• No results found

1.9 SAMEVATTING

3.9.3 Permanensiebeplanningsproses

Die Verslag van die Komitee van Ondersoek na Pleegsorg van Kinders (1990:11–13) stel die volgende besluitnemingsproses in permanensiebeplanning voor:

¾ Korttermynpleegsorg met die oog op terugplasing by die ouers is die eerste en belangrikste oorweging. As voorvereiste hiervoor is ʼn plasing wat kontak tussen ouer en kind moontlik maak en beplande dienslewering wat binne ʼn bepaalde tyd suksesvolle terugplasing moontlik maak.

¾ Beplande langtermynpleegsorg omdat terugplasing by die ouers of aanneming nie moontlik blyk te wees nie. Dit moet gedoen word met inagneming van die kind se behoeftes en omstandighede en die geleentheid skep om benewens die sekuriteit wat die pleeggesin bied, ook emosionele bande met die ouers te behou.

¾ Aanneming in gevalle waar bogenoemde twee opsies nie moontlik is nie. Dit is veral toepaslik in gevalle waar kinders op ʼn jong leeftyd uit ouerlike sorg verwyder is en nie sterk emosionele bande met hulle het nie en waar die pleegouers hul psigologiese ouers geword het.

¾ Pleegsorg met oordrag van ouerlike verantwoordelikhede en regte (artikel 23) of selfs voogdyskap (artikel 24) ingevolge die Children’s Act (2005:42) blyk moontlik te wees. Dit is die aangewese weg wanneer ouers nie daarin slaag om tot die kind se sekuriteit by te dra nie en ʼn hegte verbintenis met die pleegouers gevorm is.

¾ Gesubsidieerde aanneming wat van gewone aanneming daarin verskil dat die pleegouertoelae voortgesit word nadat die pleegouers die kind aangeneem het, omdat dit nie vir hulle finansieel moontlik is om die kind sonder hulp te onderhou nie. Hierdie soort aanneming is wel voorgestel deur die Regskommissie, maar is egter nie in die nuwe Kinderwet opgeneem nie.

¾ Emansipasie beteken dat ouer kinders soms in ʼn posisie is waar hulle selfstandig kan funksioneer en waar dit beter is om hulle van die bepalings van die Kinderwet te onthef sodat hulle self oor hul toekoms kan besluit.

Unrau, Wells en Hartnett (2004:20) verwys na laasgenoemde opsie van emansipasie of meerderjarigheidsverklaring. Dit sou waarskynlik kan realiseer indien die kind bykans 18 jaar oud is en nie meer skoolgaan nie en verkies om selfstandig voort te gaan. Kinders wat na 15 jaar nie meer skoolpligtig is nie en die skool verlaat, kan ook nie langer in die pleegsorgsisteem bly nie, aangesien die toelae gestaak word. In sodanige geval sou dit egter raadsaam wees indien daar ʼn stewige en konstante ondersteuningsbasis beskikbaar is vir die kind, soos byvoorbeeld die opsies wat alreeds bespreek is. (Vgl. 3.6.8 en 3.6.9.)

Dit is dus duidelik dat ʼn proses gevolg behoort te word waar eerstens aktief na ouers en kinders uitgereik word met die oog op gesinsherstel en dat daarna meer geleidelik oorgegaan word na stappe om permanensie buite die ouerhuis te bewerkstellig. Wetlike maatreëls soos die oordrag van voogdyskap speel egter ʼn belangrike rol hierin. Die voorstel oor gesubsidieerde aannemings is tans nog nie haalbaar binne bestaande Suid-Afrikaanse wetgewing nie, maar is tog ʼn belangrike opsie wat kan bydra tot stabiliteit en sekuriteit in die kind se lewe en hopelik in die toekoms heroorweeg kan word.

Die voorgestelde hiërargie van permanensiebeplanning in die Discussion Document on Guidelines for Foster Care Policy (Department of Social Welfare 1998:9) sluit grootliks aan by bogenoemde proses en sluit die volgende in:

• Versorging deur biologiese ouers terwyl pre-statutêre dienste gelewer word om die kind so lank as moontlik in sy ouerhuis te behou.

• Indien verwydering onafwendbaar is, behoort die kind by familie of ʼn pleeggesin wat geografies so naby as moontlik aan die biologiese ouers geleë is, geplaas te word ten einde kontak met die ouer te verseker. Daarna behoort intensiewe gesinsherenigingsdienste aan die biologiese ouers gelewer te word ten einde ʼn volgende verwydering van die kind te verhoed.

