• No results found

3.2 PERSPEKTIEWE VAN TOEPASSING OP DIENSLEWERING AAN KINDERS WAT VANUIT STAATSORG

3.2.1 Regte-gebaseerde perspektief

UNICEF (2011) beskryf die regte-gebaseerde perspektief as ’n konseptuele raamwerk vir die proses van menslike ontwikkeling wat hoofsaaklik op internasionale menslike regte en standaarde gebaseer is. Die doel van die benutting van hierdie perspektief, veral in die lewering van maatskaplike dienste, is die bevordering en beskerming van menslike regte. Die Algemene Kommentaar van die Verenigde Nasies Komitee vir die Regte van die Kind (United Nations, 2011:1) behou die volgende siening oor die regte-gebaseerde perspektief: “’n Regte-gebaseerde perspektief tot kinderversorging en - beskerming vereis ’n paradigma-skuif na die respektering en bevordering van menswaardigheid asook die fisiese en sielkundige intergriteit van kinders as volwaardige individue met regte eerder, as om hulle hoofsaaklik as slagoffers te sien.” Dinbabo (2013) noem ook dat die benutting van die regte-gebaseerde perspektief in die implementering van kinderregte wêreldwyd belangrik is vir die versekering dat kinderregte beskerm en bevorder word aangesien hulle dikwels as die kwesbaarste wesens van die samelewing beskou word.

Lombard (2008) is van mening dat die regte-gebaseerde perspektief gegrond is op die beginsels van maatskaplike geregtigheid en billikheid. Hierdie perspektief beklemtoon mense se sosio-ekonomiese regte soos uiteengesit in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108 van 1996). Piron (2004) in Dinbabo (2013) voeg by dat die regte-gebaseerde perspektief ’n konseptuele raamwerk is vir die

47

proses van maatskaplike ontwikkeling wat op internasionale standaarde van menslike regte gebaseer is en hoofsaaklik op die bevordering en beskerming van menseregte wêreldwyd fokus.

Dinbabo (2013) lig verder uit dat die regte-gebaseerde perspektief se sentrale fokus is om ongelykhede tussen mense aan te spreek aangesien ongelykhede dikwels die wortel van alle ontwikkelingsprobleme is. ’n Verdere belangrike doelwit van die regte-gebaseerde perspektief is die bemagtiging van mense, veral voorheen benadeeldes, sodat mense die nodige kennis het om hul regte te ken en daarop aanspraak te maak en in staat te kan wees om deel te neem aan beleidsformulering.

Offenheiser en Holcombe (2003) bevestig die siening dat die regte-gebaseerde perspektief daarna strewe om die struikelblokke te identifiseer wat mense daarvan weerhou om toegang tot geleenthede te verkry om sodoende hul lewens te verbeter. Met die benutting van hierdie perspektief word individue en groepe gehelp om hindernisse tot groei te oorkom eerder as om lewenslank afhanklik te wees van maatskaplike toelae soos deur die staat voorsien. Vir die realisering van die regte-gebaseerde perspektief in die maatskaplike werk praktyk, beklemtoon die outeurs Broberg en Sano (2017) en Quinn et al (2017) die noodsaaklikheid van die vorming van ’n koalisie tussen die staat, nie-regering organisasies, maatskaplike werk navorsers en praktisyne, gemeenskapsontwikkelaars, asook die besigheidsektor. Hierdie koalisie vereis noue samewerking tussen die verskillende partye ter wille van die beskerming en bevordering van menseregte asook die bemagtiging van die mensdom om die oorsake van struikelblokke tot ontwikkeling te oorkom sodat mense die kennis en vaardighede het om hul eie probleme en behoeftes effektief aan te spreek.

Vervolgens sal die beginsels en toepassing van beide die regte-gebaseerde perspektief en sterkte perspektief bespreek word.

3.2.1.1 Beginsels en toepassing van die regte-gebaseerde perspektief

Daar bestaan onderliggende beginsels wat ’n belangrike rol speel in die toepassing van die regte-gebaseerde perspektief in die maatskaplike werk praktyk.

48

Vervolgens sal die sewe basiese beginsels, soos uitgelig deur UNICEF (2014) ,bespreek word:

Universaliteit en onaantasbaarheid: Volgens hierdie beginsel is menslike regte universeel; dus is elkeen in die wêreld daarop geregtig. ’n Individu kan nie uit vrye wil sy of haar menslike regte opgee nie en kan ook nie daarvan ontneem word nie. In die konteks van die studie het kinders dus die reg om effektief voorberei te word vir die uitdagings in die samelewing nadat hulle vanuit staatsorg onthef word.

Onverdeelbaarheid: Volgens hierdie beginsel is alle regte, hetsy burgerlike, ekonomiese, politieke of maatskaplike regte ewe belangrik vir elke mens se waardigheid. Al hierdie regte het gelyke status en kan nie in ’n hiërargie ingedeel word nie.

