• No results found

Die navorser het aanvanklik beplan om al die groot Afrikaanse nuusorganisasies in die studie in te sluit, wat die openbare uitsaaier, die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse

Uitsaaikoöperasie (SAUK), insluit. Die redaksie wat verantwoordelik is vir Afrikaanse nuus by die SAUK het egter nie op veelvuldige versoeke om deel te wees van die studie

60 Afrikaanse nuusbedryf weens dié instelling se lang geskiedenis. Die data sou ook vergelyk kon word met die ander vier nuus-organisasies, wat heelwat jonger is en privaat bedryf word. Dit kan egter in ʼn opvolgstudie gedoen word waar die resultate van dié huidige studie met die SAUK vergelyk kan word.

Die navorser sou wel kon argumenteer dat die navorsingsdoelwit beter ondersoek kon word sonder die insette van die SAUK, omrede die vier nuusorganisasies wat ingestem het om aan die studie deel te neem, naamlik die aanlyn-nuuskantore (Netwerk24 en Maroela Media), sowel as televisienuuskantore (KykNET Verslag en eNuus), almal in die private sektor is en al vier tot stand gekom het in die nuwe demokrasie (almal in die afgelope sewe jaar). Die navorser is egter van mening dat die relatiewe jong organisasies in privaatbeheer ʼn goeie insig kon gee in die huidige belewenis van Afrikaanse joernaliste se rolpersepsies. Die nuus-organisasies het nie ten tye van die apartheid-bedeling verslag gedoen nie en kon nuwe kennis en inligting rakende verslaggewing in die nuwe demokrasie deel. Die

organisasies het ook ʼn wye verskeidenheid joernaliste waaruit die navorser deelnemers kon selekteer, met die wete dat almal nie sou instem om deel van die studie te wees nie.

Van die 25 joernaliste wat geïdentifiseer is om aan die studie deel te neem, het 20 ingestem dat die navorser met hulle onderhoude voer. Vyf van die deelnemers wat aanvanklik geselekteer is, wou nie deel wees van die studie nie, hoofsaaklik as gevolg van werksdruk en dat dit tydrowend sou wees. Daarna het die proses begin om die in-persoon onderhoude met die oorblywende 20 joernaliste te reël.

Dit was ook moeilik om gepaste tye te skeduleer vir die in-persoon onderhoude, aangesien die navorser ʼn tydperk van drie maande beskikbaar gestel het om data in te samel ( Mei 2017 tot Julie 2017). Dit is egter gevind dat dit genoegsame tyd was om goeie onderhoude met omvangryke inhoud in te samel.

Ten spyte van beplanning was dit tog nie maklik om onderhoude te reël tussen

Johannesburg en Kaapstad nie en kon drie van die 20 deelnemers nie tyd in hul skedule afstaan vir die onderhoude nie. Van die 20 onderhoude wat dus beplan is, het 17 gerealiseer.

61 Dit was volgens die navorser steeds ʼn goeie steekproef om verteenwoordigend van die populasie te wees. Die Afrikaanse nuusmedia wat oor politiek verslag doen, is op sigself ʼn relatiewe klein groep. Die navorser is van mening dat die 17 onderhoude genoegsaam is omrede die deelnemers, namate die navorsing verloop het, geen nuwe inligting meer

bygevoeg het nie en ʼn versadigingspunt bereik is. Volgens Greeff (De Vos et al., 2011:294) is die versadigingspunt tydens semi-gestruktureerde onderhoudvoering “die punt waar die navorser besef dat inligting vanuit die onderhoude begin herhaal”.

Die navorser was ook aanvanklik van plan om al die deelnemers in-persoon te ontmoet, maar weens tydsbeperkings en deelnemers se werkskedules moes vier van die 17

onderhoude wat gerealiseer het, per e-pos uitgevoer word. Dit het die buigsaamheid van die semi-gestruktureerde onderhoude beperk, maar die navorser het opvolgvrae per e-pos gestuur en het baie deeglike antwoorde op al die vrae bekom.

