• No results found

Egskeiding word vanuit die maatskaplikewerk perspektief beskou as `n vorm van verlies met verreikende gevolge vir die betrokke gesinslede. Die betrokke partye ontvang hoofsaaklik dienste van regslui en blootstelling aan berading en/of terapeutiese dienste vind net plaas wanneer ernstige psigo-sosiale probleme manifesteer. Die beskikbaarheid van sodanige dienste en die koste daaraan verbonde dra verder by tot `n gebrek aan gekoördineerde dienste wat op die behoeftes van die betrokke gesinslede in egskeidingsituasies gefokus is. Daar bestaan derhalwe `n behoefte aan `n omvattende maatskaplikewerkintervensie wat holisties op alle maatskaplike aspekte van die gesin in `n egskeidingsituasie afgestem is. Dit is verder ook nodig om indikatore te bepaal vir sodanige maatskaplikewerkprogram wat wetenskaplik-gefundeerd is.

Die navorsingsprobleem wat die studie rig, is om vanuit die sosiaal konstruksionistiese epistemologie `n analise te doen na die betekenisgewing en werklikheidskonstruerings van gesinslede aan hul egskeidingsituasie, en die implikasies daarvan vir wetenskaplik-gefundeerde maatskaplikewerkdienslewering aan gesinne in egskeidingsituasies. Primêre en sekondêre doelstellings word aangedui om doelbereiking binne die studie te verseker. Die betrekking en bemagtiging van individue en groepe wat deur egskeidingsituasies geraak word, word deurgaans nagestreef, en in die verband word deelnemende-aksienavorsing asook die narratiewe werkswyse tydens die empiriese fase van die studie benut. Die sosiaal

konstruksionisme vorm die konseptuele raamwerk wat deurgaans tydens die studie benut word as grondslag. Die kwalitatiewe navorsingsmetode rig die studie. Daar word gepoog om persone wat deur egskeiding geraak word kollektief en aktief betrokke te maak by die empiriese fase van die studie met die doel om data te bekom vir die ontwikkeling van indikatore vir `n maatskaplikewerkhulpverleningsprogram vir gesinne in egskeidingsituasies. Die aanvanklike deelnemers betrek weer ander persone wat dan ook moontlik aan die navorsing kan deelneem in ooreenstemming met die deelnemende-aksienavorsingproses wat benut word.

Die empiriese gedeelte van die studie word beperk tot die stedelike gemeenskap van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Moreleta Park in Pretoria. Die empiriese fase word beperk oor `n tydperk van twaalf maande.

Die relevantste begrippe wat betrekking het op die studie te wete, egskeiding, maatskaplike werk, narratiewe werkskwyse, sosiaal konstruksionisme en kwalitatiewe navorsing word bespreek in die eerste hoofstuk sodat duidelike begrip ten opsigte van die navorsingstudie verseker kan word. Die oorhoofse indeling van die navorsingsverslag verseker dat die verloop van die studie maklik en logies gevolg kan word.

HOOFSTUK 2 

DIE SOSIAAL KONSTRUKSIONISME

Met die hoofstuk word gepoog om `n uiteensetting te gee van die teoretiese onderbou, beginsels en uitgangspunte van die Sosiaal Konstruksionisme wat die teoretiese raamwerk vorm wat die studie rig.

Volgens Dill (1996:163) het daar die afgelope dekades groot omwentelinge plaasgevind in die terapeutiese denkoriëntasie. So is die individu-georiënteerde benadering tot terapie, onder andere, al hoe meer bevraagteken ten gunste van `n meer sisteem-georiënteerde benadering of `n post-modernistiese terapeutiese benadering. Die post-modernisme fokus onder andere op die belangrikheid van dialoog, meervoudige persektiewe en selfonthulling terwyl die klem verder op die proses eerder as op die doelwitte van terapie gerig is. Verder word die individu binne die konteks van sosiale betekenis beskou, en gesinne word beskou as betekenis genererende- en probleem organiseerde sisteme, waar probleme gemedieer word deur taal (McNamee en Gergen 1992:69). Ten einde met mekaar in interaksie te tree is dit derhalwe noodsaaklik om taal te gebruik. Interaksie tussen mense geskied onder andere by wyse van taal, terwyl taal ook simbole verskaf om waarnemings te beskryf en betekenis aan situasies te gee. Deur taal gee die mens uitdrukking aan die betekenis wat hy aan bepaalde voorwerpe of gebeure gegee het. In wese kan taal dus as die verf beskou word waarmee die werklikheid geteken word (Anderson en Goolishian 1988:377).

