• No results found

3.7 BESPREKING VAN BEVINDINGE

3.7.2 Bespreking van bevindinge

3.7.2.4 Tema 4: Opleiding

Opleiding is ʼn belangrike aspek wat aandag moet geniet. Die navorser wou eerstens ondersoek instel daarna of die kinderversorgers enige opleiding ontvang het voordat hulle begin optree het as kinderversorgers in privaatplekke van tydelike versorging en tweedens watter opleiding beskou word as noodsaaklik om hul taak as kinderversorgers in privaatplekke van tydelike versorging te vergemaklik.

Sub-tema 4.1: Opleiding ontvang om as kinderversorger op te tree

Die maatskaplike werkers en kinderversorgers het die volgende te kenne gegee rakende die opleiding wat hulle ontvang het voordat hulle met hul taak begin het.

Standpunte verteenwoordigend van die maatskaplike werkers

“…hulle ontvang opleiding deur die welsynstruktuur”;

“…kinderversorgers is veronderstel om opleiding te ontvang maar dit gebeur nie altyd nie”; “…die opleiding is egter baie basies";

“…CMR Moreleta bied opleiding maar in die praktyk is dit egter nie altyd die geval nie”. Standpunte verteenwoordigend van die kinderversorgers

“…ek het geen opleiding ontvang vir my rol as kinderversorger nie”; “...het een lesing bygewoon oor pleegsorg wat baie insiggewend was”; “…niks”.

Die literatuur bevestig dat kinderversorgers weinig opleiding ontvang het wat meebring dat hulle nie voldoende toegerus is vir die versorging van hierdie kwesbare kinders nie (Bernard, 2014.87; Sanchirico & Jablonka, 2000:201). Kinderversorgers glo dikwels as hulle hul eie biologiese kinders met sukses grootgemaak het, hulle daardie selfde vaardighede kan aanwend om kinders wat sorg en beskerming nodig het, te versorg. Kinderversorgers ervaar egter ook soms dat hulle nie goed genoeg gekwalifiseer is om as kinderversorgers op te tree nie (Heller et

al., 2002:562). Dit is egter belangrik dat kinderversorgers opleiding van goeie gehalte moet

ontvang om die kind se gedrag beter te begryp, asook om die kind se gedrag beter te kan hanteer (Pacifici et al., 2006:1329).

Sub-tema 4.2: Opleiding benodig om as kinderversorger op te tree

Die navorser wou verder ondersoek instel om vas te stel watter opleiding die maatskaplike werkers, sowel as die kinderversorgers, as belangrike elemente van sodanige voorbereiding beskou het. Die volgende inligting het na vore gekom oor die tipe opleiding wat maatskaplike werkers en kinderversorgers as belangrik beskou rakende die versorging van die kind wat sorg en beskerming benodig:

Standpunte verteenwoordigend van die maatskaplike werkers

“…dit is belangrik vir die kinderversorger om deel te wees van deurlopende groepe omdat dit ondersteuning bied. Hulle moet verder opleiding ontvang in: ontwikkelingsfases van kinders en gedragsprobleme soos aandaggebreksindroom. Binding, wat dit is en hoekom dit so belangrik is, die medikasie van kinders. Die behoeftes van die biologiese ouers moet ook aan die kinderversorgers verduidelik word en hoe om die emosies van die ouer en die kind te hanteer wanneer die kind weggaan”;

“…wat die wet (Children‟s Act 38 of 2005) alles sê, hoe hofverrigting werk, wat die kinderversorgers se verantwoordelikhede alles is en die emosionele behoeftes van die kind”; “…dissipline omrede die kinders nie mag pak kry nie, wat mag die kinderversorger doen en wat nie gedoen mag word nie, hoe om jou as kinderversorger te beskerm, etiese aspekte”;

“…suksesverhale van ander kinderversorgers en ondersteuningsnetwerke sodat die kinderversorgers voel hulle is nie alleen nie”.

Standpunte verteenwoordigend van die kinderversorgers

“… riglyne vir versorging, wat mag jy doen, wat mag jy nie doen nie. Kinderversorgers moet gekeur word”;

“…ek is nie seker watter opleiding nodig is nie maar meer voorbereiding is nodig. Dit was vir my ʼn groot skok. Mens moet dalk eers tydelik betrokke raak”;

“…jy moet iets van alles rondom kinders weet. Mens raak „qualified by experience‟, jy kan geen twee kinders dieselfde hanteer nie”;

Inligting wat uit die literatuur geïdentifiseer is dui aan wat moontlik deel kan uitmaak van die persoon se opleiding om as kinderversorger te kan optree, wat dan ook in die volgende paragrawe omskryf word.

Persone moet vertroud wees met die welsynstruktuur ten opsigte van hofverrigtinge, en wetlike en etiese aspekte rakende die kind (Marcellus, 2008:18; Murray et al., 2011:154). Gepaard hiermee moet die persoon die regte verantwoordelikhede van die kinderversorger en ander professionele persone wat by die kind wat sorg en beskerming benodig betrokke is, kan identifiseer (Cooley & Petren, 2011:1972; Heller et al., 2002:56).

