• No results found

Samevatting van bevindings en bespreking 1 SWOT-analise

HOOFSTUK 3: SAMEVATTING, GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELING

3.2. Samevatting van bevindings en bespreking 1 SWOT-analise

Die doel van die SWOT-analise was om aan die leser te toon wat die boerbokmark tans behels, sowel as om uit te wys dat die boerbok vir meer as net blote finansiële redes gesog is. Die sterkpunte en swakpunte is in Hoofstuk 2 (bl. 30) bespreek en die boerbok se groot voordeel is dat die meeste van die sterkpunte inherent aan die spesie is en nie aan die boerbokbedryf nie. Die talle geleenthede wat bestaan vir die boerbok dui op ‟n moontlike blink toekoms vir die bedryf, mits al die bedreigings deeglik bestuur word.

Die SWOT-analise het positiewe (sterkpunte en geleenthede) sowel as negatiewe (swakpunte en bedreigings) aspekte ten opsigte van boerbokboerdery geïdentifiseer. Alhoewel daar meer positiewe as negatiewe aspekte is, moet dit met groot omsigtigheid hanteer word, aangesien geen meting gedoen is om die substansie daarvan te bepaal nie. Die SWOT-analise het bewys dat boerbokboerdery ʼn groeiende mark in die rooivleisbedryf het. Dit het ook uitgewys dat daar verskeie faktore in die boerbokspesie opgesluit is wat hom in staat stel om werklik winsgewend te wees, sowel as baie gewild te maak in die rooivleisproduksie-wêreld. Alhoewel die SWOT- analise aangedui het dat die boerbokmark aan die groei is, is dit die finansiële vergelyking waar die kruks van die studie in opgesluit lê.

3.2.2 Finansiële analise

Die doel van finansiële analise is om die leser duidelikheid te gee oor wat finansieel die beste opsie is, of hoe ʼn spesifieke opsie/produk presteer. Deur die scenario‟s (Hoofstuk 2, bl. 39) wat

bestudeer is, was dit moontlik om finansiële analise op elkeen toe te pas. Dus kan die leser vanuit die inligting verkry uit die analises sekere gevolgtrekkings maak en sodoende besluite neem.

Die doel van die studie as geheel is om die lewensvatbaarheid van boerbokboerdery te bepaal. Aangesien boerdery ʼn volwaardige besigheid is, is dit belangrik om te bepaal hoe hierdie besigheid finansieel sal vaar. Indien die analise daarop dui dat die boerbokboerdery geensins finansieel voordeel inhou nie, sal dit dan gesien kan word as ʼn boerderykeuse waar die boer sentiment heg aan die spesie en nie so seer hulle aanhou as gevolg van ʼn besigheidsbesluit nie.

Vanuit die bevindinge van die analises is die gevolgtrekking dat dié bokke oor die algemeen beter finansieel presteer, gevolg deur skape. Dit is egter belangrik om in ag te neem of korttermyn -of langtermynprestasies of risiko die belangrikste aanduider vir die gebruiker is, aangesien dit ‟n invloed op sy keuse van spesie kan hê.

3.3 Aanbevelings

Vanuit die gevolgtrekkings soos gemaak in Hoofstuk 2 (bl. 43) en hierbo kan die volgende aanbevelings geformuleer word:

 Indien die gebruiker ʼn belegging verkies waar finansiële prestasie die belangrikste oorwegingsfaktor is, is boerbokke die spesie om mee te boer, gevolg deur skape.

 Indien die gebruiker ʼn belegging verkies waar kapitaalinvesteringsevaluerings die belangrikste oorwegingsfaktor is, is boerbokke die spesie om mee te boer, gevolg deur skape.

 Indien die gebruiker ʼn belegging verkies waar die mate van risiko die belangrikste oorwegingsfaktor is, is beeste die spesie om mee te boer, gevolg deur boerbokke.

 Indien die gebruiker oor min kapitaal beskik (R200 000), is skape die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur boerbokke.

 Indien die gebruiker oor gemiddelde kapitaal beskik (R500 000), is boerbokke die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur skape.

 Indien die gebruiker oor baie kapitaal beskik (R900 000), is boerbokke die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur beeste.

 Indien die gebruiker oor ʼn klein grondgebied beskik (200 ha), is boerbokke die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur beeste.

 Indien die gebruiker oor ʼn gemiddelde grondgebied beskik (500 ha), is boerbokke die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur skape.

