• No results found

4.3 BESKRYWING VAN HOOFTEMAS

4.3.2 Die perspektief van die ouer volwasse persoon aan 'n

4.3.2.2 Motivering vir leer

Die besluit om verder te studeer is nie maklik deur die respondente geneem nie aangesien hulle volwasse verantwoordelikhede soos gesinne en werksverpligtinge gehad het. Verskillende faktore het 'n rol gespeel in hulle besluit om verder te studeer. Respondente B, E en F was enkelouers terwyl respondent C getroud was. Wat hierdie respondente gemeen gehad het, was hulle finansiële omstandighede wat aanleiding gegee het tot verdere studies. Respondent B en E se finansiële verpligtinge het ook behuising, kos en versorging van die kinders ingesluit. Ten einde finansieel onafhanklik te wees om vir hulle kinders die nodige finansiële ondersteuning te kan bied, was die motiveringsfaktore wat gelei het tot verdere studies waargeneem by respondente B, E en C. Hulle weergawes volg hieronder:

Ek is 'n geskeide vrou en ek maak twee kinders groot. Dit is moeilik as jy moet rent betaal en alle finansies rus op jou (Respondent B).

Ek wil altyd verder studeer het, maar omdat daar nie geld was nie en my ma die enigste werker was, kon ek nie. Toe ek by die universiteit begin werk ek het net besluit dis vir my eie benefit en actually die benefit van my kinders (Respondent E).

Ek het maar al die jare 'n begeerte gehad om verder te studeer. Ek was 'n sekuriteitsoffisier [en] ek het home base care-werkies gedoen. Die geld wat ek daar verdien het, was eintlik baie min. Ek het net gevoel ek wil 'n beter lewe lei en 'n beter lewe vir my kinders gee (Respondent C).

Aan die ander kant het respondent F die verwerwing van 'n kwalifikasie gesien as 'n uitweg uit 'n onvervullende werk. Die posisie wat respondent F by die werk beklee het, is vir 'n vriendin aangebied en hierdie respondent sou ook finansieel na 'n laer skaal moes beweeg. Die bestuurder van die organisasie/maatskappy is deur die respondent gekonfronteer. Die bestuurder het soos volg gereageer: "Jy het nie geleerenheid nie en jy kwalifiseer daarom nie [vir werk wat respondent alreeds doen]". Om verder te kon studeer het ook beteken dat respondent F 'n loopbaan van haar keuse kon volg volgens die kwalifikasie wat behaal is. Dit sluit aan by respondent G se weergawe: "To get more information and knowledge and also a qualification that we ... [I] can be able to get a proper employment."

Respondent A se behoefte om te studeer kan gekoppel word aan persoonlike groei asook 'n lae selfbeeld. Hierdie respondent se weergawe is soos volg:

I met some friends, some of them are from the university, so sometimes to be around people that are educated and you are not, makes you feel inferior. So, one of my friends asked me if I want to go to school again and that is the right thing (Respondent A).

Respondent D het die verwerwing van 'n graad as 'n ontsnappingsroete uit armoede en sosiale omstandighede beskou. Soos Respondent D sê:

Ek het mos groot geraak met 'n ma wat drink en 'n pa wat drink, susters en broers wat drink en ek het net gevoel ek wil uitkoms hê uit die armoede wat ek in was. Ek het in fabrieke gewerk, maar ek het nooit tevrede gevoel nie. Ek het gevoel: "is dit wat ek nou moet doen vir die res van my lewe?" (Respondent D).

Swain en Hammond (2011) beskou die motivering vir leer by volwassenes as kompleks en meervoudig wat ook duidelik die geval was by bogenoemde respondente. Verder noem hierdie outeurs dat 'n mens se huidige lewensomstandighede sowel as sy/haar vorige ondervinding 'n rol speel ten opsigte van motivering vir leer. Dit het duidelik na vore gekom uit die respondente- data. Respondente se motivering vir leer is beïnvloed deur hulle vorige werk, vroeë skoolverlating, huidige lewensomstandighede, gesinsagtergrond, asook toekomstige loopbaanrigting. Die meeste motiveringsfaktore was dan ook intern hoewel eksterne faktore ook na vore gekom het. Dit sluit aan by Knowles (1998) se argument dat die volwasse persoon eerder deur interne as eksterne faktore aangespoor word om te leer.

Data-analisering dui ook aan dat die respondente aan hulleself of ander wou bewys dat hulle oor die vermoë beskik om hard te werk en dat hulle op akademiese vlak kan uitstyg. Soos respondent F dit gestel het:

… dit het my aangevuur om vir hom [bestuurder] te wys dat ek is nie stupid nie, ek kan 'n geleerentheid [graad verwerf] kry as ek wou. En dit het in 'n groot mate my encourage om groter sukses te behaal, nie net om vir ander te wys nie, maar ook om dit aan myself te bewys.

Respondent D noem weer: "Ek vorder. Ek het in my Psychology twee A's gekry, by my Engels 'n B, by my Afrikaans 'n C, by my Anthropology het ek 'n C gekry." Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat ouer volwasse studente verbind is tot hulle studies en dat hulle verwag om akademies goed te vaar.

Aangesien die respondente aktief betrokke was by die samestelling van hulle eie portefeuljes (leerproses) het dit ook hulle motiveringsvlakke verhoog want hulle was doelgeoriënteer en selfgedissiplineerd. Hulle selfbeeld het verbeter alhoewel sommige van hulle minderwaardig gevoel het (soos waargeneem tydens die onderhoud) omdat hulle deur middel van 'n alternatiewe metode tot die universiteit toegelaat is. Take is betyds ingehandig en hulle het van die ondersteuningsnetwerke by die UWK gebruik gemaak om te sorg dat hulle werkstukke op 'n akademiese standaard was. Op hierdie wyse het die respondente hulle leerproses beplan en bestuur. Verder het hulle ook eienaarskap van die leerproses aanvaar deur dit vir hulleself sinvol en betekenisvol te maak. In die proses het die respondente in selfgerigte persone ontwikkel wat verantwoordelike besluite kon neem. Verder het die respondente ook bevestig dat hulle deur harde werk en deur hulleself tot hulle studies te verbind, sukses kon smaak. Dit sluit aan by Knowles (1998) se beskrywing van die volwasse leerder as 'n persoon met 'n onafhanklike selfbegrip wat selfgerigte leer kan toepas.

Om hulle werkstukke tydens die portefeulje-ontwikkelingskursus op 'n akademiese standaard te kry, moes die respondente oor hulle voorafleer reflekteer. Die volgende onderafdeling handel dus oor reflektiewe leer tydens die portefeulje-ontwikkelingskursus.