• No results found

HOOFSTUK 3: VRYHEID EN MENSWAARDIGHEID

3 Vryheid en menswaardigheid in ander regstelsels

3.2.2 Die “Rechtsstaat”

Artikel 20(3) bevestig dat die demokratiese staat aan die onafhanklike morele struktuur wat die Grondwet daarstel, onderwerp is. Artikel 79(3) bepaal onomwonde dat ʼn wysiging van die grondwetlike beginsels in artikels 1 tot 20 ontoelaatbaar is.223 Hierdie artikels vestig die sogenaamde “Rechtsstaat” wat volgens Eberle omskryf kan word as ʼn strukturele komponent van die Duitse idee van vryheid wat die staat verbind tot sekere fundamentele beginsels wat staatsmag beperk, en individue emansipeer om hulle lewens te bestuur. Binne hierdie staat moet burgers teen onnodige beperkings van hulle vryheid deur staatsoptrede beskerm word.224 Volgens Grote het die “Rechtsstaat-beginsel” van die Duitse Grondwet ʼn transformasie van grondwetlike beskerming as ʼn formele konsep wat op organisatoriese en prosedurele beskermingsmaatreёls gefokus het, tot ʼn konsep gebaseer op ʼn substantiewe beginsel van geregtigheid teweeggebring. Fundamentele regte word gewaarborg as ʼn objektiewe waarde-orde wat deur middel van die regspleging elke sektor van die regs- en politieke bedeling infiltreer. Die proporsionaliteitsbeginsel dien om staatsinmenging met regte en vryhede te beperk tot die noodsaaklike minimum ten einde ʼn legitieme doelwit te bereik. Die Konstitusionele Hof het die proporsionaliteitsbeginsel uitdruklik met die regstaatbeginsel verbind, maar het terselfdertyd beklemtoon dat dit afgelei is van die essensie van die basiese regte as sulks wat, as ʼn uitdrukking van die algemene vryheid van die burger teen die staat, slegs beperk mag word in soverre dit onvermydelik is ter beskerming van die openbare belang. Volgens Currie is artikel 2(1) in samehang met die proporsionaliteitsbeginsel “the ultimate guarantor of substantive due process in Germany.” 225

3.2.3 Menswaardigheid en vryheid

223 Artikel 20 lees soos volg: “(1) The Federal Republic of Germany is a democratic and social Federal

state. (2) All state authority emanates from the people. It is exercised by the people by means of elections and voting and by separate legislative, executive and judicial organs. (3) Legislation is subject to the constitutional order; the executive and the judiciary are bound by the law. (4) All Germans shall have the right to resist any person seeking to abolish this constitutional order, should no other remedy be possible.” Sien Eberle 2007: 23.

224 Eberle 2007: 5, 6, 54-60; Sien ook Currie 1994: 18-20. 225 Flanz 2008: Bundel VII par II.5; Currie 1994: 321.

Die bepaling in artikel 1 dat menswaardigheid onaantasbaar is, is die mees fundamentele beginsel van die Duitse Grondwet.226

Die waarde wat die Duitse reg op die menswaardigheid van elke mens plaas, blyk uit die uitspraak in die Lugsekerheidsaak.227 Die Hof verklaar dat art 14(3) van die

Luftsicherheitsgesetz, 2005 wat die weermag sou toelaat om passassiersvliegtuie wat

deur terroriste as moordwapens aangewend word, af te skiet, ongrondwetlik is, onder andere op grond van die menswaardigheidsbeginsel: “(K)illing a small number of innocent people to save a large number,” sê die Hof, “cannot be legalized since it treats dignity as if it was a measurable and limited quantity.” Die Hof redeneer dat Artikel 2.2 van die Grondwet die reg op lewe as ʼn vryheidsreg waarborg, onderhewig aan wetgewing ingevolge dieselfde artikel. Sodanige wetgewing moet op sigself egter konstitusioneel wees en mag ingevolge artikel 1 nie op die menswaardigheid van mense inbreuk maak nie. Ingevolge artikel 1 is die menswaardigheid van elke individu onaantasbaar en is dit die plig van die staat om hierdie menswaardigheid te beskerm en te respekteer. Wanneer die dood van ʼn individu in ag geneem word as onvermydelike skade ter bereiking van ander doelwitte, word die individu in ʼn voorwerp omskep en van sy onaantasbare grondwetlike reg op menswaardigheid ontneem.228

