• No results found

2.5 NASIONALE BELEID EN WETGEWING TOEPASLIK TOT KINDER EN JEUGSORGSENTRUMS

2.5.5 Nasionale Jeugbeleid (2015-2020)

Die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) is spesifiek ontwikkel vir alle jongmense in Suid-Afrika met die primêre fokus op die regstelling van onregverdighede van die verlede. Die Jeugbeleid spreek ook die spesifieke uitdagings en onmiddellike behoeftes van die land se jeudiges aan. Hierdie beleidsdokument kan dus gesien word as ’n noodsaaklike hulpmiddel vir jeugontwikkeling in Suid-Afrika (Kampala, 2011).

Die doel van die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) is om Suid-Afrikaanse jeug se kapasiteit te verhoog om sodoende die land se ekonomie en samelewing te verbeter. Mtwesi (2014) dui aan dat hierdie doel slegs bereik kan word indien die land op die volgende vier pilare van ontwikkeling fokus: opvoeding, gesondheid en welstand, ekonomiese deelname, en sosiale kohesie. In die Witskrif vir Maatskaplike Welsyn (1997) word jeugontwikkeling as ’n belangrike aspek van maatskaplike dienslewering beskou. Die Witskrif vir Maatskaplike Welsyn (1997) het ook ’n invloed op die Nasionale Jeugbeleid aangaande jeugontwikkeling. Beide beleidsdokumente verwys na ’n intersektorale benadering wat nodig is om jeugontwikkeling in Suid-Afrika te realiseer. Die samewerking tussen belanghebbendes van die openbare sektore, burgerlike samelewing, en private sektor is noodsaaklik om die gesamentlike doel van jeugontwikkeling te bereik.

36

Die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) is gebaseer op die eerste Nasionale Jeugbeleid (2009-2014). Die ontwikkelingsproses van die eerste Nasionale Jeugbeleid het alreeds in 2007 begin en is gekenmerk as ’n streng konsultasieproses wat die insae van verskillende rolspelers soos navorsingsinstellings, jeugorganisasies, staatsdepartemente, en die private sektor verwelkom het. Die hersiende weergawe van hierdie beleid poog om die nuwe uitdagings wat die Suid-Afrikaanse jeug in die gesig staar, aan te spreek. Die beleid is geanker in die filosofieë en doelstellings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Republiek van Suid-Afrika, 1996), Afrika Handves van die Jeug (2006), en die Nasionale Ontwikkelingsplan (2012). ’n Kernaspek wat uitgelig word is die sosio-ekonomiese benadering waarop die beleid gebaseer is. Hierdie benadering spoor jongmense aan om aktiewe deelnemers van hul eie ontwikkeling te wees ten einde hulle probleme en behoeftes aan te spreek. Die beginsels van hierdie benadering sluit ook noukeuring aan by die siening van die sterkte perspektief (Saleeby, 1996) wat fokus op die kliënt se talente, kapasiteite, en bevoegdhede. Die kliënt gebruik dus sy of haar eie sterktes vir selfbemagtiging om so onafhanklik en optimaal in die samelewing te funksioneer.

Weens die kwesbaarheid van ’n groot hoeveelheid van Suid-Afrikaanse jongmense, het die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) veral klem gelê op spesifieke teikengroepe sodat hul behoeftes as prioriteit geag word. Hierdie teikengroepe is jong vroue; jeug met gestremdhede; werklose jeug; vroeë skoolverlaters; jeug in plaaslike areas; en hoë risiko jeug, byvoorbeeld jeug met kroniese siektes; jeug in konflik met die jeug; en jeug wie slagoffers van verskillende tipes mishandeling is. Jeugdiges in konflik met die gereg en jeugdiges wie slagoffers van verskillende tipe mishandeling is, is die teikengroep van hierdie navorsingstudie en dus is dit belangrik om die navorsingsprobleem met verwysing na die Nasional Jeugbeleid te analiseer.

