• No results found

HOOFSTUK 3: DIE MUSIEKKOMPETISIEKANDIDAAT

3.1 Fisiese aspekte van die leerder

3.1.1 Die identifisering van die potensiële kompetisiekandidaat

Die identifisering van ʼn leerder as ʼn potensiële musiekkompetisiekandidaat is ʼn ingewikkelde proses, veral as gevolg van die feit dat tegniese en musikale ontwikkeling ʼn deurlopende proses is. Subotnik, Olszewski-Kubilius en Worrell (2012: 186) beklemtoon die feit dat dit belangrik is om leerders reeds op ʼn vroeë ouderdom te assesseer, maar dat hierdie assessering deurlopend moet plaasvind soos wat die leerder ontwikkel. Chang (2014: 18) steun ook hierdie standpunt van voortdurende evaluering wat betref hul vlak van gereedheid ten opsigte van toonhoogte, ritme, absolute toonhoogte, leesvaardigheid, vingerbeheer, aandagspan, belangstelling in musiek, instrumentkeuse, die begrip van musikale konsepte, kommunikasievaardighede en intelligensie. Hy noem ook dat leerders se fisiese en geestelike ontwikkeling teen ʼn onreëlmatige pas

43

plaasvind. Leerders se agtergrond, vroeë stimulasie en blootstelling aan musiek het dikwels ʼn invloed op wat hulle kan en nie kan doen nie (Kemp & Mills 2002: 5, 6).

3.1.1.1 Vermoë en vaardigheidsvlakke

Volgens Subotnik en Jarvin (2005: 355) behoort die leerder se vermoë en vaardigheidsvlak ʼn rol in die moontlike identifisering van kompetisiekandidate te speel. Met aanvanklike vermoë word na aspekte van interaktiewe genetiese en omgewingsfaktore verwys, wat, onder andere, die volgende aspekte kan insluit (Subotnik & Jarvin 2005: 348):

• Intrinsieke motivering (ʼn liefde vir kommunikasie deur musiek) • Charisma (om die luisteraar se aandag deur die musiek te boei) • Musikaliteit21 (om deur musiek te kan kommunikeer).

Subotnik en Jarvin (2005: 345-348) is van mening dat spesifieke vaardigheidsvlakke die volgende insluit:

• Die spoed waarteen die leerder leer

• Tegniese vaardigheid, wat deur die toewyding aan ʼn gestruktureerde oefenprogram gekoppel kan word

• Ouerondersteuning en druk toegepas deur ouers, wat noodsaaklik is in die aanvangsjare, veral om te verseker dat die leerder konstruktief oefen • Of die leerder ontvanklik vir onderrig is

• Die sukses van die onderwyser-leerder wisselwerking

• Die mate van implimentering van eksterne beloning soos prys en erkenning22

• Deursettingsvermoë van die leerder deur goeie en slegte tye.

3.1.1.2 Persoonlikheidseienskappe

Addisionele aspekte wat in die gepubliseerde literatuur bespreek word en wat belangrik by die identifisering van die potensiële kompetisiekandidaat is, is die

21 Musikaliteitstoetse wat deur onderwysers gedoen word om kinders vir instrumentale onderrig te plaas is nie altyd ʼn aanduiding van musikaliteit nie (Kemp & Mills 2002: 6).

22 Hierdie standpunt oor eksterne beloning word nie deur almal ondersteun nie (Gneezy, Meier& Rey-Biel 2011: 191-193, 206; Lai 2011: 5).

44

leerder se persoonlikheid. Corrigall, Schellenberg en Misura (2013: 8, 9) is van mening dat individuele persoonlikheid net so belangrik as kognitiewe vermoëns is, so ook persoonlikheidstipes en demografiese omgewing. Creech (2010: 30) beskryf die volgende eienskappe as noodsaaklik vir ʼn leerder om te ontwikkel tot op ʼn professionele uitvoeringsvlak: selfversekerdheid, toegewydheid, genot van musiekbelewing, kommunikasievaardighede (om deur hul musiek te kan kommunikeer), en hoë musiekstandaarde wat uitvoerings betref.

