• No results found

Die literaruurstudie fokus op maatskaplikewerkhulpverlening aan gesinne in egskeidingsituasies, met die sosiaal konstruksionistiese epistemologie as konseptuele raamwerk. Internasionale boeke en tydskrifte word benut in die vakgebiede van sielkunde, maatskaplike werk en filosofie vir doeleindes van die literatuurstudie. Bronne soos McNamee en Gergen (1992) word benut om die sosiaal konstruksionisme uiteen te sit, terwyl bronne soos White (1995 en 1997) en Epston (1999) benut word om die narratiewe werkswyse wat gevolg word, te omskryf. Ten einde die mees relevante teoretiese modelle waarvolgens egskeiding verloop, die effek daarvan op die gesinslede asook die oorhoofse take wat deur die onderskeie gesinslede nagestreef behoort te word in die verwerking van hul egskeidingsituasie te omskryf, word op bronne soos Gold (1992), Van Staden (1992), Guttman (1993), Kenkel (1997) en Saposnek (1998) gesteun. Literatuur wat tipies is aan die Suid- Afrikaanse konteks byvoorbeeld bestaande wetgewing en statistiek rakende egskeiding in Suid-Afrika, word benut as relevante agtergrondsinligting waarteen die studie geloods word.

Die empiriese werk word beperk tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk van die Moreletapark gemeente in Pretoria, en wel binne die kader van die kwalitatiewe navorsingsmetodes. Deelnemende-aksienavorsing word geïmplementeer deur van die narratiewe werkswyses gebruik te maak. Soos reeds genoem is die verloop van die proses van deelnemende–aksienavorsing onvoorspelbaar en word voorsien dat dit in die konteks van die studie ook sy eie loop kan neem. (Vgl. Schurink 1998:416-418.) Die volgende oorhoofse stappe word benut in die empiriese werk:

Identifisering van die gemeenskap.

Toetrede tot die gemeenskap: Gesprekvoering met die leierstruktuur in die

betrokke gemeente om die navorsing te bemark en die nodige toestemming en ondersteuning daarvoor te bekom word benut. Uitnodigings aan persone wat deur egskeiding geraak word om in te skakel by die navorsing word gereeld op die afkondigings geplaas.

Identifisering en werwing van deelnemers: Individuele en groepsgesprekke

word benut om persone binne die opset van die betrokke gemeente wat moontlik betrek kan word by die navorsing te motiveer tot inskakeling.

Interaskieprosesse: Individuele– en groepsgesprekke asook `n werksessie

met deelnemers aan die navorsing geskied om interaksie te stimuleer terwyl die narratiewe werkswyse as strategie tydens die fase benut word.

Aksies: Tydens individuele- groepsgesprekgeleenthede en `n werksessie word

die deelnemers aangemoedig om aksies te beplan, uit te voer, te hersien en aan te pas. (Vgl. Rahman 1993:79.)

Die proses van deelnemende-aksienavorsing manifesteer dikwels in `n sogenaamde "sig-sag" vorm, aangesien daar met sekere belangegroepe ver gevorder mag wees in die beplanning van sekere aksies en dan betree daar steeds nuwe deelnemers die groep. Ten einde die geloofwaardigheid van die studie te bevestig word die rou data van die hoof- sowel as subtemas wat daaruit afgelei word aan `n vakgenoot voorgelê vir analisering. Dit word weer vergelyk met die navorser se eie analisering en ook met die deelnemers bespreek wat die verloop van die totale proses stimuleer, die evaluasie

van die inligting en meegaande aanpassing daarvan verseker. (Vgl. Poggenpoel 1998:344-348.)

1.7 BEGRIPSOMSKRYWING

Die volgende begrippe vorm kernkonsepte in die studie en ten einde te verseker dat eenvormige interpretasies daaraan gekoppel word, word dit bespreek en omskryf.

1.7.1 Egskeiding

Burgoyne, Ormrod en Richards (1987:40) dui aan dat egskeiding die volgende behels

”…the legal transition that marks the final stage in the breakdown of a marriage, its formal dissolution and a legal rearrangement of the relationship between the spouses, particularly in relation to the children and property rights”. Die Vaktaalkomitee vir

Maatskaplike Werk (1995:12) definieer egskeiding as die “ontbinding van die huwelik

deur `n geregtelike bevel”. Die wetlike aspekte wat in plek gestel moet word rakende

die ontbinding van die huwelik, asook rakende beheer en toesig van die betrokke kinders en eiendom van die egpaar word in hierdie twee definisies beklemtoon.

