• No results found

Beperkings, Sterkpunte en Aanbevelings vir Toekomstige Navorsing

Hoofstuk 4: Metode van Ondersoek

6.6 Beperkings, Sterkpunte en Aanbevelings vir Toekomstige Navorsing

Die resultate van die huidige ondersoek word gedeeltelik ondersteun deur empiriese navorsing. Die huidige studie is ook geloods met behulp van insigte verkry uit `n verskeidenheid van teoretiese raamwerke en modelle. Tradisionele sienings rakende verdriet en gesinsaanpassing is krities ontleed en daar is gewys op die teoretiese fokus-verskuiwing na die voortdurende verbintenis as `n proses wat van waarde is vir individue en gesinne se aanpassing ná verlies (Bowen, 1978; Walter, 1996; Davies, 2004). Die aannames van Walsh en McGoldrick (2004) se kwalitatiewe oorsig van gesinsaanpassing ná verlies, asook die proses-benadering van die Veerkragtigheidsmodel (McCubbin en McCubbin, 1996) word verder gesteun deur die bevindings van die huidige studie. Die salutogene model (Antonovsky, 1979, 1987, 1996) is ook bespreek as `n voorganger van heden- daagse gesinsveerkragtigheidsmodelle en die navorser het gelet op die ooreenkomste tussen gesinsgehardheid en die konsep van gesinskoherensie-sin (Antonovsky & Sourani, 1988). As sodanig het dit geblyk dat die gesinsgehardheid-komponente van toewyding en beheer ooreenkomste toon met, onderskeidelik, die konsepte van betekenisvolheid en handelbaarheid (Antonovsky, 1987). Volgens Almedom (2005) is daar tans verskeie ooreenstemmende konstrukte, soos gehardheid, koherensie-sin en post-traumatiese groei, wat moontlik verwys na soortgelyke prosesse en eienskappe van individuele en gesinsveerkragtigheid. Toekomstige navorsers kan verdere aandag gee aan die verskille en ooreenkomste tussen konsepte wat verband hou met gesinsveerkragtigheid.

Een van die sterkpunte van die huidige studie was dat beide ouers in die meeste gevalle saam deelgeneem het aan die onderhoude. Hierdie metode het dit moontlik gemaak om te let op die verskille en ooreenkomste ten opsigte van deelnemers se sienings oor hul gesinne se funksionering. In die deelnemers se vertellings is die kollektiewe “ons”-oriëntasie verkies bo die individualistiese “ek”-ingesteldheid – `n kwalitatiewe bevinding wat wys op die waarde en haalbaarheid van metodes gerig op die studie van gesinsprosesse (McCubbin et al., 1996). Kinders se rolle in die gesinsaanpassingsproses ná verlies is in die huidige studie alleenlik beoordeel vanuit die ouers se vertellings. Om `n bykomende blik op gesinslede se sienings oor hul gesinsfunksionering te verkry, kan toekomstige navorsing (afgesien van die ouerpaar as verteenwoordigers van hul gesinne) ook fokus daarop om die insette van die kinders in die gesin in te win.

`n Bykomende voordeel van die huidige ondersoek is die kwalitatiewe metodes wat toegepas is. Intensiewe onderhoude is gevoer met die deelnemers, waarmee in-diepte ondersoek ingestel is na die aard van gesinne se aanpassing ná die verlies van `n kind. Data-ontleding is uitgevoer met die gebruik van gegronde teoretiese metodes (Corbin & Strauss, 1990), wat dit vir die navorser

moontlik gemaak het om die vertrouenswaardigheid van die studie te bevorder (Shenton, 2004). Die kwalitatiewe aard van die huidige studie het bevindings tot gevolg gehad wat van waarde mag wees vir die verdere ontwikkeling van teoretiese sienings rakende verdriet en gesinsaanpassing.