Volgens Kemp en Mills (2002: 7) is introversie die persoonlikheidstrek wat by bykans alle musikale leerders23 teenwoordig is. Dit word egter nie noodwendig gekoppel aan sku karaktereienskappe nie, maar eerder ʼn isolering en selfstandigheid. Dit kan positief bydra tot die fisiese en geestelike eise wat aan talentvolle leerders gestel word, byvoorbeeld die dikwels lang ure wat sulke leerders geϊsoleerd moet oefen. Ekstroverte leerders kan dit moontlik moeiliker vind om lank in isolasie te oefen en weg van hul sosiale kringe te wees. Introverte leerders hou hulle dikwels meer besig met private en verbeeldingryke aktiwiteite wat verband hou met ʼn sensitiwiteit vir, onder andere, emosies, wat ʼn aanvoeling vir klank en musiek aanhelp (Kemp & Mills 2002: 8).

Hoogsbegaafde leerders toon dikwels spesifieke persoonlikheidseienskappe soos ooropgewondenheid24 in die fisies-motoriese, intellektuele, sensuele, verbeeldingryke, en emosionele areas van ontwikkeling (Coleman & Cross 2000: 204). Nog ʼn kenmerk van musikale leerders wat dikwels waargeneem word is angstigheid. Aangesien hul optrede van persoonlike betrokkenheid getuig, ontwikkel leerders dikwels angstigheid as hulle optree en kan hulle kritiek persoonlik opneem (Kemp & Mills 2002: 13). Angstigheid op ʼn klein skaal kan positief bydra om te kan fokus en ʼn goeie uitvoering te ondersteun, maar faktore wat onnodige negatiewe angstigheid veroorsaak moet sover moontlik beperk word. Volgens Kemp en Mills (2002: 13) moet alle musici leer hoe om angstigheid voor en tydens ʼn optrede te beheer. Die redes vir die angstigheid is dikwels die

23 In die huidige studie word van die standpunt uitgegaan dat potensiële kompetisiekandidate elemente van musikaliteit toon.

24 Coleman en Cross (2000: 204) definieer “over-excitabilities” as “… expanded awareness, intensified emotions, and increased levels of intellectual and/or physical activity”.

45

hoë standaard van werke wat uitgevoer word, druk van die ouers om ʼn goeie uitvoering te lewer en natuurlik die kompetisie-element. Ouers oefen dikwels druk op leerders uit om werke voor te dra waarvoor hulle nog nie gereed is nie. Dit kan op die lange duur slegte ervarings veroorsaak wat tot angstigheid kan lei (Kemp & Mills 2002: 13).

In teenstelling hiermee bevind Chang (2014: 18) dat die verwagting van die ouers en onderwysers dikwels te laag is teenoor wat ʼn leerder werklik kan vermag. Volgens Chang loop die kognitiewe en fisiese ontwikkeling van die kind gewoonlik nie parallel nie – die brein van kinders is meestal verder ontwikkel as die res van hul liggame. Hierdie feit word dikwels onderskat, veral deur ouers, wat dan die ontwikkeling van die kind onnodig kan vertraag. Hieruit kan ons aflei dat ʼn goeie balans gevind moet word tussen die uitdagings wat gestel word en die selfvertroue wat opgebou kan word met geskikte materiaalkeuse.

Coleman en Cross (2000: 204) bevind dat perfeksionisme gereeld by begaafde leerders voorkom. Dit kan tot buitengewone hoë verwagtinge van hulself lei wat, indien dit nie beheer word nie, tot spanning, uitbranding en ongesonde selfkritiek kan lei. Sulke leerders is dikwels ontevrede met hul uitvoering en dit kan hoë angstigheidsvlakke, onvoltooide projekte en ʼn onwilligheid om aan hoë-risiko aktiwiteite deel te neem veroorsaak. Hierdie leerders het ook dikwels onrealistiese verwagtinge ten opsigte van hul uitvoerings wat tot teleurstelling in hulself kan lei (Coleman & Cross 2000: 204, 205).