• No results found

HOOFSTUK 3: DIE MUSIEKKOMPETISIEKANDIDAAT

3.2 Geestelike aspekte van klavierspel

3.3.9 Ouers as rolmodelle en motiveerders

Ouers word as rolmodelle nagevolg wat hul eie liefde om musiek te beluister en te bespeel betref, die voorsiening van finansiële en morele steun, asook ondersteuning van die leerder se lesse en oefenskedule (McPherson & Williamon 2016: 348). Ouers se ingesteldheid en entoesiasme teenoor musiek is meer belangrik as hul musikale vaardighede (Pitts 2009: 251).

Leerders leer waardes en kriteria by hul ouers waarvolgens hul loopbane later bepaal word (Gabor 2013: 208). Ouers se benadering en uitkyk op klassieke musiek is baie belangrik en het ʼn invloed op leerders. Gabor waarsku teen die gevaar wanneer die ouers nie kan onderskei tussen hul eie begeertes en dié van die leerder nie. Ouerinvloed is beskryf as ʼn belangrike eksterne faktor wat leerdermotivering en -volharding beϊnvloed. Leerders is baie afhanklik van die terugvoer wat hulle van ouers ontvang en vorm hul selfwaarde daarvolgens (Sichivitsa 2007: 56). Innerlike vrede, wat hoofsaaklik van ʼn goeie selfbeeld afkomstig is, vorm ʼn belangrike faktor in die uitvoerder se lewe (Schneiderman 2008: 6). Volgens Schneiderman is ʼn positiewe selfbeeld van kardinale belang en speel die huislike omgewing ʼn rol in die ontwikkeling van ʼn positiewe selfbeeld by die kind.

Ouers kan leerders deur aanmoediging motiveer (Pitts 2009: 254). Volgens McPherson et al. (2016: 414) raak ouers egter soms gefrustreerd met die leerders

109

se benadering tot musiek, of as hulle van mening is dat leerders nie vinnig genoeg vorder nie. Dit het ʼn direkte negatiewe invloed op die leerder se motivering en vordering terwyl ouers wat positief bly ʼn stimulerende uitwerking op die leerder het. Volgens McPherson et al. is volgehoue ondersteuning op musiekgebied van uiterste belang en lei dit tot volgehoue leer en prestasie.

Leerders reageer optimaal in ʼn omgewing waarin hulle volwassenes as ondersteunend en positief teenoor selfregulerende oefening ervaar (Creech 2010: 17). In hierdie omgewing behoort leerders volgens Creech aan positiewe rolmodelle blootgestel te word wat hulle ondersteun, maar behulpsaam is om moeilike situasies op ʼn konstruktiewe wyse te benader. Die onderwyser-leerder- ouer verhouding is belangrik, en begrip, takt, kommunikasievaardighede, asook geduld en toewyding van die onderwyser se kant af sal voordelig vir die leerder se ontwikkeling wees (Creech 2010: 17, 24). Cheah (2012: 94) meld dat ouers se motiverings aangaande leerders se musiekonderrig kan verskil. Vir sommige ouers kan dit slegs vir die genot daarvan wees, vir sommige om ʼn konsertpianis te word, of enigiets tussenin. Sekere ouers beskou instrumentale onderrig as ʼn statussimbool en sommige sien eksamendeelname as ʼn vereiste vir musiekonderrig. Cheah (2012: 94) waarsku egter dat daar ʼn balans tussen ouerbetrokkenheid en inmenging in lesse moet wees.

Creech (2010: 17) beklemtoon dat sensitief opgetree moet word teenoor leerders en hul veranderlike behoeftes. Creech (2010: 17) en McPherson (2008: 101) is van mening dat leerders veilig, geliefd, uniek en geborge moet voel. McPherson stel dit egter duidelik dat hoë, dog realistiese verwagtinge deur ouers geskep moet word.

Leerders se ingesteldheid, oortuigings en verwagtinge oor hul potensiaal word deur interaksie met hul ouers beϊnvloed (McPherson 2008: 92). Volgens McPherson word die volgende faktore deur ouerbetrokkenheid beϊnvloed:

• Leerders se vermoë, of wat hulle as hul vermoë beskou, bepaal hoe hulle take gaan aanpak en uitdagings gaan oorkom. In die leerder se vroeë jare speel die ouer ʼn kardinale rol deur die terugvoering wat hulle gee om die leerder se geloof in hul vermoë te stimuleer.

110

• Leerders het ʼn behoefte om onafhanklik te voel en ouers moet hul kinders lei om geleidelik verantwoordelik te raak en keuses te kan maak.

• Leerders het nodig om ʼn noue band van liefde met hul ouers te vorm en om veilig en geliefd in die huislike omgewing te voel.

• Doelgerigtheid word gestimuleer wanneer sukses en genot as uitkomste van leer ervaar word. ʼn Leerder wat met ʼn doelwit werk raak selde verveeld en gryp geleenthede om sukses te ervaar aan.

