• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE BEGRONDING: WAARDES, ADOLESSENSIE EN

2.3 DIE INVLOED VAN DIE ADOLESSENT SE ONTWIKKELINGSTAKE

2.3.2 Persoonlikheidsontwikkeling van die adolessent

Persoonlikheidsontwikkeling dui op die ontwikkeling van die totale persoon, insluitend sy siening en evaluering van homself. Die voortdurend veranderende en relatief stabiele organisasie van die liggaamlike, psigiese en geestelike eienskappe van die adolessent bepaal sy gedrag en interaksie met die omgewing (Louw & Louw, 2014; 125).

Persoonlikheid in die breë verwys na die unieke en relatief konstante wyse waarop ‟n individu voel, dink en optree; dit is hoofsaaklik gemoeid met die stabiliteit en verandering in die vyf hoofareas van ontwikkeling. Die vyf areas kan onderskei word as ekstraversie, emosionele stabiliteit, aangenaamheid (vriendelikheid en inskiklikheid), pligsgetrouheid en openheid vir ervaringe (Bates et al., 2010, soos aangepas deur Louw & Louw, 2014:358; Costa & McCrae (1992) soos na verwys in Louw & Louw, 2014:125). (Die vyf dimensies van persoonlikheid is reeds bespreek.)

Alhoewel persoonlikheid sterk biologies gebaseer is, word dit nie net geneties bepaal nie. Wedersydse invloed van gene, ander biologiese prosesse, die omgewing en gedrag moet in aanmerking geneem word (Louw & Louw, 2014:125).

2.3.2.1 Identiteitsontwikkeling

Erikson (1950) is die mees invloedryke psigoanalitiese teoretikus met betrekking tot persoonlikheidsontwikkeling (Louw & Louw, 2007:307). Erikson was die eerste teoretikus om die belangrikheid van die vorming van ‟n persoonlike identiteit in die persoonlikheidsontwikkeling van ‟n individu te onderskei (Louw & Louw, 2014:360).

Louw en Louw (2014:360) omskryf identiteit “as die individu se bewustheid van homself as ‟n onafhanklike, unieke persoon met ‟n spesifieke plek in die samelewing”. Die adolessent wat daarin slaag om ‟n stabiele identiteitstatus te bereik word gekenmerk deur sy vermoë om te kan definieer wie hy is, weet wat vir hom belangrik is en in watter rigting hy in die lewe beweeg (Beyers, 2005:6; Louw & Louw, 2014:361).

Erikson se siening van egosintese hou verband met die individu se gewaarwording dat hy met verloop van tyd dieselfde persoon bly. Dit is waarskynlik dat die kind in die een of ander stadium

die kognitiewe vermoë sal ontwikkel om sy eie ervarings met verloop van tyd te integreer en ‟n persepsie van homself te ontwikkel waardeur hy tot die besef kom dat hy verskillende belewinge in verskillende situasies ervaar; tog bly hy dieselfde persoon met ‟n verlede, ‟n hede en ‟n toekomsverwagting (Louw & Louw, 2014:360; Thomas, 2005:86).

Die tweede taak wat die adolessent moet bemeester ten einde ‟n identiteit te ontwikkel is die vorming van ‟n sosio-kulturele identiteit. Die adolessent se identiteit moet die waarde- oriëntasies van sy of haar kultuur insluit (Louw & Louw, 2014:361).

Benewens ‟n geslagsrol-identiteit moet die adolessent realisties wees oor sy eie vermoëns en prestasies ten einde ‟n realistiese beroepskeuse (beroepsidentiteit) te maak (Louw & Louw, 2014:361).

Die adolessent moet sekere waardes so oordink dat hy ‟n eie basiese filosofie (ʼn eie waardesisteem) kan vorm wat as anker in sy lewe kan dien (Louw & Louw, 2007:310). Volgens Louw en Louw (2014:361) ontstaan identiteitsverwarring wanneer die adolessent besluiteloos oor homself en sy rolle is. Hy kan nie die verskillende rolle integreer nie en wanneer hy deur teenstrydige waardesisteme gekonfronteer word, beskik hy nie oor die vermoë of die selfvertroue om besluite te neem nie. Hierdie verwarring veroorsaak angstigheid oor sowel as onverskilligheid teenoor of vyandigheid teen rolle of waardes. Identiteitsverwarring kan tot ‟n vooruitbesliste identiteit of negatiewe identiteit lei.