Interafhanklikheid en verwantskap: Hierdie beginsel dui aan dat elke menslike reg, soos byvoorbeeld die reg tot gesondheid, maatskaplike dienste, en opvoeding, verband hou met mekaar en nie in isolasie gesien kan word nie. In die praktyk gebruik maatskaplike werkers gewoonlik hulpmiddels soos

n ekokaart, ontwikkel deur Hartman in 1975, om die sosiale en persoonlike verhoudings wat kliënte met hulle omgewing het aan te dui. Met die gebruik van hierdie hulpmiddel kan maatskaplike werkers verseker dat die kliënte toegang het tot dienste in die gemeenskap sodat hulle sosio-ekonomiese regte vervul kan word. Tydens die voorbereiding van kinders wie vanuit staatsorg onthef moet word, kan maatskaplike werkers byvoorbeeld ’n ekokaart as hulpmiddel benut om die hulpbronne in die gemeenskap te identifiseer waarmee kinders in verbinding kan tree vir suksesvolle herintegrasie binne die samelewing.

Gelykheid en nie-diskriminasie: Volgens hierdie beginsel is alle individue gelyk as menslike wesens, moet elkeen se waardigheid respekteer word, en is elkeen ook geregtig op hul regte sonder enige diskriminasie. Volgens Dinbabo (2013) is die regte-gebaseerde perspektief se fokus juis om diskriminasie en ongelykheid aan te spreek aangesien die teenwoordigheid hiervan struikelblokke van menslike ontwikkeling is. Die beskerming van gemarginaliseerde mense se regte en welstand word ook as belangrik beskou. Hierdie beginsel sluit nou aan by een van die primêre doelstellings van die Handves van Menseregte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Republiek van Suid- Afrika, 1996), naamlik om die bereiking van gelykheid te bevorder asook mense te beskerm wat benadeel word deur onregverdige diskriminasie. Dit is belangrik dat kinders in kinder- en jeugsorgsentrums tydens voorbereiding vir herintegrasie binne die samelewing, opgevoed word oor hul maatskaplike, ekonomiese, politieke, en kulturele regte asook oor die hulpbronne in die gemeenskap wat hiermee gepaardgaan ten einde te sorg dat hierdie kinders optimaal as volwassenes kan ontwikkel.

49

Deelname en insluiting: Hierdie beginsel dui aan dat elke mens geregtig is tot vrye, aktiewe, en betekenisvolle deelname in hul eie burgerlike, ekonomiese, sosiale, politieke, en kulturele ontwikkeling. Deelname en insluiting is nog ’n beginsel van die regte-gebaseerde perspektief (UNICEF, 2014) wat toegepas kan word in voorbereidingsprogramme vir kinders wie vanuit staatsorg onthef word. Die opstel van individuele ontwikkelingsplanne soos vereis deur die Nasionale Norme en Standaarde vir Kinder- en Jeugsorgsentrums en uiteengesit in die Kinderwet verseker dat kinders betrokke is by intervensieprogramme aangesien hulle hierdie planne na ontslag vanuit kinder- en jeugsorgsentrums self moet uitvoer.

Bemagtiging: Hierdie beginsel word beskryf as die proses waarin mense se kapasiteit om aanspraak te maak op hul regte en dit te benut, groei. Broberg en Sano (2017) beklemtoon dat mense deur middel van bemagtiging aangemoedig word om vrylik te dink en op te tree asook hul eie potensiaal te vervul as ’n volwaardige lid van die gemeenskap. Mense word bemagtig om op hulle regte aan te dring eerder as om te wag vir beleide en wetgewing of die verskaffing van dienste.

Die beginsel van bemagtiging in die regte-gebaseerde perspektief (UNICEF, 2014) is ook belangrik tot die opstel en toepassing van voorbereidingsprogramme. Die multidissiplinêre span wie verantwoordelik is vir die implementering van voorbereidingsprogramme aan die inwonende kinders, het die belangrike taak om kinders te bemagtig met die nodige lewensvaardighede sodat hulle die geïdentifiseerde struikelblokke en uitdagings tot ontwikkeling kan oorkom (Tanur, 2012). Indien kinders bemagtig is met kennis, sal hulle in ’n beter posisie wees om hulpbronne in die samelewing te identifiseer waamee hulle kan aanspraak maak op hul sosio-ekonomiese regte.

Aanspreeklikheid en respek vir die gereg: Volgens hierdie beginsel is dit duidelik dat die regte- gebaseerde perspektief poog om organisasies en mense verantwoordelik vir die beskerming en bevordering van menseregte, aanspreeklik te hou sodat hulle hul verpligtinge teenoor die mensdom kan vervul. Kinder- en jeugsorgsentrums is dus ook in hierdie opsig verantwoordelik om kinders wat vanuit staatsorg onthef word, effektief vir die suksesvolle herintegrasie binne die samelewing voor te berei. Quin et al (2017) beklemtoon dat die benutting van die regte-gebaseerde perspektief in die konteks van oorgang van kinders vanuit staatsorg slegs kan realiseer indien rolspelers soos die staat, nie- regeringsorganisasies (NROs), gemeenskapsleiers, en die besigheidsektor aktief saamwerk, aangesien hulle uiteindelik aanspreeklik gehou kan word vir die beskerming en bevordering van menseregte.