Van Staden (1992:6) beskryf egskeiding as ”…`n wetlike beëindiging van die huwelik

deur `n hofbesluit, wat `n traumatiese proses van vernietinging van die huweliksver- houding behels.” Van Staden (1992:6) beklemtoon verder ook die gepaardgaande

verandering in die gesinstruktuur en -funksionering wat met die egskeiding saamhang. In die verband vind veranderinge in die onderlinge interaksie van die gesinslede plaas wat weer `n gepaardgaande aanpassing op die kommunikasie en ondersteunende netwerk van die gesin tot gevolg het. Van Staden (1992:6) is dan juis van mening dat

“…egskeiding `n definitiewe impak op die gesin as geheel het, asook op elke afsonderlike party binne die gesinsisteem.” Uit die definisie van Van Staden (1992:6)

word egskeiding as die wetlik beëindiging van die huwelik benadruk, terwyl verandering in die gesinstruktuur dan ook noodwendig sal voorkom. Die verandering in die gesinstruktuur sal weer veranderinge in die gesin se interaksie en kommunikasie tot gevolg hê. Verder word die traumatiese impak van egskeiding op die hele gesin asook op die individuele gesinslede benadruk.

Guttmann (1993:31) dui aan dat die proses van egskeiding `n aanvang neem met die eerste ernstige gedagtes aan `n egskeiding, waarna dit deur die formele kanale verloop tot permanente skeiding. Guttmann (1993:31) is van mening dat die term egskeiding verwys na `n proses waarbinne die betrokke egpaar `n persoonlike krisis ervaar met unieke eienskappe asook moontlikhede vir groei en ontwikkeling. Egskeiding word egter nie slegs as `n persoonlike krisis nie, maar ook as `n gesinskrisis beskou. Die krisis mag as `n bedreiging of as `n uitdaging bestempel word, terwyl die reaksie op die krisis weer sal afhang van die persoon se subjektiewe persepsie van sy situasie binne in die verhouding. Sou die krisis as `n bedreiging van die persoon se basiese behoeftes, status of identiteit beskou word, mag angs ontwikkel. Waar die krisis egter as `n uitdaging beskou word, kan dit herorganisasie en die benutting van sterk punte (positiewe aspekte) tot gevolg hê, waar daar dan juis gesoek word na nuwe oplossings. Beide hierdie twee reaksies kan by `n enkele individu dwarsdeur die proses van egskeiding voorkom. (Vgl. Guttmann 1993:32.) Egskeiding word beklemtoon as `n proses deur Guttmann (1993:32) waar veral twee uitstaande reaksies op die egskeiding kan voorkom. Angs sal ontstaan waar die persoon se basiese status of identiteit bedreig word, terwyl positiewe groei en ontwikkeling kan plaasvind waar die egskeidingsituasie as `n uitdaging beskou word. `n Persoon kan beide hierdie reaksies in die loop van die egskeidingsproses ervaar. Groenewald (2002:30) beskou ook egskeiding as `n traumatiese proses wat die maatskaplike funksionering van die gesinslede beïnvloed. Die beklemtoning van egskeiding as `n proses dui nie slegs op die tydsfaktor nie maar veral ook op die multidimensionele aard en kompleksiteit daarvan. Die proses begin met die eerste ernstige gedagtes aan `n egskeiding, waarna dit deur die formele kanale loop tot permanente skeiding. Die proses eindig met die moontlikheid van die totstandkoming van `n produktiewe en gemaklike lewe. Groenewald (2002:30) beskou egskeiding verder ook as `n proses en benadruk dat groei en ontwikkeling daaruit kan voortvloei, wat juis `n produktiewe en gemakilike lewe kan skep.

Gold (1992:35–43), Van Staden (1992:125-127) en Guttmann (1993:31) plaas klem daarop dat egskeiding in verskillende stadiums ontvou met eiesoortige verskille in temas en graad van hantering. Alhoewel die stadiums beskryf word as `n linieêre struktuur, waartydens die individu van die een stadium na die volgende beweeg, mag dit egter `n vry-bewegende en inter-verweefde proses vorm.

Verskillende begripsomskrywings word in die literatuur gevind oor egskeiding, waarin verskillende aspkete van egskeiding beklemtoon word. Binne die konteks van hierdie studie word die term egskeiding benut om te verwys na die wetlike beëindiging van die huweliksverbintenis. Dit is `n traumatiese proses vir al die gesinslede wat gepaardgaan met veranderinge in die gesinstruktuur en funksionering van die gesinslede. Definitiewe stadiums kan ook geïdentifiseer word waardeur die gesinslede beweeg tydens die egskeidingsproses. Die krisis wat deur die egskeiding geskep word mag òf as `n uitdaging òf as `n bedreiging bestempel word terwyl die persoon se reaksie op die krisis weer sal afhang van sy subjektiewe betekenisgewing aan en werklikheidskonstruksies wat hy rondom sy egskeidingsituasie vorm. Positiewe gevolge soos die moontlikhede vir groei en ontwikkeling mag vir die gesinslede voortspruit uit die egskeiding.