ʼn

Vooruitbesliste identiteit impliseer dat die identiteitskrisis opgelos word deur ‟n reeks voortydige besluite te neem, gebaseer op ander se verwagtinge van hoe jy behoort te wees. ‟n Negatiewe identiteit beteken dat die adolessent ‟n identiteit ontwikkel wat die teenoorgestelde van sy kulturele waardes en verwagtinge is. Voorbeelde van sodanige adolessente is dwelmgebruikers en jeugmisdadigers (Louw & Louw, 2007:311; Louw & Louw, 2014:362). Erikson se beskrywing van identiteit was die voorloper van James Marcia se teorie rakende die formulering van identiteit-statusse. Identiteitstatus hou verband met die wyses waarop die identiteitskrisis tydens adolessensie opgelos kan word. Marcia het die volgende vier identiteit- statusse onderskei (Louw & Louw, 2007:312; Louw & Louw, 2014:363; Swartz et al., 2012:10): Status 1: Identiteitsbereiking. Die adolessent is deur die krisisperiode en is redelik sterk

verbind tot ‟n loopbaan en waardesisteem.

Status 2: Identiteitsmoratorium. Die adolessent verkeer nog in ‟n krisisperiode en is aktief

Status 3: Vooruitbesliste identiteit. Geen krisis word ervaar nie. Die adolessent is verbind

tot sekere doelwitte en waardes; moontlik as gevolg van die ouers se invloed. Die adolessent met ‟n vooruitbesliste identiteit volg ‟n goed definieerde lewensweg.

Status 4: Identiteitsverwarring. Die adolessent is tot niks verbind nie en probeer ook geen

verbondenheid ontwikkel nie; ‟n krisis kan ervaar word of nie.

Faktore wat tot identiteitsvorming bydra

Die adolessente wat hulle in ‟n staat/toestand van verwarring bevind wat meer as een maal kan voorkom, ondervind gewoonlik minder hartlike, oop kommunikasie tuis. Dit gee aanleiding daartoe dat hulle hul ouers se waardes verwerp (Marcia (1980), soos na verwys in Knafo & Schwartz, 2009:242). Die adolessent wat reeds identiteitstatus bereik het en in ‟n intieme verhouding met sy ouer verkeer, sal ontvanklik wees vir die waardes wat die ouers huldig. Die adolessent wat reeds identiteit bereik het maar nie in ‟n intieme verhouding met sy ouers verkeer nie, sal ontvanklik wees vir waardesisteme wat nie verband hou met dié van sy ouers nie (Knafo & Schwartz, 2009:245).

Skole en gemeenskappe wat ‟n ryk verskeidenheid ervarings bied, soos verrykende klasbesprekings en buitekurrikulêre aktiwiteite, bied geleenthede vir verkenning wat tot identiteitsontwikkeling en die internalisering van waardes kan bydra. Persoonlikheid speel ‟n rol. ‟n Buigsame, ontvanklike benadering tot probleemoplossing bevorder ‟n volwasse identiteit. Die adolessent met dié persoonlikheidseienskap (hy ressorteer gewoonlik onder die twee hoër identiteit-statusse) toon die vermoë om ontvanklikheid vir verandering as hoërordewaarde te akkommodeer. Die adolessent wat in die stadium van vooruitbesliste identiteit of die status van verwarring verkeer, neig om minder ontvanklik vir verandering te wees. Die hoërorde waardetipe, beskerming, is ‟n meer voor die hand liggende keuse. Dit impliseer dat die adolessent bestaande konsepte eerder sal aanhang in plaas daarvan om dit met nuutgevormde konsepte te vervang (Knafo & Schwartz, 2009:247).

