• No results found

2.3 Die rol van die gesin in kinderontwikkeling

2.3.2 Beskrywing en definisie van die gesin

2.3.2.1 Funksionele en disfunksionele gesinne

Die gesin in al sy vorme is een van die mees basiese instellings in die samelewing en die primêre groep wat ʼn invloed uitoefen op ʼn jong kind se opvoeding (Rodgers, 1985). Oor die eeue heen is daar erkenning gegee aan die gesin se bepalende rol in kinderontwikkeling. Al hoe meer navorsing bevind dat onstabiliteit in die gesin negatief geassosieer word met ʼn kind se welstand (Lee & McLanahan, 2015).

Ten spyte van verandering en ontwikkeling in gemeenskappe, het die funksie van die gesin grootliks onveranderd gebly (De Witt, 2016). Dit is binne die gesinskonteks wat die kind “mens” word en later verskillende rolle aanneem (Kostelnik, Soderman & Whiren, 2004). Die gesin voorsien ook sekuriteit wat noodsaaklik is vir groei en ontwikkeling. Volgens Shaffer en Kipp (2010) is ʼn gesin groter as die som van sy dele aangesien ouers kinders beïnvloed en kinders op hul beurt weer die ouers en die huweliksverhouding beïnvloed. Daarom is gesinne komplekse sosiale verhoudings.

In funksionele gesinne is die gesin die kind se inisiële en primêre sekuriteit asook sy sosialiseringsomgewing. Die kind neem sy ouers waar en boots hul gedrag na. Deur aanpassing van gedrag binne die gesin leer die kind om die gesin se norme en waardesisteem te aanvaar, wat nodig is om te funksioneer in die breër samelewing (De Witt, 2016). Lewis (1991) som die waardes van hierdie tipe gesin soos volg op:

 Die gesin is ʼn onlosmaaklike deel van menswees, waar liefde en spesiale verhoudings vervul kan word. Indien daar enige afwyking van die waarde is, ontstaan psigologiese en sosiologiese probleme.

 Die gesin is die bron van individuele sekuriteit, identiteit en ʼn gevoel van behoort vir al sy lede. Dit is hier waar gesinslede ʼn sin vir waardes, doelgerigtheid en selfstandigheid ontwikkel.

 Die gesin of plaasvervangende gesin is die konteks waarbinne gesinswaardes en ʼn persoonlike identiteit gekommunikeer kan word. ʼn Kind wat grootword sonder sterk gesinsbande mag dalk sukkel om sinvolle persoonlike en gesinsverhoudinge te onderhou wanneer hy volwasse is.

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

37

In meer resente navorsing het die fokus op gesinspraktyke verskuif na wat gesinne dóén, eerder as wat gesinne ís. Die gesinsinteraksies is hiervolgens belangriker as die gesinstrukture en die tipe gesinne. Dus word die netwerk van omgee nie net beïnvloed deur biologiese verbintenisse en die huwelik nie, maar ook gevorm in tyd en ruimte (De Witt, 2016). Die eksterne faktore, soos indiensneming, globalisering en sosiale norme, wat ook ʼn invloed op die funksionering van die gesin uitoefen, kan egter nie ontken word nie (Williams, 2004). Die eksterne faktore kan geïdentifiseer word in Bronfenbrenner se bio-ekologiese sisteem – dit is dié omgewing waarin die ontwikkelende kind ingebed is wat sy ontwikkeling beïnvloed (Shaffer & Kipp, 2010).

Soos reeds genoem, bestaan die gesin gewoonlik uit ʼn verantwoordelike volwassene of volwassenes. Daar is ʼn intieme interaksie tussen individuele lede van die gesin, asook in die groep. Die gesin word dus deur veelvoudige interaksies gekenmerk en is dinamies aangesien die kinders ontwikkel en voortdurend verander en groei (De Witt, 2016).

Die wese van die funksionele gesin is dat gesinslede saamwoon om aan mekaar se behoeftes te voldoen. Hierdie behoeftes sluit die volgende in: wedersydse voorsiening in mekaar se fisieke behoeftes; sosialiseringsfunksies; voorsiening van persoonlike “warmte”; asook die ontwikkeling van die kinders se onafhanklikheid. Die blote bestaan van gesinsbande verseker nie die funksionaliteit van die gesin nie. Die funksionaliteit van ʼn gesin word deur verskeie faktore beïnvloed, soos die volgende:

 Ouers wat aan die kriteria van volwasse gedrag voldoen en verantwoordelikheid neem vir hul onderskeie rolle.

 Die voorbeeld wat ouers stel ten opsigte van hul onderskeie rolle in die gesin (sien Figuur 2.5).

 Die teenwoordigheid van ʼn liefdesverhouding tussen lewensmaats.

 Emosionele betrokkenheid tussen die gesinslede met behoud van individualiteit.  Effektiewe kommunikasie binne die gesin om aanvaarbare sosiale interaksie en

persoonlike ontwikkeling te verseker (De Witt, 2016).

Dit is dus duidelik dat die funksionaliteit van ʼn gesin deur sekere faktore, soos roldifferensiasie, kommunikasie, betrokkenheid en liefde tussen gesinslede, bepaal word. Kinders word altyd deur die kwaliteit van gesinsfunksionering beïnvloed.

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

38

Die disfunksionele gesin, daarenteen, is ʼn gesin waar sekere noodsaaklike funksies en rolle nie realiseer nie. ʼn Hele aantal faktore kan daarvoor verantwoordelik wees, maar eerstens word tipes disfunksionele gesinne (De Witt, 2016) kortliks bespreek:

 Die disharmoniese gesin

Daar is gedurig spanning tussen die gesinslede, hetsy openlik of onderliggend. As gevolg van verskille tussen gesinslede is daar gedurig emosionele uitbarstings. Individuele gesinslede is dikwels in stryd met hulself en mekaar.

