• No results found

Reger Suite III, Andante con Variazioni in a-mineur, opus 131c, mate 144-

In hierdie tema met variasies, soos ook in sy ander variasiewerke, toon Reger sy verbondenheid aan en verankerdheid in die tegnieke van die Barok en die Klassieke styl. Die figurale omspeling van die note van die tema herinner aan soortgelyke variasietegnieke van onder andere Händel. Dit kan ook gesien word in die behoud van die struktuur van die tema in die verskillende variasies. Die stel variasies toon egter ook ʼn ontwikkeling vanaf die figurale na die karaktervariasie waarin die tema as sulks nie altyd meer duidelik herkenbaar is nie. In hierdie opsig toon Reger dus sy verbondenheid met die stylkenmerke van laat-Romantiese variasietegnieke.

4.1.4 Reger: Opsomming van melodiese gestaltes

Soos die voorafgaande ondersoek toon, is Reger se tjellosuites onmiskenbaar veranker in die styl van die Barok en spesifiek in die tjellosuites van J. S. Bach. Dit spreek veral uit die melodiese bou-elemente soos sekwense, latente tweestemmigheid, voortspinning en motoriese beweging. Die aansluiting by Bach se suites blyk ook uit die gebruik van verskillende danstipes, van die Fuga asook ander kontrapuntale tegnieke en die ekspressiewe styl van Bach se voortspinnende spraakmelodiek.

Reger se styl toon egter ook die absorbering van stylelemente uit die na-Barok- tyd. Dit weerspieël onder andere die ontwikkeling van strykerstegnieke en die aanwending van meer virtuose elemente soos byvoorbeeld dikwelse, volgehoue

92

gebruik van dubbelgrepe. Die harmoniese styl weerspieël ook deurgaans die chromatiese gebruike van die laat-Romantiek.

Reger se suites staan in die teken van die Historisme wat in die verskillende kunsrigtings van die 19de eeu en spesifiek in die laat-19de eeu na vore kom. Dit kan onder andere bespeur word in die skilder- en beeldhoukuns, die boustyle, die meubelstyle en die musiek. Daar was ʼn nuwe belangstelling in die verlede wat aanleiding gegee het tot onder andere die rigtings van die neo-Gotiek en die neo- Barok. In die musiek vind hierdie belangstelling in die verlede vergestalting op verskillende wyses, naamlik die gebruik van kontrapuntale tegnieke, fugale styl en variasietegnieke (Pascall, 1990:534-536). Voorbeelde daarvan kom onder andere voor by Brahms (die Passacaglia uit sy vierde simfonie) (Smoldon, 1965:344), Mendelssohn (uitvoering en herlewing van J. S. Bach se Matthäus Passion [1829]) (Grout, 1980:558), Schumann (die stadige, polifoniese beweging van sy “Ryn-simfonie” in E-molmajeur) (Sargent, 1962:252) en Reger. Reger se aansluiting by Bach se ses tjellosuites is dus nie ʼn geïsoleerde geval nie, maar is ʼn uiting van die gees van sy tyd en van sy styl in die geheel.

4.1.4.1 Melodiese styl

Die beginsel van voortspinning en ontwikkeling is eie aan Reger se melodiese styl in die drie suites vir onbegeleide tjello. Die melodietipes wat veral voorkom in Reger se suites, kan in drie kategorieë verdeel word, naamlik rankmelodiek, spraakmelodiek en motoriese raammelodiek.