Die groter kulturele konteks speel ‟n rol. Die vorming van ‟n identiteit kan veral in ‟n kultureel diverse land soos Suid-Afrika uitdagend wees. Die adolessent moet nie net sy eie etnisiteit en kulturele afkoms aanvaar nie, maar moet ook ander kulture akkommodeer. Die vorming van ‟n multikulturele identiteit deur die verkenning en aanneming van sommige van die ander kulture se waardes kan bykomende voordele inhou. Die geleentheid om etniese erfenis te verken en om van ander kulture in ‟n atmosfeer van respek te leer, bevorder identiteitsbereiking op die terrein van sosiale en emosionele ontwikkeling (Louw & Louw, 2007:313).

Alhoewel identiteitsverkenning ‟n lewenslange proses is, word dit veral intens tydens adolessensie (Louw & Louw, 2007:313). Vrae waarmee die adolessent worstel oor wie hy is, wat hy wil doen en watter tipe verhoudings hy wil hê, kan deur die kuberruimte, webwerwe en internet-gesprekskamers belig word. Dit kan aanleiding gee daartoe dat die adolessent waardes internaliseer wat nie kongruent is aan die waardes wat die ouers aan hom oordra nie (Greenberg & Weber, 2008:24).

Tydens adolessensie eksperimenteer die individu dikwels met nuwe intieme verhoudings (vriendskappe en romantiese verhoudings) en is veral op die uitkyk vir maats of groepe waar hy meen hy tuis sal voel. Hierdie verhoudings speel ‟n rol in die verkenning van sy identiteit. Die internalisering van waardes gaan afhang van die verhouding tussen die adolessent en sy ouers. Die adolessent wat ‟n intieme verhouding met sy ouers het, is meer ontvanklik vir die waardes wat hulle aan hom oordra. Dit skep geleentheid om selfversekerd in die wyer wêreld te beweeg en sy mening te lug wat die ontwikkeling van die moratorium (die adolessent is nog aktief in die soeke na ‟n identiteit) en die identiteitsbereiking-status kan bevorder (Knafo & Schwartz, 2009:245).

2.3.2.2 Die selfkonsep: Die adolessent se begrip van die self, die werklike self, moontlike self en vals self

Een aspek van die adolessent se vermoë om abstrak te redeneer is sy vermoë om te onderskei tussen ‟n werklike self en ‟n moontlike self. Twee tipes moontlike self word onderskei: ‟n ideale

self en ‟n gevreesde self. Die ideale self is die persoon wat die adolessent graag wil wees en

die gevreesde self is die persoon wat die adolessent vrees om te word. Die ideale self hou verband met die adolessent se positiewe waardesisteem, want die waardes wat nagestreef word in die vorming van ‟n waardesisteem is gebaseer op “wie ek graag wil wees”. Die waardesisteem van die gevreesde self sal dus in konflik staan met dié van die ideale self (Louw & Louw, 2007:315; Louw & Louw, 2014:368).

Die adolessent se formeel-operasionele kognitiewe vermoë impliseer dat hy oor die vermoë beskik om homself in teenstrydige terme te beskryf. Die teenstrydighede dui daarop dat hy bewus word van sy gevoelens en die feit dat gedrag van dag tot dag en van situasie tot situasie kan verskil (Louw & Louw, 2007:315; Louw & Louw, 2014:368).

Die vals self is ‟n self wat hy aan ander voorhou terwyl hy besef dat dit nie werklik is wat hy dink of voel nie. Selfs al hou hy nie daarvan om ‟n vals self voor te hou nie, kan hy dit aanvaarbaar vind in situasies waar hy iemand wil beïndruk of as hy die een of ander aspek van die self wat

hy nie wil hê ander moet sien nie, wil versteek (Louw & Louw, 2007:316; Louw & Louw, 2014:368).

Selfagting, selfbeeld en selfwaarneming

Selfagting is ‟n persoon se algehele sin van waarde en welstand. Selfbeeld, selfbegrip en selfwaarneming is verwante terme wat verwys na die wyse waarop ‟n persoon hom- of haarself sien en evalueer (Manning, 2007:11). Tydens vroeë adolessensie, wanneer die adolessent heel waarskynlik in ‟n hoërskoolomgewing moet aanpas, is hy geneig om ‟n tydelike afname in selfagting te ervaar. Namate hy by fisiese, kognitiewe en sosiale veranderinge aanpas, word sy gevoelens van eiewaarde herstel (Louw & Louw, 2007:316; Louw & Louw, 2014:369).