 Die verwaarloosde gesin

Die gesin is onvoldoende versorg ten opsigte van lewensomstandighede, kos, klere en higiëne. Daar is ook geen roetine en orde nie. Die verhoudings in die gesin is gewoonlik omvêrgewerp. Die gesin funksioneer op ʼn primitiewe vlak en die jong kinders is dikwels verwaarloos.

 Die rigiede gesin

Die gesin dra ʼn goeie beeld na buite. Elke lid van die gesin is bewus van sy of haar take. Die gevaar lê daarin dat daar geen individuele ontwikkeling is nie. Die gesin is ongesofistikeerd en patriargaal. Daar is dus beperkte geleenthede in die gesin vir die ontwikkelende kind om te verken.

 Die gesin met min of geen roetine

Alhoewel die huishouding glad verloop, laat die uiterlike voorkoms, roetine en gewoontes van die gesin veel te wense oor. Daar is ook te min dissipline in die gesin. Die kinders word dikwels oorbeskerm en as gevolg daarvan is hul sosialiseringsvermoë beperk. Wanneer die kinders begin skoolgaan en daar van hulle verwag word om onafhanklik te funksioneer, sukkel hulle om aan te pas.

 Die moderne stedelike gesin

Dié gesin aanvaar die veranderde sosiale omstandighede. Elke lid van die gesin gaan sy of haar eie gang en die gesin is karakterloos. Daar word min moeite

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

39

gedoen met kinderleiding en die ouers faal om norme en waardes oor te dra. Die jong kinders in hierdie gesin is dikwels didakties verwaarloos.

Daar kom ook verskeie opvoedkundige probleme (Booysen, 1993) voor in disfunksionele gesinne en wel die volgende:

 Die kind se persoonlike individualiteit word geïgnoreer

Elke kind betree hierdie wêreld as ʼn unieke wese wat van ander verskil. Ouers het die voorreg om hul kinders se gewoontes, temperament, voorkeure, afkeure en geaardheid te leer ken, maar in disfunksionele gesinne gebeur dit nie na wense nie.

 Tekort aan sekuriteit

Wanneer ouers daarin faal om ʼn kind se veiligheid te waarborg, soos in die geval van verwaarlosing of mishandeling, voel die kind konstant of hy in gevaar verkeer en is daar geen binding met die volwassenes wat veronderstel is om sekuriteit te verskaf nie (Van Niekerk, 1982). Bogenoemde kan tot chroniese stres by die jong kind lei.

 Oorbeskerming

Oorbeskerming het te doen met buitengewone nabyheid tussen ʼn volwassene en ʼn kind. Die volwassene onderwerp die kind aan onvoldoende of oormatige beheer. Dié kind word ontneem van voldoende geleenthede om te waag.

 Tekort aan roetine

Volgens Stoppard (1992) het kinders struktuur in hul lewe nodig om normaal te ontwikkel en emosionele welstand te geniet. ʼn Kind voel veilig in ʼn omgewing waar daar vaste reëls en roetine is. Die meeste kinders floreer op vaste roetine.

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

40

ʼn Kind se waardigheid is nie afhanklik van sy prestasie nie. Dit is belangrik dat ouers hoë verwagtinge vir hul kind koester, maar enige verwagtinge wat nie die kind se gesonde vordering insluit nie, is later in sy volwasse lewe ongesond (Van Niekerk, 1982). Volgens Brenner (1984) is stres wat afkomstig is van te vroeë druk om te presteer, nadelig vir die ontwikkeling van ʼn kind.

 Ongunstige vergelyking

Indien ʼn kind hom- of haarself met ʼn ander kind vergelyk rakende selfgelding, kan dit veroorsaak dat hy minderwaardig voel, sou hy ʼn ongunstige vergelyking tref. Opmerkings is veronderstel om die kind se selfbeeld te bou en erkenning aan hul pogings te gee.

 Oneffektiewe kommunikasie

ʼn Kind kom sy ouers se huis binne as ʼn baba-vreemdeling, en deur sinvolle kommunikasie leer die ouers hul kind liefhê. Wanneer die kommunikasie egter oneffektief is, ontstaan daar hindernisse en die resultaat is ʼn negatiewe invloed op die kind se psigologiese ontwikkeling. Effektiewe kommunikasie verbeter die ouer- kind-verhouding merkwaardig deur beide partye se selfbeeld te verbeter.

 Oneffektiewe uitoefening van gesag

Voortdurende onsimpatieke, liefdelose diktatoriale gesag sal hoë stresvlakke in ʼn kind aanwakker. Eersgenoemde sal ook die geval wees as daar geen dissipline is nie. Dissiplinering van kinders is om hulle die regte benadering tot die lewe te leer. Dit impliseer aanprysing as hulle iets reg doen en nie slegs straf vir verkeerde optrede nie. Dissipline behoort beide aanprysing en straf in te sluit (Neifert, 1991; Stoppard, 1992).

Die gesinstruktuur, insluitend vaders, moeders, sibbe, ensovoorts, asook die wisselwerking tussen die partye is belangrik. Vervolgens word gesinsfunksionering en die wisselwerking daarbinne bespreek.

TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE VADER SE ROL EN SY INVLOED OP GESINSDINAMIKA IN FUNKSIONELE EN DISFUNKSIONELE GESINNE

41