• No results found

Refleksie op die Navorsingsproses

Hoofstuk 4: Metode van Ondersoek

4.8 Refleksie op die Navorsingsproses

In sosiale wetenskaplike studies word `n persoonlike refleksie op die navorsingsproses vereis, aangesien die interpretasie van data beïnvloed kan word deur die navorser se ervarings, bekommer- nisse en gevoelens, wat verband hou met die ondersoek (Flick, 2009). Volgens Benner (1994) kan navorsers ook nie sondermeer “hul agtergronde, wat as vanselfsprekend beskou word, ontsnap nie” (p. 100). Navorsers se agtergronde kan moontlik partydigheid in die ontleding van data veroorsaak, aangesien navorsers se persoonlike sienings `n effek kan uitoefen op hul interpretasies. In dié afdeling verskaf die navorser dus `n persoonlike beskrywing van sy belewenis van die navorsingsproses en `n uiteensetting van sy eie sienings, wat betrekking het op die onderwerp van die huidige studie.

Die navorser se persoonlike belangstelling in die onderwerp van gesinne se aanpassing ná die dood van `n geliefde het gespruit uit sy eie ervaring van die onlangse afsterwe van sy ouma, asook die dood van `n goeie vriend tydens sy tienerjare. Dié gebeurtenisse het `n blywende invloed gehad op die navorser se perspektief op die dood. Die navorser is van `n Christelike agtergrond en het in- diepte nagedink oor die idee van `n ewige lewe. Hy het ook begin twyfel aan die bestaan van `n almagtige en barmhartige God, wat kan toelaat dat mense die lyding en pyn ervaar van die skielike dood van `n geliefde. Die navorser het veral die dood van sy vriend as onregverdig beskou en die wil van God om mense in `n jong ouderdom te laat sterf, bevraagteken.

Tog het dit vir die navorser duidelik geword dat die mens, as sulks, nie in `n posisie is om die doen en late van God te verstaan nie. Met betrekking tot die ewige lewe het die navorser ook besef dat geen mens met absolute sekerheid kan sê dat daar wel `n lewe ná die dood is nie. Die navorser glo vandag dat mense `n voortdurende verbintenis vorm met hul gestorwe geliefdes. Die oorledene leef ewig voort in die herinneringe van sy naastes. So ook word die wysheid, kennis, belangstellings en

persoonlikheidstrekke van die oorledene vir ewig uitgeleef in die lewens van diegene wat van die oorledene afstam en dié met wie die oorledene in aanraking gekom het.

Die navorser het ook die veerkragtigheid van gesinne binne die konteks van verlies ervaar. Sy eie gesin het te midde van die hartseer en skok te make met die dood van hul ouma, moeder en skoonma, maniere gevind om voort te gaan met hul lewens. Hierdie proses het pogings ingesluit om die verlies in perspektief te plaas, om te gesels oor die doodsgebeurtenis en om positiewe herinneringe van die oorledene met mekaar te deel. Gesinslede het ook, hoewel dit nie altyd maklik was nie, mekaar so ver as moontlik ondersteun om hul verdriet te verwerk. Die navorser het dus die veerkragtigheid van sy eie gesin binne die konteks van verlies persoonlik beleef en waargeneem. Dié ervarings het deels gelei daartoe dat die navorser uiteindelik besluit het om te fokus op die gehardheid van gesinne waarin `n gesinslid oorlede is. Die navorser wou dus meer uitvind omtrent hoe gesinne daarin slaag om groot tragedies te oorkom. As sodanig kan die dood van `n kind beskou word as die mees traumatiese sterfgeval. Die navorser het sy aandag daarom gerig op die studie van gesinsgehardheid soos dit voorkom onder ouers, wat `n kind verloor het.