1.7.2 Maatskaplike Werk

Maatskaplike werk is lank reeds `n erkende vakdissipline en professie. `n Groot aantal omskrywings vir maatskaplike werk is beskikbaar, waar die klem op verskillende fokuspunte wat dit omvat, geplaas word. Die term word nie in besonderhede in hierdie studie bespreek nie, maar word beperk tot enkele relevante omskrywings daarvan: Die Vaktaalkomitee vir Maatskaplike Werk (1984:30) dui aan dat die term maatskaplike werk verwys na: "`n Professionele diens deur `n maatskaplike werker, wat gerig is op

beter maatskaplike funksionering van mense.” Dieselfde woordeboek (1984:29)

verduidelik dat maatskaplike funksionering weer verwys na: “Geheel van `n individu se

rolvervulling op alle vlakke van sy bestaan in wisselwerking met ander individue en situasies in sy omgewing.” Ook die International Federation of Social Workers is dit

verandering en probleemoplossing. (Vgl. International Federation of Social Workers 2010:1.) Uit hierdie definisie blyk dit duidelik dat maatskaplike werk `n professie is wat gerig is op die geheelfunksionering van `n individu (byvoorbeed sy verhouding met ander mense).

Skidmore, Trackeray en Farley (1988:8) definieer maatskaplike werk as: ” …an art, a

science, a profession that helps people to solve personal, group (especially family), and community problems and to attain satisfying personal, group and community relationships through social work practice, including casework, groupwork, community organization, administration and research.” Aanvullend tot hierdie definisie dui die

Encyclopedia of Social Work (2003:2266) aan dat maatskaplike werk die professionele aanwending van maatskaplike werk waardes, beginsels en tegnieke behels. Verder is die fokus op die vermindering van probleme ten opsigte van menslike verhoudings en op die verhoging van lewenskwaliteit deur die verbetering van mensklike interaksie. Dit is duidelik dat maatskaplike werk verskillende metodes omsluit, naamlik individuele werk, groepwerk, gemeenskapswerk, administrasie en navorsing. Die fokus is verder op die verbetering van menslike interaksie sodat die verhoging van lewenskwaliteit bereik kan word.

Payne (1991:18) omskryf maatskaplike werk as `n proses wat daarop gerig is om mense te help om hul probleemsituasies te hanteer. Hierdie proses het gewoonlik die effek dat verandering in een of ander aspek van die situasie sal plaasvind. Die verandering mag by die kliënt wees of een van die ander persone of elemente in die situasie, of `n kombinasie van die vermelde aspekte.

Parton en O'Byrne (2000:5) dui aan dat maatskaplike werk poog om die sosiale funksionering van individue te verbeter, by wyse van aktiwiteite wat fokus op sosiale verhoudings. Die kwaliteit, patrone, rigting en uitkoms van individue se verhoudings in die uitlewing van hulle onderskeie rolle (maatskaplike funksionering) vorm verder die terrein van die maatskaplike werker. (Vgl. Parton en O' Byrne 2000:7.) Kenmerkende

eienskappe van maatskaplike werk word soos volg deur Parton en O' Byrne (2000:9) aangedui:

ƒ Dit fokus op die totaliteit van die persoon binne sy totale omgewing. ƒ Dit fokus op die belangrike invloed van die familie op gedrag.

ƒ Maatskaplike werk poog dan ook om die beginsels onderliggend aan gesinsinteraksie te verstaan en beskou die gesin as die basiese eenheid vir die verbetering van maatskaplike funksionering. In die verband word toegegee dat die meeste maatskaplikewerk probleme ontstaan vanuit ingeperkte en of problematiese gesinsverhoudinge.

Maatskaplike werk fokus dus op die interaksie van mense, terwyl die invloed van die familie op gedrag veral in berekening gehou word.

Samevattend kan maatskaplike werk as professionele handelinge beskou word wat verskeie metodes, byvoorbeeld groepwerk en gemeenskapswerk insluit. Die fokus is op die verhoging van die maatskaplike funksionering van individue, groepe en gemeenskappe. Hierdie aktiwiteite het ten doel om die kliënt te help in sy hantering van sy maatskaplike probleem. Verder fokus maatskaplike werk op die totaliteit van die persoon binne sy omgewing en word daar veral klem geplaas op die invloed van die gesin op die individu. Daar word van die standpunt uitgegaan dat die meeste maatskaplike werk probleme ontstaan vanuit ingeperkte en/of problematiese gesinsverhoudinge.

