• No results found

HOOFSTUK 2 TEORETIESE BEGRONDING 10 

2.4  Trauma 27 

Soos vroeër genoem, het die keuse van die primêre tekste op die ontstaan van die bundel berus. Die bundels is geskryf na die afsterwe van geliefde en die ontstaan van die bundel is dus verwant aan die trauma wat die outeur beleef het. Trauma is egter ʼn baie breë konsep.

2.4.1 Wat is trauma?

Trauma is ʼn baie breë konsep en word in onder andere deur die mediese, sielkundige en literêre dissiplines beskryf. ʼn Ervaring wat ʼn ontwrigtende uitwerking op die koherensie van die lewensverhaal van die slagoffer het, kan as traumaties bestempel word (Fourie, 2014:475; Ester et al., 2012:8).

Hermans (soos aangehaal deur Ester et al., 2012:5) baseer sy definisie van trauma op dié van die Psigiatriese Vereniging van Amerika as ʼn “gebeurtenis waarbij iemand geconfronteerd wordt met de dood, de dreiging van dood, een ernstige verwonding of een bedreiging van de fysieke integriteit van zichzelf of anderen, en reageert met intense angst, hulpeloosheid of afschuw”. Wanneer ʼn geliefde sterf, word ʼn persoon nie slegs met sy geliefde se sterflikheid gekonfronteer nie, maar ook met sy eie, asook die leemte wat die dood laat deur die verlies van die geliefde. Trauma veroorsaak ʼn verlies van die idee van die self soos dit vroeër bestaan het, asook aan identiteit, dit bring ʼn verlies van herinnering mee, maar veral ook die vermoë om woorde toe te ken aan die traumatiese ervaring (Van der Merwe & Gobodo-Madikizela, 2008:viii). Die trauma is ook nie “eenmalig” nie; daar is talle herinneringe aan die gebeurtenis. In die geval van die verlies van ʼn geliefde, kan selfs ʼn herinnering aan die gestorwe geliefde traumaties wees.

28

Vir Granofsky is ʼn traumatiese gebeurtenis enige gebeurtenis “[that] defies reason and a sense of order, cripples our ability to maintain a stable sense of reality, challenges our categories of understanding and consequently the model of the world by which we unconsciously operate” (Fourie, 2014:470).

Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2007:vii, 28) beskryf trauma as die “undoing of the self” en beskou dit as ʼn verlies op verskeie vlakke: die verlies van beheer, van jou identiteit, van jou vermoë om te onthou en ook die vermoë om die verlies in woorde te omskryf. Die koherente struktuur van die betrokke persoon se outobiografiese lewensverhaal is omvergewerp – die traumatiese gebeurtenis moet nou by die narratief ingewerk word met die doel om betekenis te help genereer (Van der Merwe & Gobodo-Madikizela, 2007:6) en as “ʼn wyse om te begryp” (Fourie, 2014:475). Daar is ʼn duidelike ontwrigting in kohesie en ʼn verbrokkeling in ʼn narratief wat die behoefte laat ontstaan aan die rekonstruksie daarvan. Hierdie ontwrigting geskied egter nie net op individuele vlak nie.

Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2008:10-11) dui die hoofonderskeid aan wat Dominick LaCapra (1991) tref tussen die twee soorte trauma, naamlik historiese en strukturele trauma. Historiese trauma hou gewoonlik met ʼn geïsoleerde gebeurtenis (ramp) verband (byvoorbeeld die tsoenami in Thailand in 2006, die terreuraanvalle op die VSA in 2001, ʼn verkragting) en kan op ʼn enkele persoon of gemeenskap betrekking hê teenoor strukturele trauma wat verwys na trauma wat op ʼn deurlopende basis geskied waarin patroonmatigheid en kontinuïteit voorkom (byvoorbeeld voortdurende molestering, Apartheid, Holocaust). Die verlies van ʼn geliefde ressorteer onder historiese trauma.

2.4.2 Trauma geskep deur die verlies van die geliefde

Volgens die Helnes-Rahe Sosiale Aanpasbaarheidskaal (Edwards et al., 1997:613) is die dood van ʼn geliefde (soos ʼn kind of ʼn eggenoot) is, soos in hoofstuk 1 reeds genoem, die mees traumatiese gebeurtenis wat ʼn persoon kan beleef3.

Trauma kan die slagoffer met ʼn onvermoë laat om die traumatiese gebeurtenis te verwoord, veral na die verlies van ʼn geliefde. Vir Cathy Caruth, in haar werke Trauma: Explorations in Memory (1995) en Unclaimed experience (1996), is die meeste trauma van so ʼn aard dat dit nie semanties verwoord kan word nie. Haar teorie berus op drie pilare: dat trauma “amnesic” is, dat

3 Dr. Elisabeth Kübler-Ross (1969) identifiseer vyf stadia van rou in haar baanbrekerswerk On death and dying. Haar navorsing het gefokus op pasiënte wat terminaal siek is en hulle voorberei op hul dood; hierdie stadia is ook van toepassing op die verwerking van verlies. Hierdie ondersoek – alhoewel dit ʼn terapeutiese imperatief ondersoek – gaan nie die neerslag van die stadia van die rouproses in die bundels probeer vasstel nie vanweë die beperktheid van die ondersoek. Dit kan ʼn interessante punt vir verdere ondersoek wees.

