• No results found

Hoofstuk 3. Kunsmatige intelligensie en die wese van die lewe

14.7 Ten slotte

Beide die dilemma van kousaliteit en die sentrale dilemma van die lewe presenteer as dilemmas vanweë die beperkende fisikalistiese ontologie waarmee die syn benader word. Kousaliteit is gewortel in die laagste vlak van die lewe, nl. die sellulêre vlak. Die vermoë van die sel om 'n interne horison en 'n fenomenologiese horison te kan handhaaf is kousaliteit. Dit is hierdie kousaliteit, wat op die mees basiese vlak van die lewe teenwoordig is, wat geesteskousaliteit onderlê.

Een van die sentrale eienskappe van 'n lewende ding is die feit dat dit in 'n lewende enkapsis verkeer met die dinge wat in sy interne en fenomenologiese horisonne verkeer. Een van die kenmerke van die lewende enkapsis is die feit dat die geheel van 'n ding en die onderlinge deelnemende komponente daarvan 'n onverbreekbare interafhanklikheid toon, wat nie vanuit 'n fisikalistiese oogpunt verklaar kan word nie. Die sentrale dilemma van die lewe, Behe se nie-reduseerbare komplekse sisteme en die hermeneutiese sirkel is voorbeelde hiervan. Selfs al sou ons die gees van die liggaam kon skei en die gees boliggend op 'n fisiese basis sou kon verwerklik, sou die hermeneutiese sirkel dieselfde probleme bied as wat die sentrale dilemma van die lewe bied met die verklaring van die ontstaan van die lewende uit die nie-lewende in die oeraarde.

Al veronderstel ons dat beide die sentrale dilemma van die lewe en die probleem van die hermeneutiese sirkel oorkom kan word, sal ons nog steeds met die probleem van die verhouding tussen die interne horison en die fenomenologiese horison sit. Hierdie probleem is oneindig meer ingewikkeld as bg. twee probleme. Op die een vlak is die fenomenologiese horison binne die bestek van die interne horison geleë, maar op 'n ander vlak omvat die fenomenologiese horison alles met die self as die sentrale verwysingspunt.

Aansluitend met die probleem van die verhouding tussen die interne en die fenomenologiese horisonne is die probleem van die verhouding tussen die fenomenologiese horison en die eksterne plastiese horison. Daar is duidelik 'n ontologiese kloof tussen die twee en tog is die verhouding tussen die twee so intiem dat 'n organisme met sekerheid in die plastiese horison kan handel met die vryheid en kousaliteit waarmee dit gepaard gaan.

Deur die lewe as lewe te erken en daarmee saam die ineenverweefdheid van 'n lewende ding met sy fisiese basis en sy fisiese omgewing, kom die misterie van die lewe en die gees juis na vore. Dit sluit die ontstaan van die lewe in die vroeë aarde in. Daar is geen manier dat ons hierdie geheimenisse vanuit 'n fisikalistiese ontologie sal opklaar nie. Daar is ook geen manier dat ons lewe of aspekte van die lewe, soos intelligente gedrag, ooit sal kan konstrueer nie.

§15 Kunsmatige intelligensie en die lewe

Die vraag is of die ideaal van kunsmatige intelligensie ons help om persepsie, beredenering, leer, kommunikasie en handeling in komplekse omgewings beter te verstaan, hetsy dit in masjiene, diere of mense geskied. Die basis vir hierdie aanname dat die ideaal van kunsmatige intelligensie wel 'n bydrae lewer, berus op die ideaal van kunsmatige intelligensie se fisikalistiese ontologie. Die probleem met die ontologie is dilemmas soos die sentrale dilemma van die lewe en die probleem van geesteskousaliteit. Die waarheid is dat hierdie sentrale dilemma van die lewe geen dilemma is nie, maar juis sentraal in die lewe staan en dat geesteskousaliteit reeds in die mees eenvoudige lewensvorm, nl. die sel gewortel is.

Verder is die gees nie net bloot boliggend op die fisiese liggaam nie. Die basiese kenmerke van die menslike gees lê diep gewortel in die diepste wese van die lewe, sodat die menslike gees nooit geskei word van die totaliteit van menswees nie. Al die komponente van menswees, insluitende die fisiese, biotiese, sensoriese en die aktstruktuur van die mens, is aan die een kant onlosmaaklik in mekaar vervleg en aan die ander kant nooit tot mekaar reduseerbaar nie.

Dit is duidelik dat die ideaal van kunsmatige intelligensie op 'n totale misleidende ontologie berus en op die oog af dus niks te sê het aangaande die lewe en die menslike gees nie. Dit is egter nie heeltemal waar nie. Alle lewende organismes, insluitend die mens, is subjekte in die numeriese wetskring. 'n Voorbeeld is die opeenvolgende stappe van metaboliese bane en die netwerke waarin die metaboliese bane funksioneer. Kunsmatige intelligensie kan dus 'n bydrae lewer aangaande hierdie numeriese abstraksies.

Die ideaal van kunsmatige intelligensie is niks anders as 'n hersenskim nie. Dit is duidelik. Die probleem is egter dat die numeriese afgegrensdheid van kunsmatige intelligensie tog duidelik is en nie deur die kunsmatige intelligensie-gemeenskap wat aan die ideaal werk,

genoegsaam of inderdaad eers ráákgesien word nie. Die rede is dat die fisikalistiese standpunt van alles is fisies 'n religieuse standpunt is wat nie vanuit die fisikalistiese oogpunt beredeneer kan word nie. Dit is nodig dat ons na hierdie standpunt sal kyk ten einde nie net 'n meer volledige beeld van die hersenskim van die ideaal van kunsmatige intelligensie te bekom nie, maar om ook oor die moontlike skrikwekkende gevolge wat so 'n hersenskim op ons menswees kan hê, in oënskou te neem.

Hoofstuk 4. Die religieuse basis van die kunsmatige