1.7.3 Narratiewe Werkswyse

Freedman en Combs (1996:1) noem dat wanneer van die narratiewe werkswyse gebruik gemaak word dat: “[u]sing the narrative metaphor leads us to think about

people’s lifes as stories and to work with them to experience their live stories in ways that are meaningfull and fulfilling.” Daar kan afgelei word dat die werkswyse dus fokus

op stories wat mense van hul lewe vertel en dan ook die invloed wat die stories op hulle lewe uitoefen. Carr (1998:487) dui aan dat “[w]ithin the narrative frame, human

problems are viewed as arising from and being maintained by oppressive stories which dominate the person’s life. Human problems occur when the way in which people’s

lives are storied by themselves and others do not significantly fit with their lived experience.” Stories wat mense oor hulself en hul omgewing het, kan van so `n aard

wees dat dit `n negatiewe invloed uitoefen op hul funksionering, wanneer dit hul lewens oorheers. Probleme ontstaan juis waar lewensstories van mense oor hul eie lewens nie ooreenstem met hul lewenservaring nie.

White en Epston (1998:7) dui aan dat narratiewe denke fokus op `n proses om die lewe en ondervinding van `n persoon in `n storie te skryf of te herskryf. Die ondertoon bestaan uit woorde soos: "mag", "veronderstel" en "moontlik". Narratiewe denke laat wel ruimte vir interpretasie, terwyl vertroue gestel word in die gewete van die karakters in die storie. Terselfdertyd word die wêreld beskou deur verskillende lense. Moontlikhede eerder as sekerhede bestaan ook in ooreenstemming met hierdie wyse van denke. (Vgl. Parton en O'Byrne 2000:47.)

White en Epston (1990:16-17) beklemtoon die eksternalisering van die oorheersende probleemgesentreerde torie van `n persoon se lewe. Die eksternalisering van die probleem help die kliënt om:

• Unieke uitkomste ten opsigte van die probleem te identifiseer.

• Die kliënt te bevry van `n probleemgesentreerde beskrywing van sy lewe en verhoudings.

• `n Nuwe verhouding met die probleem te identifiseer of te ontwikkel. (Vgl. White 1998:22.)

Sodra unieke uitkomste geïdentifiseer is, word die kliënt versoek om betekenis daaraan te heg. Die unieke uitkomste moet weer "geplot" word in `n alternatiewe storie of alternatiewe narratief. (Vgl. White en Epston 1990:16-17.)

Samevattend kan aangedui word dat die narratiewe werkswyse van denke lewenstories benut om die lewe van die kliënt te beskryf en later in die proses weer te herskryf. Eksternalisering van die oorheersende probleemgesentreerde storie van die

kliënt se lewe word bewerkstellig. Gedurende die proses word unieke uitkomste deur die kliënt geïdentifiseer. Die kliënt word dan ook versoek om betekenis te gee aan die geïdentifiseerde unieke uitkomste en dit word dan "geplot" in `n alternatiewe storie of narratief.

1.7.4 Sosiaal Konstruksionisme

Watts (2003:177) dui aan dat die sosiaal konstruksionisme “…takes the position that

reality as individual or group experiences it is, to a substantial degree, conceptualually constructed rather that sensorily discovered by that group. Objective knowledge about the world is significantly limited because facts and raw data can only be known within a particular, pre–empirically established cultural, social and linguistic context.” In

ooreenstemming met die sosiaal konstruksionisme word die werklikheid dus nie ontdek nie, maar deur mense in `n sosiale konteks gekonstrueer. Die sosiaal konstruksionisme bevraagteken juis die idee van een werklikheid of waarheid, asook die kwessie dat objektiewe sosiale navorsing kan bestaan. Volgens McNamee (1992:8–9) se beskouing en definiëring van die sosiaal konstruksionisme bestaan daar juis nie `n objektiewe sosiale realiteit nie. Derhalwe word die idee dat `n ware wêreld bestaan wat met objektiewe sekerheid geken kan word juis bevraagteken binne die konteks van die sosiaal konstruksionisme (McNamee 1992:8–9).

McNamee (1992:8–9) en Du Plessis (2000:80) is van mening dat betekenis binne die raamwerk van die sosiaal konstruksionisme geskep word tydens `n voortdurende proses van interaksie tussen mense. Verder is die vorming van konsepte `n proses wat voortdurend aan verandering blootgestel is binne die konteks van sosiale interaksie wat van tyd tot tyd, van situasie tot situasie, en van groep tot groep plaasvind. Scheinberg (1992:201–202) wys verder daarop dat die betekenisgewing wat uit sosiale interaksie voortvloei juis in taal gemediteer word.