Volgens Harter (1998), soos na verwys deur Louw en Louw (2007:316), word agt domeine van adolessenteselfbeeld geïdentifiseer: skolastiese bekwaamheid, sosiale voorkoms, atletiese bekwaamheid, fisiese voorkoms, werksbekwaamheid, romantiese aantrekkingskrag, gedragsoptrede en hegte vriendskap. Vir die adolessent om oor ‟n hoë globale selfagting te beskik, beteken dit nie dat hy ‟n positiewe selfbeeld in al die domeine moet hê nie; elke domein van die selfbeeld beïnvloed slegs die globale selfbeeld in die mate waarin die adolessent daardie domein as belangrik beskou (Louw & Louw, 2007:316; Louw & Louw, 2014:369).

Afgesien van die globale selfagting het sommige navorsers op hierdie gebied verskillende aspekte van die selfagting geïdentifiseer, naamlik die basislyn-selfagting en die barometriese selfagting. Die basislyn-selfagting is die stabiele, voortdurende gevoel van eiewaarde en welstand wat die adolessent ervaar. Die adolessent met ‟n hoë basislyn-selfagting evalueer homself meestal positief, alhoewel hy soms ‟n slegte dag kan hê wanneer hy onbevoeg en selfkrities voel. Die adolessent met ‟n lae basislyn-selfagting neig om ‟n negatiewe mening oor van homself te hê, selfs al ervaar hy dae wanneer dinge reg verloop (Louw & Louw, 2007:316; Louw & Louw, 2014:369).

Die barometriese selfagting is die fluktuerende gevoel van eiewaarde en welstand wat die individu ervaar namate hy deur die loop van die dag op verskillende gedagtes, ervarings en interaksies reageer. Adolessensie blyk ‟n periode te wees waartydens variasies in die barometriese selfagting veral intens ervaar word (Louw & Louw, 2007:317; Louw & Louw, 2014:369).

Kultuur en die self

In kultuurverskille ten opsigte van die self word onderskeid getref tussen die onafhanklike self (voorgestaan deur individualistiese kulture) en die interafhanklike self (voorgestaan deur

kollektivistiese kulture). In kulture wat ‟n onafhanklike, individualistiese self voorstaan, blyk dit aanvaarbaar te wees om oor jouself te dink, om te oorweeg wie jy as ‟n onafhanklike persoon is en om jouself belangrik te ag. In kollektivistiese kulture word die self as ‟n interafhanklike konsep beskou. In hierdie kulture is die belange van die groep – die gesin, die verwantskapsgroep, die etniese groep, die nasie, die godsdienstige instelling – veronderstel om voorop te staan. Dit wil sê voor die behoeftes van die individu (Louw & Louw, 2007:317-318; Louw & Louw, 2014:371).

Oor die algemeen is Westerse kulture meer individualisties, terwyl Afrika- en Asiatiese kulture meer kollektivisties van aard is. Dit is veral Amerikaners wat bekend is vir hulle individualisme en hulle fokus op selfgeoriënteerde kwessies; besorgdheid oor selfagting is ook ‟n kenmerkende Amerikaanse verskynsel en word nie in dieselfde mate deur ander Westerse lande geag nie (Louw & Louw, 2007:319; Louw & Louw, 2014:369).

Emosies

Die adolessent is geneig om minder uitermatig positiewe en meer negatiewe emosies as jonger kinders te ervaar as gevolg van sy fisiese, kognitiewe, persoonlikheids- en sosiale ontwikkeling (Louw & Louw, 2007:319; Louw & Louw, 2014:373). Die wisseling in emosies kan ‟n demper op die uitleef van sekere prioriteitswaardes plaas (Schwartz, 2007:175).