Die Duitse Konstitusionele Hof lees byna sonder uitsondering die menswaardigheidsklousule saam met die klousules wat algemene vryheidsbelange beskerm. In verskeie sake is ʼn onaantasbare privaatsfeer binne die persoonlikheidsreg geïdentifiseer. Telkens was hierdie beslissings op die menswaardigheidsbeginsel gegrond.229

Kommers beskryf die impak van menswaardigheid as grondliggende grondwetlike waarde soos volg: “Dignity … is defined by its subjective and objective sides. Subjectively it secures the individual rights of personal liberty that the state may not

226 Flanz 2008: Bundel VII par II.1.

227 Lugsekerheidsaak (2006) 115 BverfGE 118, BVerfG, 1 BvR 357/05 van 15.2.2006:

<http://www.bverfg.de/entscheidungen/rs20060215_1bvr035705en.html.>

228 Lugsekerheidsaak: par 83, 117-120; Müller & Richter 2008: 189-193; Lepsius 2006: 767-776. 229 McAllister 2003-2004: 491. Sien ook Van Wyk et al 1994: 245-247; Kommers 1997: 298, 305-313.

invade; objectively it sets the boundary to liberties flowing from the rights of personal autonomy, and the state is obliged to see that this line is not overstepped.”230

Die interaksie tussen die beginsel van menswaardigheid en die reg van die individu op vrye ontwikkeling van die persoonlikheid blyk duidelik uit die uitspraak van die Duitse Federale Grondwethof met betrekking tot die vraag of lewenslange gevangenisstraf grondwetlik is.231

Die Hof maak die stelling dat die staat se verpligting om die waardigheid van alle mense te respekteer en te beskerm, op die konsep van die mens as ʼn geestelik-morele wese wat die potensiaal het om homself in vryheid te handhaaf en van binne te ontwikkel, gefundeer is.232 Die Hof verduidelik dat hierdie vryheid nie onbeperk is nie en dat die individu in sekere feitelike situasies beperkings op sy vryheid wat die regering nodig vind ten einde die samelewing in stand te hou, moet toelaat. Die outonomie van die individu moet egter beskerm word en elke individu moet binne die samelewing as ʼn lid met gelyke regte en eiewaarde erken word. Die waardigheid van die mens, sê die Hof, lê juis daarin dat hy erkenning ontvang as ʼn persoon wat verantwoordelikheid vir homself dra.233

In die Elfes-saak is die benadering gevolg dat die begrip vrye persoonlikheidsontwikkeling algemene handelingsvryheid en die reg tot selfbeskikking impliseer. Die Hof interpreteer artikel 2(1) in die lig van artikel 1 en kom tot die gevolgtrekking dat artikel 2(1) ʼn afsonderlike individuele grondwetlike reg wat ʼn persoon se algemene reg tot vryheid waarborg, daarstel. Die individu kan op artikel 2(1) steun wanneer die openbare gesag op sy of haar vryheid inbreuk maak, en ander fundamentele regte nie spesifieke beskerming teen sodanige inbreuk verleen nie. Bo alles, sê die Hof, mag wette nie ʼn persoon se waardigheid, wat die hoogste waarde van die Grondwet verteenwoordig, aantas nie, en ook nie ʼn persoon se

230 Kommers 1997: 359. Sien ook Cheadle et al 2002: par 5.2.

231 Lewenslange Gevangenisstraf-saak (1977) BVerfGE 45,187; Kommers 1997: 306-313. 232 Lewenslange Gevangenisstraf-saak: II (1).