Maatskaplikewerkdienste binne die konteks van die sosiaal konstruksionisme word derhalwe beskou as `n onderlinge gesprekvoering waarin daar `n gesamentlike soeke

na begrip vir, en ondersoek na die probleem bestaan. Die terapeut2 se rol in die terapeutiese verhouding bestaan hoofsaaklik daaruit om meer ruimte vir onderlinge kommunikasie te skep sodat groeiende dialoog bewerkstellig kan word binne die terapeutiese verhouding (McNamee 1992:29). Vir `n volledige bespreking van die sosiaal konstruksionisme verwys na afdeling 2.2.

1.7.5 Kwalitatiewe Navorsing

Kwalitatiewe navorsing word deur Landman (1988:17) soos volg gedefinieer: “Die

bestudering van individue onder natuurlike omstandighede ten einde vas te stel op welke wyse hulle betekenisse toeken in sosiale situasies. Teorie word nie geprojekteer op die gegewens nie, maar spruit voort uit die versamelde gegewens. Kwalitatiewe navorsing is nie gebaseer op`n stel vaste en rigiede prosedures nie, maar nietemin het die navorser `n stel strategieë en taktieke nodig ten einde te organiseer, te beheer, en te evalueer.” Binne die konteks van die studie is die fokus juis daarop om die betekenis

wat gesinslede toeken aan hul egskeidingsituasie vas te stel.

Van Manen (1990:7) is van mening dat die wese van kwalitatiewe navorsing die volgende behels:

• Die bestudering van ervaring, waar die navorser daarna streef om dieper begrip en insig van die betekenis van belewinge te verkry.

• Om die betekenis van belewinge bloot te lê en te beskryf.

• Interaksie tussen byvoorbeeld die deelnemers onderling word voorgestaan ten einde belewing uit te druk en tot begrip daarvan te kan kom.

• Die bevindinge van die navorsing word in `n natuurlike taal weergegee.

Daar word juis in die studie gefokus daarop om insig en begrip te ontwikkel vir die dieper belewinge en betekenisgewing wat gesinslede aan hul egekseidingsituasie gee. Die interaksie wat tussen die deelnemers plaasvind lei weer tot die hervorming van betekenisgewing wat gesinslede aan hul egskeidingsituasie verleen.

Denzin en Lincoln (1994:2) definieer kwalitatiewe navorsing as “…a multiperspective

approach (utilizing different qualitative techniques and data collection methods) to social interaction, aimed at describing, making sense of, interpreting or reconstructing this interaction in terms of the meanings of the subjects attach to it.” Die fokus is

daarop om betekenis te gee aan die interaksie wat tussen deelnemers plaasvind, terwyl die spesifieke betekenisgewing weer die deelnemers se daaropvolgende interaksiepatrone sal beïnvloed.

Mouton en Marais (1989:162-164), Patton (1990:40-62) en Schurink (1998:242-243) se uitgangspunte rakende kwalitatiewe navorsing stem grootiks ooreen en kan soos volg aangedui word:

• `n Algemene navorsingsdoel word gestel terwyl daar gewoonlik nie van `n hipotese gebruik gemaak word nie.

• Die kwalitatiewe navorser het `n openheid om waar te neem tydens die navorsingsgebeure en onverwagte gebeure wat mag voorkom te akkommodeer.

• Daar word vanuit `n holistiese perspektief gewerk waar die deelnemers as `n komplekse sisteem benader word wat uit meer as bloot die som van die dele waaruit dit bestaan beskou word.

• Begrip en beskrywing is van primêre belang vir die navorser.

• Die in-diepte besonderhede wat deur middel van kwalitatiewe navorsing bekom word is nie veralgemeenbaar nie.

• Die kwalitatiewe navorser pas die empatiese neutraliteitsbeginsel toe, waar empatie betrekking het op omgee en belangstelling in ander, terwyl neutraliteit daarna verwys dat die navorser onbevooroordeeld teenoor die inligting is wat ingesamel word.

• Daar word gepoog om betekenis vanuit die deelnemers se perspektief te bekom.

• Die realiteit word as subjektief beskou.

• Woorde en aanhalings uit dokumente word benut wanneer die data weergegee word.

• Temas word onder meer benut om konsepte te vorm.

• Die navorser poog om aktief betrokke te raak by die data en sodoende betekenis te ontdek.

• Die kwalitatiewe navorser poog om fenomene te begryp.