• No results found

HOOFSTUK 4: SELEKSIE EN EVALUERING VAN KINDER EN JEUGLITERATUUR

4.3 Die implikasie van ontwikkelingspsigologie vir die keuse van boeke

4.3.5 Sosiale ontwikkeling

Volgens Shaffer (1989:560) is sosialisering die proses waartydens leerders die waardes en gedrag aanleer wat deur die ouer persone in die gemeenskap as van waarde en aanvaarbaar beskou word. Volgens Maxim (1997:28) kan KJL ʼn baie belangrike rol by die sosiale ontwikkeling van leerders speel. Dit kan rassekonflik verminder, die selfwaarde van die individu versterk, die kulturele identiteit van ʼn leerder vorm en die ontwikkeling van sosiale vaardighede en verantwoordelikheid ontwikkel. Maxim (1997) beveel daarom aan dat KJL gelees en vertel word om sodoende ander kulture te bespreek. Daar is twee aspekte wat belangrik is vir die sosiale ontwikkeling van leerders: sosialisering en morele ontwikkeling.

4.3.5.1 Sosialisering

Sosialisering vind plaas wanneer leerders die tradisies en leefwyse van ʼn groep aanleer sodat hulle in die groep kan funksioneer. Leerders moet leer om hulle aggressie en vyandige gedrag te beheer as hulle aanvaarbare verhoudings met hulle gesin en die gemeenskap wil handhaaf. Aanvaarbare verhoudings vereis van die leerder om die gevoelens en optrede van ander te begryp en in ag te neem. Leerders se sosialiseringsproses is vanselfsprekend baie belangrik en daarom is dit belangrik vir onderwysers om kennis te dra van die sosiale ontwikkeling van leerders. Volgens Norton en Norton (2011:27) is daar drie prosesse wat die sosialiseringsproses van leerders beïnvloed:

 Straf en prys deur ouers en ander volwassenes speel ʼn belangrike rol. Wanneer leerders geprys word vir korrekte gedrag en gestraf word vir verkeerde gedrag, leer hulle aanvaarbare gedrag aan. Straf en prysing kan byvoorbeeld gebruik word wanneer ʼn leerder nie sy/haar speelgoed met ander wil deel nie. Die spesifieke speelding kan dan van die leerder weggeneem word sodat die leerder kan besef dat dit nie die gewenste gedrag is nie.

 Tweedens is die waarneming van ander se gedrag belangrik. Dit kan aan leerders die gewenste gedrag wat in hulle bepaalde kultuur aanvaarbaar is, leer. Leerders leer hoe hulle moet optree deur die veronderstellings en gedrag van volwassenes en hulle portuurgroep met wie hulle in aanraking kom. Seuns en dogters kan byvoorbeeld die gedrag en rol wat met geslag verband hou, in die gesin waarneem deur hulle ma en pa se optrede waar te neem. Multikulturaliteit is ook hier ter sake. Die wyse waarop die lede van ʼn gesin of volwassenes met wie hulle in aanraking kom, ander kulture hanteer, sal die leerder se gedrag teenoor persone in daardie kulture beïnvloed.

 Derdens, identifikasie is die belangrikste aspek van sosialisering. Leerders se denke, gevoelens en aksies stem ooreen met dié van mense wat hulle glo dieselfde is as hulle.

Leerders se eerste verhoudings ontwikkel in die gesin en onmiddellike familie. Daarna brei die verhoudings uit na vriende in die omgewing, die skool en later tot die wêreld buite die leerder se omgewing. KJL kan daartoe bydra om hierdie verhoudings te versterk en aanvaarbare gedrag te ontwikkel deurdat leerders in KJL die aanvaarbare gedrag waarneem en ervaar. Aanvaarbare gedrag word nie net verbind met die sosialisering van die leerder nie, maar ook met die morele gedrag van die leerder.

4.3.5.2 Morele ontwikkeling

Die morele waardes van leerders moet ʼn essensiële deel uitmaak van die sosiale ontwikkeling van elke leerder. Voorskoolse leerders ontwikkel ’n begrip van reg en verkeerd wanneer hulle met hulle ouers en hulle

108

ouers se waardestelsel, houdings en gedrag kennis maak. Volgens Piaget en Inhelder (1969) het leerders tot en met die ouderdom sewe of agt baie rigiede en onbuigsame opvattings van reg en verkeerd. Hulle leer gewoonlik hierdie gewoontes by hulle ouers aan. Vanaf agt jaar tot omtrent elf vind daar verskeie veranderinge in die morele ontwikkeling van leerders plaas. Leerders ontwikkel op dié stadium die vermoë om die situasie waarin iets plaasvind in ag te neem wanneer hulle bepaal of iets reg of verkeerd is. Die portuurgroep speel ook ʼn groot rol by die beskouing van reg en verkeerd. Wat hul maats as reg sien, sal bepaal of leerders dit ook so sal sien.

