• No results found

HOOFSTUK 2 TEORETIESE BEGRONDING 10 

2.6  Die selfnarratief in die bundel 44 

2.6.2  Persona practica versus persona poetica 46 

Wanneer die outeur oor die gestorwe geliefde skryf, kan dit gebeur dat hy gelyktydig biograaf en outobiograaf word. Hy pen gedeeltes van die gestorwe geliefde se lewe neer, asook

47

karaktereienskappe en fragmente uit die persoon se lewe, maar as gevolg van die gedeelde geskiedenis saam met die geliefde word gebeure en fragmente uit sy eie lewe, of ten minste die interpretasie daarvan, neergeskryf (Gilmore, 2001:72). Dit geskied nie noodwendig bewustelik nie, maar kan verhuld en op simboliese wyses geskied deur metafore of herinneringe wat neergeskryf word. Op hierdie manier word die digbundel ʼn mini-biografie van die gestorwe geliefde en ʼn soort outobiografie of memoir vir die outeur waardeur hy teen die dood skryf. Met ander woorde, deur die manier waarop hy sy geliefde se sterflikheid in die oë staar en probeer deurwerk (en hopelik verwerk), poog hy (waarskynlik onbewustelik) om onsterflikheid te bewerkstelling. Op hierdie wyse oorwin hy sy eerste vrees: hy het sy geliefde se dood oorleef en gevolglik taan die vrees vir sy eie dood, moontlik omdat sy eie dood die vooruitsig inhou om met sy geliefde herenig te word.

Die digters van die primêre bundels in hierdie studie het ʼn geliefde aan die dood afgestaan; die narratiewe ek word dus ʼn deur die teksgemedieerde selfrepresentasie van die outeur. Hierdie selfrepresentasie word telkens in hierdie ondersoek as “anekdoties-biografies” van aard aangedui. "At the heart of self-representation lies a process of self-construction, the material of which is a mixture of memory and invention", skryf Gilmore (2001:34). Die selfnarratief wat deur die outeur geskep word, kan tekens toon van die werklike outobiografiese outeur, maar kan ook fragmente van die verbeelding wees en is dus ʼn uitdrukking van kunstenaarskap. Dit is ook nie moontlik om die werklike outeur op ʼn konsekwente, presiese wyse weer te gee nie, en soos wat ʼn mens verskillende rolle in die lewe aanneem (byvoorbeeld pa, eggenoot, minnaar, versorger), neem die narratiewe identiteit ʼn veelkantigheid aan en kan dit maklik op verskeie plekke op verskeie maniere vergestalt word. Veral wanneer daar oor verskillende gedigte heen in ʼn bundel gewerk word, is dit moontlik: die narratiewe identiteit van die spreker as hooffiguur in die gedig – oftewel die figuur wat die self-representasie verteenwoordig – kan telkens ʼn ander rol of faset van ʼn persoonlikheid aandui wat ʼn bepaalde invloed het op wat in die (self)narratief uitgebeeld en hoe dit gedoen word. “We live in and through the stories we tell and imagine about ourselves. The narrative ‘I’ is that story-spinning self that tells stories about itself, exists in those stories, and conceives its identity in terms of those stories” (Roberts & Holmes, 1999:27). Die narratiewe strukturaliste glo onomwonde dat die fiktiewe verteller (selfs al deel die karakter ʼn naam, beroep, ensovoorts met die outobiografiese outeur) se dade, sienings en uitsprake onder geen omstandighede gelykgestel moet word aan dié van die outobiografiese outeur nie. Tog bly dit gebeur dat die leser dit moeilik vind om ʼn ek-verteller van die outobiografiese outeur te skei, veral aangesien die moontlikheid bestaan dat daar ʼn verband tussen bogenoemde twee is.

48

Pieters (2005:53) stel dat ʼn outeur nie totaal outobiografies skryf in ʼn literêre teks nie. Die stem teenwoordig in die teks is die gevolg van die woorde wat daaraan vorm gegee het. Sodoende vorm die stem deel van die “verbeelde werkelijkheid” wat in die teks geskep word. Die spreker in die teks (die liriese ek) is dus nie noodwendig die outeur self wat aan die woord is nie. Dit sluit egter nie die moontlikheid uit dat dit wel die outeur (of gedeeltelik die outeur) is wat aan die woord is nie, met ander woorde ʼn ander representasie van die self.

Menslikheid bly ter sprake wanneer dit kom by die lees van tekste: lesers kan maklik in hul gemoed die outeur en spreker aan mekaar gelykstel (met ander woorde: as dieselfde entiteit ervaar). Dit is duidelik te sien in die “verklaring” van tekste en/of films wat stel dat enige ooreenkoms tussen karakters, gebeure, ensovoorts bloot toevallig is. Lesers vergelyk soms karakters (en ook die spreker) met “werklike” mense. Lanser (2008:206) identifiseer die volgende faktore wat ʼn invloed hierop uitoefen: die verteller se alomteenwoordigheid, bewussynstroom en fokalisasie; en bevestig hoe moeilik dit is om ʼn besliste verskil en/of ooreenkoms tussen die outeur en die verteller in die verhaal te bepaal. Dit is veral problematies in tekste wat van ʼn ek-verteller gebruik maak (“homodiegetic fiction”), aangesien dit die ooreenkoms met outobiografie versterk. Deur die eeue het beide uitgewers en skrywers hierdie problematiek uitgebuit deurdat niemand bevestig of dit wel fiksie of werklikheid is nie – die afleiding word dus aan die leser oorgelaat. Dit verhoog die moontlikheid van meervlakkigheid en vergroot dus interpretasiemoontlikhede.