Volgens navorsing uitgevoer en na verwys in die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) het die sosio- ekonomiese toestand van jong mense in Suid-Afrika oor die laaste vyf jaar verbeter. ’n Artikel in ’n aanlyntydskrif Livestaff deur Douglas in 2017, verskil van hierdie bevinding. Die skrywer is van mening dat daar nie genoeg finansiële en opvoedkundige hulpbronne beskikbaar is vir Suid-Afrikaanse jeugontwikkeling nie. Navorsing dui aan dat Suid-Afrika se bevolkingsgetal tans ongeveer 54 miljoen is, waarvan die jeug 66% uitmaak. Meer as die helfte van die bevolking bestaan dus uit jongmense onder die ouderdom van 35. Navorsing deur Statistiek Suid-Afrika (2019) toon dat die werkloosheidsyfer in die land tans 27,6% is vir die eerste kwartaal van 2019. Trading Economics (2019) se navorsing aangaande die werkloosheid onder die jeug toon dat hierdie syfer gestyg het tot 55,2% in die eerste kwartaal van 2019 vanaf 54,7% in die vierde kwartaal van 2018. Die tekort aan kwaliteit opvoeding en vaardigheidsontwikkeling word in die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) uitgelig as die struikelblokke wat suksesvolle jeugontwikkeling verhinder en gevolglik bydra tot ’n verhoging van die werkloosheidsyfer onder die jeug.

37

Op 16 Februarie 2018 het die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, tydens sy eerste staatsrede ’n 12-stap program bekendgestel wat daarop gemik is om sosio-ekonomiese probleme in die land aan te spreek. Kwessies soos werksgeleenthede en jeugontwikkeling is veral uitgelig. Die president het aanbeveel dat ’n werksgroep dringend op jeugwerkloosheid moes fokus. ’n Jeug werksgroep het ook aan die program deelgeneem. Hierdie groep is verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse jeug om so te verseker dat beleide en programme hulle belange bevorder. Uit die inhoud van die staatsrede het dit duidelik geword dat die president die dringendheid van jeugontwikkeling erken asook die jeug se verskillende probleme en behoeftes in ag neem.

Die Nasionale Jeugbeleid fokus hoofsaaklik op die optimale ontwikkeling van Suid-Afrikaanse jongmense tussen 18- en 35-jarige ouderdom. Daar word herhaaldelik beklemtoon dat die staat met alle afdelings van die samelewing, insluitend die private sektor, vennootskappe moet vorm om die suksesvolle implementering van die beleid te verseker. In die beleid word deurlopend na drie areas verwys wat jeugontwikkeling sal verseker. Die eerste area is ekonomiese deelname waar jongmense geleenthede gebied word om werkservaring deur middel van internskappe en indiensopleidingsprogramme op te doen. Hierdie area sal realiseer indien die staat vennootskappe met die private sektor en ander rolspelers sluit. Die tweede area wat uitgelig word is opvoedkundige vaardighede. Die kwaliteit van opvoeding wat die skole bied moet verbeter word asook die voorsiening van naskoolse programme en verdere (tweede) geleenthede om hul opvoeding te voltooi of te verbeter. Gedragsveranderinge ten opsigte van die jeug se gesondheid en welstand is die derde area. Programme om jongmense met die ontwikkeling van hulle selfbeeld en identiteit te help, om hulle leiding te gee oor hul seksuele oriëntasie, en bewus te maak van middelmisbruik behoort ’n prioriteit met jeugontwikkeling te wees. Artikel 176 van die Kinderwet (Republiek van Suid-Afrika, 2005) bepaal dat kinders tot 18 jaar of selfs 21 jaar oud is in kinder- en jeugsorgsentrums kan bly voordat hulle onthef word. Teen daardie tyd is hulle al jeugdiges en sou hul baie gebaat het by ontwikkelingsprogramme. Die Kinderwet is egter vaag oor die aanbied van programme spesifiek aan jongmense wie uit staatsorg onthef is. Artikel 193(3)(e) van die Kinderwet (Republiek van Suid-Afrika, 2005) noem wel dat die aanbied van programme aan hierdie kinders opsioneel is, maar die artikel brei nie verder uit oor wat die inhoud van hierdie programme moet behels nie. Nietemin behoort die aanbied van voorbereidingsprogramme aan jeugdiges wat uit staatsorg onthef word as noodsaaklik beskou te word. Dit is verder nodig dat die voorbereidingsprogramme geskoei moet wees op die drie fokus areas soos in die Nasionale Jeugbeleid (2015-2020) uiteengesit is.

2.6 MULTIDISSIPLINêRE SPANBENADERING TOT DIENSLEWEING IN KINDER- EN