. Die boerdery-omgewing word gekenmerk daardeur dat die produsent uitgelewer is aan die klimaat en dat die weer ʼn groot

invloed op produsente se lewens uitoefen. Landbouprodusente werk dikwels in omstandighede van uiterse koue of hitte. Soos vanuit oorsese studies na vore gekom het, bevind landbouprodusente hulself ook dikwels in situasies wat met groot tydsdruk gepaard gaan, veral tydens saai- en oestye, asook wanneer vee siek word. Landbouprodusente het in bykans alle gevalle werknemers op die plaas en aanvaar dus ook verantwoordelikheid vir die finansiële onderhoud van hierdie mense. Binne die Suid-Afrikaanse konteks woon die meerderheid plaaswerkers op die produsent se grond en dus kan die landbouprodusent hom/haar nie buite die werksomgewing distansieer van mense waarvoor hy/sy verantwoordelik is nie. Landbouprodusente se moontlikheid vir bevordering is dikwels ook uiters beperk aangesien hulle nie binne ʼn omgewing werk waar loopbaangeleenthede ontgin kan word nie. Dikwels kan die produsent slegs sy loopbaan verbreed deur meer grond aan te skaf. Hierdie proses is egter kapitaalintensief en produsente het dikwels nie toegang tot genoegsame krediet om meer landbougrond te bekom nie. Rolkonflik en oorlading is bykans ʼn normale deel van die landbouprodusent se bestaan. Die produsent moet ʼn spesialis op ʼn verskeidenheid gebiede wees, onder andere as algemene bestuurder, landbouspesialis, finansiële kenner, ambagsman en spesialis in arbeidswetgewing. Boonop kan die landbouprodusent nie familiedruk en werksdruk van mekaar skei nie, aangesien dit dikwels totaal verweef is.

2.2 Landboustressors

„n Uiteenlopende lys stressors is in oorsese navorsing geïdentifiseer. Vanweë die afwesigheid van Suid-Afrikaanse navorsing en literatuur, word inligting vanuit oorsese navorsing hier bespreek.