Lanser (2008:207) identifiseer ʼn moontlike oplossing: ʼn eksterne party kan dit aan die leser bevestig. Dit kan geskied in die vorm van kommentaar in ʼn resensie of onderhoud met die outeur, ʼn woord of frase (deur die uitgewer) op die omslag van die teks wat ʼn direkte verband tussen die biografiese ek en die liriese subjek toon, aangesien die uitgewer oor agtergrondinligting beskik wat nie noodwendig vir die publiek toeganklik is nie.

As ʼn outeur sy gevoelens en idees deur middel van ander persoonlikhede aan die leser voorlê, kan dit die verbeelding van die leser op ʼn intiemer vlak aangryp (Pieters, 2005:68). Dit maak die teks meer toeganklik vir die leser. Dit is ook waarvoor Henning Pieterse geprys word in Die burg van Hertog Bloubaard (2000): “Hy maak nie van die ‘eie ek’ in sy gedigte gebruik nie, maar skep personas waardeur hy uiters treffende idees oor menswees verwoord” (Nieuwoudt, 2002:14). Pieterse erken in ʼn onderhoud teenoor Francois Smith (2001:9): “Ek hou daarvan om by monde van figure [...] te ‘praat’.” Hy vertolk nie noodwendig self die rol van die hoofkarakter in sy verhale en gedigte nie.

Vir Odile Heynders (2005:160) herinner die outobiografiese aan narratiewe prosa omdat daar twee ooreenkomste is: ʼn plot en ʼn hoofkarakter wat oor ʼn bepaalde identiteit beskik. In hierdie

49

skryfstukke word biografiese gegewens soms herken, maar daar moet ook telkens in ag geneem word dat die outeur nie gewoonlik sy verbeelding moet inperk nie. Dit gebeur dan ook dikwels dat die fiktiewe en werklike wêreld verweef raak (Heynders, 2005:164).

Digters kan ook gedigte outobiografies (of ten dele outobiografies) van aard maak sou hulle so verkies. Die voorbeeld wat Odile Heynders (2005:164) voorhou, is Mustafa Stitou se gedig, “De lagere school van de wêreld”, waarin outobiografiese gegewens ingewerk word in die vorm van kommentaar op kritiek wat hy op sy vorige bundel(s) ontvang het. As die outeur van “fiksie” kan hy nie self verantwoordelik gehou word vir die uitsprake wat hy lewer nie omdat dit onder die dekmantel van ʼn literêre werk deurgaan.

Die digter kan ʼn ek-spreker skep wat na homself verwys, maar weens digterlike vryheid is hy ook in staat om hierdie beeld na hartelus te manipuleer (Heynders, 2005:164). Soms geskied die proses meer subtiel en kan die digter gebruik maak van ʼn “jy” wat aangespreek word in die gedig, maar deur depersonalisering – al kom dit voor asof die digter homself van die “spreker” distansieer, gebeur dit dat ʼn persoon se eie ervaring ook van toepassing kan wees op ʼn ander (Heynders, 2005:166). Omdat die pyn van die verlies so persoonlik vir die digter is, kan die digter depersonalisering gebruik om meer helderheid oor die situasie te verkry deurdat hy sodoende afstand tussen hom en die gebeure skep – met ander woorde asof dit met iemand anders gebeur het. Nog ʼn rede is dat die digter met die skep van die afstand homself oopmaak vir gevoelens uit die onbewuste om na vore te tree omdat hy nie ʼn “gefilterde” weergawe hoef voor te hou om homself teen kritiek te probeer beskerm nie. Kritiek in hierdie geval hou nie noodwendig verband met die kwaliteit van die skryfwerk nie, maar die inhoud is so persoonlik dat onsensitiewe kritiek moontlik persoonlik ervaar kan word. Digters kan kies om van depersonalisering gebruik te maak omdat die skryfproses soms oor die weerbaarste, “allerpersoonlijkste” en “intiemste overpeinzing” (Heynders, 2005:167) van die siel handel: hy beskryf “bijzondere, bijna mystieke, denkervaringen, waarin het zelf wordt gevolgd, geanalyseerd en ten slotte verdwijnt” (Heynders, 2005:167).

Na ʼn traumatiese gebeurtenis kan poësie een van die beste hulpmiddele wees wat ingespan word om die trauma te verwerk – juis omdat daar soveel beelding in gedigte kan wees waardeur idees op ʼn figuurlike manier kan manifesteer (Roberts & Holmes, 1999:62). Marais (2008:1) stel dat die digter dikwels “troos in nadenke oor die een of ander ewigheidsbeginsel vind”. Dit kan geskied deur die lees en skryf van (nie noodwendig literêre) poësie. Marais (2008:16) voer aan dat outeurs wat nie gevestigde skrywers is nie en ʼn boek publiseer na (en/of oor) die afsterwe van ʼn geliefde (spesifiek ʼn kind), byna sonder uitsondering gedigte of prosa skryf. Prosa is hoofsaaklik die vertel van die outobiografiese narratief. Poësie kom meer algemeen voor, wat vir haar dui op ʼn terapeutiese funksie wat deur poësie vervul word en wat die digter toelaat om

50

uitdrukking te gee aan gevoelens sonder om dit noodwendig in volsinne en paragrawe te vervat. Dit skep geleentheid om gedeeltes van die trauma op ʼn slag te verwerk in plaas daarvan om die traumatiese gebeurtenis as ʼn geheel te konfronteer soos in die geval met die vertelling “van voor tot agter” van die gebeurtenis.