Sosiale aspekte van musiekbeoefening word deur die ouer aangehelp indien hulle spesifieke gedrag soos musiekles- en konsertbywoning, asook hulp tydens oefensessies toon (McPherson 2008: 93). Ouers behoort die noodsaaklikheid van sosiale doelwitte in hul kinders se musiekloopbane te ondersteun sodat leerders sukses in hul musikale ontwikkeling en genot van musikale deelname kan ervaar (McPherson 2008: 93). Daar kan byvoorbeeld gereël word dat leerders voor familie en vriende optree voor belangrike optredes (McPherson 2008: 102).

McPherson (2008: 96) is van mening dat die manier waarop ouers musiek teenoor ander leeraktiwiteite sien ook ʼn invloed op leerders se musikale ontwikkeling sal hê. Indien ouers, byvoorbeeld, nie musiek as so belangrik as ander akademiese vakke beskou nie, gaan die leerder waarskynlik dieselfde uitgangspunt huldig en minder aandag aan musiekbeoefening skenk.

Ouers speel ʼn groot rol in die groei-ingesteldheid van die leerder, teenoor die vaste ingesteldheid70. Ouers met ’n groei-ingesteldheid kan leerders meer effektief ondersteun en na hul doelwitte begelei as beherende ouers. Kommentaar soos ‘jy werk hard en ek kan hoor hoe vinnig jy vorder’ kan tot ʼn groei-ingesteldheid lei, teenoor ‘dit klink nie of jy goed is nie, wat is fout?’.

Indien leerders voel dat hul ouers belangstel, moedig dit hulle aan om insette te lewer en word ʼn noue verhouding tussen die ouers en leerders gevorm (McPherson 2008: 97). McPherson (2008: 98) is van mening dat die ouer kan

111

terugstaan as die leerder goed doen, maar dat die ouer meer betrokke behoort te raak as dit blyk dat die leerder sukkel. Bandura (2006: 7) stel dit dat positiewe ouerbetrokkenheid kan bydra om onnodige spanning by leerders teen te werk. Uit Pitts (2009: 254) se navorsing blyk dit dat leerders wat in ʼn omgewing grootword waar die ouers behulpsaam is, die onderwyser inspirerend en die skoolomgewing ondersteunend is, in die minderheid was, maar dat dit beslis die ideale omstandighede vir optimale ontwikkeling is. Uit die onderwyser se oogpunt is ouerondersteuning van kardinale belang. Om Waterman (2006: 14) aan te haal: “I don’t choose the pupils, I choose the parents!”

3.4 SAMEVATTING

Die identifisering van die musiekkompetisiekandidaat is ʼn deurlopende proses en evaluering moet voortdurend deur die onderwyser gedoen word. Onderwysers moet ook kan onderskei tussen, byvoorbeeld, die verwagtinge van ʼn eksamen- versus ʼn kompetisiekandidaat. Leerders moet oor ʼn natuurlike talent beskik, maar aspekte wat ontwikkeling beϊnvloed, soos deursettingsvermoë, motivering, persoonlikheid, emosionele welstand, vermoëns, asook vaardighede (kognitief, tegnies en artistiek) moet in ag geneem word. Vir optimale ontwikkeling om plaas te vind, is die ideaal dat die ouer op fisiese en emosionele vlak betrokke moet wees en die nodige ondersteuning bied, wat die skep van ʼn stabiele oefenomgewing insluit. Sosialisering en interaksie met ander gesinslede en leerders het ook ʼn invloed op die ontwikkeling van leerders en kan daarom ook die musikale ontwikkeling van leerders beϊnvloed. Inspirerende onderwysers kan leerders motiveer, en gesamentlike doelwitte van die ouer en onderwyser is gewens om ʼn optimale leeromgewing vir die leerder te skep.

Wat effektiewe voorbereidingstrategieë tot musiekoptredes betref vorm goeie oefenmetodes en ʼn vaste oefenroetine die basis. Daar moet bepaal word watter oefenmetodes vir die spesifieke leerder die beste is deur leervoorkeure en persoonlikheidseienskappe in ag te neem. Musikale en tegniese vermoëns is van kardinale belang om ʼn suksesvolle uitvoering te kan lewer. Vir die kompetisiekandidate behoort goeie memoriseringstegnieke ook deeglik ondersoek te word, en leerders moet ook op die fisiese aspekte van

112

kompetisiedeelname, naamlik kleredrag, verhoogetiket, asook beoordeling, voorberei word.

Emosionele voorbereiding vir kompetisies sluit die hantering van oormatige spanning en verhoogvrees in. Ontspanningsoefeninge en die opbou van positiewe emosies voor optredes is belangrik. Leerders moet werk aan selfdoeltreffende oortuigings en geloof in hul eie vermoë ten einde verhoogvrees te oorwin en ʼn gesonde geestelike welstand te handhaaf. Daar moet gestreef word na ʼn groei-ingesteldheid wat lei tot intrinsieke motivering, omdat dit meestal gevoelens van teleurstelling teenwerk en met suksesvolle uitvoerings geassosieer word.

Na die beskouing van die onderwyser, die leerder en die ouer se rol in die musikale ontwikkeling van die leerder, soos in die literatuur bevind, word vervolgens gekyk na die metodes van navorsing wat in hierdie studie aangewend is. Ten einde die nodige insig vir die studie te toon, is dit noodsaaklik om die tipe navorsing wat gebruik is te begryp en word die metodologie wat gebruik is derhalwe volledig bespreek.

113