• Indien terugplasing nie kan realiseer nie, behoort aanneming deur familielede oorweeg te word, of wetlike voogdyskap behoort aan hulle oorgedra te word om permanensie aan die kind te verseker.

• Wanneer bogenoemde nie kan realiseer nie, behoort aanneming deur nie-familielede oorweeg te word.

• In gevalle waar nie een van bogenoemde opsies moontlik is nie, behoort gespesialiseerde langtermynpleegsorg oorweeg te word met toekenning van voogdyskap aan pleegouers. Bogenoemde proses stem ooreen met die kontinuum van versorgingsdienste (vgl. 3.7.1) en is haalbaar binne statutêre maatreëls. Dit behoort dus in die praktyk toegepas te kan word, maar verg deeglike beplanning en dienslewering wat gerig is op behoeftes en sterktes op die verskillende vlakke van die ekologiese sisteem van die kind, biologiese en pleegouers.

Beek en Schofield (2002:14–16) stem saam dat daar ʼn reeks permanensie-opsies beskikbaar moet wees om in die behoeftes van die kinders wat nie aangeneem kan word nie, te voorsien. Langtermynpleegsorgplasings is egter meer ingewikkeld as aanneming, omdat daar teenstrydig- hede bestaan tussen emosionele verbintenisse, dag-tot-dag ouerskapbeoefening en wetlike magte wat steeds aan die biologiese ouers behoort. Die pleegouers vervul dus alle ouerlike rolle maar word steeds wetlik beperk.

Die hoofdoel van permanensiebeplanning is om stabiliteit in die kind se lewe te verseker en verwys daarom na maatreëls wat getref word om te voorkom dat kinders van die een versorgingsposisie na die ander oorgeplaas word. Dit is ook gekoppel aan die beleid van die staat om kostes te bespaar, asook dat biologiese ouers so spoedig moontlik weer verantwoordelikheid moet neem vir hul kinders (Henderson 2003:28).

By oorweging van die eerste opsie van terugplasing by die ouers behoort dit voorafgegaan te word deur deeglike assessering of die nodige veranderinge wel in die ouerhuis plaasgevind het en die aanvanklike redes vir sorgbehoewendheid gehanteer is ten einde ʼn ondersteunende en meer gesonde omgewing tuis vir die kind te bied. Faktore wat aanleiding gegee het tot kinderverwydering moet dus volledig geassesseer word ten opsigte van die ouers, die kind, die omgewing en kulturele aspekte. Volgens die ekologiese perspektief sal gefokus word op die wisselwerkende prosesse wat op alle vlakke van die ekologiese sisteem tussen persoon en die omgewing plaasvind en volgens die sterkteperspektief sal assessering sterkte- en nie probleemgerig wees nie.

Wanneer permanente versorging in pleegsorg of by wyse van aanneming oorweeg word, moet dit ook voorafgegaan word deur ʼn volledige assessering van die wisselwerkende prosesse wat tussen

die kind en die gesinsopset plaasvind. In die geval van aanneming kan nie net die kind en die gesin geassesseer word nie, maar ook die “… child-in-adoptive family interaction, and this interaction may be influenced by aspects of the broader context of the child’s life, such as the biological parents’ attitudes towards adoption” (Howe 1983:294–295). ʼn Holistiese perspektief op die totale situasie van die kind om alle bydraende faktore tot versterking of moontlike risiko’s deeglik te verken en proaktiewe optrede te beplan, is dus noodsaaklik.

Indien permanensie binne die gekose alternatiewe sorg bereik is, moet die kind se versorgingsposisie eers vir ʼn tydperk deeglik gefasiliteer word alvorens dienste getermineer word. Permanensiebeplanning behoort dus plaas te vind op ʼn kontinuum van deeglike assessering en ondersoek voor pleegsorg, dan korttermynpleegsorg met spesifieke en tydgebonde doelwitte vir gesinshereniging, daarna langtermynpleegsorg sonder aanneming en laastens aanneming met of sonder behoud van kontak met die biologiese ouer afhangende van die beste belang van die kind. Verdere aspekte van die verskillende opsies in permanensiebeplanning word vervolgens bespreek.