Vanuit `n navorsingsoogpunt is dit belangrik dat navorsers persoonlik kennis maak met deelnemers, veral as die onderwerp van `n sensitiewe aard is:

Om in-diepte beskrywings van `n verskynsel te ontwikkel, is dit `n vereiste dat navorsers persoonlike verbintenisse aanknoop met navorsingsdeelnemers. Andersins kan deelnemers navorsers dalk nie genoeg vertrou om die intieme besonderhede van hul lewens aan hulle bekend te maak nie. Die uitvoering van kwalitatiewe gesinsnavorsing behels meer dikwels hoogs persoonlike en soms pynlike temas, wat sterk emosies by navorsers en deelnemers kan wek. (Gilgun, 2005, p. 47)

Kontak is met die deelnemers aan die huidige studie bewerkstellig ongeveer `n jaar voordat daar begin is met die data-insameling. Die navorser het in dié tydperk die deelnemers leer ken op `n persoonlike vlak. Hiermee wou die navorser die gemak waarmee die deelnemers met hom kon kommunikeer, bevorder. Die navorser het sodoende in noue voeling met die deelnemers gekom en `n vertroudheid (rapport) is tussen die deelnemers en die navorser bewerkstellig. Dit het die navorser in staat gestel om die lewens van die deelnemers te verstaan en as ondersoeker te betreë (vergelyk Lincoln, 2009).

Tydens die navorsingsproses is hegte verhoudings met sekere deelnemers aangeknoop. Dié deelnemers het veral belang gestel in die studie en die navorser het hulle ingelig oor sy vordering. Gedurende die navorsingsproses het die navorser soms vriendskaplike besoeke by dié deelnemers se huise afgelê. Die navorser het ook by die Compassionate Friends se Kerslig-seremonie die gehoor

kortliks vertel van sy ervarings van die navorsingsproses en ook drie liedere met kitaar en sang uitgevoer. Dié geleentheid was vir die navorser `n spesiale ervaring en hy het gevoel dat die ouers sy teenwoordigheid waardeer het.

`n Sensitiewe kwessie wat by die navorser na vore gekom het tydens die navorsing, was dat hy by tye die gevoel gekry het dat deelnemers hul verlange na hul kinders verplaas het op hom. Dié gevoel was veral sterk indien die ouer se kind `n seun was, van min of meer dieselfde ouderdom as die navorser. Die navorser het dié gevoel nie bespreek met die ouers nie en dit aanvaar as `n verstaanbare moontlike reaksie van mense wat `n kind verloor het.

Die onderhoude was soms ook stresvol. Die navorser het by tye gevoel dat hy, as jong volwassene, wat geensins die ervaring al gehad het van die verlies van `n kind nie, geen reg gehad het om op so `n intieme, emosionele vlak met ouers wat wel `n kind verloor het, te gesels nie. Dié gevoel het egter vervaag namate die navorser ervaring opgedoen het met onderhoudvoering. Daar was ook geen ouers wat die navorser aangespreek het ten opsigte van `n onsensitiewe benadering of `n gebrek aan empatie nie (vergelyk Hynson et al., 2006). Soos dit geblyk het uit die volgende aanhalings, is die navorser se vermoëns as onderhoudvoerder deur verskeie ouers waardeer.

019M: Ons waardeer veral vandag, met die onderhoud, jou empatie en ek dink die onderwerp wat jy gekies het, pas perfek by jou persoonlikheid.

031M: Dis lekker om dit met iemand te deel soos jy.

027V: Jy het [die vrae in die onderhoud] so mooi gestel. Maak dit maklik om dit te beantwoord.

Die navorser het persoonlik baie geleer van sy eie vermoëns as navorser gedurende die navorsings- proses. Hy het ook opnuut bewus geword van die krag wat daar binne gesinne is om selfs die mees traumatiese gebeurtenisse te hanteer. Die navorser is dankbaar vir die deelnemers aan die huidige studie se bydraes, raad, ondersteuning en vriendskap. Daar word gehoop dat die resultate van die huidige studie vir ander gesinne eendag ook van waarde mag wees. Dié ideaal is inderdaad vir die navorser van groot belang.