Die sosiaal kontruksionisme, wat een van die epistemologieë van die post- modernisme vorm, gaan van die standpunt uit dat idees, konsepte en gedagtes gevorm word vanuit sosiale interaksie en voortdurende onderlinge kommunikasie. Die individu sal dan langs hierdie weg `n gewaarwording van identiteit vorm (Mc Namee en Gergen 1992:8). Hieruit kan ons aflei dat `n individu bepaalde betekenis, interpretasies en aannames oor homself, ander en die wêreld vorm aan die hand van

interaksies. So kan ons dink aan `n voorbeeld waar `n gedragswetenskaplike `n bepaalde gedrag waarneem by een van sy kliënte, dit met kollegas bespreek en dan later spesifieke betekenis aan die gedrag gee. Hy sou selfs later in oorleg met sy kollegas bepaalde terminologie kan ontwikkel om die “nuwe werklikheid” te beskryf.

Die sosiaal konstruksionisme beskou die terapeutiese gesprekvoering as `n onderlinge gesprekvoering waarin `n gesamentlike soeke na begrip vir, en ondersoek na, probleme bestaan. Die terapeutiese proses dui op `n gesamentlike betrokkenheid van die partye in die skepping van nuwe betekenis en nuwe realiteite of stories. Die terapeut se rol binne die konteks van die sosiaal konstruksionisme, bestaan daaruit om onder meer ruimte te skep vir onderlinge kommunikasie en sodoende groeiende dialoog te bewerkstellig binne die terapeutiese verhouding. Die klem val dus nie daarop om verandering te bewerkstellig nie, maar ruimte vir kommunikasie te skep (McNamee en Gergen 1992:29). Met meer ruimte vir kommunikasie word daar dan geleentheid geskep vir interaktiewe prosesse waardeur nuwe werklikheidskonstruerings ontstaan. Hierdie nuwe werklikheidskonstruerings skep weer moontlikhede vir verandering en die oplossing van probleme.

Van dié uitgangspunt van die sosiaal konstruksionisme word die gesinslede wat midde-in `n egskeidings situasie verkeer, binne die konteks van die breër gesinsisteem en ander uitgebreide sisteme beskou. Die gesinsisteem asook die uitgebreide sisteme waarvan die gesin deel is, vorm dan die sosiale milieu waarbinne interaksie plaasvind en gevolglik ook die ontwikkeling van unieke werklikheidkonstruerings. Alle hulpbronne en hulpverleners, byvoorbeeld die maatskaplike werker, vorm deel van die gesin se uitgebreide sisteem en is as sulks ook deel van die interaksieprosesse waarby die gesin betrokke is. Dit is dan juis deur middel van hierdie interaktiewe prosesse dat daar vir gesinne in egskeidingsituasies die geleentheid geskep word om probleem- gedomineerde konstruksies te vervang met alternatiewe konstruksies wat onder andere hoop en die oplossing van probleme insluit.

Ten einde die uitgangspunte van die sosiaal konstruksionisme na behore te kan verstaan is dit nodig om die ontstaan daarvan, na aanleiding van ander teoretiese raamwerke wat `n grondslag daarvoor gelê het, uiteen te sit.