Morele kwessies word dikwels in KJL aangeraak. Die karakters in boeke kom baie voor ʼn morele kwessie te staan waar hulle ʼn besluit moet neem en leerders ondersoek dan die redes vir die besluit. Indien volwassenes van leerders verwag om die besluitnemingsproses van karakters in die storie te verstaan, moet hulle as volwassenes die moeilikheidsgraad van die besluite in ag neem en besluit of die leerders die betrokke besluit kan waardeer of nie. Deur gebruik te maak van KJL kan morele waardes op ʼn gepaste manier aan leerders oorgedra word, veral in Suid-Afrika waar die morele waardes volgens Dunbar (2012) te kort skiet en dringend ontwikkel moet word. KJL kan op dié wyse die leemte in die morele waardes van ons jeug help opbou en verbeter, wat uiteindelik tot ʼn beter Suid-Afrika kan lei. Om die morele ontwikkeling van leerders te verstaan, kan daar in besonder gekyk word na Kohlberg se teorie van morele ontwikkeling (Kohlberg, 1973:641).

4.3.5.2.1 Kohlberg se teorie van morele ontwikkeling

Morele ontwikkeling is ʼn onderwerp wat baie belangstelling in die sielkunde en in die onderwys uitlok. Een van die bekendste teorieë oor morele ontwikkeling is dié van Kohlberg (Kohlberg, 1973:641) wat Jean Piaget se teorie om morele ontwikkeling en besluitneming te verduidelik aangepas en uitgebrei het. Kohlberg se teorie van morele ontwikkeling is gebaseer op Kohlberg se studie waarin jong leerders se besluitneming oor morele kwessies met behulp van onderhoude en waarnemings ondersoek is (Cherry, 2003; Kohlberg, 1973:641; Kohlberg & Hersh, 1977:53). Die doel van Kohlberg se studie was nie om te bepaal of leerders reg of verkeerd is wat betref morele besluite wat hulle neem nie, maar om die denke en besluitnemingsproses wat die leerders gebruik het om hulle keuse te maak te ondersoek. Vanuit die data wat verkry is, het Kohlberg die fases van besluitneming soos hieronder uiteengesit, geklassifiseer wanneer daar oor morele kwessies besin word (Kohlberg, 1973:630).

4.3.5.2.1.1 Fase een: Voorkonvensionele moraliteit

a) Gehoorsaamheid en straf

Die eerste vlak van morele ontwikkeling behels volgens Kohlberg (1973:630) gehoorsaamheid en straf. Hierdie stadium word veral by jonger leerders gesien. In hierdie fase van morele ontwikkeling sien leerders reëls as vas en hulle is oortuig dat hierdie reëls nie kan verander nie. Wanneer hulle dus die reëls nakom, sal hulle nie gestraf word nie, en daarom gehoorsaam leerders die reëls.

b) Individualiteit en verruiling

In hierdie fase van morele ontwikkeling sal leerders die individuele omstandighede van die persoon betrokke by die scenario in ag neem en daarvolgens oordeel hoe daar aan die individu se behoeftes voldoen kan

109

word. Wederkerigheid is moontlik in hierdie fase van morele ontwikkeling, maar slegs as dit aan die individu se behoeftes voldoen.

4.3.5.2.1.2 Fase twee: Konvensionele moraliteit

a) Interpersoonlike verhoudings

Volgens Kohlberg (1973:635) verwys hierdie fase na die “good boy-good girl”-fase. In hierdie fase van morele ontwikkeling word daar gefokus op die sosiale rolle wat van die individu verwag word. Daar word veral op konformiteit en om ‘oulik’ te wees gefokus. In dié fase sal interpersoonlike verhoudings die leerder se redenering oor morele kwessies beïnvloed.

b) Die handhawing van sosiale orde

In hierdie fase van morele ontwikkeling begin leerders om die gemeenskap as ʼn geheel in ag te neem wanneer hulle oor morele kwessies besin. Die leerders poog om die wet te onderhou en om die reëls na te kom deurdat elke leerder sy/haar plig doen en outoriteit respekteer.

