• No results found

2.4 Die implikasie van ‘n afwesige vader

2.4.3 Rolle wat vaders speel in die verskillende fases van kinderontwikkeling

Cabrera, Tamis-LeMonda, Bradley, Hofferth en Lamb (2000), tot met die laaste twee dekades beperkte aandag in sielkundige navorsing ontvang. Die gebrek aan aandag wat hierdie saak geniet het, was ʼn bron van kommer aangesien daar vele argumente aangevoer kan word waarom vaders wel ʼn belangrike aandeel in hul kinders se ontwikkeling behoort te hê (Flouri & Buchanan, 2003). Navorsers erken dat vaders verskeie belangrike rolle in hul gesin, en daarmee saam in hul kinders se ontwikkeling speel (Lamb & Tamis-Lemonda, 2004).

Die vader behoort reeds terwyl die moeder swanger is, ʼn emosionele band met die baba ontwikkel deur met die ongebore baba te praat en aan die moeder se maag te vat. Na die baba se geboorte moet dié verbintenis versterk word deur fisieke kontak met die baba deur, byvoorbeeld, aanraking, vashou en streel. Die vader bou verder aan die verhouding deur met die baba te praat en speletjies te speel. Die baba leer dus om die vader se emosies ouditief te herken asook om sy gesigsuitdrukkings daarmee te assosieer. Al die bogenoemde dra by tot die baba se gevoel van sekuriteit (Freeks, 2013).

Gedurende die kind se kleuterjare vestig die vader se belangstelling in sy kind ʼn sin vir selfwaarde. Indien daar nie belangstelling in hom is nie, dink kleuters dikwels hulle is nie goed genoeg nie, wat tot emosionele uitvalle kan lei. Die vader moet ook fisiek met sy kleuter speel om motoriese ontwikkeling te bevorder (Wrotniak, Epstein, Dorn, Jones & Kondilis, 2006). Fisieke aanraking speel ʼn belangrike rol vir ʼn kind om in ʼn liefdevolle volwassene te ontwikkel. ʼn Veilige omgewing waarin daar geen gesondheids- of fisieke gevare is nie, bevorder ʼn kind se fisieke ontwikkeling. Die vader moet verseker dat sy kinders in só ʼn omgewing grootword aangesien dit sekuriteit vir kinders bied. Die vader behoort ook te alle tye bewus wees daarvan dat kinders gedragspatrone van hul ouers aanleer. Dit blyk dat kinders met gedragsuitvalle, soos aggressie, dit dikwels by hul ouers aangeleer het (Freeks, 2013).

Tydens die kind se adolessensie is konsekwente optrede deur die vader belangrik aangesien dit ʼn gevoel van sekuriteit skep. Die vader se belangstelling in sy tiener se lewe verskaf sekuriteit sowel as emosionele ondersteuning. Die kind sal ook akademies

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

63

kan presteer in ʼn rustige en ontspanne huis. Die vader kan dissipline op ʼn positiewe wyse toepas en sy tiener op ʼn liefdevolle wyse op sy foute wys. ʼn Vader se aanprysing is van kardinale belang vir ʼn tiener – dit verbeter sy selfbeeld en eiewaarde. Die vader behoort ook begrip en meelewendheid toon. Hy behoort sy foute te kan erken, sy gevoelenste wys en as ʼn voorbeeld dien van hoe om dit te hanteer (Freeks, 2013).

In die volgende gedeeltes word die verskillende tipes ontwikkeling afsonderlik bespreek:

 Fisieke ontwikkeling

Kinders het genoegsame voeding nodig om behoorlik te groei. Fisieke groei is afhanklik daarvan (Keenan & Evans, 2009). Die inneem van gesonde voedingstowwe is nie net tot babas beperk nie, maar is belangrik vir kinders van alle ouderdomme. Die vader moet dus finansieel voorsien in die moeder wat dalk nog borsvoed, asook in die kind se behoeftes. Voeding is nie die enigste komponent wat ʼn invloed uitoefen op fisieke ontwikkeling nie. Goeie mediese sorg vir ʼn groeiende baba en jong kind is noodsaaklik. Die vader moet dus, indien dit binne sy vermoë is, ʼn goeie mediese fonds daarstel, sodat die kinders gereelde roetine-ondersoeke kan kry. Indien die vader finansieel vir sy gesin voorsiening maak, kan higiëniese lewensomstandighede daargestel word, wat ook ʼn invloed op fisieke ontwikkeling het. Daarmee saam sal ʼn groter lewensruimte en meer speelruimte die kind se motoriese ontwikkeling positief beïnvloed. Omgewingsfaktore, soos ʼn versorgende vader wat behoorlike voeding en gesondheidsbevordering voorsien, kan dus ʼn positiewe invloed op ʼn kind se fisieke ontwikkeling hê.

 Kognitiewe ontwikkeling

Die brein se ontwikkeling is afhanklik van omgewingsfaktore aangesien breinstrukture nie vanself ontwikkel nie (Keenan & Evans, 2009). Stimulerende omgewingsinteraksies veroorsaak en verbeter neurologiese ontwikkeling. Hoe meer stimulerend kinders se interaksies dus met hul omgewing is, hoe beter is hul kognitiewe ontwikkeling. Kinders met aktiewe, betrokke vaders sal heel

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

64

waarskynlik meer stimulasie ontvang as dié sonder vaders. Kinders met baie sodanige interaksie sal waarskynlik meer kognitiewe ontwikkeling toon.