2.1 TEORETIESE RAAMWERKE WAT `N ONDERBOU VORM TOT DIE SOSIAAL KONSTRUKSIONISME

Die sosiaal konstruksionisme kan volgens Shaw (1996:177) as `n verdere uitbreiding van die konstruktiwisme gesien word. Beide die konstruktiwisme en sosiaal konstruksionisme is deel van die post-modernistiese epistemologieë en huldig as sulks ooreenstemmende uitgangspunte. Die vernaamste uitgangspunt is dat die werklikheid gekonstrueer word en nie ondersoek word nie. (Vgl. Boyd 1991:775 en Von Glasersfeld 1995:1.)

Ten einde die sosiaal konstruksionisme te begryp, is dit nodig dat enkele hoofbeginsels en uitgangspunte van die konstruktiwisme kortliks aangedui word. Du Plessis (2000:56–76) identifiseer drie teoretici, naamlik Muturana, Von Glasersfeld en Kelly as grondleggers van die konstruktiwisme. Hulle werk verteenwoordig die struktuurdeterminisme (Maturana), die radikaal konstruktiwisme (Von Glasersfeld), en die persoonlikheidskonstrukte teorie (Kelly). Maturana en Kelly dui aan hoe interne komponente soos die strukturele samestelling van die individu asook sy kognitiewe konstrukte `n bepalende invloed uitoefen in die konstruering van sy werklikheid. In Von Glasersfeld se uiteensetting van die radikaal konstruktiwisme fokus hy veral op die rol van ervaring en meegaande kognitiewe prosesse in die ontwikkeling van werklikheidskonstruksies (Du Plessis 2000:56).

2.1.1 Maturana se Struktuurdeterminisme

Maturana se struktuurdetermisme kan op grond van die volgende uitgangspunte omskryf word:

2.1.1.1 Lewende sisteme is struktuurbepalend

Volgens Efran en Lukens (1985:24) word enige lewende organisme of sisteem se gedrag of optrede bepaal deur sy interne strukturele samestelling. Hierdie unieke totale interne "bou" wat die lewende sisteme se reaksies en optredes bepaal kan, onder andere, die senuweestelsel asook kognisie insluit. Derhalwe word aanvaar dat verskillende lewende organismes vanweë hul unieke samestelling verskillend in dieselfde situasie mag reageer.

Hierdie denkraamwerk bied wel ruimte daarvoor dat die omgewing eksterne stimuli kan verskaf wat dan ook reaksie by lewende sisteme kan veroorsaak, maar die bepalende faktor in die bepaling van die reaksie, bly steeds die interne samestelling en prosesse van die sisteem (Leyland 1988:358-359).

2.1.1.2 Reaksie op stimilu in ooreenstemming met "autopoiesis"

Leyland (1988:360) verduidelik die konsep "autopoiesis" binne die raamwerk van Maturana se struktuurdetermisme as die interne organisasieproses waarvolgens reaksie op stimuli plaasvind. Die "auto" verwys na die self en die "poiesis" na produksie of skepping. Die konsep kom daarop neer dat waarneming van eksterne stimuli deur verskillende sintuie geskied, waarna dit deur middel van die senustelsel aan die brein bekend gestel word. Hierdie proses het weer `n verbinding met die kognitiewe proses van vertolking, persepsievorming en verwerking waaruit `n reaksie voortgebring word in die vorm van bepaalde gedrag of optrede. In ooreenstemming met die struktuurdeterminisme is dit van belang dat die eksterne stimilu as "sneller" bestempel word wat die konsep van “autopoiesis” aan die gang sit (Leyland 1988:359).

Verder is enige lewende sisteem, in ooreenstemming met Maturana se struktuurdeterminisme "autopoiesis" en dus struktureel bepalend. Daarmee word bedoel dat die oorhoofse organisasie van `n lewende sisteem in stand gehou word deur die sirkulêre proses van konstante selfverwysing. Die verandering wat lewende sisteme ondergaan word ook in ooreenstemming met die struktuurdeteminisme bepaal deur die sisteem se eie organisasie en struktuur (Leyland 1988:360). Verskillende

individue gaan dus verskillend reageer op dieselfde situasie, hoofsaaklik weens hierdie unieke interne interaksieproses wat die individue se werklikheidskonstruerings tot gevolg het.