Die byeenbring van kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes in die huidige studie was voordelig vir die kwaliteit van die ondersoek. Tussen-metode triangulering is toegepas deur middel van die kombinasie van semi-gestruktureerde onderhoudvoering en die gebruik van vraelyste (Flick, 2009). Triangulering van metodes het die navorser in staat gestel om te let op verskille en ooreenkomste ten opsigte van die kwantitatiewe en kwalitatiewe bevindings. Die navorser glo dat hierdie oorleg van metodes dit moontlik gemaak het om `n meer verrykende begrip te ontwikkel van verdriet, gesinsgehardheid en ander gesinsweerstandsbronne binne die konteks van die verlies van `n kind. Die resultate van die huidige studie kan nie sondermeer veralgemeen word tot die populasie van bedroefde ouers nie. As gevolg van `n heterogene deelnemersbasis (ten opsigte van ouderdom en geslag) kan die kwantitatiewe veralgemeningswaarde van die resultate dus bevraagteken word. Meer homogene steekproewe kan daarom van voordeel wees vir toekomstige ondersoeke.

Verder is die ontleding van kwantitatiewe data gekompliseer deur `n relatief klein steekproef van deelnemers en daaropvolgende nie-normale verspreidings van tellings. Hierdie stand van sake het veroorsaak dat minder betroubare nie-parametriese toetse soms uitgevoer moes word. `n Doelwit van toekomstige ondersoeke van gesinsgehardheid in gesinne waarin `n kind oorlede is, kan dus wees om beter steekproeftrekkingsprosedures (soos ewekansige steekproeftrekking) toe te pas en om meer deelnemers by die studies te betrek.

Die navorser beveel ook aan dat toekomstige studies verder let op gender-verskille, aangesien die huidige studie nie daarin geslaag het om verskille tussen mans en vrouens ten opsigte van gesinsgehardheid kwantitatief te ontleed nie. Dit was as gevolg van die oorwig van vroulike deelnemers vergeleke met manlike deelnemers, wat by die steekproef ingesluit is.

`n Bykomende aanbeveling sal wees om `n kontrole groep van nie-bedroefde ouers saam te stel. Sodoende sal daar beoordeel kan word of gesinsgehardheid inderdaad `n unieke effek het op bedroefde gesinne se aanpassing en of die rol van gesinsgehardheid `n algemene invloed het op alle gesinne se funksionering. Meer omvattende statistiese tegnieke is egter waarskynlik nodig om sulke ondersoeke te loods as wat die geval was in die huidige studie.

Die navorser glo dat gepaste intervensies en terapeutiese programme ontwikkel kan word met die insigte verkry in die huidige studie. Volgens Murphy (2000) is dit noodsaaklik dat werkers in die geestesgesondheid-sektor bewus bly van die unieke omstandighede van ouers se verliese en dat

programme aangepas word na gelang van dié omstandighede. As sodanig is daar in die huidige studie empiriese ondersteuning gevind vir die aanname dat gesinne se verdriet-reaksies en aanpassing verskil na aanleiding van die gesinslewensiklus, gender, die ouderdomme van kinders ten tye van sterfte, die wyse waarop die kinders gesterf het en kultuur. So ook het Dyregrov (2004) gewys op die belang van bedroefde persone se insette in die terapeutiese proses. In hierdie opsig behoort die geestesgesondheidwerker te let op die inherente sterktes van gesinne wat verlies beleef en hulle bemagtig om gebruik te maak van die weerstandsbronne tot hul beskikking. Die resultate van die huidige studie dui aan dat gesinne beheer wil neem van hul eie aanpassing en dat hulle wel- wees nastreef met die steun van mense buite die gesin, hul godsdienstige oortuigings, die ontwikkeling van `n voortdurende verbintenis met `n oorlede kind en `n fokus op inherente gesinsterktes. Die navorser glo dat dié resultate suksesvol geïntegreer kan word in die ontwikkeling van intervensies by gesinne wat die verlies van `n kind ervaar.