4.3.5.2.1.3 Fase drie: Na-konvensionele moraliteit

a) Sosiale ooreenkomste en individuele regte

In hierdie fase van morele ontwikkeling begin leerders die verskillende waardes, opinies en oortuigings van ander mense in ag neem. Reëls en wette is belangrik om die gemeenskap te onderhou, maar lede van die gemeenskap besluit oor die standaarde.

b) Universele beginsels

Kohlberg (1973:637) se finale fase van morele ontwikkeling is gebaseer op universele etiese beginsels en abstrakte redenering. In hierdie fase sal leerders hulle eie interne beginsels van geregtigheid volg, selfs al is hierdie beginsels teenstrydig met die wette en reëls.

Dit is slegs ʼn kort beskrywing van Kohlberg se teorie van morele ontwikkeling om aan te dui deur watter fases leerders kan gaan wanneer hulle hulle eie morele waardes vorm. KJL kan gebruik word om leerders by te staan terwyl hulle hulle eie morele beginsels ontwikkel deurdat daar in dié boeke morele kwessies voorkom waarvoor die karakter te staan kom en die karakter moet ʼn morele besluit neem. Die besluit wat die karakter neem, kan die positiewe gevolge van ʼn goeie besluit aan leerders openbaar, maar kan in sommige gevalle leerders ook die negatiewe gevolge laat sien wanneer die karakter in die boek ʼn verkeerde morele besluit neem. Vervolgens word ʼn kort beskrywing gebied van die sosiale ontwikkelingsfase en die voorgestelde literatuur wat moontlik ʼn bydrae tot die sosiale ontwikkeling van die leerder kan lewer (sien Tabel 4.4).

110

Tabel 4.4: Sosiale en morele ontwikkeling

Ontwikkelingsfase Voorgestelde literatuur

Voorskools: 2 tot 3 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Leerders boots volwassenes se gedrag na soos hulle dit waarneem.

Ek’s lief vir hondjies Ek’s lief vir katjies In ʼn huis, in ʼn huis Toemaar Dirk!

Makwelane en die krokodil

2. Leerders sal alledaagse voorwerpe in kreatiewe voorwerpe wat hulle versin, verander.

Wie woon hier? Wie sê moe? Eerste 100 diere Eerste 100 woorde

Kielie my magie: Laat my praat Voorskools: 3 tot 4 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Leerders begin besef dat ander ook gevoelens het, net soos hulle.

Emma en die Bleg Babalela

2. Leerders geniet dit om saam met ander te speel en sterk bande te vorm.

Maar hy het dan meer as ek Drie hoera’s vir Denver

3. Leerders geniet sekere groepaktiwiteite. Stefan en die dinosourus-eiland! Moemin se verjaardag

4. Leerders identifiseer met ander se gevoelens en gesigsuitdrukkings.

Sonja Serfontein en die groot kaas Voorskools: 4 tot 5 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Leerders soek eerder ʼn kompromie vir emosies soos agtesie en worde te wees. Leerders van die ouderdom kan baasspelerig wees.

Aboretha, die heks met die groen hare Liewe Heksie

2. Leerders begin die gevolge van goeie en slegte gedrag besef.

Saamlees-stories vir kleuters Emma en die Bleg

3. Leerders speel nie graag alleen nie, maar begin op hulle eie werk.

Die eerste dag

Die avonture van Wilde Willemientjie

Die verdere avonture van Wilde Willemientjie

4. Leerders begin die verskillende take en/of rol wat iemand kan verrig, verstaan en waarneem.

Wat is jy, Kartoffel? Stoffel die ratel

5. Leerders het irrasionele vrese, soos ʼn vrees vir die donker, diere en die weerlig.

Zakkie Mostert en die (byna) baie briljante idee Zakkie Mostert en die super-aaklige soen Zakkie Mostert en die ongelooflike kulkunsie Voorskools: 5 tot 6 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Leerders hou daarvan om hulle ouers by die huis te help. Hulle ontwikkel betroubare gedrag.

Bessie Hemelbesem en oom Sak Sarel se testament

Bessie Hemelbesem en die skat van Smokkelaarsbaai

111

2. Leerders beskerm hulle jonger broers en susters en selfs ander kleiner leerders.

My boetie dink hy’s Batman ʼn Boetie vir Natasha

3. Leerders is trots op dit wat hulle bereik. Hulle is trots daarop dat hulle skool toe gaan en op hulle besittings.

Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood

Die speletjie

4. Leerders het steeds irrasionele vrese en angs.

Spinnekop-speletjie Al twee asvaal geskrik

En toe word mamma 'n monster Daar’s ’n spook in my kas!