2.1.1.3 Koppeling of verwantskappe tussen verskillende lewende komponente "coupling"

Die struktuurdeterminisme van Maturana maak wel voorsiening daarvoor dat interaksie tussen eksterne sisteme plaasvind, maar dui aan dat reaksie op die interaksie bepaal word deur die spesifieke sisteem se unieke organisasie. In die verband word die term "coupling" gebruik wat verwys na koppeling of verwantskappe wat tussen verskillende lewende komponente lei tot die vorming van interaksionele sisteme soos byvoorbeeld die gesin. (Vgl. Efran en Lukens 1985:25.) Leyland (1988:361-362) beskryf die term "structural coupling" binne die struktuurdeterminisme as die verhouding tussen `n struktureel bepaalde sisteem en die miIieu waarbinne dit bestaan. Vir die sisteem om te kan voortbestaan as `n lewende "autopoiesis" entiteit is dit noodsaaklik om gekoppel te wees met sy milieu. Die strukturele koppeling vorm dan ook die basis van alle menslike en dierlike interaksionele sisteme. Hoe meer kompleks die organisme is hoe, meer "plasties" sal dit wees, wat daarop dui dat die sisteem voortdurend kan verander op grond van interaksie met die self, die omgewing en ander sisteme. Derhalwe sal enige strukturele “plastiese” sisteem met die omgewing gekoppel word. Hierdie strukturele koppeling tussen sisteme is `n gevolg van interaksie en daar sal ook `n toename in koppeling wees indien daar `n toename in interaksie tussen die sisteme is.

Leyland (1988:362) dui aan dat waar daar interpersoonlike interaksie plaasvind tussen verskillende individue, die interaksie dan wel `n invloed op die reaksie of gedragsuiting van die individu sal hê. In ooreenstemming met Maturana se struktuurdeterminisme sal die interaksieproses tussen sisteme `n verandering in die interne struktuur van die sisteme tot gevolg hê, wat dan weer verandering in die gedrag van die sisteem tot gevolg kan hê. Volgens Efran en Lukens (1985:24) vind daar ook voortdurende wisselwerking plaas tussen die omgewing waarin die mens hom/haar bevind en sy/haar interne interaksieprosesse.

Voortdurende responsveranderinge sal dan ook plaasvind na aanleiding van veranderings in die eksterne omgewing sodat daar tot die gevolgtrekking gekom kan word dat daar `n noue verband bestaan tussen die gedragsrespons en die totale omgewing waarin die persoon leef. Die mens gee uitdrukking aan sy betekenis van die omgewing deur middel van taal nadat hy dit waargeneem het en bepaalde betekenis daaraan geheg het na aanleiding van sy/haar eie unieke interne kognitiewe prosesse. In ooreenstemming met die struktuurdeterminisme word die oortuiging gehandhaaf dat die gebruik van taal `n fundamentele karaktertrek van menswees is. Taal ontwikkel uit strukturele koppeling en lei tot die daarstelling van `n area waaroor die belanghebbendes saamstem. Daar bestaan byvoorbeeld konsensus oor wat die woord "stoel" beteken of na verwys. Verder word taal as betekenisgewend beskou in ooreenstemming met die struktuurdeterminisme, maar tog dat dit bloot `n voorstel gee en nie werklik aanduidend van aard is nie (Leyland 1988:362-363).

Weens elke individu se unieke sintuiglike waarneming van sy omgewing en die gebeure in sy omgewing en meegaande betekenisgewing, onstaan elke mens se eie verskeidenheid unieke werklikheidskonstruksies. Gevolglik is daar nie net een ware objektiewe werklikheid nie, en dus ook nie `n objektiewe beskrywing van enige gesin of gemeenskap nie, maar slegs subjektiewe konstruerings (Du Plessis 2000:62).