Die melodietipes wat veral voorkom in byvoorbeeld die Prelude uit Suite I is voortspinnende rankmelodiek (A-gedeelte vanaf maat 1), motoriese rankmelodiek (mate 63-71) en raammelodiek (mate 34-38). Die ekspressiewe voortspinningsstyl vorm die grondslag van die stadige dele uit die suites, naamlik die Adagio uit Suite I, die Prelude en Largo uit Suite II en die Prelude uit Suite III. Die motoriese raammelodiek is kenmerkend van al die dele uit die suites wat ʼn danskaraker het, naamlik die Fuga uit Suite I, die Gavotte en Gigue uit Suite II en die Scherzo uit Suite III. Deklamatoriese resitatiefmelodiek (spraakmelodiek) kom voor in die Adagio uit Suite I (mate 14-16). In al die melodietipes vorm die

93

gebruik van sekwense ʼn belangrike bousteen. Chromatiese wendings kom deurgaans in Reger se melodiek voor. Die beweging en ontwikkeling in die melodiese lyn hang nou saam met die spanningselement wat deur die dikwelse gebruik van halftoonprogressies daargestel word.

4.1.4.2 Meerstemmigheid en latente meerstemmigheid

Latente meerstemmigheid soos dit deurgaans in Bach se suites voorkom, word veral in die Prelude uit Suite I van Reger aangetref (kyk voorbeeld 4.1 hierbo). Dit geld naamlik vir die gebruik van basistone teenoor spitstone in die melodiese lyn en terugkerende tone wat as pedaalpunte geklassifiseer kan word. Gebroke akkoordfigurasies kom net in die Prelude uit Suite I, die Scherzo en die Andante

con Variazioni uit Suite III voor. Latente meerstemmigheid word in Reger se

suites veral deur die gebruik van akkoorde en konsekwente aanwending van dubbelgrepe daargestel. Die beweging van die musiek op twee vlakke en die kontrastering van motiewe kom veral voor in die dubbelgreeppassasies, soos dit in voorbeeld 4.3 geïllustreer word.

4.1.4.3 Kontras

In teenstelling met Bach is kontras in die dinamiek sowel as dinamiese gradering presies in die partituur aangedui. Net soos by Bach word kontras egter ook in die struktuur en tekstuur van die musiek geïmpliseer. Hiertoe behoort die kontrastering tussen enkellyn en dubbelgreepmotiewe, soos in voorbeeld 4.4 hierbo aangedui is.

4.1.4.4 Danskarakter

Die Gavotte en die Gigue in Suite II is die enigste danstipes uit die Barok wat in hierdie werke voorkom. Die tipiese eienskappe van hierdie twee danse word in Reger se werk ontgin, naamlik onder andere die klem op die eerste en derde polsslae in die Gavotte en die stuwende, motoriese ses-agt ritme in die Gigue. Ander dele van Reger se onbegeleide tjellosuites vertoon egter ook 'n danskarakter al word dit nie pertinent as 'n dans getipeer nie. Die Fuga in Suite II

94

met sy vinnige drieslagmaat toon ʼn ooreenkoms met die ritmies-stuwende Scherzo in Suite III. Karaktereienskappe van ander Barok-danse soos die Sarabande en die Menuet word in die openingsgedeeltes van die Adagio uit Suite I en die Largo uit Suite II onderskeidelik gesuggereer.

4.2 Die onbegeleide tjellosuites van Ernest Bloch (1880 - 1959)

Die drie suites vir onbegeleide tjello dateer uit die jare 1956 en 1957 onderskeidelik. Die eerste twee is aan die tjelliste Zara Nelsova opgedra.

4.2.1 Suite I

Bloch se eerste Suite vir solotjello is in 1956 gekomponeer en bestaan uit die volgende vier dele:

I. Prelude

II. Allegro

III. Canzona

IV. Allegro

In die Prelude se A-gedeelte van die drieledige vorm gaan die melodiese progressie uit vanaf die basistoon C. Die oorwegend stygende beweging van vier agstenootpatrone bereik ʼn hoogtepunt in maat 5. ʼn Kenmerkende eienskap van Bloch se melodiese styl, naamlik die dikwelse voorkoms van halftone en vergrote intervalle (albei met hakies in voorbeeld 4.29 aangedui) kom in die openingsmate prominent na vore:

95