 Indien die gebruiker oor ʼn groot grondgebied beskik (900 ha), is boerbokke die spesie wat oor die algemeen finansieel die beste presteer, gevolg deur skape.

Alhoewel daar verskeie faktore is wat ʼn groot rol in die boerbedryf speel, is dit redelik voor die hand liggend dat kommersiële boerbokboerdery ekonomies meer lewensvatbaar as ander rooivleis-boerderye in die Potchefstroom-omgewing is. Dit is egter belangrik om steeds elke unieke situasie te toets alvorens ʼn klinkklare besluit geneem word. Indien berekeninge nie moontlik is nie, kan die aanbeveling as waar aanvaar word, aangesien dit die gemiddelde weerspieëling van die vergelykende studie is.

3.4 Navorsingsleemtes

Tydens die studie is gevind dat daar oor die algemeen baie min inligting oor boerbokke, in vergelyking met beeste en skape, bestaan. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die mark eers onlangs begin groei het en dat die ras nog nie so oud soos die meeste van die skaap- of beesrasse is nie. Boerbokboerderye oor die algemeen is ook nie so volop nie. Soos wat die mark groei, sal daar al meer vergelykende studies ontstaan vanweë die vrae wat in die mark sal ontstaan.

Daar is baie min finansiële inligting beskikbaar oor boerbokke en amper geen vergelykende finansiële inligting met beeste en/of skape nie. Alhoewel individue oor finansiële inligting beskik, is dit inligting wat slegs van toepassing op ʼn spesifieke boerdery en praktyke is. Inligting rakende ʼn algemene gemiddeld vir ʼn streek is skaars – indien dit enigsins bestaan. Die

boerbokmark, oor die algemeen, laat dus ʼn groot ruimte vir navorsing en verdere indiepte studies oor die ras en nog vergelykende studies met ander spesies of rasse.

Die daarstelling van finansiële sowel as bedryfsinligting speel ʼn kritieke rol in die vestiging en groei van die betrokke mark. Boere wil ingeligte besluite neem en betroubare en akkurate inligting sal die basis vir so ‟n besluit vorm. Indien sulke inligting nie geredelik bekom kan word nie, kan dit potensiële boere afskrik, aangesien ʼn goeie strategiese besluit nie geneem kan word nie.

Die prestasie van boerbokke op verskillende aanwendingsterreine kan ook nog finansieel met mekaar vergelyk word om perspektief te gee aan watter soort boerdery die beste strategiese besluit sal wees. Voorbeelde van sulke studies kan wees die vergelyking van intensiewe en ekstensiewe boerderye, of die voer van boerbokke in ʼn kraalopset vergeleke met aangeplante weiding. Hoe meer opsies en moontlikhede ondersoek word, hoe meer vrae aangaande die groeiende mark en moontlik bydrae tot die toetrede van al meer boere sal beantwoord kan word.

3.5 Wetenskaplikheid

Die navorsingsmetodologie wat gevolg is, kan duidelik uiteengesit en bewys word. Dit is ʼn proses van individuele stappe, wat nie los van mekaar gesien kan word nie (PU vir CHO, 1995:39-41).

1. Probleemdefiniëring:

Dié aspek is in Hoofstuk 1 (bl. 2-4) aangeraak waar die probleem wat ondersoek gaan word, uitgewys is.

2. Formulering van ʼn hipotese :

Die probleem wat gedefinieer is, is in Hoofstuk 1 (bl. 5) in ʼn verklaring omskep. Deur die loop van die studie word die hipotese getoets deur ʼn ontleding van die boerbokmark sowel as die finansiële analises wat op die gevallestudies gedoen is. Die resultaat van die toetse word in die bylaag van hoofstuk 3 (p 61 – 88) uiteengesit.

3. Versameling en sortering van gegewens:

Dit is hoofsaaklik deur middel van ʼn SWOT-analise en verskeie finansiële analises in Hoofstuk 2 gedoen. (Kyk ook Bylaag, bl. 61 in die verband.)

4. Verwerking van die gegewens:

Dit is die fase waar die studie ʼn hoogtepunt bereik en waar die gegewens krities en weldeurdag verwerk word. In Hoofstukke 2 en 3 word hierdie fase hanteer. Al die vorige stappe word hier byeengebring om ʼn resultaat te bewerkstellig.