• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE BEGRONDING: WAARDES, ADOLESSENSIE EN

2.3 DIE INVLOED VAN DIE ADOLESSENT SE ONTWIKKELINGSTAKE

2.4.1 In kort ʼn historiese oorsig van die Afrikaanstalige rolprentbedryf

Die film van vandag het sy ontstaan in die laat negentiende eeu. Die eerste Amerikaans- vervaardigde films (1895) was op die ongeletterde werkersklas-Amerikaner gerig. In die vroeë negentigerjare van die twintigste eeu het die film-genre meer aanklank by die middelklas- Amerikaner gevind. In dié era het regisseurs/filmmakers/auteurs14 die potensiaal van die film as narratief ontgin deur die films te baseer op romans met middelklaswaardes (Rushton & Bettinson, 2011:2). Aanvanklik is die filmmedium nie gebruik om stories mee oor te dra nie, maar die film se potensiaal om stories oor te dra was uiteindelik die hoofmotivering vir die vervaardiging van films (Grodal, 2009:168).

In Suid-Afrika was daar reeds sedert 1896 woelinge in die rolprentbedryf. Die eerste Suid- Afrikaans-vervaardigde rolprent het in 1916 sy verskyning gemaak. Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is dus van die oudste ter wêreld maar, volgens Botha en Van Aswegen (1992:9),

14

Auteur-teorie het sy ontstaan uit die benadering van ’n groep filmnavorsers wat vir die tydskrif Cahiers du Cinema geskryf het en daarop aanspraak gemaak het dat die filmmaker se persoonlike identiteit sigbaar is in die finale produk, naamlik die film. ’n Ander element van die auteurteorie fokus daarop om die filmmaker aan te moedig om die kamera te gebruik soos ’n skrywer van ’n pen gebruik maak. (Van der Pol, 2009)

nie van die bestes nie. Die eerste Afrikaanse rolprent, De Voortrekkers (1916), is met die hulp van flitskaarte “in ‟n mengsel van Hollands en Afrikaans op die doek geprojekteer om dialoog en gebeure aan die kyker oor te dra” (Van Nierop, 2016:27).

In 1931 word ʼn nuwe era in die Suid-Afrikaanse filmkuns ingelei met die vervaardiging van Sarie

Marais. Die film was die eerste vollengte Suid-Afrikaanse film met klanksekwensies (Botha,

2006:15). In 1931 was dit ook die begin van Afrikaner-nasionalisme. Wetgewing het bepaal dat alle rolprente eers aan die sensuurraad vertoon moes word voordat dit vrygestel kon word. Hierdie raad was verantwoordelik vir vele omstrede besluite en het die vryheid van rolprentmakers tussen die 1960‟s en 1980‟s aan bande gelê (Van Nierop, 2016:30).

Sedert die vyftigerjare van die twintigste eeu het Suid-Afrikaanse produksiemaatskappye na buitelandse filmmaatskappye uitgereik vir finansiering. Buitelandse betrokkenheid het tot gevolg gehad dat die aantal produksies en produksiemaatskappye toegeneem het. Die eerste Afrikaanstalige kleurfilm is in dié tydperk vrygestel (Senekal, 2015:6). Afrikaanstalige films in dié tydperk was primêr gerig op ligte vermaak (Botha, 2006:17).

Die dekade 1960-1970 word as een van die belangrikste tydperke in die Afrikaanse filmbedryf asook in die loopbane van mense in die filmbedryf beskou. Bekende name wat ʼn groot bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf sou lewer, tree in daardie dekade na vore: Marius Weyers, Cobus Rossouw, Regardt van den Bergh, Carel Trichardt, Koos Roets, Jans Rautenbach en Katinka Heyns is van die baanbrekers in die Afrikaanstalige rolprentbedryf (Senekal, 2015:48). Die meeste Afrikaanstalige films is in die dekade 1970-1980 vrygestel. In die tagtigerjare van die twintigste eeu is ʼn skerp daling in die vervaardiging van Afrikaanse rolprente ervaar. Hierdie verskynsel is ʼn simptoom van die politieke onstuimigheid en internasionale isolasie waarin Suid- Afrika verkeer het vanweë die apartheidsbeleid van die Nasionale Party-regering (Senekal, 2019:49).