Maturana se struktuurdeterminisme kom dus daarop neer dat die mens se gedrag bepaal word deur sy/haar unieke interne struktuur en prosesse, waarvolgens inligting verwerk word en betekenis geheg word. Van belang is ook Maturana se vermelding van die vorming van sogenaamde "interaksionele sisteme" waarvan die gesin `n voorbeeld is, en die invloed wat hierdie interpersoonlike reaksies weer sal hê in die proses van betekenisgewing. `n Verdere belangrike implikasie vanuit hierdie denkraamwerk is ook dat geen objektiewe beskrywing van `n individu of sisteem derhalwe moontlik is nie, maar slegs subjektiewe konstruerings.

2.1.2 Kelly se Persoonlikheidskonstrukte-teorie

Kelly se persoonlikheidskonstrukte-teorie kom daarop neer dat kennis gekonstrueer word deur individue en nie slegs `n weergawe van waargenome objekte is nie. Volgens Hjelle en Ziegler (1992:396-398) is Kelly se persoonlikheidskonstrukte-teorie gegrond op die filosofiese veronderstelling van die konstrukte-alternatiwisme wat basies daarop dui dat al ons huidige interpretasies van die heelal onderwerp is aan hersiening. Verder impliseer dit dat daar nie `n objektiewe werklikheid bestaan nie, aangesien mense volgens hul eie interpretasie hul onderskeie werklikhede konstrueer terwyl hierdie interpretasies ook voortdurend hersien en aangepas word. Daar is soveel verskillende werklikhede soos wat daar individue is. Kelly se persoonlikheidkonstrukte-teorie fokus op die psigologiese prosesse wat die mens in staat stel om sy lewenservarings te orden en te verstaan, en verwys in die verband na die sogenaamde konstrukte wat mense vorm. Hierdie aspek word dan ook `n sentrale konsep in die persoonlikheidskonstrukte-teorie en word vervolgens meer volledig omskryf. (Vgl. Hjelle en Ziegler 1983:321-323 en Feixas 1990 2-3.)

2.1.2.1 Die benutting van konstrukte in die konstruering en herkonstruering van ervaringe

`n Konstruk word volgens Hjelle en Ziegler (1983:327) omskryf as "...a category of

thought by which the individual construes or inteprets, his or her personal world of experience. It represents a consistent way for the person to make sense of some aspects of reality in terms of similarities and contrasts.” Volgens Feixas (1990:2-3) vind

betekenisgewing juis plaas wanneer kontraste aanwesig is. Derhalwe is `n groot verskeidenheid van kontrukte nodig om gebeure te intepreteer. Konstrukte kan ook meer rigied of meer soepel wees, wat dan daarna verwys dat `n bepaalde rigiede konstruk net vir een moontlikheid voorsiening maak, terwyl die meer buigsame een voorsiening sal laat vir uitbreiding of veranderings in die betekenisgewing. Feixas (1990:7) dui aan dat konstrukte ook bevestig/versterk of nie-bevestiging/ontmoediging verskaf wat die basis vorm vir verandering en ontwikkeling.

2.1.2.2 Die rol van konstrukte in die antisipasie van die toekoms

Antisipering en gedrag beïnvloed mekaar in `n sirkulêre proses, sodat gedrag bestempel kan word as die oorsaak sowel as die gevolg van die antisipering. Die individu wend sy konstrukte aan in die antisipering van die toekoms, terwyl die antisipering van die toekoms weer `n bepalende invloed op die individu se gedrag uitoefen. Individue se konstrukte waarmee hulle die werklikheid konstrueer en die toekoms antisipeer is uniek aan elke individu. In die verband verwys Hjelle en Ziegler (1983:333) daarna dat "[e]ach person construes reality through his or her unique

personal construct "goggles"”. Dit kan tot gevolg hê dat persone in dieselfde situasie,

byvoorbeeld `n egpaar wat besig is om te skei, in voortdurende konflik verkeer juis vanweë hulle unieke werklikheidskonstruerings.

