• No results found

1.9 SAMEVATTING

3.9.4 Pleegsorg as permanensiebeplanning

Beek en Schofield (2002:16–26) het tydens navorsing in die Verenigde Koninkryk oor hoe pleegouers hul rol in ʼn langtermynverbintenis met ʼn pleegkind beskou, die volgende sleutelkwessies geïdentifiseer:

• Ouerskap en ouerskapoutonomie

Daar word hoë eise aan pleegouers tydens die dag-tot-dag-versorging van veral jonger kinders gestel betreffende aspekte soos skoolgaan, huiswerk, vriendskappe, die hantering van gedrags- probleme, vakansies en uitstappies. Met betrekking tot ouer kinders word weer uitdagings gestel om keuses te maak ten opsigte van loopbane en verdere opleiding. Pleegouers is dit eens dat hul verbintenis met die kind nie afhang van wetlike magte nie, maar dat hulle die alledaagse eise van kindgrootmaak moet hanteer terwyl die grootste wetlike magte en verantwoordelikhede by die biologiese ouers berus. Langtermynpleegsorg word telkens gekonfronteer met ouerskapoutonomie en teenstrydighede oor rolle en verhoudings wanneer belangrike besluite geneem moet word. Dit is veral moeilik wanneer die biologiese ouers te sterwe kom of onopspoorbaar is en geen wetlike stappe al geneem is om volle voogdyskap aan die pleegouers oor te dra nie. Die situasie raak ook frustrerend wanneer maatskaplike werkers nog wetlike voorskrifte moet nakom soos gereelde besoeke en die hersiening van pleegsorgbevele en verslae, terwyl die pleegouers en pleegkind begin om ʼn langtermynvisie te ontwikkel oor die kind se toekoms en nie meer beperk wil word ten opsigte van sekere magte en besluite nie (Beek & Schofield 2002:16–17).

Hierdie soort situasie kan veral ontstaan waar die pleegouers afhanklik is van die toelae en daarom nie kan oorgaan tot ʼn aanneming nie. Die ouer en die kind ontvang dubbele boodskappe oor volle verantwoordelikhede ten opsigte van emosionele en materiële versorging maar beperkte wetlike besluitnemingsmagte.

• Familieverwantskap: ʼn betekenis van permanensie/andersheid

In die meeste langtermynpleegsorgplasings was die ouers dit eens dat, wanneer die kind eers opgeneem is in die gesin en groter familienetwerk, buitestaanders ook die kind as deel van die gesin erken. Tog is daar die andersheid met betrekking tot herkoms, wetlike status en familiename. Dit is feite wat nie geïgnoreer moet word deur voor te gee dat die kind totaal deel van die gesin is nie. Vir sommige kinders is die wetlike status nie so belangrik as die emosionele verbondenheid nie, terwyl ander kinders telkens ontstel word deur wetlike prosedures wat nagekom moet word omdat hulle in pleegsorg verkeer. Aspekte soos mediese ondersoeke en gereelde her- siening van hul versorgingsposisie deur die maatskaplike werker ontstel sommige kinders en laat hulle anders of gestigmatiseerd voel (Beek & Schofield 2002:19–22).

Dit kan dus meer gekompliseerd wees vir ʼn kind om sy status as pleegkind te hanteer as in die geval van aanneming. Emosionele verbondenheid is nie altyd genoeg wanneer die regsposisie van ʼn pleegkind steeds nie die volle oordrag van ouerlike regte en magte insluit nie. Die pleegkind moet ʼn sin vir permanensie ontwikkel en die mate van andersheid in die groter familie kan hanteer.

• Voortgesette pleegsorg in die volwasse lewe

ʼn Langtermynpleegsorgbevel en finansiële steun verval nadat die kind die ouderdom van 18 jaar bereik het, maar pleegouers is dit eens dat hul verbintenis met die kind moet voortgaan. Kinders is op 18 jaar nog baie jonk en het steeds die ondersteuning en sekuriteit van ʼn ouerhuis nodig. Pleegouers is van mening dat hulle nie deur owerhede in hierdie voortgesette pleegouerskap ondersteun word nie (Beek & Schofield 2002:19–22).

Indien pleegkinders na 18 jaar wil voortgaan met formele opleiding, kan die bevel en finansiële steun ingevolge kinderwetgewing na 21 jaar verleng word. Dit gaan egter ook oor andersoortige psigososiale steun en maatskaplikedienslewering om die jong volwassene te help met ʼn suksesvolle oorgang na die volwasse lewe.

• Die rol van die biologiese gesin

Die verhouding met biologiese ouers of familielede bepaal grootliks hoe veilig en permanent die kind die pleegsorg kan ervaar. Indien biologiese ouers steeds aandring op terugplasing, ten spyte van die onwaarskynlikheid daarvan, kan dit kinders erg onveilig en verward laat voel. Daar is

gevalle waar biologiese ouers saamstem met die langtermynplasing en steeds kontak behou met die kind, wat tot sy voordeel strek (Beek & Schofield 2002:23–24).

Langtermynpleegplasings word gewoonlik oorweeg in gevalle waar die ouers oorlede, onopspoorbaar of die kanse tot gesinsherstel uiters onwaarskynlik geag word. Negatiewe, aggressiewe of onstabiele ouers kan die kind baie verwar en die plasing kompliseer. Die maatskaplike werker behoort in hierdie gevalle ʼn belangrike fasiliterende en bemiddelende rol te speel om die pleegouer en die kind teen ontwrigting te beskerm en om besoeke aan die kind te monitor.

• Finansiële, praktiese en emosionele ondersteuning van plaaslike owerhede

Pleegouers in die ondersoek van Beek en Schofield (2002:25) was dit eens dat die gebrek aan finansiële, praktiese en emosionele ondersteuning ten opsigte van kinders wat gewoonlik baie probleme en behoeftes het, die rede is waarom ouers nie bereid is tot aanneming nie. Groot uitgawes en emosionele eise kan gestel word aan gesondheidsaspekte, opvoeding en gestremdhede. Verder is daar gewoonlik ʼn tekort aan maatskaplike werkers en ʼn gebrek aan kontinuïteit in dienslewering as gevolg van groot wisseling.

Dit is duidelik dat daar heelwat gebreke in die wetlike en maatskaplikediensleweringsisteem bestaan en dat dit bykans onmoontlik is om voorsiening te maak vir die meervoudige problematiek en unieke behoeftes van elke geval waar permanensiebeplanning moet plaasvind. Permanensiebeplanning in pleegsorg is nog meer gekompliseerd as in die geval van aanneming vanweë die regsposisie van die kind waar nie alle ouerlike regte oorgedra word nie. Die kind word dikwels gekonfronteer met dubbele boodskappe oor emosionele geborgenheid en “behoort-aan” ʼn gesin aan die een kant en aan die anderkant hantering van eie identiteit en herkoms, soms periodieke of ongereelde inmenging van biologiese ouers en beperkte ouerlike regte aan pleegouers. Dit is dus duidelik dat die pleegsorgstelsel vir ʼn verskeidenheid van behoeftes voorsiening moet maak en dat verskillende moontlikhede ondersoek moet word ten einde verskillende modelle daar te stel waarvolgens pleegsorg in die praktyk gehanteer kan word.