• No results found

Implikasie van relevante teorieë vir die ontwikkeling van ʼn professionele-

HOOFSTUK 3: TEORIEË VAN BELANG VIR KINDER EN JEUGLITERATUUR

3.5 Implikasie van relevante teorieë vir die ontwikkeling van ʼn professionele-

Alhoewel daar verskeie teorieë bestaan, word die resepsie-estetika, kognitiewe paradigma en dinamiese sisteemteorie by die ontwikkeling van ʼn professioneleontwikkelingsprogram as belangrik beskou. Die resepsie-estetika en die opvatting van die verwagtingshorison is belangrik omdat onderwysers met hulle keuse van boeke die verwagtingshorison van die leerders vir wie boeke aanbeveel word of wanneer boeke in die klaskamer gebruik word, in ag moet neem. Dit is nodig dat leerders uitgedaag word om nuwe begrippe te ondersoek. Met leerders is die verwagtinghorison amper van groot waarde omdat dit nie net leerders se verwagtinghorison ten opsigte van die storie verskuif nie, maar ook hulle taal ontwikkel en uitbrei. Onderwysers moet die leerders in hulle klas ken, want wat vir een groep ʼn uitbreiding van hulle verwagtinghorison kan wees, sal dit nie noodwendig vir ʼn ander groep ook wees nie.

Die siening van oop plekke is ook belangrik wanneer daar na die soort boek wat in die klas gebruik word, gekyk word. In dié opsig kan prenteboeke veral van groot waarde wees. Leerders dink dikwels visueel en prente vertel dikwels ook ʼn storie en lei leerders in baie gevalle tot ʼn dieper betekenis. Prentjies in boeke laat oop plekke wat leerders verskillend op grond van hulle uiteenlopende agtergronde sal invul. Dit is belangrik om boeke te gebruik wat oop plekke het sodat leerders hulle eie interpretasie aan die verhaal kan heg. Boeke stimuleer leerders om op ʼn jong ouderdom krities te dink oor hoe hulle in dergelike situasies sou optree, of om die emosies van karakters te interpreteer. Leerders moet verder die geleentheid gegee word om ʼn verhaal op hulle tyd te interpreteer. Daar word te maklik wanneer ʼn boek in die klas gelees word, van leerders verwag om dadelik oor die boek te praat, of onderwysers bestee te min tyd aan ʼn bladsy met illustrasies. Leerders kry ook nie altyd die geleentheid om illustrasies te ondersoek en te interpreteer nie. Dit

90

is belangrik dat onderwysers die leesproses hier as ʼn nielineêre proses sal sien. Leerders moet die geleentheid gegee word om die prentjies te bekyk en weer te bekyk sodat hulle opinies kan vorm en daardie opinies kan verander sou hulle wil. Die boek kan selfs ʼn tweede keer vir die leerders gelees word omdat dit aan leerders die geleentheid gee om nuwe verbande wat hulle nie noodwendig die eerste keer raakgesien het nie, te lê.

Die kognitiewe paradigma dra by tot die ontwikkeling van professioneleontwikkelingsprogramme omdat onderwysers moet begryp dat lees in die eerste plek gaan om die betekenis wat leerders aan woorde heg. Dit gaan nie net om die interpretasie van die boek as ʼn geheel nie, maar met die ontwikkeling van die leerder se kognitiewe aspekte sal die betekenisgewing aan woorde ook beïnvloed word. Leerders se kognitiewe vermoë ontwikkel deurdat hulle die geheel van die teks ondersoek, maar ook die kleiner strukture soos taal- en literatuuraspekte. Leerders moet dus die geleentheid kry om KJL te ondersoek. Onderwysers hoef nie prominent op die interpretasie te fokus nie, maar moet vrae vra wat die leerders oor die kleiner strukture sal laat nadink. Hierdie vrae van die onderwyser plaas die leerder dadelik in ʼn posisie waar hy/sy kleiner strukture uit die teks moet uithaal en dit in sy eie gedagtes moet rekonstrueer ten einde die onderwyser se vrae te kan beantwoord. Die leerder ontwikkel sy eie begrip van die realiteit van daardie aspekte wat nie net sy/haar kognitiewe vermoë ontwikkel nie, maar ook sy/haar kreatiwiteit.

Leerders word deur die lae van interpretasie gelei deurdat hulle op hulle eie oor die boek en die illustrasies nadink. So betrek die leerder inligting van buite die boek om die beelde te vorm wat dan weer die leerder help om situasies vanuit sy/haar eie lewe te bevraagteken en te verwerk.