Feixas (1990:2-4) wys daarop dat konstrukte die wyse is waarop mense en dinge dieselfde of verskillend is. Aspekte van die realiteit word dus geïnterpreteer in terme van ooreenstemming of kontrastering byvoorbeeld, kalm teenoor opgewonde. Konstrukte kan dus eintlik as tweeledig beskou word, byvoorbeeld waar `n seun sy moeder tydends `n terapeutiese onderhoud as ondersteunend beskryf, terwyl sy vader in terme van die teenoorgestelde pool as onbetrokke beskryf word. Waring (1990:401- 402) bevestig ook die standpunt van Kelly se persoonlikheidskonstrukte-teorie dat die kern van die menslike bestaan geleë is in die antisipering van ervaringe. Derhalwe word die toekoms en nie die verlede of die hede, as die fundamentele dryfveer in die menslike lewe beskou (Hjelle en Ziegler 1992:400). Verder sal die mens dan ook die alternatief kies wat die beste moontlikheid bied vir die ontwikkeling van die antisipering van gebeure, asook die beste moontlikheid vir die uitbreiding van begrip van ervaringe.

Kelly se persoonlikheidskonstrukte-teorie lê klem op die daarstelling van sogenaamde konstrukte wat verwys na die psigologiese prosesse wat die mens aanwend om sy lewenservarings te orden en te verstaan. Een konstruk kan nie sondermeer op `n aantal verskillende situasies van toepassing gemaak word nie, sodat `n wye verskeidenheid konstrukte nodig is om gebeure te interpreteer. Van belang is ook die

invloed wat hierdie konstrukte op die individu uitoefen, aangesien hierdie konstrukte deur die individu benut word om sy toekoms te antisipeer.

2.1.3 Radikaal-konstruktiwisme

Die kwessie rakende die daarstelling van kennis oor die werklikheid en die hoeveelheid waarheidsmomente wat daar wel in kennis is, vorm `n sentrale argument in die radikaal-konstruktiwisme (Von Glasersfeld 1984:19). Hierdie argument blyk egter `n eeue oue kwessie te wees waaroor filosowe oor die jare heen geargumenteer het en uiteindelik by twee denkpole uitgekom het, in die poging om die dilemma op te klaar. Die een pool staan die standpunt voor dat daar wel kennis aangaande `n objektiewe werklikheid bestaan, wat dan die waarheid impliseer. Daarteenoor staan die konstruktiwistiese siening die standpunt voor dat die realiteit op subjektiewe wyse deur ervaring gekonstrueer word (Von Glasersfeld 1984:26). Die argument dat daar nie `n objektiewe werklikheid of dan waarheid bestaan nie is waarskynlik een van die redes waarom Von Glasersfeld (1984:24) sy uiteensetting van die konstruktiwisme as radikaal beskryf. Hy verduidelik soos volg: "Radical constructivism, thus, is radical

because it breaks with convention and develops a theory of knowledge in which knowledge does not reflect an ' objective ' ontological reality, but exclusively an ordering and organization of a world constituted by our experience." (Von Glasersfeld

1984:24).

Met betrekking tot die rol van kognisie in die vorming van werklikheidskonstruksies verduidelik Du Plessis (2000:70) dat die mens sy unieke kognitiewe prosesse aanwend om die ervaringswêreld tot `n eie werklikheid te skep. Die benutting van sy kognisie deur die mens ten einde sy/haar werklikheidskepping te laat plaasvind, vorm `n kernbeginsel van die radikaal-konstruktiwisme. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat die interne organisasie van ervarings deur `n individu nie sonder kognisie kan plaasvind nie. Volgens Du Plessis (2000:70) is die individu se belewing van sy omgewing asook die kognitiewe prosesse wat op hierdie belewinge reageer, noodsaaklik vir die konstruering van `n eie unieke werklikheid vir die mens.

Volgens Von Glasersfeld (1995:51) word kennis nie ekstern bekom nie, maar word wel deur interne kognitiewe aktiwiteite ontwikkel. Die mens se ervaringswêreld wat alle interne en eksterne blootstelling insluit word in ooreenstemming met hierdie standpunt, deur die mens se kognitiewe prosesse verwerk tot `n werklikheid en die gepaardgaande kennis. In die verband vermeld Von Glasersfeld (1995:51): "Knowledge is not passively received either through the senses or by way of