29

dit onverwoordbaar is, en dat dit slegs effektief deur fiksie waargeneem kan word (Pederson, 2014:345). Dit is waar literêre werke – veral deur van figuurlike en beeldryke taal gebruik te maak – ʼn belangrike rol speel om verwoording te bewerkstellig.

Pederson (2014:336) kritiseer Caruth se siening van die aanvanklike periode van traumastudies, en Judith Herman se siening in Trauma recovery (1992) strook hiermee. Hulle is van mening dat trauma die slagoffer geheel en al woordeloos laat en – waar daar wel van ʼn (terapeutiese) narratief gebruik gemaak word – vind die slagoffer dit al hoe moeiliker om woorde te vind om die eintlike traumatiese gebeurtenis te beskryf en wend hom/haar gevolglik eerder tot nieverbale metodes soos teken of verf. Pederson (2014:336) noem ook McNally se “Skeptics’ Bible” wat hoofsaaklik van twee van Caruth se stellings verskil: eerstens dat traumatiese gebeurtenisse nie as herinneringe registreer nie (dus “unclaimed” is) en dat “traumatic memories elude straightforward verbal representation”.

Trauma is dus nie gesetel in amnesie (“vergeet”) en dit is nie ónmoontlik om te verwoord nie. Dalk is dit eerder ʼn geval van woorde wat tekortskiet óf die slagoffer wat onwillig is om die trauma te verwoord aangesien dit verg dat hy/sy die trauma moet herleef en daardeur moet werk. Tog is dit juis hierdie “deurlewing” (“working through”) wat die helingsproses help bewerkstellig. Hierdie onwilligheid kan egter nie aan onvermoë gelykgestel word nie.

Pederson (2014:338-340) stel ʼn bruikbare, alternatiewe model vir literêre traumateorie voor, maar is dit van toepassing op tekste wat geskoei is op werklike verhale oor traumatiese gebeure in mense se lewens. Kortliks, ter wille van volledigheid, word die drie uitgangspunte van sy raamwerk weergegee.

Eerstens moet traumateoretici nie op gebreke in ʼn teks fokus nie, maar op die teks self. Dit is moontlik – in teenstelling met die aanvanklike traumateorie – om ʼn traumatiese gebeurtenis te onthou en dit te verwoord. Deur die mag van ʼn narratief aan die slagoffer toe te ken, word die slagoffer nie oorgelaat aan die mag van ʼn amnesie waaroor hy geen beheer het nie, maar word hy bemagtig met ʼn narratief met potensiële genesingskrag: “Speaking trauma pulls it from the realm of painful obscurity and hastens the process of rehabilitation.” Susan Brison som dit soos volg op in haar boek Aftermath (Pederson, 2014:339):

In contrast to the involuntary experiencing of traumatic memories, narrating memories to others [...] enables survivors to gain more control over the traces left by trauma. Narrative memory is not passively endured; rather, it is an act on the part of the narrator, a speech act that defuses traumatic memory, giving shape and a temporal order to the events recalled, establishing more control over their recalling, and helping the survivor to remake a self. (71).

30

Die taal kan “performative” (Pederson, 2014:339) wees, en al is die taal gebrekkig en gebroke, dit is die poging tot rehabilitasie wat die rekonstruksie van die slagoffer se psige help bewerkstellig.

Tweedens moet traumateoretici ingestel wees op uitgebreide narratiewe detail aangesien trauma nie noodwendig die herinnering verdring nie, maar versterk.

Laastens, alhoewel die herinneringe helder en duidelik mag voorkom, is hulle nie noodwendig ʼn weerspieëling van die waarheid nie en kan hulle gewysig wees en as onwerklik voorkom. Daar kan versteekte (of selfs ooglopende) leidrade en sleutels in die teks wees wat die distorsie van die waarheid uitbeeld en sodanig aangewend kan word om die effek van die trauma te ontleed (Pederson, 2014:340).

Pederson (2014:349) kom tot die slotsom dat die vorige traumateoretici se sienings nie afgemaak moet word nie – dat literatuur (byvoorbeeld in die vorm van fiksie) wel ʼn geskikte medium is om trauma te verwoord, maar hy stem nie saam dat dit die enigste medium is om trauma te verwoord en ʼn proses na heelwording te bewerkstellig nie. Steeds vind talle tekste, onder andere elegiese poësie, hul ontstaan in ʼn traumatiese gebeurtenis wat die digter ervaar (het).

Michael S. Roth (2012) verskaf ʼn bondige, kontekstuele skets van die ontstaan van die traumateorie in die inleiding tot Memory, trauma, and history: essays on living with the past. Hy gee aanvanklik aandag aan die psigoanalitiese beginsels van “forgetting (amnesia and multiple personality), longing (nostalgia), haunted histrionics (hysteria)” (Roth, 2012:xiv), en hoe geskiedenis en herinnering verband hou in die manier wat mense hul identiteit op hul verlede baseer.

