• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE RAAMWERK

2.5 Pligte van die departementshoof ten opsigte van skole se Kurrikulum-

In hierdie bespreking gee ek spesifiek aandag aan die verantwoordelikhede van die departementshoof ten opsigte van die kurrikulum

Die KABV-dokument is op 28 Desember 2012 in die Staatskoerant 36041 gepubliseer. Hierdie dokument is ontwikkel ná die PAM-dokument. Net soos met PAM-dokument (DvO, 2016), is dit moontlik om die verantwoordelikhede in verband met die departementshoof na aanleiding van die volgende kategorieë te bespreek, naamlik leierskap en kurrikulumbestuur, bestuur en administrasie, en onderrig en leer.

2.5.1 Leierskap en kurrikulumbestuur

Volgens die KABV-dokument (DvO, 2012) het die departementshoof pligte en verantwoordelikhede ten opsigte van leierskap en kurrikulumbestuur. Hierdie pligte en verantwoordelikhede kan soos volg opgesom word:

Daar moet seker gemaak word dat die implementering van die nasionale en provinsiale assesseringsbeleide en riglyne op skoolvlak plaasvind. Departementshoofde moet hulle vakspanne aanmoedig om leerders wat struikelblokke in hulle leerproses ervaar, vroegtydig te identifiseer sodat hulle deur die vakonderwysers ondersteun kan word. Die departementshoof moet te alle tye seker maak daar is bewyse dat intervensie plaasgevind het. Dit is ook sy/haar verantwoordelikheid dat daar op gereelde basis terugvoering aan die ouers gegee word.

Volgens die KABV-dokument (DvO, 2012) het die departementshoof ook verantwoordelikhede ten opsigte van bestuur en administrasie.

2.5.2 Bestuur en administrasie

Die KABV dokument (DvO, 2012) som hierdie verantwoordelikhede soos volg op: Die departementshoof is verantwoordelik vir die beplanning en implementering van die skoolgebaseerde assessering in elke klas en elke graad. Die beplannings- en implementeringsproses asook konstruktiewe terugvoering moet gemonitor word.

Die departementshoof moet die implementering en, indien nodig, die aanpassing van die assesseringsprogram bestuur. Die beplanning moet alreeds in November van die

vorige jaar begin. ʼn Assesseringprogram moet opgestel en reeds in die eerste week van die eerste kwartaal aan leerders en hulle ouers beskikbaar gestel word.

Die departementshoof moet in samewerking met onderwysers in sy/haar departement ʼn vakraamwerk opstel. Dit moet alreeds in die vierde kwartaal van die vorige jaar plaasvind. Daar moet seker gemaak word dat die beplanning en implementering van die skoolgebaseerde assessering in elke graad wel gedurende die jaar gedoen is in ooreenstemming met die beleid. KABV (DvO, 2012).

Die monitering of elke onderwyser die assesseringsprogram vir die volgende jaar voltooi het, is ʼn belangrike funksie wat deur die departementshoof gedoen moet word. Daar moet ook seker gemaak word of alle formele assesseringsprogramme ingedien word.

Die voltooiing van alle werkskedules moet omtrent ses weke voor die einde van die jaar nagegaan word. ʼn Templaat van die assesseringsprogram moet ook verskaf word. Die departementshoof is verder verantwoordelik om te verifieer of die verwagte aantal formele assesseringstake ingesluit word in die assesseringsprogram. Daar moet seker gemaak word dat die verskillende vorme van assessering gebruik word. Die onderwysers moet ingelig word omtrent die inhandigingsdatum van die program. Dit moet agt weke voor die sluiting van die skool plaasvind (DvO, 2012). Die departementshoof is verantwoordelik vir die samestelling van die assesseringsprogram vir elke vak in sy/haar departement drie weke voor die skool sluit.

Die departementshoof moet seker maak dat die assesseringsbeleid aandui wanneer die onderwyser se lêer ingehandig moet word. Hierdie lêers moet gereed wees aan die einde van die vorige jaar. Die vereistes vir die onderwyser se lêer moet by ʼn vakvergadering bepaal word. Die departementshoof is ook daarvoor verantwoordelik om die onderwyser se lêer te verifieer en te moniteer en konstruktiewe terugvoer op ʼn kwartaallikse basis aan elke onderwyser te verskaf. Daar moet ook bepaal word wanneer take ingehandig moet word (ten minste een keer per kwartaal) (DvO, 2012).

Die datum vir interne moderering en die verifiëring van leerders se bewysstukke asook die metode van bewaring moet tydens ʼn vakvergadering bepaal word. Die inhoud en formaat van elke taak moet duidelik wees. Die departementshoof moet bepaal of elke

taak geassesseer is en of konstruktiewe terugvoering aan elke leerder gegee. is (DvO, 2012).

Die departementshoof is verantwoordelik vir sekuriteitsmaatreëls met betrekking tot die stoor van leerders se profiele. Daar moet behoorlike kontrole gehou word oor die profiele van leerders wat die opstel van kontrolelyste insluit. Die profiele moet gereeld deur die departementshoof nagegaan word. Hy/sy moet ook aan onderwysers terugvoer gee ten opsigte van die leerderprofiele. Volgens die KABV dokument (DvO, 2012) het die departementshoof die onderstaande funksies.

2.5.3 Bestuur van onderrig en leer

Die departementshoof moet aan die einde van die vorige jaar die onderwysers in sy departement inlig omtrent die vakke en grade wat onderrig gaan word. Die departementshoof het ook die verantwoordelikheid om seker te maak dat onderwysers ingelig is ten opsigte van die departementele sperdatums vir die onderskeie vakke en grade se toetse, take, eksamens en projekte en daarby hou. Dit moet gedoen word in oorleg met die verifiërings- of modereringsprogram. Volgens die KABV-dokument (DvO, 2012) het die departementshoof die verantwoordelikheid om beplanning tesame met sy departement te doen. Dit is belangrik om ʼn oop gesprek te hê met onderwysers ten opsigte van hulle kundigheid om ʼn vak op ʼn hoër graad aan te bied, sodat hulle uiteindelik die kundigheid ontwikkel om tot matriekvlak te onderrig.

Die beplanning van aktiwiteite in ʼn departement moet deel uitmaak van die beplanningskalender van die skool. Die departementshoof moet seker maak die onderwerpe vir assesseringstake word elke jaar afgewissel. Onderwysers moet toegelaat word om nuwe idees en nuwe kennis te implementeer (DvO, 2012).

Die departementshoof verrig hoofsaaklik ʼn monitering- en koördineringsfunksie ten opsigte van die KABV. Die onderwyser aanvaar verantwoordelikheid vir onder andere die bewysstukke van leerderprestasie, die onderwyser se lêer, ensovoorts. By die skool waar die navorser betrokke is, is ʼn assesseringspan saamgestel wat verantwoordelikheid aanvaar vir onder andere die vaslegging van leerderprestasie, die rapportering van leerderprestasie asook vir progressie en promosie. By hierdie komitee is daar slegs een departementshoof betrokke. Die res van die span bestaan uit posvlak 1-onderwysers.