Babas met betrokke vaders ervaar meer vader-kind-interaksie, byvoorbeeld spel- en versorgingsaktiwiteite, as babas met afwesige of onbetrokke vaders en toon hoër kognitiewe ontwikkeling op ses maande op die Bayley Scales of Infant Development (Smith, 2002). Teen die ouderdom van een jaar toon babas met betrokke vaders steeds hoër kognitiewe vermoëns as babas met afwesige of onbetrokke vaders (Nugent, 1991). Volgens Easterbrooks en Goldberg (1990) beskik peuters met betrokke vaders oor beter probleemoplossingsvermoë. Kinders met betrokke vaders beskik ook teen die ouderdom van drie oor ʼn hoër IK as hulle eweknieë met onbetrokke vaders (Flouri & Buchnan, 2003).

Radin (1994) stel dat skoolgaande kinders met betrokke vaders beter kwantitatiewe en verbale vaardighede as kinders met afwesige vaders toon. ʼn Vader se betrokkenheid beïnvloed sy kinders se akademiese prestasie positief (Le Roux, 2007), asook gesonde verhoudings met hul portuurgroep en geslagsontwikkeling (Green, 2002; Mboya & Nesengani, 1999).

 Emosionele ontwikkeling

Die teorie van die verhouding tussen ʼn baba en sy versorger – genaamd die bindingsverhouding – is grotendeels te danke aan die pionier John Bowlby (Louw & Louw, 2014). Eersgenoemde verduidelik die kennis oor die emosionele band tussen babas en hul ouers. Babas begin definitiewe bindings met hul primêre versorgers ontwikkel teen die ouderdom van ongeveer sewe maande. Primêre versorgers is mense soos hul moeder, vader en grootouers. Babas sal teen hierdie ouderdom aktief na dié mense soek en protes aanteken as hulle hul nie kry nie. Volgens Parke (2002) sal vaders dieselfde bindingsverhouding met hul kinders hê indien vaders hul babas vashou, soen en met hulle praat soos hul moeders. Vaders speel ook ʼn addisionele rol, naamlik om kinders se speelmaat te wees (Keenan & Evans, 2009). Meeste kinders hou daarvan wanneer vaders energieke spel met meer tuimelbewegings speel. Indien vaders positief reageer op hul kinders se pogings om te speel, is kinders meer geneig om ʼn veilige innerlike model van emosionele binding te ontwikkel (Grossman, Grossman & Walters,

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

65

2005). ʼn Persoon se vermoë om hom emosioneel aan ʼn ander persoon te bind word ʼn innerlike model van emosionele binding genoem (Grossman et al., 2005). Een van die vernaamste funksies wat vaders moet vervul is, volgens Mead (in Amneus, 1995), die emosionele en sosiale stabiliteit wat hulle in hul gesinne moet bewerkstellig. Volgens Saliha en Jayan (2013) korreleer ʼn betrokke, aktiewe vader sterk met verantwoordelike seksualiteit, emosionele en sosiale stabiliteit, geslagsidentiteitsvorming asook finansiële sekuriteit. Sekere lewensvaardighede ontwikkel ook uit ʼn kind se verhouding met ʼn betrokke vader (Evans & Fogarty, 1999), byvoorbeeld positiewe karaktereienskappe soos empatie, ʼn goeie selfbeeld, selfbeheer, psigologiese welstand en sosiale bekwaamheid (Green, 2002; Smit, 2002).

Volgens Keenan en Evans (2009) gaan die ontwikkeling van emosionele uitdrukking tot ‘n sekere mate hand aan hand met kognitiewe vermoëns. Daar is egter verskeie aspekte van emosionele uitdrukking wat min met kognitiewe ontwikkeling te doen het en eerder die sosialiseringsvaardighede van die ouers, sibbe en maats weerspieël (Keenan & Evans, 2009). Kinders sal dus ʼn stel “reëls” oor emosionele uitdrukking leer. Sogenaamde reëls bepaal watter emosies in sekere situasies aanvaarbaar is (Saarni, Mumme & Campos, 1988). Kinders leer dus wat volgens sosiale norme en hul spesifieke kultuur aanvaarbare optrede is.

 Sosiale en morele ontwikkeling

Navorsing oor kinders se aanleer van sosiale gedrag het ontwikkelingsvordering by dié kinders wat die aksies van die mense (soos vaders en moeders) om hulle naboots, getoon (Keenan & Evans, 2009). Goeie vaders modelleer vir seuns waar hul plek in die wêreld is en vir dogters die respek wat hulle van die teenoorgestelde geslag verdien. Die ontwikkeling van moraliteit word deur navorsers gesien soos enige ander gedrag by ʼn kind – dit word aangeleer deur operante kondisionering, bestraffing, versterking, waarneming, modellering en nabootsing (Bandura, 2012). Ouers, en meer spesifiek vaders, sal dikwels hul goedkeuring toon indien die kinders hulle tot goeie gedrag verbind, maar die teenoorgestelde is ook waar. Die vader moet dissipline toepas in ʼn konteks van ʼn warm ouer-kind-verhouding en

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

66

ook vir die kind verduidelik waarom sekere gedrag nie aanvaarbaar is nie (Keenan & Evans, 2009).

Die vader speel dus verskillende rolle in die verskillende fases van kinderontwikkeling.