4.7 Samevatting

Die navorser het in die voorafgaande hoofstuk die navorsingsmetodologie wat in die

kwalitatiewe veldnavorsingstudie gebruik is, bespreek. Semi-gestruktureerde onderhoude is as data-insamelingstegniek gebruik en die navorser het die data ontleed deur middel van tematiese analise. Die etiese kwessies wat die navorser in ag geneem het, is ook bespreek, sowel as die tekortkominge en beperkings wat die navorser in die uitvoer van die studie ervaar het. Vervolgens word die data wat ingesamel is om die navorsingsdoelwit te bereik, aangebied en ontleed.

62

Hoofstuk 5: Bespreking van bevindinge

5.1 Inleiding

Soos reeds bespreek, het die navorser ʼn kwalitatiewe navorsingsbenadering gevolg. Data is ingesamel deur individuele semi-gestruktureerde onderhoude ten einde uiteindelik die navorsingsvraag van die studie te kan beantwoord.

Tydens die onderhoude is verskeie temas aangeraak rakende etiek en die rolpersepsie wat verband hou met politieke verslaggewing. Die vrae wat in die semi-gestrukureerde vraelyste vervat is, sluit in watter etiese kode of raamwerk die deelnemer volg en watter etiese

beginsels die deelnemer die belangrikste ag in terme van politieke verslaggewing. Om te bepaal of Afrikaanse politieke joernaliste meer neig na die waghond-rol of die rol van ontwikkelingsjoernalis, is vrae ook gefokus op hulle rolpersepsie met betrekking tot die regering. Die navorser het deurentyd daarop gefokus om vas te stel wat die deelnemers as hul belangrikste doelwit beskou wanneer daar oor politiek verslag gedoen word. Ten einde die rolpersepsie vas te stel, het die navorser ook vrae gevra oor die Afrikaanse media se nalatenskap (as sogenaamde “witbroodjies van die apartheidsregime”) en of dit ʼn impak op deelnemers se daaglikse verslaggewing het en dus hul rolpersepsie beïnvloed. Die volledige vraelys is aangeheg as Addendum E.

Ten einde die data te ontleed, het die navorser gebruik gemaak van tematiese analise. Volgens Engelbrecht (2016:120) word tematiese analise beskou as ’n instrument om data te analiseer eerder as ’n spesifieke navorsingsbenadering. Die navorser het die stappe van tematiese analise gevolg soos deur Engelbrecht (2016:121) uiteengesit: bekend raak met data, skep van aanvanklike kodes, soek na temas, hersien temas, verfyn en benoem temas en laastens, lewer verslag.

Soos bespreek in Hoofstuk 4, het die navorser deeglik bekend geraak met die data terwyl sy die antwoorde getranskribeer het. Tydens die transkribering is soveel moontlike temas en inligting as moontlik gekodeer deur die ooreenkomste met verskillende kleure te merk, totdat daar uiteindelik temas ontwikkel is. Volgens Babbie en Mouton (2001:75) word die

63 data tydens die koderingsfase in hanteerbare temas afgebreek ten einde “patrone, temas, tendense en verhoudings” te identifiseer. Die navorser het die geïdentifiseerde kodes, die literatuuroorsig en die temas wat geïdentifiseer is sowel as die teoretiese raamwerk en navorsingsvrae in ag geneem tydens die ontwikkeling van spesifieke temas wat in die hoofstuk bespreek word.

Nadat die spesifieke temas geïdentifiseer is, is die hooftemas en subtemas benoem. Die laaste stap in die tematiese kodering is om verslag te lewer. Engelbrecht (2016) brei uit: “Tydens die analise sal daar retrospektief besin moet word oor elke tema, en die data sal georganiseer word totdat dit ʼn gedetailleerde analise is wat konsekwente verslag lewer omtrent dit wat elke tema vertel” (Engelbrecht, 2016:122). Hierdie hoofstuk bied die samehangende narratief wat Engelbrecht (2016) beskryf as om die “oorkoepelende storie wat die data vertel, weer te gee”.