• No results found

4.3 BESKRYWING VAN HOOFTEMAS

4.3.2 Die perspektief van die ouer volwasse persoon aan 'n

4.3.2.3 Refleksie oor ervaring

Die respondente se eie lewensverhale het ook 'n integrale deel van die portefeulje- ontwikkelingskursus uitgemaak. Hulle was van mening dat die skryf van hulle eie lewensverhale gehelp het om hulleself beter te verstaan asook 'n nuwe identiteit omtrent hulleself te formuleer. Dit word soos volg hieronder aangedui:

My eie storie vertel, dit was 'n proses. Ek moes myself ondersoek, in myself te begin kyk, waarvandaan kom ek (en) waarheen is ek op pad … (Respondent E).

There was an assignment, they called it the Gen of Life, where you have to write everything about you, where you come from, just about you (Respondent A).

Jy moet skryf van verskillende gebeurtenisse in jou lewe. Van jou kinderdae tot jy 'n adult is. Working experience en so … (Respondent B).

Respondent A het genoem dat hierdie proses nie maklik was nie, want dit het hulle blootgestel aan vrese en alle onopgeloste sake wat hulle deur middel van die proses sou moes konfronteer. Volgens hierdie respondent het die persone in hulle groep ook baie emosioneel geraak. Respondent A se weergawe was soos volg:

… it was not easy. So a lot of people get out crying there, other said they cared about it. In our group there was a lot of tears. There was a guy from Jo'burgh, he had to go back to Jo'burgh to sort out personal problems before he can go on that course.

In hierdie verband noem Respondent I dat dié studente dan na die universiteit se sielkundiges verwys word vir beradingsessies. Hierdie diens word gratis aan die ouer volwassenes gebied en beloop gewoonlik tot drie beradingsessies. Terugvoering in hierdie verband word ook aan die mentors gegee. Volgens Ralphs (2012) dien die opskryf van volwassenes se lewensverhale as 'n terapeutiese proses. Om hulle lewensverhale te kan skryf, het aan die ouer volwassenes die geleentheid gegun om oor hulle ervaringe te reflekteer. Sodoende is daar betekenisse geheg aan hulle beleefde ervaringe.

Daarom noem Knowles (1998) dat die ouer volwasse student oor 'n groeiende reservoir ervaringe wat hy of sy opgedoen het beskik wat dan na die leerproses gebring word. Hierdie kennis en ervaringe word deur middel van die mentors se hulp ontsluit sodat die studente ook insig in hulle eie leerproses verkry het. Deur middel van refleksie het die respondente oor hulle vorige lewens- en werkservaringe asook gemeenskapsrolle nagedink. Gevolglik is die respondente se kritiese denkvermoëns asook kognitiewe denke gestimuleer. Hulle het hulle nuwe kenniskonstruksie in die leerproses integreer met hulle nuut verworwe kennis. In die proses het hulle ook hulle eie potensiaal ontdek. Geleenthede is dus deur die samestelling van hulle portefeuljes vir die volwassenes geskep om hulleself as lewenslange leerders te sien asook om die moontlike rol wat hulle studie op hulle lewens sou hê, te oordink.

Die respondente se portefeuljes het ook van mekaar verskil. Hoewel die leerinhoud dieselfde was, het die persoonlike inhoud van mekaar verskil. Die portefeulje se leerinhoud was soos volg saamgestel:

(1) 'n motiveringsverslag

(2) 'n uitgebreide curriculum vitae (3) die student se lewensverhaal (4) 'n resensie van 'n artikel, (5) 'n navorsingsprojek

(6) stawende dokumentasie van hulle voorafleer.

In die motiveringsverslag het die respondente hulleself bekend gestel en redes verskaf waarom hulle 'n sekere program of graadkursus by die UWK wou volg. Dan moes hulle ook reflekteer oor die leerinhoud en skryf oor die bydraes wat die leerinhoude op hulle persoonlike groei en ontwikkeling gehad het. Tydens die samestelling van die uitgebreide curriculum vitae is daar gekonsentreer op hulle persoonlike besonderhede, akademiese agtergrond, naskoolse kwalifikasies, werkservaringe, gemeenskapsbetrokkenheid, besondere belangstellings en vaardighede, asook organisasie- en beplanningsvaardighede wat hulle deur middel van hulle voorafleer opgedoen het. Derdens moes die respondente hulle lewensverhale stelselmatig vanaf hulle kinderjare tot by volwassenheid neerskryf. By elke ontwikkelingsfase moes die respondente ook reflekteer oor wat hulle daaruit geleer het. Dit het 'n persoonlike bewuswording van hulle identiteit na vore gebring. Dit weer het aanleiding gegee tot persoonlike groei en ontwikkeling.

Die respondente kon dus waarneem waar hulle was en waarheen hulle op pad was. Vervolgens het elke respondent 'n verkorte opsomming oor 'n artikel gegee asook 'n argument daaromtrent opgebou. Tydens die leerproses moes die respondente hulle akademiese lees- en skryfvaardighede as hulpbron gebruik. Daar is gekyk hoe hulle die teks interpreteer en op universiteitsvlak bespreek wat aanvaarbaar is. Hulle vermoë om die inligting te verwerk was 'n gevolg van die refleksie oor hulle voorafleer wat met die nuwe kenniskonstruksies geïntegreer is.

Verder moes elke respondent navorsing gaan doen oor die loopbaan wat hy of sy wou volg. Respondente moes hulle eie navorsingsvrae formuleer, besluit watter metodes gevolg moes word, agtergrondinligting verskaf, bevindinge neerskryf, gevolgtrekkings maak asook die bronne wat geraadpleeg is, aantoon. Op hierdie manier het die respondente kennis gemaak met die aanpak van 'n projek en die besluit oor watter hulpbronne om te gebruik sodat die werkstuk op 'n akademiese standaard kan wees. Laastens moes die dokumente in die respondente se portefeuljes op hulle voorafleer geskoei wees. Die meeste studente het hulle kwalifikasies asook werksprestasies as stawende bewyse van hulle voorafleer ingedien.

Die samestelling van die respondente se portefeuljes het dus hulle beste werke bevat. Assesseringsvaardighede is aangeleer deurdat die respondente self besluit het wat in hulle portefeuljes moes wees. Nie net het die ouer volwasse EVL-studente dus hulle voorafleer geïdentifiseer, geformuleer en gedokumenteer nie, maar dit moes voldoen aan die vereistes wat die universiteit gestel het. Met ander woorde, die respondente se pogings is geassesseer teen die leeruitkomste van die programme wat hulle sou volg. Hierdeur het die respondente hulle behoefte om as student aan die UWK toegelaat te kan word, gedemonstreer. Soos respondent C dit stel:

The Portfolio Development Course has taught me about lifelong learning and how it is connected with the learning on University level. It has given me recognition of my skills, knowledge and values, especially when writing my autobiographic learning history. I recognised that I have the abilities in writing a summary of difficult text and to write my own discussion on an article review. It has given me the nature of learning on University level. Building up my skills profile when doing my CV, has exposed hidden skills, knowledge and values that I was not aware of.

Respondente was dus tydens die portefeulje-ontwikkelingskursus blootgestel aan die basiese navorsingsmetodes. Om hierdie vaardighede vir akademiese vooruitgang toe te pas het die ouer volwasse EVL-studente gebruik gemaak van die beskikbare ondersteuningstelsels aan die UWK.