233 Die Hof kom, in die konteks van die saak, ook met verwysing na die beginsel van sosiale

geregtigheid, tot die gevolgtrekking dat dit strydig sou wees met die beginsel van menswaardigheid om ʼn individu van sy vryheid te stroop sonder om ʼn moontlikheid te laat dat hy weer sy vryheid kan herwin. Die Hof verklaar dat artikel 14(3) van die Luftsicherheitsgesetz 2005 wat die weermag sou toelaat om vliegtuie wat deur terroriste as moordwapens aangewend word, af te skiet, ongrondwetlik is op grond van die menswaardigheidsbeginsel. Sien ook die Lugsekerheid-saak BVerfGE 115, 118; Naske & Nolte 2007: 466.

geestelike, politieke of ekonomiese vryheid op ʼn wyse wat die essensie van menswees uitwis, beperk nie.234

In 1989 moes die Konstitusionele Hof ʼn beslissing maak met betrekking tot die vraag of die betrokke applikant ʼn grondwetlike reg gehad het om met sy perd op sekere bospaadjies waar perdry verbode was, te ry.235 Die Hof handhaaf in beginsel die breë interpretasie van die omvang van die reg, maar beslis dat die aktiwiteit perdry, alhoewel dit binne die trefwydte van artikel 2(1) val, nie deel van die kern-area van beheer van ʼn mens se privaatlewe uitmaak nie en derhalwe nie in beginsel immuun teen statutêre beperkings is nie. Met verwysing na die beperkende gedeelte van die betrokke artikel, pas die Hof die proporsionaliteitsbeginsel236 toe. Die Hof kom tot die gevolgtrekking dat die betrokke beperkings wel grondwetlik is.237

In ʼn minderheidsuitspraak neem Grimm R die standpunt in dat die aktiwiteit om in die bos te ry geen grondwetlike beskerming geniet nie. Artikel 2(1) beskerm wel ʼn breё aanwendingsveld en dien ter beskerming van die vrye ontwikkeling van die persoonlikheid in veranderende omstandighede waar die spesifieke vryheidsregte gapings laat, maar bied nie ʼn volledige basiese beskerming aan die individu om te doen of nie te doen wat hy wil of nie wil nie. Individuele gedrag kan slegs op die beskerming van die artikel aanspraak maak, indien die gedrag vergelykbaar relevant vir die ontwikkeling van die persoonlikheid is as gedrag wat deur spesifieke grondwetlike regte beskerm word. Wanneer hierdie relevansie ontbreek, ontbreek ook die rede vir spesiale beskerming van basiese regte en geld die gewone reёls en remedies van die algemene reg.

In die sogenaamde Cannabis-saak238 bevestig die Hof dat artikel 2(1) van die

Grondwet elke vorm van menslike aktiwiteit, sonder oorweging van die belangrikheid

van die aktiwiteit vir die mens se ontwikkeling, beskerm. Slegs die kern van die reg om die verloop van ʼn mens se lewe te bepaal, geniet egter absolute beskerming, ook teen inmenging op grond van die openbare belang. Handeldryf met dwelms, en

234 Eberle 1997: 983, 984, 989, 1005.

235 Perdry in die Woud-saak (1989) BVerfGE 80,137; Kommers 1997: 319. 236 Sien hoofstuk 7 par 2: 228-229 hieronder.

237 Sien ook die Valkenierlisensie-saak (1980) 55 BVerfGE: 165; Kommers 1997: 315. 238 Cannabis-saak (1994) BVerfGE 90, 145.

spesifiek die vryheid om onder die invloed van dwelms te wees, kan, juis as gevolg van die groot aantal gevolge wat dwelmgebruik en -handel vir die samelewing inhou, egter nie as deel van daardie kern beskou word nie. Buite die kern van die algemene reg tot vryheid, maak beperkings binne die raamwerk wat die tweede deel van artikel 1(a) stel, naamlik beperkings ooreenkomstig die konstitusionele orde deur middel van regsreёls wat in vorm en substansie met die Grondwet versoenbaar is, nie inbreuk op die reg op vryheid wat in artikel 2(1) gewaarborg is nie. 239