Dié psigoanalitiese wortels word teruggetrek na die beginsels van Jean-Martin Charcot en Sigmund Freud, twee figure wat geglo het dat ʼn herinnering aan ʼn traumatiese gebeurtenis in ʼn psigologiese wond kan ontaard (Roth, 2012:81). Dit het tot Freud se bekende “talking cure” gelei wat ʼn persoon se verlede teenoor sy hede plaas en die trauma aan die lig te probeer bring, “in plaas daarvan dat jy poog om die wérklike verlede in die hede te rekonstrueer” (Fourie, 2014:474).

Reinhardt Fourie (2014) gee ʼn oorsigtelike beskouing van die ontwikkeling van die traumastudies in sy artikel “Die verhouding tussen trauma en magiese realisme in Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998) deur Christoffel Coetzee” waarin eerstens ʼn oorsigtelike blik gegee word oor die ontstaan van die traumateorie – van die eerste gebruik in die sielkunde en spesifiek psigoanalise, met spesifieke verwysing na Freud se “talking cure” na ʼn breë definisie

31

van trauma gevolg deur ʼn beskrywing van ʼn traumatiese gebeurtenis. Daarna ondersoek hy die ontstaan van ʼn kultuurproduk as die traumakonsep in ʼn literêre hoedanigheid toegepas word. Hy lig Pakendorff (2013) se mening uit dat daar ál meer belangstelling in traumastudies – veral onder literatuurwetenskaplikes – is. In sy artikel ondersoek hy die verband tussen magiese realisme en trauma op ʼn allegoriese vlak wat as ʼn funksionele raamwerk vir sy analise van die primêre teks dien. Dit sluit aan by my eie benadering om ʼn leesraamwerk te gebruik (in my geval die mite van Orfeus en Euridike) waarbinne die narratologiese weergawe van die trauma in die primêre teks ondersoek word.

Dit is verder belangrik om te onderskei tussen individuele en kollektiewe trauma. In veral psigoterapie en psigoanalise (hoofsaaklik sielkundige dissiplines) is daar aandag geskenk aan individuele trauma en bystand in die verwerking daarvan deur byvoorbeeld narratiewe terapie, waar daar – veral met betrekking tot die holocaust, (wêreld- en vryheids-)oorloë en apartheid – in literêre tekste aan kollektiewe trauma aandag geskenk is. Tans is daar ʼn postapartheid- tendens om die geskiedenis te herbesoek omdat byvoorbeeld die trauma van die Boereoorlog nog besig is om verwerk te word (veral dan versweë dinge soos verkragting of dinge waaroor lank nie gepraat is nie, soos verraad). Hier dien werke soos Ingrid Winterbach se Niggie (2002), Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998), Die stoetmeester (Etienne van Heerden, 1993) en Sonja Loots se Sirkusboere (2011) as enkele voorbeelde. Andersyds gaan dit oor die verwerking van die trauma van apartheid, gevolg deur die traumanarratiewe van die Waarheids- en Versoeningskommissie, wat ook psigoanalities begrond is (dit hou verband met die skuld- en/of skaamte oor apartheid), met tekste soos Country of My Skull (Antjie Krog, 1998) en A Human Being Died That Night (Pumla Gobodo-Madikizela, 2003) as voorbeelde, asook Kleur kom nooit alleen nie as digbundel uit die pen van Krog (2000). Daar kan ook nie nagelaat word om J.M. Coetzee se internasionaal bekroonde Disgrace (1999) te noem nie.

Die poel van literatuur – teoreties en literêr – oor trauma is baie groot en groei steeds. Daar is ook gedurig traumatiese gebeure wat regoor die wêreld plaasvind, soos onlangs die ISIS- terreuraanvalle in Europa, die vlugtelingkrisis van Tunisië, die oorlog in Sirië, en literêre werke sal aanhou verskyn en op nuwe kreatiewe maniere op hierdie gebeure kommentaar lewer. Sodoende sal die traumateorie ook bly groei en by die groeiende tendense in die literatuur moet kers vashou én selfstandig as ʼn teorie groei. Met ander woorde, soos wat die traumawetenskap groei, sal die literêre teorie daarby moet aanpas (Pederson, 2014:334).

Traumateoretiese werke wat ʼn Suid-Afrikaanse inslag het, sluit Van der Merwe en Gobodo- Madikizela se Narrating our healing: Perspectives on working through trauma (2008) en Ester, Van der Merwe en Mulder se Woordeloos tot verhaal (2012) in. Laasgenoemde ondersoek trauma en narratief vanuit verskillende kunsdissiplines en geesteswetenskaplike agtergronde

32

deur te fokus op verskeie outeurs waarin “die sentrale vraagstuk van die vertaling van traumatiese ervaring in taal” in verskeie Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse tekste (16) in die soeke na sin en betekenis figureer.

Die sienings van Van der Merwe en Gobodo-Madikizela, wat sterk steun op LaCapra se “working through” trauma-beginsel, word in hierdie afdeling voorgehou. Literatuur speel ʼn groot rol in hierdie verwerkingsproses, veral die skryf en lees van literatuur.