• No results found

Die navorser stem saam met Fourie (2009:192) dat daar ʼn tekort aan fundamentele

navorsing is om die rol van die media, ook in die Suid-Afrikaanse landskap, te bepaal. Daar is ook gapings in literatuur rakende watter teoretiese raamwerk op ʼn praktiese vlak vir die Afrikaanse media werk. Truter (2005) voer aan dat daar in ʼn “brose demokrasie” soos Suid-Afrika, wat voortspruit uit outoritarisme, ernstige dispute oor die rol van die media is. Ondanks die algemeen aanvaarde perspektief dat die media ʼn sosiale verantwoordelikheid het, is daar diegene wat argumenteer dat die media eerder as ʼn onafhanklike waghond moet funksioneer (De Beer et al., 2015:35). Aan die ander kant word daar ook geargumenteer ten gunste van die ontwikkelingsteorie, waarvolgens joernaliste moet help om die demokrasie te bevorder (Truter, 2005).

Soos vroeër bespreek, het Rabe (2016) ook in haar studie, wat die huidige bedreigings van ʼn vrye media in Suid-Afrika ondersoek het, vanuit ʼn media historiografiese vertrekpunt gebruik gemaak van twee van die oorspronklike vier persmodelle, naamlik die libertynse en sosiale-verantwoordeliksteorieë. Sy het bevind dat dit gesamentlik gebruik kan word (Rabe, 2016). Dit word steeds beskou as die basiese vertrekpunte wanneer die rol van die media in ʼn vrye samelewing bestudeer word. Rabe (2016) het dan ook bevind dat mediavryheid steeds as fundamentele rol van die media beskou word:

48 Die twee gekose teorieë kan kortliks beskryf word as ʼn

samevloeiing van die begrip dat die media vry moet wees om ’n verskeidenheid van menings weer te gee, om as waghond te dien, dat elkeen die reg tot inligting het (hoofsaaklik die libertariese vertrekpunt) en dat die media professionele standaarde volgens ʼn gedragskode moet handhaaf met ’n sekere verantwoordbaarheid, maar vry van regeringsbeheer (hoofsaaklik die sosiaal-verantwoordelikheidsvertrekpunt) (Rabe, 2016:861).

Die navorser het ook in Hoofstuk 2 verwys na die studie van De Beer et al. (2016:48), wat die algemene siening, dat joernaliste hul rol uitsluitlik kan beleef as waghond of

ontwikkelingsjoernaliste, uitdaag. Dié navorsers argumenteer dat dit wel moontlik is dat die media beide rolle kan vervul (De Beer et al., 2016:48). Hierdie plaaslike studie dui op die potensiële nuwe tendens in die manier waarop Suid-Afrikaanse joernaliste hulle rol beskou: “Data-analise wys dat wanneer beide die rolle vergelyk word, dit duidelik is dat die

waghond- en die ontwikkelingsrol van die media statisties beduidend met mekaar verband hou (De Beer et al., 2016:48). Op dieselfde trant bevind Hanusch (2015:57) in sy studie rakende die media se rol in Fidji, dat joernalistiek op dié eilandgroep in die suidelike Stille Oseaan, baie soortgelyke kenmerke toon met Westerse joernalistiek en dieselfde ideale nastreef, maar ook tot ʼn groot mate georiënteerd is binne die raamwerk van

ontwikkelingsjoernalistiek. Volgens Hanusch (2015) is dit ʼn kenmerk wat al meer in ontwikkelende gemeenskappe gesien word: “ʼn Vergelyking met ses lande van die globale Suide wys dat ʼn kombinasie van modelle nie uniek is nie; ons argumenteer dat Westerse joernalistieke benaderings- en ontwikkelingsideale nie noodwendig wedersyds eksklusief is nie” (Hanusch, 2015:57). Hierdie studie stel ook ondersoek in na die mate waartoe

Afrikaanse joernaliste wat oor politiek verslag doen binne die ontwikkelingsraamwerk funksioneer en hoe hulle dit met ander normatiewe raamwerke kombineer.

3.6 Samevatting

49 hierdie studie soos volg opgesom: Afrikaanse joernaliste kan hul

sosiale-verantwoordelikheidsrol tydens beriggewing binne Suid-Afrika as jong demokrasie aanvul deur hulself as onafhanklike waarnemers en ondersteuners van ontwikkelingsdoelwitte te beskryf. Ten einde die rolbelewenis van Afrikaanse joernaliste te ondersoek maak die navorser dus staat op die kombinasie van drie normatiewe teorieë, naamlik die sosiale- verantwoordelikheidsteorie, libertynse teorie en die ontwikkelingsteorie teorie, ten einde vas te stel tot hoe ʼn mate hierdie raamwerke in isolasie en/of in kombinasie deur Afrikaanse joernaliste toegepas word.

50

Hoofstuk 4: Navorsingsmetodologie

4.1 Inleiding

Hierdie hoofstuk het ten doel om die metodologiese onderbou van die studie uiteen te sit. Die studie se algemene navorsingsvraag is in Hoofstuk 1 soos volg geformuleer:

Hoe beskryf Afrikaanse joernaliste wat oor politiek verslag doen by Netwerk24, Maroela Media, eNuus en KykNET Verslag hul rol en verantwoordelikhede binne Suid-Afrika as jong demokrasie?

Ten einde dié vraag te beantwoord, het die navorser van ʼn kwalitatiewe veldnavorsingsontwerp gebruik gemaak. Hierdie navorsingsontwerp en die

navorsingsmetodes wat as raamwerk vir die studie gebruik is om data in te samel en te ontleed, word bespreek. Daar word ook aandag geskenk aan die etiese oorwegings en beperkings van die studie.

Volgens Greeff (2011:341) lei die navorsingsdoelwit van die studie die navorser om die mees gepaste navorsingsmetode te kies. Du Plooy (2009:85) voeg by dat die

navorsingsontwerp die beplanning uiteensit vir die insameling en organisering van data om uiteindelik die navorsingsbevindinge te bekom. Verder beskryf Du Plooy (2009:85) die navorsingsontwerp as ʼn raamwerk waarvolgens ʼn navorser uiteensit wat nagevors is, wie daarby betrokke is, en waar en wanneer die studie plaasvind.

ʼn Navorsingsontwerp kan kwalitatief en/of kwantitatief van aard wees. Kwalitatiewe navorsing beskryf ʼn sosiale werklikheid, terwyl kwantitatiewe navorsing poog om

voorspelbare hipoteses te toets (Fouché & Delport, 2002:77). Fouché en Delport (2002:77) noem verder dat kwalitatiewe navorsing ʼn ondersoekende proses is wat gebaseer word op bepaalde metodes en riglyne ten einde ʼn spesifieke sosiale of menslike verskynsel in sy natuurlike konteks te verken.

Volgens Babbie en Mouton (2001:75) is kwalitatiewe navorsing konteksgebonde, wat beteken dat die verskynsel in die konteks waarin dit voorkom, bestudeer word. In hierdie

51 geval is ʼn kwalitatiewe benadering gepas aangesien die studie, wat hoofsaaklik

ondersoekend van aard is, ʼn verskynsel (Afrikaanse joernaliste wat oor politiek verslag doen) bestudeer in die konteks waarin dit voorkom (die Afrikaanse medialandskap).