Die kognitiewe paradigma gee onderwysers verder die vermoë om te begryp dat KJL metakognitief is en dat die skrywer kommentaar lewer op die wêreld. Selfs leerders word beïnvloed deur die kommentaar wat hulle in boeke kry. As daar weer na Babalela gekyk word, kan daar aangevoer word dat die boek die sosiale implikasies van verplasing en afsondering belig. Hierdie kommentaar kan aan die leerder ʼn selfidentifiserende simbool verskaf wat die leerder help om die lewe en wêreld om hom/haar te verstaan. Onderwysers moet hulself die onderstaande vrae afvra:

1. Watter kognitiewe prosesse is betrokke wanneer ’n narratief begryp moet word, en watter modelle of wêrelde word deur die narratiewe teks in die leerder se gedagtes geskep?

2. Hoe gebruik leerders mediumspesifieke raamwerke om die basis van die verhaalgebeure te bou? 3. Op watter wyse kan literatuur die leerder tot nadenke dwing?

Indien onderwysers dié vrae kan beantwoord sal hulle kan insien dat leerders die narratief verbuig om hulle eie interpretasies van die onderskeie tekste te maak. Leerders sal verder met spesifieke karakters kan identifiseer omdat daardie karakters tot iets diepers in hulle spreek. Leerders sal in baie gevalle die emosies in die boeke kan interpreteer en sodoende hulle eie emosies kan verwerk. Leerders sal leer om tydruimtelike aspekte soos die volgorde van gebeure en die gevolge daarvan wat later in die verhaal plaasvind, te evalueer.

91

Die kognitiewe paradigma help onderwysers om ondersoek in te stel na die doel van die narratiewe spanning in die boek. Hierdie spanning sal leerders nuuskierig maak oor wat verder in die teks gebeur. By kinderliteratuur speel die omblaai-aksie veral in die opbou van spanning ʼn belangrike rol. Onderwysers moet begryp dat hulle spanning moet behou wanneer ʼn boek voorgelees word sodat leerders die kognitiewe proses van spanningsbou kan beleef.

Die kognitiewe paradigma kan bydra tot die leerders se begrip van eie identiteit. Leerders ontwikkel nog hulle identiteit en boeke kan hulle help om daardie identiteit raak te sien, te ontwikkel en te aanvaar. Dit kan aan onderwysers verder die vermoë gee om te begryp dat die identifisering van die storie en die narratiewe elemente vir leerders belangrik is. Illustrasies kan veral hier ʼn belangrike rol speel. Leerders kan gevra word om oor seker aspekte of hulle interpretasie van die storie, te teken. Dit kan moontlik aandui hoe die leerders die boek interpreteer.

Terwyl die resepsie-estetika en die kognitiewe paradigma op die leser fokus, kan DST aan onderwyser die totale prentjie van literatuur gee. Die hoofdoel van die insluiting van die DST by hierdie studie was om aan onderwysers te verduidelik dat hulle die leerder as ʼn individu moet beskou wat deur verskeie sisteme voortdurend verander word. Elke leerder, elke boek, elke skrywer sal verskillende uitkyke en interpretasies ontlok, omdat elkeen ʼn sisteem op sy eie is wat mekaar interaktief beïnvloed. Die onderwyser moet die lesende leerder as ʼn holistiese sisteem beskou wat deur die kleinste veranderlike gewysig kan word. Onderwysers moet daarop bedag wees, veral in die multikulturele omgewing van Suid-Afrika.

Bostaande teorieë kan soos volg grafies voorgestel word om die uitwerking van die sisteme wat ʼn rol speel by die leerder se interpretasie van ʼn boek, te verstaan (sien Figuur 3.4).

92

Figuur 3.3: Holistiese integrasie van relevante teorieë

Die onderwyser moet die leerder as individu sien wat deur sy/haar taal, agtergrond, kultuur, emosies, kognitiewe vermoë en verskeie ander elemente beïnvloed word. Die leerder word verder deur die teks en skrywer beïnvloed en word gedwing om sy/haar eie verwagtinghorison te verskuif of te verbreed algaande hy/sy meer lees. Verder stel kinder- en jeugliteratuur voordurend nuwe woordeskat aan die leerder bekend. Dit laat die leerder nadink oor die boek om sodoende dieper betekenis in die storie te ontgin.