Die adolessent se emosies kan binne die bestek van ‟n uur verander van opgewek na bedruk en dan weer opgewek. Hierdie gemoedskommelinge hou verband met hormonale veranderinge tydens adolessensie, maar kan nie uitsluitlik aan hormonale veranderinge toegeskryf word nie. Die situasie waarin die adolessent hom bevind, kan ‟n rol speel, byvoorbeeld in die geselskap van vriende is hy vrolik en opgewek, maar in die klaskamer of by die huis is hy bedruk. Die voorkeursituasie van ‟n adolessent hou verband met die betrokke waardevoorkeur wat sy handelinge en gedrag op daardie tydstip van sy lewe rig (Rohan, 2000:257).

Die feit dat die adolessent geneig is om op homself te fokus, kan daartoe bydra dat hy gevoelens van angstigheid, skuld, skaamte en verleentheid ervaar. Weens sy vermoë rakende abstrakte en komplekse denke dra sy geneigdheid om op homself te fokus daartoe by dat hy insig in sy eie en ander se gevoelens openbaar, en die vermoë om empatie te ervaar, verder ontwikkel (Louw & Louw, 2007:319; Louw & Louw, 2014:373).

Volgens Louw en Louw (2014:373) bring die volgende aspekte verhoogde emosionaliteit by die adolessent mee:

 Fisiese toestand. ‟n Gebrek aan yster (bloedarmoede) en kalsium (nodig vir groei) gee aanleiding tot uitputting, geïrriteerdheid en emosionele uitbarstings.

 Aanpassing by ‟n nuwe omgewing. Die adolessent word nie deur die volwassene op sodanige aanpassings voorberei nie, maar word dikwels deur ‟n volwassene bygestaan as hy by ‟n nuwe situasie moet aanpas.

 Situasies waarin die adolessent hom onwaardig voel, veral waar sosiale sukses met betrekking tot die teenoorgestelde geslag ter sprake is.

 Dissipline en te min onafhanklikheid gee aanleiding tot wrywing tussen die ouer en die adolessent.

 Hindernisse soos ekonomiese en ouerlike beperkinge kan in die weg van die adolessent se emosionele begeertes staan.

 Swak selfbeeld en ʼn minderwaardigheidsgevoel.

Kritiek op die werk van Erikson

Navorsers verskil in sekere opsigte van Erikson se siening van identiteitsvorming. Die term

identiteitskrisis skep die indruk van ‟n intense, traumatiese ervaring wat slegs op ‟n spesifieke,

kritieke tydstip tydens adolessensie plaasvind. Identiteitsvorming is ‟n geleidelike en langdurige proses wat, in baie gevalle, sonder enige "trauma" beleef word (Louw & Louw, 2007:311). Erikson is van mening dat die identiteitskrisis in laat-adolessensie (15-18 jaar) opgelos word. Navorsing het die teendeel bewys: 4% van adolessente op vyftienjarige ouderdom en slegs 20% op agtienjarige ouderdom is seker van hulle identiteit (Louw & Louw, 2007:311).

Die adolessent vorm nie sy identiteit gelyktydig op alle gebiede soos Erikson beweer nie. ‟n Sterk sin vir identiteit kan byvoorbeeld ten opsigte van ‟n beroepskeuse bestaan, terwyl die identiteitsoeke op gebiede soos geslagsrolle, godsdienstige waardes en politieke ideologieë steeds voortduur (Louw & Louw, 2007:311).

Marcia (Louw & Louw, 2007:312) wys daarop dat die adolessent dikwels tussen die verskeie identiteit-statusse wissel totdat hy ‟n finale identiteit bereik. ‟n Redelik algemene ontwikkelingspatroon is dat die adolessent sy identiteitsontwikkeling in die vooruitbesliste en identiteitsverwarring-statusse begin; daarna ondervind hy die moratoriumstatus en uiteindelik die identiteitsbereiking-status (Louw & Louw, 2007:312). Knafo en Schwartz (2009:247) wys daarop dat die fases van identiteitsverwerwing die volgorde beginnende by verwarring dan

vooruitbesliste identiteit dan moratorium en dan identiteitsvorming noodwendig volg, nie onomwonde bevestig kan word nie.