Die kinderversorgers moet bewus wees van beskikbare dienste aan kinders wat sorg en beskerming benodig (Cooley & Petren, 2011:1971; La Chance, 2005:22; Murray et al., 2011:155; Pears et al., 2010:1561) asook wat die betrokkenheid by die skool en skoolaktiwiteite behels (Pears et al., 2010:1561).

Persone wat as kinderversorgers optree, moet ook opgelei wees om die verskillende ontwikkelingsfases van die kind te kan herken (Heller et al., 2002:562-566; La Chance, 2005:22; Murray et al., 2011:155) en wat die impak van ontwikkelingsagterstande op die kind kan wees (Heller et al., 2002:562).

Die verhouding tussen die kinderversorger en die kind wat sorg en beskerming benodig, het ʼn groot invloed op die bindingsterapie-proses (Buehler et al., 2003:77; Heller et al., 2002:570; Macdonald & Turner, 2005:1278; Murray et al., 2011:155).

Die kind wat sorg en beskerming benodig, kan baie emosionele behoeftes hê (Cuddeback & Orme, 2002:899; Murray et al., 2011:154; Pears et al., 2010:1561). Daarmee saam is die invloed van trauma op die kind ook ʼn aspek waardeur die kinderversorger gekonfronteer kan word (Heller et al., 2002:562; La Chance, 2005:29; Macdonald & Turner, 2005:1278). In sulke gevalle kan die kind onbeheersde gedrag toon en die kinderversorger sal moet weet hoe om daarmee om te gaan (Cuddeback & Orme, 2002:899; Daniel, 2011b:914; Davies et al., 2015:39; Heller et al., 2002:562; Murray et al., 2011:149). Hiperaktiwiteit is ook een van die gebiede waardeur die kinderversorger gekonfronteer kan word tydens die versorging van die kind wat sorg en beskerming benodig (Daniel, 2011b:914; Heller et al., 2002:569; Macdonald & Turner, 2005:1278) asook post-traumatiese spanning (Heller et al., 2002:569; Macdonald & Turner, 2005:1278), geestestoestande (Cuddeback & Orme, 2002:899) en selfmoord-gedagtes (Heller et al., 2002:569).

Die kinderversorger sal toegerus moet word om gepaste dissipline op die kind wat sorg en beskerming benodig te kan toepas, wat lyfstraf uitsluit (Davies et al., 2015:39; Heller et al., 2002:569), en die belangrikheid van roetines in die lewe van die kind (Heller et al., 2002:564). Wanneer dit by ouderdomtoepaslike seksuele gedrag kom, moet die kinderversorger die verskil kan uitken tussen seksuele gedrag vanweë blootstelling aan seksuele misdrywe, asook die hantering daarvan (Cuddeback & Orme, 2002:899; Heller et al., 2002:566-569; Macdonald & Turner, 2005:1278).

Kinders wat sorg en beskerming benodig, sal soms mediese versorging nodig hê en daarom moet die kinderversorger vertroud wees met die basiese mediese hulp asook wanneer professionele mediese hulp bekom moet word (La Chance, 2005:21-22; Murray et al., 2011:154).

Dit kan soms gebeur dat die kind se begrip rakende biologiese ouers geprikkel word en dan moet die kinderversorger opgelei wees om te weet hoe om dit te hanteer en hoe om die kind se begrip rakende biologiese ouers gesond te laat ontwikkel (Cooley & Petren, 2011:1971; Heller

et al., 2002:564; Murray et al., 2011:154; Sanchirico & Jablonka, 2000:200).

Dit is nodig dat kinderversorgers nie net deur die negatiewe aspekte rakende die kind wat sorg en beskerming nodig het, gekonfronteer word nie, maar ook deur die suksesverhale van onder andere ʼn kind wat presteer (Brown & Campbell, 2007:1018). Die kinderversorger moet toesien dat selfsorg plaasvind om effektief te kan versorg. Kinderversorgers wat betrokke is by privaatplekke van tydelike versorging, sal ook moet leer hoe om met verlies om te gaan wat betref wisseling van kinders wat sorg en beskerming benodig (Murray et al., 2011:155).

Die literatuur het bevestig herhaaldelik dat kinderversorgers nie voldoende opleiding ontvang nie (Cuddeback & Orme, 2002:899; Sanchirico & Jablonka, 2000:194). Hierdie opleiding moet egter nie eenmalig plaasvind nie, maar op gereelde basis in die vorm van ondersteuningsgroepe. Dit is belangrik dat verder bepaal moet word watter opleiding vir kinderversorgers nodig is om hul taak om in die kind se beste belang te kan optreete vergemaklik (Bernard, 2014:90-91; Heller et al., 2002:569; Sanchirico & Jablonka, 2000:200). ʼn Baie belangrike aspek wat in die literatuur aandag geniet, is dat daar aangemoedig word dat dit nie slegs die kinderversorgers sal wees wat opleiding moet onvang om hul taak te vergemaklik nie maar dat die maatskaplike werkers ook ingesluit moet word sodat die suksesvolle versorging van die kind wat sorg en beskerming benodig, in spanverband kan geskied (Buehler