Van wesenlike belang in die konteks van die studie is die beskouing van die Duitse Federale Arbeidshof dat selfvervulling van die persoonlikheid deur te werk ʼn essensiёle element van die reg op vryheid van persoonlikheidsontwikkeling is. Op hierdie basis is ʼn reg om te werk en nie slegs vergoeding te ontvang nie, deur die Hof erken, en is bevind dat werknemers wat onregmatig ontslaan is op herindiensstelling geregtig is, tensy aangetoon kan word dat verdere vrugtevolle samewerking binne die diensverhouding nie verwag kan word nie.240 Die beginsels wat in die regspraak waarna verwys is, uiteengesit is, sal dus direk relevant wees wanneer beperkings op werk ter sprake is.

3.2.4 Die “Sozialstaat”

Van wesenlike regsvergelykende belang in die konteks van die studie, is die feit dat Artikel 20(1)241 van die Duitse Grondwet bepaal dat die staat ook ʼn “Sozialstaat” is. Dit beteken dat die staat maatreёls in plek moet stel wat ʼn minimumvlak van materiёle bestaan waarborg, sodat mense menswaardig kan lewe. Dit geld ʼn breё spektrum van die menslike bestaan, byvoorbeeld opvoeding, sekuriteit en sosiale geregtigheid. Die staat is verplig om proaktief sosiale omstandighede te skep waarbinne die mens binne ʼn gemeenskap kan floreer. Die implikasie is dat die mens gedefinieer word nie as ʼn soewereine individu nie, maar as ʼn persoon gebonde tot ʼn gemeenskap.242

239 Cannabis-saak: 171-173. 240 Weiss 2004-2005: 189-190.

241 Lees met artikel 28 wat die beginsel ook op die federale state van toepassing maak. 242 Eberle 2007: 60-62. Sien ook Currie 1994: 20-24.

Die sosiaalstaatbeginsel gee op konstitusionele vlak erkenning aan die aktiewe rol wat die staat in die gemeenskap moet speel om te verseker dat sosio-ekonomiese belange beskerm word. Die oogmerke van die beginsel moet binne die juridiese raamwerk van die regstaatbeginsel verwesenlik word. Die beginsel word as staatsdoelstelling of wetgewingsopdrag beskryf en verplig die wetgewer tot optrede sonder om individuele subjektiewe regte te waarborg.243 Die sosiaalstaatbeginsel is derhalwe deur die Duitse Konstitusionele Hof aangewend, nie as basis op sigself vir die ongeldigverklaring van wetgewing nie, maar as belangrike invloed op interpretasie, byvoorbeeld met betrekking tot die voorsiening van regshulp, die handhawing van pryskontroleregulasies teenoor die argument dat die regulasies strydig was met die beginsel van kontrakteervryheid, en die beperkte toepassing van lewenslange gevangenisstraf.244 In die Lewenslange Gevangenisstraf-saak volg die Hof die benadering dat die eis om die herintegrasie van misdadigers in die samelewing grondwetlik in ooreenstemming is met die selfbegrip van ʼn gemeenskap met menswaardigheid as kern, wat verbind is tot die beginsel van sosiale geregtigheid.245 Die staat as regstaat en as sosiale staat word derhalwe deur die Grondwet verbind nie alleen tot erkenning van die idee van menswaardigheid as grondslag van grondwetlike handeling nie, maar ook tot verantwoordelikheid ten opsigte van die skep van ʼn omgewing wat die objektiewe waardesisteem van die Grondwet implementeer en waarbinne elke individu die maksimum vrye persoonlikheidsontwikkeling kan verwesenlik, en elke ander grondwetlike beginsel moet met hierdie idee as uitgangspunt benader word. “The German idea entails a freedom with, not from, government. Accordingly, the state is obligated to act on behalf of the human person to secure freedom and fulfill requirements of human dignity.”246 Terwyl die regstaatbeginsel die individu teen die staat beskerm, verplig die sosiaalstaatbeginsel die staat om ʼn regverdige sosiale orde daar te stel.