Aan die einde van die tagtigerjare van die twintigste eeu tree een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde film na vore. Katinka Heyns maak haar debuut as auteur met die film Fiela se

kind. Van Nierop (2016:223) som Heyns se film-werk soos volg op: “Sy werk met ʼn dodelike

presiesheid en puntenerigheid. Sy gebruik die kamera as verteller en maak hom los van sy „afneem‟-minderwaardigheid. Die kamera neem waar, maar neem soms ook deel en interpreteer.”

Nog twee van Katinka Heyns se meesterstukke, Die Storie van Klara Viljee (1992) en Paljas (1997), verskyn in die negentigerjare van die twintigste eeu. Die Storie van Klara Viljee is

volgens Van Nierop (2016:238) ʼn meesterstuk wat in daardie tyd nie sy gelyke in Afrikaans geken het nie. In die film Paljas bewys Heyns haar as een van die beste spelregisseurs in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Martin Botha (2011:243) verwys na die film Paljas as “one of the greatest features to emerge out of South Africa since 1994 (post-apartheid)”. Paljas is ook die eerste Afrikaanse rolprent wat vir ʼn Oscar benoem is in die kategorie beste buitelandse rolprent (Van Nierop, 2016:231, 233, 237).

Volgens Van Nierop (2016:269) is die enigste noemenswaardige Afrikaanse rolprent na 1998,

Skilpoppe. ʼn Tema wat in die jeug-film aangespreek word, hou verband met afwesige ouers en

die emosionele verwaarlosing van kinders. Dieselfde tema word in ander Afrikaanse jeug-films, geselekteer vir hierdie ondersoek, aangespreek. Die jeug-films is Die ongelooflike avonture van

Hanna Hoekom (2010) en Lien se lankstaanskoene (2013). In die film Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom onderskei Regardt van den Bergh hom as een van die Suid-Afrikaanse

rolprentbedryf se beste regisseurs: ʼn auteur in eie reg. Van Nierop (2016:293) verwys na die film as “ ‟n toeganklike, jong kunsprent wat vernuwing bring, Afrikaans cool maak en slim omgaan met treffende verteltegnieke”. Die film is gebaseer op die gelyknamige jeugroman van Marita van der Vyver. ʼn Tema wat in die jeugboek en in die jeug-film onder die loep kom, is die verhouding tussen ʼn adolessente dogter en haar gay pa. Alhoewel, volgens Rhebergen en Human (2015:33), dit vir Suid-Afrikaanse tieners byna onmoontlik is om ʼn positiewe jeugroman oor homoseksualiteit in die hande te kry, is die navorser van mening dat die gay-tema in die film met sensitiwiteit gerepresenteer word.

Nog ʼn jeugroman wat tot ʼn film verwerk is, is Derick van der Walt se Lien se lankstaanskoene (2013). Filmresensente se reaksies op die film was nie almal positief nie. Van Nierop (2016:362) se mening is dat die film “so polities korrek” is, met ʼn “stywe dialoog”, dat die karakters nie normale jongmense is wat ons herken nie”. Ander resensente, onder andere Suzette Kotzé- Myburg (2015), het net lof vir die draaiboekskrywer, Saartjie Botha, en regisseur/- filmmaker/auteur, André Odendaal, se puik film.

Die derde geselekteerde Afrikaanstalige jeug-film in die ondersoek is Die pro (2015). Dit is die eerste branderplankrolprent in Afrikaans (Van Nierop, 2016:370) en die taalgebruik in die film is “soos jongmense in surfing-taal” praat (Van Nierop, 2016:371). Die pro is gebaseer op die gelyknamige jeugboek van Leon de Villiers. Die storie in die jeug-film het ʼn sterk universele boodskap wat nie net beperk is tot indrukwekkende watertoertjies nie; die film laat die kyker opnuut besef dat daar nie ʼn reg of verkeerd is as dit kom by die hantering van verlies nie. In die historiese oorsig was die doel nie om oor al die verwikkelinge in die Afrikaanstalige rolprentbedryf breedvoerig te rapporteer nie. Sedert 2009 het nuwe en jong

regisseurs/filmmakers/auteurs hulle toetrede tot die Afrikaanse rolprentbedryf gemaak. Puik films, soos Abraham (2015), van een van die ouer geslag regisseurs/filmmakers/auteurs, Jans Rautenbach, is steeds nie oorskadu deur al die nuwe eksperimente in die Afrikaanstalige rolprentbedryf nie. Waar die Afrikaanse rolprent vroeër ʼn verleentheid was vir die Afrikaanstalige filmkykers, is die hedendaagse Afrikaanse films groter lokettreffers as sy buitelandse eweknieë.