• No results found

HOOFSTUK 3 NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE

3.2 Paradigmatiese benaderings

In Hoofstuk 1 is verduidelik dat ʼn paradigma ʼn individu se beskouing van die wêreld en die gebeure wat in die wêreld plaasvind bepaal (Lombard, 2016:8). In hierdie studie vorm die paradigma die lens waardeur die werklikheid geïnterpreteer word (Nieuwenhuis, 2016:52). Die interpretivistiese paradigma en die toepassing daarvan word volgende bespreek.

3.2.1 Die interpretivistiese benadering

Die navorsing is gedoen vanuit die invalshoek van ʼn interpretivistiese paradigma. Volgens Flick (2015:24) behels hierdie benadering dat die betekenis wat die deelnemer produseer deur die navorser geïnterpreteer en ontleed word om sodoende betekenis te skep. In hierdie studie was die doel om te verstaan wat onderwysers se persepsies van gesondheidsgeletterdheid behels. Die interpretivistiese paradigma berus op ʼn subjektiewe, interaktiewe en ʼn saamgestelde sosiale ontologie en bevat ʼn epistemologie wat veelvoudige realiteite erken en dit as belangrik beskou om die situasie deur die oë van die deelnemer te verstaan (Cohen et al., 2017:116).

Interpretivisme bestaan uit vier hoofkomponente, naamlik ontologie, epistemologie, aksiologie en die metodologie (Bailey, 2018:66; Denzin & Lincoln, 2013:26; Guba, 1990:14; Lincoln & Guba,

1985:18). Eerstens bestaan die ontologiese komponent uit “die vraag oor die aard van werklikheid” (Lombard, 2016:9). Die ontologie binne interpretivisme bepaal dat daar geen spesifieke realiteit is nie, maar eerder verskeie realiteite wat bestaan en ontdek moet word (Bailey, 2018:66). In hierdie studie beskou die navorser die deelnemers as individue wie se werklikheid uit verskeie realiteite bestaan. Dus skep onderwysers hul eie betekenis en interpretasie van idees, oortuigings en gebeurtenisse wat om hul plaasvind. Daar is ook in ag geneem dat die onderwysers se werklikheid ʼn produk is van sosiale, historiese, politieke en ander eksterne invloede. Hierdie werklikhede kan ook verander (Lombard, 2016:9). Dus behels onderwysers se persepsies van gesondheidsgeletterdheid eksterne invloede en nie net hul eie opinie nie aangesien hulle binne ʼn groter sisteem funksioneer (cf. 2.5).

Tweedens bestaan ʼn paradigma uit epistemologie, wat verwys na die studie van die oorsprong en die aard van kennis (Bailey, 2018:66). Epistemologie kan beskryf word as die mate van klem wat op die werklikheid gesit word (Lombard, 2016:9). Hier word die deelnemers nie apart gesien van die navorsing nie, maar as medeskeppers van kennis. Die navorser het nouliks saam die deelnemers gewerk om vas te stel wat onderwysers se persepsie van gesondheidsgeletterdheid is. Sodoende is ondersoek ingestel na die aard van hulle kennis ten einde betekenis met betrekking tot gesondheidsgeletterdheid te vind.

Derdens behels die paradigma die aksiologie, wat verband hou met die waardes, oortuigings en etiese kwessies in die studie. Navorsers wat navorsing doen vanuit die interpretatiewe paradigma glo dat hul eie verstaan van die sosiale wêreld wat hulle bestudeer nie apart gesien kan word van hul eie nie. Hulle gee dus erkenning aan die feit dat hulle nie hulle eie sienings en gevoelens geheel en al kan ignoreer nie en dat dit erken en geïntegreer moet word in die studie (Bailey, 2018:67). Tydens hierdie studie was die navorser deurgaans bewus van die waardes, oortuigings en etiese kwessies wat gepaard gegaan het met die insameling van die data. Die navorser het hierdie elemente geïnterpreteer deur die deelnemer se sienings van hul sosiale wêreld in ag te neem tydens die interpretasie van die data wat ingesamel is (cf. 3.7 en 3.8.).

Laastens bepaal die navorsingsparadigma die metodologie, met ander woorde die proses van hoe inligting ingesamel word (Bailey, 2018:67). Wanneer navorsing vanuit ʼn interpretivistiese benadering gedoen word, word kennis grotendeels verkry deur in “dialoog te tree” met die werklikheid (Lombard, 2016:9). Tydens hierdie studie het die klem geval op ʼn induktiewe proses waar ʼn spesifieke verskynsel geïdentifiseer is en inligting ingesamel is om ʼn beter begrip te verkry van die verskynsel (Lombard, 2016:9). Inligting rakende deelnemers se persepsies is op ʼn induktiewe manier versamel deur hul belewenisse vas te vang, eerder as om die navorser se betekenis van hul belewenisse aan hul oor te dra. Vervolgens word die metodologie wat tydens

die studie gebruik is bepreek deur die verskillende stappe van kwalitatiewe navorsing te verduidelik.

3.2.2 Kwalitatiewe navorsing

Tydens hierdie studie is gebruik gemaak van ʼn oorhoofse kwalitatiewe benadering (cf. 1.6.1). Die hoof fokus in kwalitatiewe navorsing is om die persepsies, ervarings, oortuigings, houdings en gevoelens van ʼn groep mense te verstaan, te verduidelik, te ondersoek en te ontdek (Kumar, 2014:133). Die doel was om ondersoek in te stel na onderwysers se persepsies van gesondheidsgeletterdheid ten einde hierdie persepsies te identifiseer, te verstaan en te verduidelik. Die kwalitatiewe metode is die metode wat hom die beste daartoe leen om die menslike perspektief vas te vang. Op hierdie manier kon die navorsing ondersoek hoe onderwysers die wêreld rondom hulle saamstel deur wat hulle doen en hoe hulle die gebeure in hul lewens ervaar. Die resultaat hiervan kan verrykende insigte lewer (Flick, 2018:x).

Soos in Hoofstuk 1 bespreek, erken, aanvaar en verwelkom ʼn kwalitatiewe navorser die uitdagings wat geskep word deur wat mense sê, doen en hoe hulle optree. Wat mense dink is nie die produk van net een bydrae nie, maar eerder die resultaat van verskeie invloede wat bydra tot die individu se lewensgebeurtenisse (Roller & Lavrakas, 2015:v). Kwalitatiewe navorsers se doelwit is om ʼn sekere sosiale fenomeen in die wêreld daarbuite beter te verstaan, te beskryf en te ontleed deur deel te word van verskillende individue of groepe en sodoende hul belewenisse te ondersoek (Flick, 2018:x). Die kwalitatiewe navorsingsontwerp wat die beste van toepassing was op hierdie studie is die fenomenologiese ontwerp. Dit word vervolgens bespreek.