5. Leerders geniet dit om buite te speel, op hulle gunsteling-buitespeelgoed.

Die beroemde ruiter Komaan, Karen! Vrye teuels

6. Leerders geniet dit om êrens heen te gaan. Jamie Sebastian en die storiemol

7. Leerders geniet dit om anders aan te trek en kreatiewe rolspel te beoefen.

Pasop vir die feetjies

Suzie se superdoeper sjampoe Vroeë grondslagfase: 6 tot 8 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Leerders kan hulle ouers teëgaan as hulle onder druk is en kom moeilik oor die weg met hulle jonger broers en susters.

Helouise die swart tobie Kaptein Hamerkophaai

2. Leerders geniet dit om met ander leerders te speel, maar wil graag eerste in alles wees.

Die speletjie

Sandra se seepresente

3. Leerders aanvaar onderwysers se prys en hulp. Hulle werk om hulle onderwysers gelukkig te hou.

Wielie wielie walie Projek boontjierank

4. Leerders geniet dit om stil te sit en luister wanneer stories aan hulle voorgelees word.

Storieman omnibus 1, 2,3 en 4

5. Leerders het definitiewe onveranderde opvattings van reg en verkeerd.

Die mooiste dierefabels Die lelike eendjie Die drie bokramme Die klein rooi hennetjie

Die dogtertjie wat nie wou grootword nie Die drie klein wolfies en die nare vet vark Die wolf wat outjie geskree het.

Middel- en laat grondslagfase: 8 tot 10 jaar - Moeiliker boeke kan voorgelees word

1. Die begrippe reg en verkeerd word meer buigsaam. Leerders neem die situasie in ag wanneer verkeerde besluite geneem word.

Die groot sagmoedige reus Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus Die avonture van Alice in Wonderland

2. Leerders word meer beïnvloed deur hulle portuurgroep.

Pippie Langkous

Pippie Langkous in die Suidsee Pippie Langkous gaan aan boord Baasspeurder Blomkvist in die knyp

3. Leerders dink dat hulle moet met ander saamstem om sosiaal aanvaarbaar te wees.

Huppel en sy maats Alice deur die spieël Vroeë adolessensie: 10 tot 12 jaar

112

van ras. Leerders sien die verskille, ooreenkomste en waarde van verskillende kulture.

ʼn Kas vol monsters Grille en goeters

2. Leerders wil take goed doen in plaas daarvan om net te probeer. Leerders wat met sekere take sukkel kan maklik voel hulle is ʼn mislukking.

Die avonture van Wilde Willemientjie

Die verdere avonture van Wilde Willemientjie

3. Leerders glo in geregtigheid en wil onvolmaaktheid uit hulle lewe verwyder.

Ek is Simon Hou vas seekoei

4. Portuurgroepe het ʼn baie groot invloed op leerders. Ouers se invloed neem af en die portuurgroep se invloed neem toe. Leerders kan hulle ouers dalk teëgaan.

Jakkalsvoël My pa

5. Leerders ontwikkel ʼn sterk assosiasie met geslag.

Die klein seuntjie en die drake Muisie my meisie

Feetjie-kookboek

6. Seuns en dogters aanvaar die identiteit van die ander geslag. Dogters, minder seuns, begin om die gedagte aan ʼn verhouding en trou as aanvaarbaar te beskou.

Liefde, Miskien

Liefde laat jou Rice Krispies anders proe Reënboogrant: Liefde in Londen

Adolessensie: 12 tot 14 jaar

1. Leerders besef dat mense verskillende emosies en doelstellings kan hê.

Lien se lankstaanskoene James en die reuse-perske

2. Leerders besef dat reëls help om orde te handhaaf.

Operasie M.I.A.A.U. Harry Potter-reeks

Hierdie tabel is saamgestel aan die hand van Bartel (1995), Gage en Berliner (1979), Hendrick (1996), Loban (1976), Norton en Norton (2011), Peck (2008) Sullivan (2009) en met oorlegpleging van Lona Gericke (Gericke, 2013) wat deur Everall en Quinoῆes (2013:121) as die kenner in Suid-Afrika ten opsigte van die keuse van boeke beskou word.

Buiten vir die taal-, kognitiewe, persoonlikheids- en sosiale ontwikkeling van leerders wat deur die keuse van boeke beïnvloed kan word, is daar ook ander faktore wat in ag geneem moet word, soos die toegang tot boeke en die moeilikheidsgraad en leesbaarheid van die boek.